Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Buitelandse belegging: op die regte tyd en om die regte redes
29 Augustus 2019

Ja, daar is baie onsekerhede in Suid-Afrika. Maar die soeke na beleggingsgeleenthede op buitelandse markte moenie spruit uit vrees vir wat plaaslik gebeur nie. 

Baie legendariese stories word vertel van ryk Suid-Afrikaners wat op die hoogtepunt van apartheid toe sanksies begin byt, die inflasiekoers gestyg en die rand teenoor die dollar begin terugsak het, rande met seiljagte of vliegtuie uit die land gesmokkel het.

Terwyl valutabeheer in die slegte ou tyd gekeer het dat baie welvaart die land verlaat, is daar vandag prakties gesproke vir die gemiddelde Suid-Afrikaner geen beperking op geografiese portefeuljediversifisering nie. Wat eerder geneig is om baie Suid-Afrikaners te keer om in buitelandse bates te belê, is hoeveel administrasie dit behels, asook moontlik hoër koste en dubbele belasting.

Diversifiseringstraagheid

Vir die meeste mense het die diversifiseringstraagheid eintlik goed uitgewerk – die JSE het die laaste paar dekades opbrengs opgelewer wat dit vir plaaslike beleggers moontlik gemaak het om die buiteland te ignoreer. Elke keer as die rand verswak, is daar sprake van buitelandse opsies, maar die geldvloei stem nie met die praktiese ekonomiese werklikhede ooreen nie.

Nou lyk die situasie egter anders. Wanneer ontleders oor die jongste vlaag sentiment op grond van plaaslike politiek, die verslegtende plaaslike ekonomie en geweldige werkloosheid praat, verwys hulle gereeld na “kapitulasie” van vertroue in die land se vooruitsigte. En bekyk mens kliëntebesluite en geldvloeistatistieke, lyk dit of Suid-Afrikaners se geld hul woorde begin volg.

Warren Ingram, uitvoerende direkteur van Galileo Capital.

Warren Ingram, uitvoerende direkteur van Galileo Capital, stem saam dat die JSE in die eerste ses maande van vanjaar skouspelagtig gepresteer het deurdat die indeks van alle aandele sowat 12% opgelewer het.

Hy sê egter dat as Naspers* en die mynbouaandele, wat deur randswakheid bevoordeel is, weggelaat word, die prentjie verander. Daarby het die JSE sedert einde Junie ’n hele paar persent teruggesak. “As Naspers se uitwerking geïgnoreer word, is beleggers oor ses jaar na aan ’n opbrengs van 0% uit die mark, en beslis onder inflasie.

Dis ’n groot kwessie. Beleggers se werklike ervaring is nie goed nie. Morningstar se fondsvloeidata vir die ses maande tot einde Junie toon dat algemene-aandeelfondse gemiddeld 7,45% opgelewer het, 1,45% oor een jaar en 3,45% oor vyf jaar. Hy sê tipiese gebalanseerde fondse het in die afgelope ses maande 6,91% behaal, 3,1% vir ’n jaar en 5% per jaar vir die afgelope vyf jaar.

“Kliënte, batebestuurders, almal sukkel om rasionele gesprekke oor dié opbrengsvlakke te voer. Mense kyk na ons politiek en ekonomie en sê niks het verander nie. Daarby keer die gesprek oor voorgeskrewe bates terug – wat beleggers bang maak,” sê Ingram.

“As Naspers se uitwerking geïgnoreer word, is beleggers oor ses jaar na aan ’n opbrengs van 0% uit die mark, en beslis onder inflasie. Dis ’n groot kwessie.”

Ingram sê die probleem is ’n refleksreaksie, eerder as ’n rasionele besluit om in die buiteland te begin belê.

“Dit gaan werklik nie oor wat tans gebeur nie. Dit gaan oor ’n logiese rede om sekere geld oorsee te hou. As jy aan diversifisering as deel van jou beleggingstrategie glo, moet jy ’n oorsese toewysing hê.” Die redes is taamlik eenvoudig: die JSE verteenwoordig net minder as 1% van die wêreld se belêbare bates en het “werklik net 60 tot 80 belêbare aandele”, sê Ingram.

“Deur in ander markte te belê, kry jy toegang tot reusagtige farmaseutiese maatskappye, tegnologiemaatskappye, maatskappye in finansiële tegnologie, reusekleinhandelaars en so meer. Dit maak nie sin om al jou beleggings hier te hou nie,” sê Ingram.

Sangeeth_Sewnath
Sangeeth Sewnath

Sangeeth Sewnath, adjunk- besturende direkteur van Investec Asset Management (IAM), sê IAM se beleggingspan het voorspel dat die JSE en internasionale aandele se opbrengs vanjaar soortgelyk sou wees, maar baie mense het gedink dis gek.

“Maar wat jy moet onthou, is dat die Suid-Afrikaanse prentjie veel meer risiko behels, met oproepe om ’n heraanslag van aandele, en die JSE is veel wisselvaliger. Op ’n risikoaangepaste grondslag is daar beter keuses as die JSE.”

Sewnath sê op grond van die afgelope ses maande moet beleggers en batebestuurders selfs met internasionale aandele steeds versigtig wees – dis nie ’n stygende gety wat alle bote lig nie. “Wat interessant is, is dat net sowat 35 van die S & P 500-aandele teen einde Junie vir die afgelope twee jaar beter as die indeks gevaar het. Ons moet steeds baie kieskeurig wees.”

Hy sê baie JSE-aandele het goeie kenmerke en fundamentele faktore, en namate rentekoerse daal en daar aan ander aanwysers voldoen word, lyk die vooruitsig op herstel goed. “Vir eers is daar egter baie risiko.”

Vertroue is die kuns. Wanneer mense groei begin sien, sal hulle begin belê.

Volgens Sewnath bedra plaaslike huishoudelike deposito’s sowat R1 200 miljard – omtrent dubbel die langtermyn-gemiddelde. “Dis baie geld wat buite die beleggingsnet is. Mense is senuweeagtig. As vertroue en positiewe sentiment terugkeer, kan dit ’n groot uitwerking op die ekonomiese groei hê.

Vertroue is die kuns. Wanneer mense groei begin sien, sal hulle begin belê. Dis ’n siklus wat homself aandryf. Ek sal nie die plaaslike mark afskryf nie, maar baie dinge moet regkom voordat mense weer inspring.”

Arno_Lawrenz
Arno Lawrenz
Die argument vir buitelandse belegging

Die besluit om in die buiteland te begin belê, moenie uit vrees spruit nie. Dít is die boodskap van Arno Lawrenz, internasionale beleggingstrateeg by Ashburton Investments. “Suid-Afrika is ’n klein vissie in ’n groot dam as jou doel is om welvaart te skep.

Daarom maak dit sin om buitelandse groeigeleenthede te benut. ’n Vergelyking van die aantal aandele wat 20 jaar gelede genoteer was en vandag s’n toon ’n drastiese daling. Daarby weet mens dat jy toegang kan kry tot bedrywe wat nie hier genoteer is en verteenwoordig word nie. Dis nie ’n vreesbesluit nie – dit gaan daaroor om die buitelandse dinamiek te benut,” sê hy.

Natuurlik lyk die internasionale ekonomiese omgewing ook nie belowend nie. Duitsland se ekonomie het pas gekrimp; negatiewe effekteopbrengskoerse is algemeen; China en Amerika is in ’n handelsoorlog gewikkel wat groei oral bedreig; en Amerikaanse effekteopbrengskoersgrafieke voorspel ’n resessie.

“Dis ’n moeilike situasie. Dink aan die mynbouaandele in Suid-Afrika – hulle lewer deur dividende kontant aan aandeelhouers op, eerder as om in langtermyn-projekte te investeer. Dis nie ’n goeie onderliggende boodskap nie. En nou verlangsaam Amerika na die vlak van sy handelsmededingers toe – waarvoor die handelsoorlog deels verantwoordelik is,” sê Lawrenz.

Lawrenz sê egter China het sy onderliggende ekonomiese kwessies goed gehanteer en bied aansporingsmaatstawwe. “Dis nog te gou om ’n internasionale verlangsaming te voorspel. Maar as jy oor die internasionale siklus besorg is, word jy meer defensief – en dis waar ons nou in ons posisies is. Ons het ’n ondergewig aandeelposisie vergeleke met die norm.“

Tog het ons in die blootstelling wat ons wel het beleggings in hoëgehalte-maatskappye met deursigtige verdienste en hoëgehalte-verdienstestrome. En uiteindelik lei dit ons terug na Amerika. Amerika groei steeds vinniger as sy mededingers in die eurosone, en China is op sy laagste groeikoers in omtrent drie dekades. Amerika bied verdienstegehalte, al neig ons weg van multinasionale tegnologiemaatskappye wat kwesbaar is vir die handelsoorlog.”Waarheen stuur Suid-Afrikaanse beleggers en batebestuurders hul geld?

“Die afgelope drie jaar het 80% van die geld deur die bedryf heen na vaste-inkomstesoort-beleggings en die res na buitelandse fondse gegaan. Vaste inkomste, soos Suid-Afrikaanse staatseffekte, het 8,5% tot 9% opgelewer, en dit het ’n groot deel van beleggings geword,” sê Sewnath.

“Die voorkeur is om geld in buitelandse bankrekeninge en regstreeks in fondse in die buiteland te belê. Ek dink die vrees is vergesog, maar dis wat mense doen.”

Hy sê terwyl plaaslike beleggers gewoonlik die opsie het van voerfondse deur plaaslike effektetrusts of om regstreeks in die buiteland te belê, neig die vloei weg van voerfondse, waarskynlik weens die vrees dat die regering toegang tot voerfondse sal hê as die strategie van voorgeskrewe bates ’n werklikheid word.

“Die voorkeur is om geld in buitelandse bankrekeninge en regstreeks in fondse in die buiteland te belê. Ek dink die vrees is vergesog, maar dis wat mense doen.”

Asiese markte het die afgelope jaar meer as die helfte van die wêreldgroei bygedra, sê Sewnath.

“Ek dink die keerpunt waarna Suid-Afrikaners uit gewoonte deel van hul welvaart in die buiteland sal belê, kom nader. Ek dink steeds buitelandse toewysings is in die algemeen nie hoog genoeg nie.”

’n Praktiese gids tot buitelandse belegging

Buitelandse belegging moenie ’n refleksreaksie op slegte nuus wees nie, maar oor die regte portefeuljemengsel.

Hoeveel van my welvaart moet ek in die buiteland belê?

“Ek beveel aan minstens 25%, en tot 75% as jy omsien na die welvaart van verskillende generasies en die moontlikheid bestaan dat jou kinders eendag oorsee sal woon,” sê Warren Ingram, uitvoerende direkteur van Galileo Capital. “Mettertyd moet alle beleggers minstens 25% van hul batebasis buite Suid-Afrika hê.

Ons word as individue toegelaat om R1 miljoen per jaar uit te stuur sonder om by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens [SAID] aansoek te doen, en R10 miljoen per jaar as diskresionêre bedrag met die SAID se toestemming. Vir die grootste deel van die bevolking bestaan valutabeheer vir alle praktiese doeleindes nie.”

Omdat baie aandeelfondse in Suid-Afrika reeds buitelandse toewysing bevat, sal die rede om die buitelandse gedeelte van welvaart tot meer as 25% te vergroot, volgens Ingram wees om erfgename in ag te neem.

“Dit kan selfs ’n welvarende familie wees wat beplan om geld vir kleinkinders na te laat, in welke geval ek 75% sal aanbeveel. Dit weerspieël nie ’n siening van Suid-Afrika nie. Dis net behoorlike, rasionele diversifisering.

“As jy geld het om ’n derde generasie te finansier, moet jy 25% gebruik om jou leefstyl hier te finansier sonder om jou oor wisselkoersveranderinge te kwel. Die res kan wêreldwyd gebalanseer word vir risiko wat jy nie vandag kan voorsien nie,” sê Ingram. Sangeeth Sewnath, adjunk- besturende direkteur van Investec Asset Management, beveel 50% aan vir enige iemand met die regte risikoaptyt wat strategiese toewysing benodig. “Raak op lang termyn betrokke. Moet jou nie oor die markveranderinge kwel nie. Ek is meer daaroor besorg om die regte portefeuljemengsel te hê om jou te beskerm wanneer sake nie goed verloop nie. Bly by jou beleggingsidees. As jy belê met ’n verwagting van inflasie plus vyf persentasiepunte met ’n tydsraamwerk van meer as vyf tot sewe jaar, sal ek 50% tot 60% aanbeveel.”

Wanneer moet ek in die buiteland belê?

Randswakheid maak dié vraag baie tersaaklik. Die ironie is dat praatjies van buitelandse belegging altyd ontstaan in ’n tyd wanneer die rand skerp daal.

Weerstaan die versoeking om buitelandse bates te koop wanneer die rand onderwaardeer is – dit sal ’n beleggingsportefeulje net benadeel.

“Moenie opportunisties wees met oorsese beleggings nie. Wanneer jy geld uitstuur, moet dit met ’n strategiese langtermyn- doel wees. Moenie dit uitstuur as ’n refleks op slegte nuus in Suid-Afrika wat in die rand se waarde weerspieël word nie. Die huidige meer as R14 teenoor die dollar is nie ’n goeie tyd om rande oorsee te stuur nie. Beleggers moet eerder na die bestek R13,90 tot R14,00 kyk, en moet geduldig wees wanneer dit meer is voordat hulle hul toewysing gebruik,” sê Ingram.

“Moet dit ook nie te gou terugbring nie. Sowel die rand as die aandelemark kan baie verander. Hou dit dus op lang termyn.”

Sewnath meen dat die rand nie oor- of onderwaardeer is nie. “Sowat R14,50 is billike waarde. Jy moet vir billike tot goedkoop waarde wag voordat jy iets doen. Van die grootste bedrae is in Desember 2001 uit toe die rand-dollar-wisselkoers R13,85 getref het. Dís die soort optrede wat jy wil vermy.”

Nog ’n antwoord op dié vraag is: “Nie voordat jy dit met ’n finansiële adviseur bespreek het nie.” Volgens Arno Lawrenz, strateeg vir internasionale beleggings by Ashburton Investments, is daar nie ’n enkele wondersyfer of -tydsberekening vir elke belegger nie. “Die belangrike ding om te doen as jy meen die tyd is reg, is om ’n adviseur te spreek en oor jou aspirasies en doelwitte te praat. Dit sal begin om al die vrae te beantwoord.” Sewnath stem saam: “Uiteindelik is die regte manier om as ’n batebestuurder sake te doen deur finansiële adviseurs – ons werk nie regstreeks met beleggers nie, want ons meen dat advies ware waarde inhou. Dit kan waardevernietiging voorkom. In die algemeen is die verskil tussen lae- en hoë-aandeelfondse geannualiseerde opbrengs van vier tot vyf persentasiepunte, en oor 25 jaar kan dit ’n beduidende uitwerking hê op wat jy uitkry. Ons is sterk ondersteuners van die adviesmodel om te bepaal hoe om met ’n weldeurdagte plan te belê.”

Waar is die beste?

“Ligging bepaal dikwels die gesprek oor wie jou geld bestuur,” sê Ingram. “Dis belangrik om daarop te let dat sowel Amerika as Brittanje boedelbelasting hef op nie-inwoners se beleggings wat daar gehou word. As jy dus aandele of fondse regstreeks koop uit bankrekeninge wat daar gehou word, is jou boedel aanspreeklik vir belasting van 40% op dié bates, selfs as ’n niebelastingbetaler. Dis ’n groot oorweging,” sê hy.

Net só kan die hou van jou bates op die Europese vasteland of elders in die Britse Gemenebes ’n afsonderlike testament vereis, want baie lande in dié streke erken nie Suid-Afrikaanse testamente of esekuteurskapaanstellings nie.

“Jy moet ook dubbele belasting in ag neem. As jy rente of dividende in ’n ander land verdien, sal jy dalk in dié regsgebied en dan weer deur die SAID belas word. Dit kan ingewikkeld en tydrowend wees. Jy sal altyd êrens belasting moet betaal, en daarom is die ideale situasie dat jy net een keer boedelbelasting, inkomstebelasting, dividendbelasting en kapitaalwinsbelasting betaal,” sê Ingram.

Hy beveel aan dat mens ’n buitelandse regsgebied soos die Kanaaleilande, Ierland of Switserland as ’n buitelandse regsgebied vir bank- of aandelemakelaarsrekeninge kies. “Dié lande sal nie nie-inwoners belas nie en hulle erken Suid-Afrikaanse eksekuteurskapsaanstellings.”

Ingram sê terwyl baie private banke jou sal help om ’n Britse bankrekening op te stel, word die belastinggevolge selde behoorlik verstaan.

“Vir mense wat meer beheer wil hê of wat kleiner bedrae wil belê, beveel ek aan dat hulle ’n eenvoudige aandelemakelaarsrekening in die Kanaaleilande of Switserland oorweeg. Dit doen geen kwaad as ’n belegger letterlik ’n beursverhandelde fonds in MSCI se wêreldindeks van daar af of ’n paar verskillende indeksvolgers uit dié rekening koop nie, solank hulle bekende verskaffers gebruik.Die risiko sal klein wees, afgesien van prestasierisiko.”

Die maklikste manier om toegang tot buitelandse bates te kry, is om batebestuurders en fondse in Suid-Afrika te gebruik, veral as hulle in rand gedenomineer is.

“Effektetrusts maak sin vir enigiemand wat nie hul eie beleggings wil bestuur nie. Die meeste Suid-Afrikaanse fondsbestuurders het reeds beduidende oorsese bedrywighede en vermoëns,” sê Ingram.

“’n Randgedenomineerde buitelandse fonds wat hier gehou word, beteken dat jy nie jou geld fisiek na die buiteland neem nie – en dis die maklikste. Deur dan jou toegelate buitelandse beleggings te gebruik, maak al die banke dit deesdae taamlik maklik – jy kan geld na buitelandse fondse neem wat in die buiteland gehou word. Byvoorbeeld, Ashburton se Global Flexible-fonds is in rand gedenomineer, terwyl die Global Growth-fonds in Jersey is en in dollar gedenomineer is. Die meeste batebestuurders het sulke soort fondse,” sê Lawrenz.

Hoeveel sal dit kos?
“Beleggers moet goed rondkyk. Sommige oorsese fondse se tariewe kan hoër wees, maar dikwels kan hulle laer wees. Ek beveel aan dat mens kyk wat ’n fonds in ’n buitelandse geldeenheid wat plaaslik bestuur word volgens sy feitestaat sal kos, en dan opsies bekyk om in buitelandse fondse te belê,” sê Ingram.

“Enigiets laer sal ’n billike tarief wees. Vir kleiner beleggers is die gevaar altyd om deur transaksiekoste belemmer te word, maar as jy nie ’n groot portefeulje opbou nie, sal die kwessie van boedelbelasting nie met beleggings in Amerika ontstaan nie. Gewoonlik word dit bo $40 000 gehef,” sê Ingram.

Sewnath sê die tariefstrukture sal aanvanklik vir beleggers amper teenintuïtief wees. “Om regstreeks in die buiteland te belê, behels gewoonlik ’n klein premie van sowat 0,1 tot 0,15 persentasiepunte.

Maar wat ons in werklikheid as grondslag vir heffings gebruik, is die buitengewone prestasie wat ons verwag.

Ons verwag om in Suid-Afrika meer buitengewone prestasie te behaal vanweë die grootte van die mark en wat beskikbaar is. Sekere ontwikkelde markte is doeltreffender, en daarom is die vermoë om buitengewoon te presteer meer beperk.

“Gevolglik is die gelde wat ons vir internasionale fondse hef laer as wat ons vir plaaslike fondse hef. Vir ons Global Franchise-fonds, wat in die buiteland gehou word, sal jy 0,75 persentasiepunte as ’n vaste tarief betaal. Maar vir ’n Suid-Afrikaans gerigte multibate- of aandeelfonds sal beleggers waarskynlik 0,85 tot 1 persentasiepunt vir ’n aktief bestuurde fonds betaal,” sê Sewnath.

“Om ’n platform te gebruik wat in Suid-Afrika gehou word, help jou vanselfsprekend om verskillende tariewe en belasting van ander regsgebiede te vermy wat tot die kostelas kan bydra.”

Lawrenz sê dis ook die situasie by Ashburton. “Die gelde vir internasionale fondse is nie hoër as vir plaaslike aandeelfondse nie. Hulle is taamlik mededingend. Daar is beslis nie ’n bykomende laag tariewe nie.”

Wie moet my geld bestuur?

Omtrent elke groot batebestuursmaatskappy in Suid-Afrika bestuur buitelandse fondse en voerfondse. Selfs buitelandse batebestuursgroepe is bewus van geleenthede om Suid-Afrikaners te help om geld na die buiteland te stuur en het hul dienste begin aanbied.

Volgens Sewnath het die verslapping van fondsregistrasievereistes in Suid-Afrika die afgelope vyf jaar dit vir spelers soos Blackrock, Schroders en M&G Investments moontlik gemaak om kliënte hier te lok.

“Suid-Afrikaanse ondernemings wat bates in die buiteland bestuur, vaar egter goed. Of dit nou Nedgroup, Old Mutual International, Glacier International, Coronation of Allan Gray is – dis nie asof plaaslike beleggers nie bestuurders het wat goed vaar nie."

Hy sê as ’n belegger self regstreeks in die buiteland belê, kan dit tyd behels om oor regsgebiede se vereistes, belastings en beperkings te leer, terwyl die kies van ’n plaaslike batebestuurder dinge veel makliker maak en die Fica-proses hanteer alle bykomende implikasies. “Soek rond,” sê Ingram.

“Suid-Afrikaanse batebestuursmaatskappye het goeie vaardighede en hulle is ’n lewensvatbare opsie, en omtrent almal bestuur mandjies buitelandse aandele.”


Die ekonoom se siening van die beleggingsagtergrond

'n Oorsig van die plaaslike en internasionale ekonomiese omgewing beklemtoon in die algemeen ’n stadige pad na herstel.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, meen dat Suid-Afrika se vooruitsigte vir ekonomiese groei verder verswak het, met reële groei in die bruto binnelandse produk (BBP) van 0,6% tot 0,8% wat vir vanjaar verwag word.

Afhangend van strukturele ekonomiese hervorming wat nodig is om dit makliker te maak om sake te doen en werkloosheid te begin absorbeer, sal Suid-Afrika teen 2025 dalk reële BBP-groei van sowat 3% kan behaal. “Huishoudings is finansieel beperk, en die reële huishoudelike bestedingsgroei is swak, wat tot lae BBP-groei lei omdat huishoudelike verbruiksbesteding twee derdes van die BBP verteenwoordig. Die vraag is inderdaad swak in Suid-Afrika en beïnvloed ook inflasie-uitkomste, met verbruikersprysinflasie beskeie op 4,5% op ’n jaargrondslag – veel minder as die historiese gemiddelde sedert 2009 van 5,4% op ’n jaargrondslag,” sê Bishop.

“Met die dienstesektor wat meer as 70% van die ekonomie verteenwoordig – teenoor 62% in 1993 – kom ’n skerp deïndustrialiseringstendens in die plaaslike ekonomie voor. Die ekonomie het ook volwasse geword. Die herindustrialisering van SA sal baie help om die ekonomiese groei en werkskepping te bevorder, terwyl die land se volwasse, gesofistikeerde dienstesektor ingespan kan word om dit moontlik te maak as die regering sy regulatoriese las op sakeaktiwiteit baie verlig, veral in die vervaardiging- en mynbousektor,” sê Bishop.

“Die plaaslike vraag is swak, met hoë inflasie van geadministreerde pryse van 8,2% op ’n jaargrondslag wat besteebare inkomste kwaai verminder en sodoende huishoudelike verbruiksbesteding en ekonomiese groei verswak.”

Daarteenoor sal die rand waarskynlik bevoordeel word deur internasionale aansporingstappe in die vorm van die wêreldwye verslapping van monetêre beleid. “Ons het ons voorspelling van internasionale BBP-groei weer afwaarts aangepas: tot 2,6% op ’n jaargrondslag vir vanjaar, teenoor ons voorspelling in die tweede kwartaal van vanjaar van 2,9% op ’n jaargrondslag – in ooreenstemming met die Wêreldbank,” sê Bishop.

“Op langer termyn sal die rand na verwagting na sy koopkragpariteitwaardasie terugkeer, solank die handelspanning tussen Amerika en China nie verder toeneem nie, Moody’s nie die kredietgradering verlaag nie, of ’n uitgerekte internasionale risikosku-omgewing op finansiële markte voorkom nie.”

Die batebestuurder Futuregrowth het in sy maandelikse oorsig vir Julie gesê markdeelnemers is wreed ontnugter toe die minister van finansies SA se treurige fiskale situasie bevestig het.

“Die uitwerking van swak ekonomiese groei op trae invordering van belastinginkomste en die las van die finansiële steun van ondernemings in staatsbesit, veral Eskom, is nie nuut nie. Tog het dit daartoe gelei dat die graderingsagentskap Fitch die land se vooruitsig van stabiel na negatief verander het – wat hoër risiko van ’n verlaging op ’n punt van die soewereine gradering na niebeleggingsgraad impliseer. Terselfdertyd het die graderingsagentskap Moody’s ’n minder as opbouende mening oor die land uitgereik en op die groter waarskynlik van ’n verlaging van die graderingsvooruitsig van stabiel na negatief voor einde vanjaar gewys,” sê Futuregrowth.

“Die internasionale ekonomiese herstel van die laaste paar jaar het in die tweede helfte van verlede jaar momentum begin verloor, en onlangse resessievrese het die beleggersentiment beduidend beïnvloed. Ons voorsien steeds nie ’n algemene ineenstorting nie – deels danksy fiskale uitbreiding laat in die siklus van wêreldgroei- enjins soos Amerika en China. Sentrale banke bly ook sensitief vir groeiseine, veral vanweë volgehoue lae inflasionêre druk, veral in ontwikkelde markte. Tog hel die risiko vir ons grondslagargument na die daalkant oor. Die twee noemenswaardige potensiële aandrywers van die daalrisiko is volgehoue swak groei in die eurogebied en voortgesette internasionale handelswrywing,” sê die batebestuursmaatskappy. 

Meer oor:  Finweek  |  Buitelandse Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.