Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Bernard Swanepoel stel Last Mile-fonds bekend
16 November 2017

Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold, en Patrice Motsepe, Harmony se huidige voorsitter, werk saam aan die bekendstelling van ’n fonds ter waarde van meer as R1 miljard wat gebruik sal word om bestaande mynbouwerksaamhede uit te bou.

   

Bernard Swanepoel

As daar al ooit ’n bewys was dat Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold, vrede gemaak het met die verlede, was dit sekerlik sy besluit om sy eertydse opponent – Ian Cockerill, voorheen uitvoerende hoof van Gold Fields – in die Mining Hall of Fame op te neem.

Die Mining Hall of Fame is ’n produk van Swanepoel se Joburg Indaba, bedoel om belangrike bydraers tot die mynbousektor te vereer en ook ’n tikkie nostalgie en selfs glorie te voeg by die funksie se galadinee, waarmee die jaarlikse geleentheid open.

So tree Cockerill toe na vore om sy toekenning by Swanepoel te ontvang. Die twee was geswore vyande, minstens met Swanepoel se poging tot ’n vyandige oorname van Gold Fields, wat misluk het en die begin van die einde was van “die Harmony-manier”, ’n ontginningstrategie wat berus het op nuwe lewe wat geblaas word in goudbates wat byna – maar nie heeltemal nie – uitgeput is.

Sedertdien het Swanepoel vir hom ’n nuwe identiteit geskep as ’n nie-uitvoerende ringkop (Impala Platinum, Extract Group) én as sosiale gewete, wat hy verwesenlik deur die Joburg Indaba se betrokkenheid by omstrede kwessies en debatte.

Nou is Swanepoel egter aan die voorpunt van ’n nuwe private-ekwiteitproduk, die Last Mile-fonds, weer eens in ’n span saam met Patrice Motsepe, steeds voorsitter van Harmony.

Aan finweek sê Swanepoel die doel van die fonds is om bestaande besighede te identifiseer waar hy en sy medebeleggers voordeel kan toevoeg. “Ons sal na ’n maatskappy kyk wat moontlik reeds ’n verskaffer is aan, sê maar, Mooinooi (platinummyndorp in Noordwes) en kyk of hy ’n verskaffer aan ander gebiede kan wees, miskien Afrika suid van die Sahara,” sê hy.

Motsepe se African Rainbow Capital (ARC) sal vir elke rand wat Swanepoel se groep beleggers na die tafel bring, ook ’n rand bydra. ’n Fonds van R1 miljard tot R1,5 miljard word voorsien, met miskien drie tot vier groot beleggings.

Die samestelling van die fonds is interessant. Motsepe se African Rainbow Capital (ARC) sal vir elke rand wat Swanepoel se groep beleggers na die tafel bring, ook ’n rand bydra. ’n Fonds van R1 miljard tot R1,5 miljard word voorsien, met miskien drie tot vier groot beleggings. Swanepoel word bygestaan deur Clinton Halsey, een van sy vennote by To The Point, sy sakestrategie-konsultantmaatskappy en ’n aandeelhouer in Last Mile.

Met sy eerste belegging, die oorname vir R180 miljoen van Mooiplaats – ’n termiesesteenkoolmyn wat deur die vorige eienaar, Coal of Africa (CoAL), in onderhoud en instandhouding geplaas is – sluit Sipho Nkosi, voormalige uitvoerende hoof van Exxaro Resources, en Don Turvey, voormalige uitvoerende hoof van Continental Coal en voorheen ’n direkteur van BHP, by hom aan.

Met die Mooiplaatstransaksie, wat einde Oktober formeel beklink is, het die Last Mile-fonds ’n konsortium gevorm, MCH, met die bedoeling om soveel moontlik ekwiteit vir uitkering in Mooiplaats beskikbaar te hou as aansporing vir swart beroepslui wat die myn sal bestuur, asook werknemers en gemeenskapslede wat deur die heropening van die myn bevoordeel sal word.

Swanepoel sê: “Ons sal ’n hoë opbrengs op ons belegging neem, maar die ekwiteit bly beskikbaar, wat ons toelaat om dinge te doen. Ons sal ’n voorkeuraandeel neem (wat beteken Swanepoel en Motsepe sal voor gewone aandeelhouers dividende ontvang), wat gebruik sal word om skuld terug te betaal en/of vir ’n tantième-inkomste, sodat die fonds vanaf dag een kan deelneem.”

Patrice Motsepe

Daar is geen bestuursgeld per se, soos mens normaalweg van private ekwiteit sou verwag nie. “Mooiplaats is goed geplaas in Ermelo, taamlik naby aan die Richardsbaai-steenkoolterminus, en produseer ’n soort steenkool waarvoor ons maklik afsetooreenkomste kan kry met mense wat die steenkool kan bemark. Weens die manier waarop mineraalregte in die steenkoolbedryf toegeken is, is daar talle sinergieë met eiendomme naby Mooiplaats terwyl die wasaanleg van R600 miljoen nog daar is; die masjinerie is als nog daar en word versien soos ons hier praat.”

Mooiplaats het steenkoolreserwes van 45 miljoen metrieke ton, sê Swanepoel, met geleenthede om op aangrensende eiendomme uit te brei.

“Dit is ’n kwessie van ’n knoppie druk en iets aanskakel,” sê Swanepoel van die myn. “Daar is ’n leeftyd van sowat tien jaar vir die ertsliggaam, wat tans ’n netto huidige waarde van R1 miljard behaal. Die finansier daarvan sal sowat 30% neem en die res, 70%, bly oor vir die mense wat die maatskappy gaan opbou.” 

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

Gallo Getty Inmages/Daniel Zuchnik/WireImage www.coalofafrica.com

Meer oor:  Bernard Swanepoel  |  Patrice Motsepe  |  Mynbou  |  Joburg Indaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.