Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Black lives matter!
25 junie 2020

es die koms van Covid-19 die wêreld vir ewig verander het, sal die wêreld ook nooit weer dieselfde wees ná die wrede dood van George Floyd nie. En niemand sal ooit sy naam of sy laaste woorde vergeet nie . . .

Inwoners van Minneapolis bring hulde aan George Floyd.

Nooit weer sal ons dié 46-jarige swart Amerikaanse man se naam kan aanhoor sonder om tonele uit ’n video van sy laaste oomblikke op aarde te herroep nie. Teen die tyd toe ’n 17-jarige omstander op 25 Mei 2020 dié tonele op haar selfoon begin verfilm het, het Floyd reeds na sy asem begin snak en herhaaldelik vir sy lewe gepleit. Hy het op sy maag gelê terwyl hy deur drie polisiebeamptes op die grond vasgepen is.

Een van hulle, Derek Chauvin (44), het met sy knie teen Floyd se nek gedruk. En dan uiter Floyd sy die pleidooi wat nou regoor die wêreld uit die monde van betogers weergalm: “I can’t breathe” en “Please, I can’t breathe”.

“I can’t breathe” en “Please, I can’t breathe”.

Maar dis wanneer Floyd desperaat uitroep na sy oorlede ma, dat dit jou binneste met mening ruk. Want soos almal in Kuier-land weet, wanneer jy na jou ma uitroep, bevind jy jouself in ’n desperate situasie. En dit maak nie saak of jy ’n kind of volwassene is nie, in daardie oomblik is jou ma die enigste een wat vir jou vertroosting kan bied.

Vir agt minute en 46 sekondes het die wêreld aanskou hoe Floyd se lewe uit sy liggaam gesypel het. Dít terwyl niemand ’n vinger gelig het om hom te help nie. En agt minute en 46 sekondes is ’n lang tyd . . . ’n Nadoodse ondersoek het bevind Floyd is aan ’n hartaanval dood.

Hy het gepleit om genade; vir sy lewe, maar Chauvin het heel casual sy hande in sy broeksak gehad terwyl hy met sy knie op Floyd se nek gedruk het, en sy drie kollegas, Thomas Lane (37), J. Alexander Kueng (26) en Tou Thao (34), het net niks gedoen om hom te keer nie.

George se laaste oomblikke in die strate van Minneapolis, Minnesota, is deur ’n omstander op ’n selfoon verfilm.
Mense het regoor die wêreld die strate ingevaar om te betoog teen polisiebrutaliteit ná die wrede moord op George Floyd deur polisiebeamptes.

Die rede?

George Floyd is daarvan verdink dat hy met ’n vervalste $20-noot by ’n winkel vir goedere betaal het. En wat begin het as ’n viral video oor polisiebrutaliteit, het oorgespoel na talle uithoeke van die wêreld.

Die video het reeds meer as 11 miljoen views op The New York Times se YouTube-kanaal alleen gekry. George Floyd se storie en hoe hy gesterf het, het wêreldnuus geword. “America in crisis” is hoe die nuuskanaal CNN oorhoofs na die storie verwys, want Amerikaners kan hulle nou glad nie meer doof hou of blind staar teen die eise van die Black Lives Matter-beweging nie.

Niemand kon ook meer ontken dat swart Amerikaners, veral mans, deurloop onder buitensporige polisiegeweld nie. Nog minder kon die VSA, wat beskou word as die magtigste land ter wêreld, ontken die euwel van sistemiese rassisme is nog diep gewortel – selfs in 2020 en midde-in ’n pandemie! George Floyd se dood het die kameel se rug gebreek en die name van ander swart slagoffers van die polisie daar laat herrys uit die graf. Eric Garner, Trayvon Martin, Breonna Taylor, Michael Brown en Pamela Turner om maar net ’n paar te noem.

Nog minder kon die VSA, wat beskou word as die magtigste land ter wêreld, ontken die euwel van sistemiese rassisme is nog diep gewortel – selfs in 2020 en midde-in ’n pandemie!

Die sweer van eeue se sistemiese rassisme het oopgebars en mense wêreldwyd het genoeg gehad. Regoor Amerika is optogte gehou en in lande soos Australië, Brittanje en Suid-Afrika het die Black Lives Matter-mantra ook opgeklink. En die “I can’t breathe”-frase eggo ná weke steeds wêreldwyd. Die Kanadese premier, Justin Trudeau, sê hulle kyk in “afgryse en konsternasie” na die video. In Sirië pryk ’n reuseportret van Floyd aan die kant van ’n gebou wat vroeër deur ’n bom getref is. In Brasilië het betogers die polisie met klippe bestook en in België sowel as Brittanje is monumente van slawehandelaars vernietig.

Amerikaners kon hulle nie langer doof hou nie, en polisie van Minneapolis moes optree teen die betrokke polisielede in die George Floyd-saak. Hulle is op 26 Mei, ’n dag ná sy dood, afgedank en op 3 Junie is aangekondig hulle word ook strafregtelik aangekla. Klagtes van moord en manslag staar Chauvin in die gesig, terwyl Lane, Kueng en Thao van medepligtigheid van moord en manslag aangekla is.

Chauvin is borgtog van $1,25 miljoen (sowat R21 miljoen) toegestaan, en die ander drie borgtog van $1 miljoen (sowat R17 miljoen). Dit kan verlaag word as hulle met borgtogvrylating aan sekere voorwaardes voldoen. Teen druktyd was Lane al een wat op verlaagde borgtog van $750 000 (sowat R12 miljoen) vrygelaat is.

Altyd agter

George Floyd

En terwyl die wêreld wonder hoekom juis George Floyd se moord hierdie tipe reaksie ontlok het, het Kimberly Jones, ’n Amerikaanse skrywer, in ’n emosiebelaaide video op YouTube haar sentiment oor die onrus in Amerika gedeel.

Sy het 450 jaar terug in die Amerikaanse slawerny geskiedenis gegaan om mense te laat verstaan hoekom swart Amerikaners nou so kwaad is. Sy wys dat dit oor meer as net sistemiese rassisme gaan, maar ook oor ekonomiese rassisme wat vandag steeds ongelykheid skep. “. . . Kom ons vra onsself dan af hoekom daar in dié land, in 2020, steeds so ’n finan- siële gap tussen arme swart mense en die res van die wêreld is . . . Ons moet nooit vergeet dat swart mense na dié land gebring is om by te dra tot die ekonomie van die land nie. Ons is hierheen gebring om op die plase te kom werk in die suide en in die fabrieke in die noorde.” Kimberly vergelyk die ekonomiese verhouding tussen wit en swart Amerikaners met 450 rondes van Monopoly speel, waar swart Amerikaners keer op keer aan die verloorkant was, al het hulle help bou aan die ekonomie en welvaart van hul wit base.

“Dit is 450 jaar later. Vir 400 rondes was jy nie toegelaat om te speel nie. Nie net dit nie – jy moes vir ander mense speel en werk. Vir die ander 50 jaar kry jy kans om te speel en (iets te) verdien, maar elke keer wanneer hulle nie hou van hoe jy speel nie (as jy byvoorbeeld bekwaam genoeg is om jouself te onderhou), dan vat hulle dit af.

Hoe kan jy wen? Jy kan nie, want die speletjie is fixed . . .” As Suid-Afrikaners, wat self ’n pynlike geskiedenis met slawerny en apartheid onder wit heerskappy het, tref hierdie diep. Want ons kan ook nie ontken dat die speelveld steeds gruwelik ongelyk is nie. Dít kan ons sien in die armoede en werkloosheidstatistieke . . . En ja, dat rassisme alive en well is, al wil ons dit nie só hê nie.

Hoe lank voordat ons nasie se swere ook gaan oopbars?

Hoe lank voordat ons nasie se swere ook gaan oopbars? Dit is eintlik nogal ironies dat dit die dood van ’n swart man in Amerika geneem het om ons eie regering wakker te laat skrik. In solidariteit met George Floyd vra die ANC nou Suid-Afrikaners om op Vrydae swart klere te dra as deel van ’n nuwe veldtog teen rassisme.

Pres. Cyril Ramaphosa vergelyk Floyd se dood met dié van die vryheidsheld Steve Biko. Hy is in 1977 dood weens beserings wat hy in polisie-aanhouding opgedoen het. Ben Okri, ’n bekende Nigeriese skrywer, sê op sy beurt Floyd se laaste woorde, “I can’t breathe” moet die mantra van onderdrukking word en die werklike verandering veroorsaak wat ons wêreld so dringend nodig het.

“Ons het ’n nuwe taal nodig om in fundamentele helderheid te kan sê presies wat gebeur as mense gedemoniseer word, uitgesluit, ontneem, verdruk en vermoor word weens die kleur van hul vel. Ons het . . . ’n frase vir daardie toestand nodig.” Ook ons eie Trevor Noah, wat die Daily Show in Amerika aanbied, het sy stem dik gemaak. Hy sê in ’n selfoonvideo: “Die ware plundering is die polisie wat swart liggame plunder. Mense in gesag moet verantwoordelik gehou word, want hulle bepaal die toon vir wat in die res van die samelewing gebeur.”

Situasie in SA

Maar nie alle Suid-Afrikaners is beïndruk deur die ANC en die president se nuwe Swart Vrydag-veldtog nie. Adv. Naledi Chirwa, ’n EFF-LP, sê hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat daar tydens die Covid-19-inperking alleen minstens 11 Suid-Afrikaners deur die polisie doodgemaak is.

Kort voor druktyd het die Johannesburgse metropolisie aan Kuier bevestig dat hulle begin het om aanbevelings van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat uit te voer. Dít volg ná die dood van Collins Khosa, wat in April tydens ’n skermutseling met die weermag dood is. Khosa se vrou, Nomsa, voer aan haar oorlede man is aangerand deur weermaglede wat hul huis in Alexandra, Gauteng binnegekom, en hom aangerand het omdat hy nie die inperkingsregulasies eerbiedig het nie. Volgens Mari Harris, ’n onafhanklike kommentator en direkteur by Ipsos, het ons regering Khosa in die steek gelaat. “Dit lyk vir my asof hulle dink dat die dood van 11 swart mans in Suid-Afrika nie so belangrik soos Floyd se dood is nie. Dis asof hulle eintlik ’n pleister plak op ’n sweer wat gaan bars.

Die polisie en die weermag se optrede in townships en op baie plekke waar daar nie kameras is of waar mense nie uitpraat oor wat hulle doen nie, is heeltemal onaanvaarbaar.

”Hierop sê die politieke joernalis Jan-Jan Joubert die sweer het reeds gebars, en Floyd se dood is in ’n groot mate ’n waterskeidingsoomblik.“

”Hierop sê die politieke joernalis Jan-Jan Joubert die sweer het reeds gebars, en Floyd se dood is in ’n groot mate ’n waterskeidingsoomblik.“

Ek is nie die wêreld se grootste voorstander van staatsmag met betrekking tot polisie en verdediging nie. Daar is baie goeie mense wat vir hulle werk, maar . . . dit het ons baie sterk gesien in die hantering van Khosa se dood. Ek kan byna nie dink dat hierdie soldate so iets gedoen het nie. Dis ’n mens wat sy lewe verloor het en daar is geen empatie van die weermag se kant af nie.

”Joubert beskryf die weermagondersoek wat hul soldate onskuldig bevind het as ’n skreiende skande.“

As jy ’n ondersoek doen, is daar darem een ding wat jy altyd móét doen, en dit is om albei kante van die saak te hoor. Hulle het net die soldate gevra en nie ’n enkele ander mens wat daar was nie. Natuurlik het die soldate amper dieselfde storie gehad.” Intussen sê die joernalis Poppie Mphu- thing wat al dié voorvalle eintlik gemeen het, is sistemiese rassisme waaraan swart mense wêreldwyd onderwerp word.

“Vir dié wat dink #GeorgeFloyd, #blacklivesmatter en ander hashtags het niks met jou te doen nie, dit kan niks verder van die waarheid wees nie. Swart mense word al eeue lank gekritiseer en ontmens. Dit is 2020 en niks het verander nie.”

Betogers wat die Black Lives Matter-beweging ondersteun.

Die omroeper Eusebius McKaiser sê aan CNN hy is moeg van wit mense wat vir hom vra wat hulle kan doen wanneer die antwoord eintlik eenvoudig is: Hou op om rassisties te wees. Hy glo ’n goeie wegspringplek is by die land se ekonomie wat 26 jaar ná die einde van apartheid steeds in die hande van ’n wit minderheid is.

“Dit was regtig die sonde van 1994 om die rassisme-gesprek te verwyder van die gesprek oor ekonomiese geregtigheid.” Ook Patamedi Lebea, ’n jeugbestuurder van Umuzi, glo dat sistemiese rassisme hand aan hand met ekonomiese bevryding loop, en dat dit dalk nou nodig is om ou wonde oop te krap om uiteindelike genesing te kan kry. “Wanneer dit kom by moeilike gesprekke oor ras is Suid-Afrika baie beter as die VSA geposisioneer. Ons voer meer gesprekke oor ras. Ras is ’n gesprek wat nooit in ons land eindig nie.”

Maar sy glo dat versoening makliker gesê as gedaan is wanneer jy steeds in townships woon waar basiese dienste nog ’n luukse is. “Hoe vergewe jy as jy nog honger is? Daar is steeds hierdie ding wat voor my staan, hierdie swartheid wat my belemmer in alles wat ek doen. Hoe kan ek, selfs as deel van die nuwe generasie, sê: ‘Ons het vergewe’? ” Ook Lola-Rose Avery, ’n prokureur, waarsku dat die sistemiese rassisme wat volgens haar tot Floyd se dood gelei het, ook voor Suid-Afrika se deur lê.

“Dit is nie ’n Amerikaanse probleem nie. Om stilweg ‘nie rassisties’ te wees nie, is nie genoeg nie. Wit mense, wat die begunstigdes van hierdie stelsel is, moet hulself opvoed oor hoe om dit te help afbreek. Om stil te wees, is om medepligtig te wees.”

Meer oor:  George Floyd  |  Finweek  |  Black Lives Matter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.