Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Borrel en bruis in ’n see van geleentheid: Selfoonbankdienste in Afrika
16 Januarie 2020
/

In die laaste twee kwartale van verlede jaar was daar geweldig baie aktiwiteit in selfoon- finansiële dienste in Afrika, veral onder die uitleners.

Google het sake omgekrap deur ’n sekere klas toepassings vir persoonlike lenings in sy Play-winkel te verbied, die mikrolener Tala van Kalifornië het aan Tanzanië onttrek, JUMO, wat kantore in Kaapstad en Nairobi het, het ’n aantal werknemers afgedank, en MTN het aangekondig dat hy beplan om voor die einde van 2019 weer ’n selfoongeld-platform in te stel.

KMMO’s teenoor verbruikers

“Die omgewing van selfoon- finansiële dienste is op die oomblik baie aktief, met ’n aantal leners aan verbruikers of klein en middelslagondernemings wat oral op die vasteland na vore tree,” sê Johan Bosini van die waagkapitaalmaatskappy Quona Capital, wat op jong klein, mikro- en middelslagondernemings (KMMO’s) vir uitlenings wêreldwyd konsentreer, asook op ander maatskappye in finansiële tegnologie.

Met ’n groot aantal digitale leners, veral in Oos-Afrika, meen Bosini dat regulatoriese verandering ten opsigte van verbruikerslenings kan kom. Spelers op die terrein van verbruikerskrediet, soos Branch.co en Tala van Kalifornië, beleef ongetwyfeld al hoe meer stigmatisering op die vasteland – ’n situasie wat daardeur vererger is dat Google in Augustus baie toepassings verbied het wat persoonlike lenings met ’n jaarlikse rentekoers van 36% of hoër bied.

Tala is in September in Dar es Salaam van ekonomiese misdaad beskuldig en het kort daarna opgehou om lenings in Tanzanië aan te bied. Marcello Schermer, uitbreidingshoof van Yoco, ’n Suid-Afrikaanse beginneronderneming in selfoonverkoopstoestelle, sê: “Die kommer oor dit waarvoor verbuikers mikrolenings gebruik, het opmerklik toegeneem.”

Hy verwys na ’n onlangse bevinding deur Financial Sector Deepening Kenya, ’n organisasie wat toegang tot finansiële markte vir armes bevorder, dat die kans twee keer so groot is dat digitale leners by selfoon- dobbelary betrokke sal raak. Sommige uitleners skakel van kredietaanbiedings aan verbruikers oor na KMMO-lenings.

Steve Etherton, JUMO se bedryfshoof

“Ons verskuif ons fokus na KMMO’s vanweë hul potensiaal vir positiewe, uitbreibare ekonomiese invloed op hul gemeenskappe,” sê Steve Etherton, JUMO se bedryfshoof. JUMO is in verskeie Afrika-markte bedrywig en het begin deur lenings aan sowel verbruikers as entrepreneurs te bied.

Bosini sê een van die probleme met digitale finansiële dienste is dat “ ’n verbruiker en ’n mikro- onderneming in ontluikende markte dieselfde persoon kan wees, en dis werklik moeilik om sonder persoonlike interaksie te onderskei”. Baie moeite word tans in die leningsomgewing gedoen om die uitdaging te hanteer om betekenisvolle kredietprofiele van KMMO’s te skep, volgens Schermer.

Met of sonder vennote

Die mikroleners val in drie groot kategorieë: dié wat met selfoonnetwerkoperateurs saamwerk, dié wat aanlyn aanbiedings gebou het om deur ’n toepassing regstreeks toegang tot kliënte te kry, en wat Bosini noem “verwante maatskappye waarby finansiële dienste ingebed is – maatskappye wat in ander sakebehoeftes voorsien en lenings dan daarby aanbied”.

Schermer sê maatskappye wat by selfoonnetwerkoperateurs ingeskakel is, het die voordeel van toegang tot baie gebruikersdata, maar moet potensieel ingewikkelde verhoudinge hanteer, terwyl spelers met aanlyn aanbiedings volkome beheer oor hul sake het en nie ’n vennoot hoef te vergoed nie, “maar dalk sal sukkel met die hoë koste daarvan om ’n handelsmerk op te bou en produkte aan kliënte te bemark”.

Etherton sê: “JUMO stel akkurate kredietprofiele saam deurdat sy data-enjin algoritmes uitvoer op selfoonbeursie-, selfoon- en transaksiedata”.

Etherton sê: “JUMO stel akkurate kredietprofiele saam deurdat sy data-enjin algoritmes uitvoer op selfoonbeursie-, selfoon- en transaksiedata”. Die maatskappy se tegnologie kry inderdaad wyd lof en toekennings. Schermer meen ’n maatskappy met aanlyn aanbiedings en ’n skeppende benadering tot die probleem van beperkte kliëntinligting is Numida, ’n maatskappy van Uganda wat ’n boekhou- toepassing ontwerp het en nou lenings aan gebruikers bied op grond van die inkomste- en kostedata wat hulle deur die toepassing stuur.

Yoco het ook kredietprodukte aan sy 60 000 handelaars begin aanbied. Hy evalueer aansoekers op grond van hul saketransaksiedata, wat Yoco hou. ’n Bykomende persentasie word van elke transaksie afgetrek, wat outomatiese, stapsgewyse terugbetaling van die lening moontlik maak teen ’n pas wat met die onderneming se welstand en kontantvloei ooreenstem. “Vir ons is dit ’n ooglopende waardetoevoeging, want Yoco het reeds toegang tot die data wat nodig is om ’n inkomsteprofiel vir kliënte te skep, en handelaars is mal daaroor omdat dit nie soos ’n tradisionele kontantvoorskot voel nie,” sê Schermer.

Selfoonnnetwerkoperateurs het in Oos-Afrika finansiële dienste suksesvol begin, maar herhaaldelik misluk in Suid-Afrika se uiters mededing- ende, streng gereguleerde en skuldbelaaide mark, al lyk dit of dit weer aanloklik word, met MTN wat gesê het hy sou voor einde verlede jaar ’n selfoongeld-diens begin nadat hy sy aanvanklike selfoongeld-platform in 2016 gestaak het.

Tolling en kansellasies

Histories vermy die risikosku formele banksektor mikrolenings, en nie-terugbetaling bly beslis ’n probleem op dié terrein. “[Kansellasies] in die telekommunikasieomgewing verwys breedweg na die persentasie kliënte wat in ’n bepaalde tydperk van ’n bepaalde diens of diensverskaffer na ’n ander oorskakel, en die gevolg daarvan op ons omgewing is dat as ’n kliënt se selfoonnommer onaktief is, dit aan iemand anders toegewys kan word,” sê Etherton.

Die ooglopende gevolg is dat dit onwaarskynlik is dat uitstaande leningsbedrae terugbetaal sal word. Bedrog is ’n groot probleem. Nadat JUMO in 2018 in Pakistan ingestel is, is die maatskappy gou getref deur ’n praktyk bekend as tolling (spinning).

Misdaadsindikate het die uitleners se algoritmes uitgebuit deur lenings betyds terug te betaal om toegang tot die grootste moontlike leningsbedrag te kry, waarna die SIM-kaarte – dikwels duisende op ’n slag – uit fone verwyder is en die gebruikers dan verdwyn het.

“[Vandag] ontleed JUMO kliëntegedragsdata om tipiese gedragspatrone te bepaal en te help om moontlike gevalle van bedrog te identifiseer en in sommige gevalle bedrognetwerke te ontbloot,” sê Etherton.

“Verantwoordelike finansiëletegnologie-maatskappye en tegnologieverskaffers behoort te help om die vaardighede van die eindgebruikers van hul tegnologie of produkte te verbeter. Hulle kan help deur kontroles en prosesse te ontwikkel en in te stel wat teen bedrog, misbruik en geldwassery beskerm.”

’n Verbrokkelde omgewing

’n Belangrike insig uit die laaste paar jaar is dat amper alle finansiëletegnologie-maatskappye erken dat geografiese uitbreiding in Afrika nie maklik is nie. Nadat die betalingbeginneronderneming Zoona in Zambië gevestig het, het hy gevind dat nuwe markte soos Malawi veel moeiliker is, en het in November op Facebook die volgende geplaas: “Om te herhaal, moes ons leer, en om te leer, moes ons misluk.”

Bosini stem saam dat dit moeilik is om ’n uitbreibare onderneming in verskeie lande te bedryf. “Dis hoekom primêre markte soos Suid-Afrika, Kenia en Nigerië die meeste waagkapitaalfinansiering lok, want die algehele toeganklike mark alleen is groot genoeg.”

Schermer beskryf die verskeidenheid van Afrika-markte skitterend:“Op grond van die bruto binnelandse produk is Nigerië se hele ekonomie so groot soos Boston se ekonomie, en Nigerië se ekonomie is die grootste op die vasteland.

’n Maatskappy wat in Nigerië bedrywig is en op die vasteland wil uitbrei, beweeg effektief van ’n mark so groot soos Boston na markte so groot soos woonstelblokke in Boston.

“’n Maatskappy wat in Nigerië bedrywig is en op die vasteland wil uitbrei, beweeg effektief van ’n mark so groot soos Boston na markte so groot soos woonstelblokke in Boston.”

Tog het elke blok sy eie reëls, regulasies en infrastruktuurprobleme. Dit beteken dat die bedryfskompleksiteit eksponensieel toeneem om toegang tot die groot geleenthede in verskillende markte te kry.” Yoco is onder dié wat gekies het om die geleentheid in ’n enkele primêre mark te ontgin voordat hy uitbrei.

“Ons skat dat daar ’n miljoen KMMO’s in Suid-Afrika is wat digitale betalings kan benodig, maar ons het 60 000 handelaars, en daarom is Suid-Afrika ongetwyfeld ons grootste groeiaandrywer.

Ons wil dit eers diep ontgin voordat ons na ander markte uitbrei,” sê Schermer. JUMO het ’n benadering gekies wat sowel baie ambisieus as uitdagend is, en soek voortdurend maniere om die toegang tot finansiële dienste vir meer mense te vergroot, wat beteken dat hy hom nie tot vennootskappe met risikosku-banke beperk nie en aanloklik is vir ’n minder risikosku kapitaalklas, waaronder aansoeke om toelaes en vennootskappe met filantropiese stigtings.

“Ons verwag dat dié modelle sal ontwikkel om meer nie-tradisionele spelers in te sluit sodat ons niskliëntsegmente, soos boere of seisoenale loonwerkers, kan bereik,” sê Etherton.

Steve Etherton, JUMO se bedryfshoof

JUMO met een oogopslag

JUMO, wat in 2015 gestig is, het nie gehuiwer om sy resep aggressief te bevorder om finansiële dienste na mense te bring wat voortdurend ontoereikend deur die formele finansiëledienste-sektor gediens word nie.

Ná ’n paar goeie finansieringsrondes het JUMO ernstig werknemers aangestel en talent van banke, fondsbestuurders, universiteite en ander beginnerondernemings in finansiële tegnologie weggelok en spanne tegelyk in verskeie markte aan die werk gestel.

JUMO-produkte was teen einde 2016 in Kenia, Uganda, Zambië, Tanzanië en Ghana beskikbaar, met Pakistan wat in 2018 gevolg het. JUMO het sover sowat $1,6 miljard se lenings aan 15 miljoen kliënte uitgekeer.

In 2018 was daar 395,7 milj. selfoonbank- rekeninge in Afrika wat $28,6 mjd. se transaksies gedoen het – en albei syfers groei teen 15% per jaar.

BRON: GSMA Intelligence

50+ Is die getal toepassinggegronde leners in 2019 in Oos-Afrika alleen.

BRON: Quona Capital

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.