Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Byt maar bietjie vas met bitcoin
20 Desember 2018

Einde verlede jaar het bitcoin nuwe rekordhoogtepunte bereik en $20 000 per bitcoin genader. Die raserny was tasbaar. Elke oom en tante en hul hond het bitcoin gekoop. Niemand wou die ding misloop wat hulle baie gou ryker sou maak as wat hulle ooit kon droom nie! Dít is die aard van borrels.

Vroeg vanjaar het die borrel natuurlik gebars, en bitcoin verhandel nou teen sowat $4 000 elk (by die skryf hiervan op 5 Desember). Dit was nie heeltemal onverwags nie. Ek het in Maart geskryf dat bitcoin op grond van hoe dit in die verlede gevaar het, waarskynlik elke vier jaar ’n herhalende borrelpatroon sal vorm.

Die redes daarvoor is op verskeie aandrywers gegrond: die “raserny-effek” wat posvat elke keer wanneer dit verder styg as wat normaal is (vergeleke met tradisionele bateklasse); die veranderende dinamiek van vraag en aanbod namate myners die mark betree en verlaat weens probleme met blokoplossing, wat verander namate die myners die mark betree en verlaat; die winsgewendheid van bitcoin-ontginning vanweë die veranderende moeilikheidsgraad; én die mynbeloning halveer elke vier jaar.

Ek verwag dat bitcoin in die volgende twee jaar sal stabiliseer in ’n bestek tussen na aan $4 000 en na aan $8 000

Die raserny-effek

Die raserny-effek is ’n krag wat hoofsaaklik aangedryf word deur individue wat ’n sekere bate uit ’n soort vrees koop (of verkoop) – in dié geval bitcoin. Verlede jaar was dit in bitcoin se geval die vrees om dit te mis te loop. Almal het daaroor gepraat en mense het baie, baie vinnig groot geld gemaak. Dit het die aandag van elke mediadiens ter wêreld getrek.

Maande lank was bitcoin die gewildste onderwerp. Die raserny het ’n punt bereik waar mense wat nog nooit ’n aandeel verhandel of selfs in finansiële instrumente belê het nie, glo motors verkoop of lenings aangegaan het om geld te kry om bitcoin te koop. Daar is gemeen dat dit nooit sou ophou styg nie omdat dit die wêreld baie vinnig sou verander. Dit het geblyk vals te wees. Nou gebeur omtrent presies die teenoorgestelde van wat verlede jaar gebeur het.

Mense noem bitcoin ’n nuttelose tegnologie met geen toepassing in die regte wêreld nie. Party reken die waarde sal tot nul daal. Ek meen dit is ook vals. Weer is die raserny van vrees aan die werk. Dié keer is dit egter die vrees om geld te verloor. Ek meen dat as bitcoin weer $20 000 haal en 50% verder (tot $30 000) styg, die raserny-effek weer sal posvat en talle toeskouers weer sal koop.

Pryse sal weer hemelhoog gedryf word (veel hoër as verlede jaar, maar ’n kleiner persentasiestyging). Ter vrywaring verwag ek egter nie dat dit voor middel 2021 sal gebeur nie. Vir eers beweeg ons uit die laaste deel van die “vrees-om-geld-te-verloor-siklus”, en pryse sal waarskynlik nog ’n ruk lank bedruk bly omdat mense in die algemeen tans geen vertroue in bitcoin het nie.

Die raserny het ’n punt bereik waar mense wat nog nooit ’n aandeel verhandel of selfs in finansiële instrumente belê het nie, glo motors verkoop of lenings aangegaan het om geld te verkry om bitcoin te koop.

Verstaan blokketting

Dit is belangrik vir bitcoin se vraag-aanbod-dinamiek. In sy eenvoudigste vorm is bitcoin ’n openbare register van transaksies wat in blokke saamgegroepeer word wat opvolgend gekoppel word, en daarom ’n blokketting genoem word. Dié transaksies word verwerk deur myners (verwerkingnodusse in die bitcoin-netwerk) wat teen mekaar meeding om die transaksies te groepeer en hul unieke groep transaksies as die volgende amptelik blok in die ketting aanvaar te kry.

Om ’n blok as die volgende amptelike blok in die ketting aanvaar te kry, moet ’n myner ’n ingewikkelde wiskundige probleem voor enige van die ander myners in die netwerk oplos. Dis in wese ’n wedloop tussen die myners om die blok voor enigiemand anders op te los. Nadat die blok opgelos is, word dit aan alle myners in die netwerk gekommunikeer en as die volgende onveranderlike blok transaksies in die openbare register aanvaar. Die wedloop begin dan weer om die volgende blok op te los.

Dié proses gebeur elke tien minute. Die myner wat die blok oplos, word vir die werk (om transaksies te verwerk) beloon deur bitcoins te ontvang. Namate bitcoin se prys styg, koop meer mense gespesialiseerde rekenaars om die transaksies te verwerk met die hoop om ’n bitcoin te verdien.

Maar namate meer rekenaars bygevoeg word maak die bitcoin-netwerk die wiskundige probleme, wat opgelos moet word om ’n blok as die volgende amptelike blok in die onveranderlike openbare transaksieregister aanvaar te kry, outomaties moeiliker. Hoe meer rekenaars aansluit, hoe meer verwerkingskrag word ook vereis om probleme vinnig op te los. Met stygende bitcoin-pryse kom al hoe meer myners egter by omdat die beloning groter as die inset (rekenaarapparatuur, verkoelingstelsel en elektrisiteitskoste) is.

Elke vier jaar halveer die netwerk die beloning, wat beteken dat minder doeltreffende myners (dit is dié met minder gesofistikeerde rekenaarapparatuur) minder winsgewend of heeltemal onwinsgewend word omdat die insetkoste nou groter is as die wins wat hulle maak deur bitcoins te verdien en dit vir normale geld te verkoop.

Dit maak dit vir myners moontlik om hoër pryse vir bitcoins te vra, want daar is nou in werklikheid laer aanbod omdat die beloning gehalveer is. Dit dryf pryse hoër en die “raserny” begin weens die vrees om dit te mis. Maar omdat so baie rekenaars in ’n tyd van stygende bitcoin-pryse aangesluit het, is die wiskundige probleme nou veel moeiliker en die kans om ’n probleem eerste op te los en gevolglik die beloning te verdien, is aansienlik kleiner.

Tog bly ondoeltreffende myners in die netwerk vanweë bitcoin se vinnig stygende prys. Hoër pryse hou aan om meer myners te lok en ondoeltreffende (ouer) myners word verplig om hul mynrekenaars af te skakel en hul bitcoins te verkoop om koste te verhaal. Dié grootskaalse en vinnige afskakeling bring baie bitcoins na die mark en skielik is daar ’n ooraanbod in die mark. Pryse daal; raserny vat pos, aangedryf deur die vrees om geld te verloor en die borrel bars.

Bitcoin-pryse val met tussen 80% en 90% – wat veel meer myners uitdryf – en op dié punt maak die netwerk outomaties die wiskundige probleme makliker omdat daar nou minder mededinging is. Myners wat die nuutste, ultramoderne apparatuur gebruik, is weer winsgewend teen laer pryse.

’n Geleidelike pryswisseling kom dus oor ’n tydperk voor; bitcoin verdwyn van die radarskerm af, en bitcoinpryse beweeg sowat twee jaar lank heel tevrede sywaarts in ’n taamlik bestendige patroon terwyl myners die netwerk op verskillende pryspunte betree en verlaat. Uiteindelik word die beloning vir die “kry van ’n blok” weer gehalveer en die proses begin van voor af. Dit het reeds drie keer gebeur sedert bitcoin in 2009 begin is.

Wel, ons is nou in die derde siklus. Die prys het met sowat 80% van die hoogtepunte gedaal en myners het bedrywighede gestaak. Die wiskundige probleme wat opgelos moet word om “ ’n blok te kry” het reeds makliker begin word, en mense in die algemeen praat al hoe minder oor bitcoin.

Wat volgende?

Nou wat nou? Wel, dis dieselfde as wat ek in Maart gesê het. Ek verwag dat bitcoin in die volgende twee jaar sal stabiliseer in ’n bestek tussen na aan $4 000 en na aan $8 000 (wat in persentasie sal beteken dat sy prestasie sal ooreenstem met waar dit vier jaar gelede was.)

Uiteindelik sal niemand (in die hoofstroommedia) meer daaroor praat nie en die mense wat dit gebruik, sal dit vir oorgrens- en aanlyn transaksies gebruik (wat die doel daarmee is). Die mynbeloning sal gehalveer word en as die patroon voortduur, sal dit in 2021 verlede jaar se hoogtepunt van $20 000 oorskry.

Dan sal die praatjies weer begin, en ’n nuwe raserny aangedryf deur die vrees om dit te mis sal begin. Ek meen dat dié patroon elke vier jaar herhaal sal word totdat bitcoin teen 2040 by $1 miljoen per bitcoin - omtrent 250 keer sy huidige waarde sal “stabiliseer”. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Petri Redelinghuys is ’n handelaar en die stigter van Herenya Capital Advisors.

Meer oor:  Kriptogeldeenhede  |  Finweek  |  Beleggings  |  Bitcoin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.