Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Bewaar klanke van die vergetelheid
7 Junie 2018

Conserve the Sound is ’n aanlyn argief van klanke uit die onlangse verlede wat deur tegniese innovasie vervang is. Dit sal jou na die verlede terugvoer en nostalgiese herinneringe oproep.  

Volgende jaar is die 15de jaar wat ek in Johannesburg woon.

Toe ek in 2004 as groentjie in Johannesburg geland het, was ek heeltemal deur dié megastad oorweldig. Ek het ’n werksaanbod aanvaar en in minder as ’n week van Durban na Johannesburg verhuis met my motor volgelaai met my karige aardse besittings.

Johannesburg was intimiderend. Dit was baie groot, en die verkeer was ’n nagmerrie.

My beste vriend destyds was ’n straatgids van die stad waarsonder ek nooit my bestemmings sou kon bereik nie. Ek het ’n deskundige geword deur talle bladsye terselfdertyd te besigtig en dan my rit van punt A tot by punt B te beplan. Ek het geleer om my rit te beplan terwyl ek ry sonder om my of my medereisigers se lewens in gevaar te stel. Dit was met daardie padkaart wat ek geleer het hoe om die stad te deurkruis. Ek het geleer om die stad se lewe en vloei te lees, sy verkeersknope en sy minder bekende agterstrate.

Talle van die lesse wat ek destyds geleer het, is so diep in my bewussyn gewortel dat ek hulle steeds onthou wanneer ek agter die motor se stuur inskuif.

Ek besit nog daardie padkaart, maar ek het dit jare laas gebruik. Google Maps lei my nou met die druk van ’n knoppie langs talle roetes om van punt A tot by punt B te kom. Die beduimelde padkaart is iets van die verlede. Tegnologie het dit irrelevant gemaak.

Wat my aan my betroubare ou padkaart laat dink het, was toe ek Conserve the Sound, ’n aanlyn museum ontdek het vir klanke wat die gevaar loop om te verdwyn. Die bekroonde projek is in 2013 deur die Film- und Medienstiftung NRW in Duitsland geskep en word deur Chunderksen in stand gehou.

Een van die klanke wat jy op dié unieke platform kry, is dié van ’n groot padkaart wat iemand oopvou. Die opname is gedoen deur die stadskaart van Dortmund in Duitsland te gebruik. Terwyl ek na die krakende bladsye geluister het, kon ek my indink hoe die persoon sukkel om die kaart oop te maak.

Dit het my laat lag.

Die oopvoukaart: ’n Praktiese kopseer en klank uit die verlede waaroor ons kan nadink met die gebruik van tegnologiese innovasie.

Om deur Conserve the Sound te snuffel, is voorwaar ’n genot omdat die webtuiste jou ’n kosbare skat van vergete klanke bied om te verken. Jy sal die klank van ’n ou eierklitser, ’n skakeltelefoon, ’n 56 k-modem, ’n 8 mm-filmprojektor, ’n Sony Walkman en ’n Opel Astra uit die 1990’s kry. Jy kan luister na ’n reeks kameras uit die 1930’s, tikmasjiene uit die 1950’s of na hoe dit klink om ’n kasset in ’n ou Nintendo-speletjiestelsel te laai.

Om deur Conserve the Sound te snuffel, is voorwaar ’n genot omdat die webtuiste jou ’n kosbare skat van vergete klanke bied.

Daar is ook onderhoude in die argief wat insig bied in die wêreld van klanke wat verdwyn. Dit het my laat dink aan klanke wat miskien binnekort opgeneem en tot die museum bygevoeg sal moet word. Soos die klank van ’n steenkoolgestookte kragsentrale.

Nog een van my gunsteling-opnames op Conserve the Sound is dié van ’n biblioteekstempel uit die 1930’s. My ma het my van kleins af gereeld biblioteek toe geneem – iets waaroor ek vir altyd dankbaar sal wees.

Daardie uitstappies het ’n liefde vir woorde, lees en boeke by my gekweek – ’n passie wat ek vandag nog het. Die klank van die biblioteekstempel het ’n amptelike verklaring geword: die boek was myne om vir ’n paar weke lank te verslind. Die stempel was die ingang tot ongekende genot.

Hierdie herinnering, wat deur die klank-opname op Conserve the Sound aan die gang gesit is, het my laat voel dat ek weer in die biblioteek staan. Dit was wonderlik om jou as kind in ’n gebou vol boeke te vind – meer boeke wat een mens in ’n leeftyd kan lees. Miskien het die tyd wat ek vandag in tweedehandse boekwinkels deurbring iets te doen met daardie gevoel van eerbied en verwondering.

Ons moet egter besef dat fisieke boeke verouderde tegnologie is. Dit is nie moeilik om ’n wêreld te veronderstel waar die biblioteke van ouds aanlyn entiteite word nie.

Namate ons lewens al hoe meer na die digitale terrein beweeg, wonder ek hoe lank dit sal wees voor die idee van ’n biblioteek soveel sal verander dat die geleentheid om in ’n kamer vol fisieke boeke te staan, slegs aan ’n paar uitverkore kinders beskore sal wees?

Conserve the Sound kan moontlik die klank van ’n biblioteekstempel uit die 1930’s bewaar, maar dit kan nie daardie gevoel vervang om deur boeke omring te wees nie. 

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

Foto: Gallo/Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.