Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Cadiz Money Market Fund: ’n Fonds vir kapitaalbeskerming
10 September 2020
cadiz.co.za
Foto: cadiz.co.za

Wat die fondsbestuurder sê:

Cadiz Money Market Fund belê hoofsaaklik in ’n reeks Suid-Afrikaanse geldmarkinstrumente. Dié bates sluit in bankaksepte, skuldbriewe, verhandelbare depositosertifikate, skatkiswissels en daggeldrekeninge. Vastetermyn-deposito’s en daggeldrekeninge by banke verteenwoordig tans die grootste belange met meer as 50% van die fonds se batetoewysing, gevolg deur maatskappye en semistaatsinstellings.

Minder bates is aan staatsekuriteite toegewys omdat die omvang vir beleggings in staatsgeldmarkinstrumente beperk is, volgens Sidney McKinnon, die fondsbestuurder. Geldmarkopbrengskoerse het afgeneem saam met ’n reeks aggressiewe koersverlagings toe die SA Reserwebank (SARB) vinnig opgetree het om die ekonomiese gevolge van die wêreldwye Covid-19-pandemie te bekamp.

McKinnon sê die omgewing van lae rentekoerse is vir alle geldmarkfondsbestuurders moeilik, met aflossing wat toeneem terwyl beleggers die gevolge van Covid-19 probeer oorleef, en dat uitreikings deur die bank aansienlik afgeneem het.

Sowat 60% van die fonds se belange het ’n kort looptyd van tussen een en drie maande. McKinnon sê ná die koersverlagings wat vanjaar ondervind is, kom die meeste geleenthede aan die kort kant van die opbrengskromme voor. “Wanneer ons ’n beleggingsbesluit neem, oorweeg ons die gebied van die geldmarkopbrengskromme wat die beste opbrengskoerse op ’n risikoaangepaste grondslag bied.”

Oor die eskalerende deposito’s en notas met eskalerende koerse in die fonds se belange sê hy dat dit die fonds in staat stel om ’n voorafbetaalde koers vas te sluit wat kwartaalliks teruggestel en dan aangeskuif word. “Dié instrumente maak dit vir ons moontlik om in korttertermyn-instrumente te belê met die voordeel van deelname aan hoër opbrengskoerse as wat normaalweg beskikbaar sou wees by dié wat oor drie maande uitkeerbaar is.”

Die meeste geldmarkfondse kan ondanks die omgewing van lae rentekoerse steeds ’n reële opbrengs bied omdat die beleggingskoste relatief laag is, sê McKinnon. “Om ’n deel van jou portefeulje in ’n geldmarkfonds te belê, bied ’n ankerpunt van waar verdere diversifisering na ander bateklasse gedoen kan word om jou beleggingsportefeulje se algehele risiko te verklein.”

Die fonds het ondanks voortgesette wisselvalligheid uiters mededingend vergeleke met sy portuurgenote geblyk te wees. Sy geannualiseerde prestasie oor een jaar was in Junie 0,41 persentasiepunte en in Julie 0,35 persentasiepunte bo sy maatstaf.

Hoekom finweek dié fonds sal oorweeg:

Die geldmarkfonds is danksy sy lae risikoprofiel ’n geskikte instrument om kontant in tye van wisselvalligheid en markonsekerheid te belê. Dis ook geskik vir beleggers wat hul spaargeld vir ’n kort tydperk wil bêre as ’n alternatief vir ’n bankdeposito.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.