Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Bemeester die regte wêreld virtueel
5 November 2020

Tegnologie vir virtuele realiteit (VR) maak dit vir ons moontlik om omgewings te ontwerp en te simuleer in twee of drie dimensies (2D of 3D) wat interaktief is en in ware tyd verken kan word. VR-kopstukke maak dit moontlik om heeltemal afgesonderd van buitestimuli en in ’n virtuele wêreld verdiep te wees. Dit kan ons ook in situasies plaas waarvoor ons in die regte lewe bang sou wees – en dís waar AxioVR betrokke raak.

“Ons het gevind dat VR ’n perfekte platform is om pasiënte te stimuleer en vrees of ’n reaksie van hulle te ontlok,” sê Gideon Burger, medestigter van AxioVR, oor hoe hulle veilige virtuele omgewings skep waarin pasiënte blootgestel word aan hul vrese, soos hoogte of openbare redevoering.

AxioVR het ontstaan uit Axiology Labs, ’n maatskappy wat Burger begin het wat toerusting vir psigofisiologiese opnames vir wetenskaplikes, onderwysers en navorsers oral in Afrika verskaf en diens. Toe Burger die maatskappy se aanbieding na VR-apparatuur uitgebrei het, het hy virtuele omgewings probeer ontwerp, maar gou besef dat ontwerp nie sy sterk punt is nie.

Gideon Burger, medestigter van AxioVR

Burger het Natalie Roos, wat in beeldende kunste gestudeer en ruimtes vir onder meer die Hyatt en Marriot-hotelle ontwerp het, genader om AxioVR saam met dr. Stefan du Plessis te stig. Du Plessis, ’n navorser in kliniese neuroafbeeldings aan die Universiteit Stellenbosch, het as medestigter en navorsingsdirekteur betrokke geraak.

Du Plessis gebruik VR as ’n beoordelingsinstrument in sy navorsing na stressensitiwiteit en abnormale neuro-ontwikkeling by skisofrenie. “Ons streef daarna om situasies te skep waar die sielkundige uitwerking dieselfde as die werklike situasie is, maar sonder om die persoon aan enige gevaar van fisieke skade bloot te stel,” sê Roos.

AxioVR het byvoorbeeld vir ’n persoon wat met vrees vir openbare redevoering geworstel het, ’n virtuele ouditorium geskep en die persoon op ’n podium geplaas waar hy ’n toespraak moes hou waarop hy nie voorberei het nie. “Ons het sy sintuie begin verskerp met ’n gordyn wat oopgaan en 600 mense wat in VR na hom staar. Toe hy sy toespraak begin, het ons die intensiteit verhoog deur ’n selfoon wat lui of die skare wat mompel om die persoon al hoe meer senuweeagtig te maak,” sê Roos.

Deur die hele beproewing heen spoor die AxioVR-span die elektriese seine van die gebruiker se hart en elektriese aktiwiteit in die brein met bioterugvoertoerusting na, monitor en neem dit op, waardeur publiseerbare data geskep word om te help om die bepaalde fobie te beperk. “Ons het ’n paradigma vir hoogtevrees gemaak waar ons ’n reusepakhuis geskep en mense op ’n platform laat staan het wat begin styg terwyl ons seine soos die polsslag monitor. Ons het mense gehad wat op die vloer rondkruip – dís hoe lewensgetrou dit is,” sê Roos.

Natalie Roos, kreatiewe direkteur en medestigter van AxioVR

Daar is geen grense nie

AxioVR help nie net met fobies nie. Die span ontwerp ook VR-programmatuur volgens kliënte se spesifikasies, byvoorbeeld om ’n mynbou- of konstruksiemaatskappy se span met onderhoudsprosedures op te lei, of om ’n groot konstruksieprojek te visualiseer om ’n amper ware aansig daarvan te kry. VR-stelsels kan by kliënte se persele geïnstalleer word vir die verskaffing van opleidingsdienste.

“Ek kry nie net ’n ontwerp-opdrag, skep ’n wêreld, en kom kyk dan ná drie maande hoe dit gaan nie. Ons werk nou met die kliënte saam,” sê Roos. “Alles begin gewoonlik met ’n beelddraaiboek, soos ’n skoon skilderdoek. Ons vra die kliënt om te kyk of hy van die idee hou, en pas sy voorstelle toe.” Volgens Burger het die span bestaande hulpbronne gebruik totdat die maatskappy bestellings begin ontvang het. “Ons het ’n bietjie ondersteuning van navorsers gekry – ons het ’n spesifieke wêreld gebou volgens wat die navorsers nodig gehad het.”

AxioVR het al ontwikkelings vir die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad en die Nelson Mandela-universiteit gedoen. “Ons is tans baie by die Nelson Mandela-universiteit se nuwe mediese skool betrokke. Hulle het pas hul eerste VR-kopstuk bestel,” sê Burger.

“Ons streef daarna om situasies te skep waar die sielkundige uitwerking dieselfde as die werklike situasie is, maar sonder om die persoon aan enige gevaar van fikiese skade bloot te stel.”

Een navorsingsprojek waarmee die span saam met die Universiteit Stellenbosch besig is, is om ’n dwelmverslawingsprogram te skep. Wanneer pasiënte die VR-kopstuk gebruik, is hulle in ’n huis waar crack-kokaïen gekoop en verkoop word – met dwelmbybehore, alkohol en dwelmhandelaars en -gebruikers wat rondhang. Die eksperiment is ’n poging om verslawing beter te bestudeer deur die reaksies van verslaafdes te ontleed wanneer hulle in ’n omgewing verdiep is wat dit ontlok.

“Daar is baie dwelmverslawingstudies en -navorsing, maar die konteks is nie altyd vir dié van Suid-Afrika gepas nie,” sê Roos, wat die taak het om die omgewing te ontwerp om dit so realisties moontlik te maak – spesifiek in die SA konteks. AxioVR is al ook vir nienavorsingsprojekte genader, soos om aan die kougomhandelsmerk Stimorol se aktivering van nuwe peperment- en mangogeure te werk.

“Ons het ’n wipwarit geskep wat in die stad begin en die deelnemers in ’n grot aflaai wat met mango’s ontplof. Ons het hulle teen geboue en in die lug opgeneem waar ons pepermentgeure na hulle gewaai het.” Die handelsmerkaktivering was uiteindelik ’n 4D-ervaring met die insluiting van geure, vibrerende stoele wat ’n gevoel van beweging gee, werklike borrels waaraan mense kon raak, en die vrystelling van vogtigheid as hulle die water tref. Die gekou was selfs intenser wanneer al dié dinge gebeur, sê Roos en Burger. Al het die span daarin geslaag om op grond van dié ervaring nog ’n kontrak met die handelsmerk te sluit, is aktiverings weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Skep nuwe leerervarings

Benewens ’n ronde finansiering wat binnekort sal plaasvind, het AxioVR projekfinansiering van die Technology Innovation Agency ontvang, sê Burger. “Dit gaan alles oor die spesifieke modulêre platform wat ons as ’n maatskappy meen die moontlikheid inhou om ons in staat te stel om wêreldwyd uit te brei.” Dit word Axio Academy genoem en is die maatskappy se VR-benadering tot mediese onderrig wat die span internasionaal wil uitbou. “Ons is werklik verbind tot Axio Academy,” sê Roos.

“Die eerste module is oor die sentrale senuweestelsel. Ons vat ’n vervelige handboek en skep beelde waar gebruikers die sentrale senuweestelsel in 3D kan sien.” Studente sal interaksie kan hê met organe soos die brein. Hulle sal virtueel daaraan kan raak en dit kan draai, en ook deur skyfies van magnetieseresonansiebeelding- (MRI-) skanderings kan werk. Dis ’n soort skandering wat sterk magneetvelde en radiogolwe gebruik om gedetailleerde interne beelde van die liggaam te gee.

Die module sal ook vraelyste insluit sodat studente hul leervordering kan naspoor. Ook hier het die pandemie egter vir die span ’n sakeles geleer: Nie almal in SA kan ’n VR-kopstuk bekostig nie. Die span het besef dat al het ’n universiteit dalk ’n VR-kopstuk vir sy laboratoriums moes universiteite tydens die inperking planne maak om skootrekenaars te verkry en na studente te versprei wat normaalweg kampusrekenaars sou gebruik het.

“Daarom werk ons daaraan om Axio Academy ’n platform te maak wat op 2D-platskerms of -slimfone kan werk sodat ons nie mense sonder ’n VR-kopstuk benadeel nie,” sê Burger. Hy sê studente sal hul slimfoon kan gebruik om die leerplan te voltooi, en die volle meesleurende VR-onderrig kry wanneer hulle op die kampus is.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Verskaf, unsplash.com

Meer oor:  Virtuelerealiteit  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.