Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Buitelandse regerings verknies hulle oor SA se geslote staatshuishouding
30 Julie 2020

Suid-Afrika stuur op ’n “outargie” af, ’n toename in ekonomiese onafhanklikheid deur onder meer ’n proteksionistiese handelsbeleid te handhaaf. Die regering het nog voor die Covid-19-krisis die ekonomie “huis toe” begin bring, maar die proses het sedertdien klaarblyklik versnel.

Dis die mening van minstens party van die land se handelsvennote. Hulle is bekommerd oor pogings om waardekettings vir die vervaardigingsektor verder af in die streek of na Afrika te laat krimp, om vervaardiging veel meer te lokaliseer en om die staat groter beheer oor die ekonomie te gee.

Dit sal in stryd wees met globalisering en vryhandel, en sal buitelandse vervaardigers en verskaffers buite Afrika sodoende ’n aandeel in die SA ekonomie ontsê.

Westerse diplomate merk tekens van dié neigings op in onlangse beleidsuitsprake deur die ANC en deur die regering, veral by monde van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid en van mededingendheid. Ander Westerse diplomate is minder gekwel, want hulle glo SA doen tot dusver bloot wat die res van die wêreld meesal doen: hy verminder sy afhanklikheid van invoer.

Beleidsrigting

Ebrahim Patel, Minister van handel en nywerheid en van mededingendheid

Die beleidsrigting wat diplomate kwel, spreek duidelik uit die ANC se besprekingsdokument Reconstruction, Growth and Transformation: Building A New, Inclusive Economy. Dié dokument is in Junie deur die regerende party se komitee vir ekonomiese transformasie in reaksie op die Covid-19-krisis voorberei.

Soos linkse partye elders ter wêreld, meen die ANC die krisis het die beperkings van globale kapitalisme blootgelê, het die “ewewig van kragte” – ’n obsessie van die ANC – tussen die openbare en private sektor in die guns van die openbare sektor laat swaai en regverdig nou “ ’n groter en meer aktiewe rol vir die staat om die ekonomie te lei”.

“Terwyl die wêreldekonomie ’n resessie binnegaan en wêreldhandel verlangsaam, ontsluit dit moontlikhede vir groter streeksintegrasie, handel en belegging. Terwyl talle ekonomieë gedwing word om na binne te kyk, bied dit eweneens geleenthede om die plaaslike nywerheidsektor te herbou, plaaslike vervaardiging te versterk en invoervervanging te dryf,” verklaar die dokument. Die dokument fokus daarop om vervaardiging in SA te laat herleef.

Volgens die dokument het die land aansienlik gedeïndustrialiseer en gevolglik verlede jaar ’n invoersyfer gelykstaande met sowat 25% van BBP gehad.

Volgens die dokument het die land aansienlik gedeïndustrialiseer en gevolglik verlede jaar ’n invoersyfer gelykstaande met sowat 25% van BBP gehad. Dié oormatige afhanklikheid van invoer is deur die Covid-19-krisis aan die lig gebring toe mediese en persoonlike beskermende toerusting grotendeels ingevoer moes word. Die verlangsaming wat die pandemie in ekonomiese groei wêreldwyd teweeggebring het, het die invoer van verbruikersgoedere en intermediêre produkte laat afneem. “Dié verwikkeling bied aan SA ’n geleentheid om na binne te kyk deur die agenda vir lokalisering te verstewig, veral wat plaaslike vervaardiging en plaaslike verkryging betref,” lui die ANC-dokument.

Met “lokalisering” sluit dit groter integrasie in van SA vervaardigde produkte binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en kontinentale waardekettings, veral deur middel van die vryhandelsooreenkoms in Afrika (AfCFTA), wat veronderstel was om op 1 Julie vanjaar in werking te tree, maar weens die Covid-19-krisis tot 1 Januarie 2021 uitgestel is.

’n “Enorme program van lokalisering” moet voorkeur gee aan belangrike nywerhede soos landbouverwerking, gesondheidsorg, verbruikersgoedere, huishoudelike ysterwareprodukte, kapitaalgoedere veral vir infrastruktuurprojekte, mynbou, landbou, hernubare energie, die groenekonomie en digitale infrastruktuur, konstruksiemateriaal en vervoertoerusting”, en “verkryging deur die staat moet op besliste wyse na plaaslike verkryging verskuif”, meen die ANC.

Meesterplanne

Dat Patel lank voor Covid-19 “meesterplanne” op sommige van dié gebiede ontwikkel het, is ook vir sommige diplomate kommerwekkend. In sy toespraak tydens die debat oor die staatsrede in Februarie vanjaar, het Patel veral op meesterplanne vir die klerasie- en tekstielbedryf asook die pluimveesektor gefokus.

Hy het toonaangewende klerekleinhandelaars se verbintenis daartoe om hul aankope van SA vervaardigde modeprodukte van die huidige vlak van 44% plaaslike inhoud tot 65% te verhoog, verwelkom. Patel se pluimvee-meesterplan om plaaslike hoenderboere en hoenderverwerkers te ondersteun en sodoende 54 000 werksgeleenthede te red, nuwes te skep en plaaslike produksie te vergroot, ook vir uitvoer, is nie op sigself ooglopend proteksionisties nie.

Tog kan dit nie heeltemal geskei word van Pretoria se toenemende ontvanklikheid vir die plaaslike pluimveebedryf se eise om teen ingevoerde pluimveeprodukte beskerm te word nie. Daar is byvoorbeeld ’n 35%-“beskermingsbelasting” ingestel op ingevoerde EU-hoenders in 2018, wat sedertdien met vyf persentasiepunte per jaar verlaag is. Patel het gesê die regering sal vanjaar nog meesterplanne finaliseer vir die staalbedryf en suikerbedryf asook vir die digitale en groenekonomie.

Phil Hogan, EU-handelskommissaris

Dat Patel klaarblyklik teenstrydige gevoelens oor die kwessie van internasionale vryhandel koester, is verlede week bespeur tydens die SA-EU ministeriële konferensie, wat oorheers is deur die robuuste interaksie tussen Patel en Phil Hogan, EU-handelskommissaris en ’n vurige voorstander van vryhandel.

Daily Maverick berig dat ’n EU-amptenaar aangedui het SA deel nie die EU se oortuiging dat strenger multilaterale reëls kan help om voorsieningskettings wat deur die Covid-19-krisis verswak is, meer veerkragtig en volhoubaar te maak nie. En waar Hogan sterk voorspraak gemaak het vir vryer en billiker handel om die ekonomiese herstelproses wêreldwyd te dryf ná die pandemie, het Patel se reaksie taamlik halfhartig geklink.

Sommige ander Westerse regerings slaan SA se veldtog om te lokaliseer egter met groter gelatenheid gade, want dis “nie veel anders as wat elders gebeur nie, selfs in Europa,” soos een diplomaat sê.

“Die EU het ook sedert die Covid-krisis party van die regulasies verskerp. “Ek reken die Covid-krisis het . . . talle lande bewus gemaak van hoe afhanklik hulle van die Chinese mark, die Amerikaanse mark en die Europese mark is.

“Ek reken die Covid-krisis het . . . talle lande bewus gemaak van hoe afhanklik hulle van die Chinese mark, die Amerikaanse mark en die Europese mark is.”

En die Europeërs is wreed ontnugter deur hul oorafhanklikheid van die Chinese,” sê die diplomaat. “So, ons beskou dit nie net negatief nie. SA probeer eintlik om party van sy markte te beskerm en te kyk hoe hy die vermoë van aanlegte kan verbeter, die vermoë van Afrika, maar ook van sy eie land wat sekere nywerhede betref. En dit verskil nie veel van wat in Europa of Amerika aan die gang is nie. Wat SA gedoen het, is dus nie juis verbasend nie.”

Selfs dié diplomate hou egter ’n wakende oog oor die moontlikheid dat die regering verder sal gaan as om bloot leiding te gee aan nywerhede en ook regstreeks by die ekonomie sal begin ingryp deur aan sakeondernemings voorskrifte te gee, byvoorbeeld oor hoeveel medisyne in SA geproduseer moet word. “Dis iets wat deur die mark gereguleer moet word,” sê een.

Lokaliseringsregulasies

Patel se eie ideologiese ingesteldheid wakker agterdog aan oor sy bedoelings vir die ekonomie. Party buitelandse beleggers in SA verwelkom die lokaliseringsregulasies, wat hulle meen die mark in Afrika meer sal oopstel, veral deur die AfCFTA. Dié buitelandse beleggers waardeer dit ook dat die SA regering hulle teen die reusagtige Chinese mark beskerm. “Ek weet die Chinese was glad nie gelukkig oor al dié regulasies nie, want op die ou end raak dit hulle ook baie,” sê ’n Westerse diplomaat.

“Veral as dit by tekstiele kom en by party ander nywerhede waar die Chinese nogal ’n stewige oog op die SA mark gehad het.” Die ironie van die ANC en die SA regering se posisie is dat hulle die groeiende proteksionisme wêreldwyd betreur, maar terselfdertyd in dieselfde rigting beweeg. En dit lyk of hulle die teenstrydigheid besweer deur internasionaal meer proteksionisties te raak terwyl hulle in Afrika groter vryhandelaars word.

Die ironie van die ANC en die SA regering se posisie is dat hulle die groeiende proteksionisme wêreldwyd betreur, maar terselfdertyd in dieselfde rigting beweeg.

Die rede is eenvoudig; SA goedere is in Afrika veel mededingender as op die meeste ander plekke. As dit waar is dat SA op die ou end bloot saam met die stroom van wêreldwye lokalisering swem, sal die netto effek van soveel lande wat na binne keer nogtans tot lank in die toekoms nog waarskynlik ’n groot duik in wêreldwye ekonomiese groei maak.

Wêreldhandel was baie dekades lank ’n belangrike aandrywer van die wêreld se BBP. Lokalisering en invoervervanging op kort termyn om ’n tydelike – ofskoon verwoestende – verskynsel te hanteer, is een ding. Maar as dié strukturele veranderings permanent word, sal dit verseker ’n groot deel van daardie groei-impak van wêreldhandel tot niet maak.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Peter Fabricius is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en ’n verslaggewer oor buitelandse sake

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.