Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Daar’s (altyd) geld in voedsel
10 September 2021
Foto: Shutterstock

Mense moet eet. As ’n mens aan Maslow se hiërargie van menslike behoeftes dink, is kos, water, warmte, rus, sekuriteit en veiligheid mense se basiese behoeftes waarin voorsien moet word. Geld word gewoonlik gemaak as ’n behoefte en ’n oplossing saamkom en die verkrygende party genoeg waarde aan die oplossing heg om geld daarvoor te gee.

Anders as water is voedsel nie ’n openbare item in Suid-Afrika nie en word dit volgens markbeginsels geproduseer. Dis ’n groot bedryf. In Statistieke SA se mandjie om die verbruikersprysindeks (VPI) te meet, is voedsel die tweede grootste komponent ná behuising (nog ’n basisbehoefte) en verteenwoordig 15,48%. En plaaslike voedselpryse styg.

In Desember verlede jaar was die koers waarteen voedselpryse (op verbruikersvlak) gestyg het, dubbel die koers van kerninflasie: 6,2% teenoor 3,1%. Voedselprysinflasie op verbruikersvlak bly sedert Maart vanjaar bo 6% op ’n jaargrondslag (kyk na grafiek 1). Wat kommerwekkend is, is dat voedselprysinflasie by die plaashek sedert Oktober verlede jaar bo 6% per jaar bly.

Internasionale graanscenario

Nou hoekom styg voedselpryse? Graan, wat die grootste gedeelte van die wêreld se voedselproduksie verteenwoordig, kan dit die beste verklaar. Die wêreld se graanvoorraad (wat koring, growwe graan en rys insluit) het drie opeenvolgende jare afgeneem, met ’n matige styging van 0,3% wat vir 2021-’22 voorspel word, volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie (VLO).

Daar word voorspel dat die wêreld 785,8 miljoen ton koring in 2021-’22 sal produseer (of ’n styging van 1,4% teenoor die vorige bemarkingsjaar), 1,516 miljard ton growwe graan (wat mielies, gars en sorghum insluit en ’n produksie- styging van 2,5% beteken) en 519 miljoen ton rys (’n styging van 1%), luidens die VLO se Voedselvooruitsig, wat in Junie gepubliseer is.

Die druk van oordrag van voorraad op graanpryse is duidelik. Koringtermynkontrakte vir September het in Mei op die Chicago Board of Trade tot sowat $280 per ton gestyg. ’n Jaar tevore het dit teen $185 per ton verhandel, volgens die VLO. Die Internasionale Graanraad se koringprysindeks – wat verhandelingsbeswaard is en groot uitvoerkwotasies vir die graan meet – was in Mei 28,5% hoër as ’n jaar tevore.

Mielies het ook sterk herstel, met internasionale pryse wat in Februarie vanjaar die hoogste punt sedert Junie 2013 bereik het, volgens die VLO. Chinese invoer van mielies (wat hoofsaaklik as dierevoer gebruik word) het in 2020-’21 op ’n jaargrondslag met 182% toegeneem en al die toename in mielieverhandeling verteenwoordig, sê die VLO. Die prys van Amerikaanse mielies was in Mei vanjaar sowat 111% hoër as ’n jaar gelede, sê die VLO.

Plaaslike graanscenario

SA se Oesskattingskomitee voorspel ’n plaaslike mielie-oes van 16,4 miljoen ton – die tweede grootste sedert dit aangeteken word – vir die 2021-bemarkingsjaar. Dit vergelyk met ’n oes van 15,3 miljoen ton in die 2020-bemarkingsjaar, volgens die komitee. Ondanks die huidige jaar se verwagte buitengewone oes verhandel mielies op Safex teen sowat R1 000 per ton meer as ’n jaar gelede. Dié prys is vir geelmielies vir lewering in Desember in albei jare (kyk na grafiek 2).

Internasionale en plaaslike vleisproduksie

Die wêreld se vleisproduksie sal na verwagting van 337,2 miljoen ton (karkasgewigekwivalent) in 2019 tot 345,6 miljoen ton vanjaar styg. Die produksietoename tussen verlede jaar en vanjaar was na raming 2,2% – hoofsaaklik aangedryf deur ’n styging van 4,2% in varkvleisproduksie. Dit weerspieël “ ’n verwagte herstel in vleisproduksie in China, met aansienlike toename in Brasilië, Viëtnam, Amerika en die Europese Unie – wat gedeeltelik teëgewerk word deur waarskynlike afnames in Australië, die Filippyne en Argentinië”, volgens die VLO.

“Die verwagte vleis- produksietoename in China weerspieël waarskynlike uitsettoenames vir alle vleissoorte, veral varkvleis, aangedryf deur groot belegging in die verbetering van vleiswaardekettings en bioveiligheid.” Internasionale vleispryse het nogtans nie soveel soos dié van graan gestyg nie. Die VLO se vleis- prysindeks het tussen Januarie en Mei vanjaar met net 1,3% gestyg vergeleke met dieselfde vyf maande verlede jaar.

“Internasionale vleispryse het van Januarie tot Mei gestyg, wat sterk invoervraag weerspieël, veral in Oos-Asië en die Midde-Ooste te midde van beperkte uitbreiding in internasionale uitvoervoorraad, al herstel die produksie in belangrike produserende streke.”

Plaaslike vleispryse het skerp gestyg. Die gemiddelde prys van skaapvleis (A2- en A3-graad) het in die tweede week van Julie vir die eerste keer deur die vlak van R100 per kilogram gebreek en R100,17 bereik. Die prys het teen die laaste week van Augustus tot R91,60 teruggesak – wat die 14de opeenvolgende week van verhandeling bo R90 was, volgens data saamgestel deur Absa.

Die prys van beesvleis (A2- en A3-graad) was ook 17,2% hoër in die laaste week van Augustus, teenoor dieselfde week ’n jaar gelede, toon Absa-data. Dié graad vleis het teen R51,60 per kilogram verhandel nadat dit in Februarie die hoogste prys van R54,41 bereik het, toon Absa se data.

Plaaslike voedselprysinflasie

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) stel ’n alternatiewe voedselinflasiemandjie, genaamd die BFAP Thrifty Health Food Basket, op wat “die koste daarvan meet om basies gesond te eet vir lae-inkomstehuishoudings in die SA konteks”, volgens die buro.

Die BFAP-mandjie “is ontwerp om ’n verwysingsgesin van vier (wat bestaan uit ’n volwasse man, ’n volwasse vrou, ’n ouer kind en ’n jonger kind) te voed” waar albei ouers die minimum loon (R4 299,55 per maand vir ’n werksmaand van 195 uur) en kindertoelae (R460 per maand) ontvang en die kinders deur ’n skoolvoedingsprogram bevoordeel word.

Die koste van die BFAP-mandjie het in Julie met 4,2% teenoor ’n jaar gelede, of met R119, tot R2 392 per maand gestyg. Die buro sê verskeie komponente se pryse het op ’n jaargrondslag met meer as 10% gestyg, waaronder plantolies, varkvleis (tjops en ribbetjie), margarien, droëbone, beesvleis (kookvleis en afval), hoender (individuele kitsbevrore porsies en vars porsies), supermieliemeel, pampoen en piesangs.

Roy Mutooni, senior aandeleontleder by Absa Asset Management
Patrick Ntshalintshali ’n Bestuurder van Perpetua Investment Managers se aandeel en gebalanseerde fondse

Produkte waarvan pryse tussen 6,7% en 10% gestyg het, is onder meer hoenderbinnegoed, geblikte sardyne, witsuiker, polonie, kool en beesvleis (maalvleis en borsstuk). Roy Mutooni, senior aandeelontleder by Absa Asset Management, sê aan finweek vleispryse is tans die grootste aandrywer van voedselprysinflasie.

“Die kwessie is dat vleisprysinflasie, wat basies hoender is omdat dit meer verbruik word, nogal hoog is. Die basis van voedsel-, asook vleisinflasie is tot Oktober vanjaar laag. Daarom kan voedselinflasie minstens tot dan op hoë vlakke bly en waarskynlik teen November of Desember begin afneem vanweë die hoër basis se uitwerking.”

Patrick Ntshalintshali, wat help om Perpetua Investment Managers se aandeel- en gebalanseerde fondse te bestuur, wys op die internasionale dinamiek wat plaaslike voedselpryse onderlê. “Voedselprysinflasie is op die oomblik hoog weens internasionale voorraadtekort, hoë pryse vir sagte goedere en logistieke probleme wat uit die pandemie gespruit het,” sê hy aan finweek.

“Daar is egter aanduidings dat groter voorraad op pad is en kommoditeitspryse het ’n hoogtepunt bereik en begin terugsak. Dit sal broodnodige verligting vir pryse op verbruiksvlak bring.” Hy voorspel dat die jaarlikse styging van voedselpryse teen einde vanjaar tot onder 5% sal afneem.

Tiger Brands

SA se 13 genoteerde maatskappye in die JSE se voedselprodusentesektor het volgens hul resultate vir die volle jaar wat tussen 1 Junie verlede jaar en 31 Mei vanjaar bekend gemaak is, ’n omset van R135,04 miljard en netto wins van R7,02 miljard behaal. Die data is uit die maatskappye se finansiële jaarverslae saamgestel.

Daaronder is Tiger Brands, met ’n jaarlikse omset van R29,76 miljard en RCL Foods, waarvan Remgro 75% besit, met ’n omset van R27,8 miljard die grootste (kyk na grafiek 3). Tiger Brands, wat 100 jaar gelede gestig is, vervaardig en verkoop handelsmerke soos Koo, All Gold, Tastic en ander oral op die vasteland.

Die maatskappy, wat in ’n strategiese proses is om sy markaandeel te vergroot en koste te verminder, het sy eenheid vir vleisprodukte met toegevoegde waarde (die bron van ’n listerellose-uitbreking in 2017, gevolglike sterftes en nou ’n groepsregsgeding) verlede jaar verkoop en beplan om ook sy sagtevrugteonderneming te verkoop.

Rella Suskin, navorsingshoof van Benguela Global Fund Managers
Noel Doyle, uitvoerende hoof van Tiger Brands

“Ek dink dis die regte strategie vir Tiger Brands – hy moet op graan en kruideniersware in SA konsentreer,” sê Mutooni. “Ek reken die groep benodig fokus en histories is hy sterk in handelsmerkvoedselprodukte.” Rella Suskin, navorsingshoof van Benguela Global Fund Managers, stem saam: “Ek reken die strategie om niekernsake-eenhede sonder enige mededingingsvoordeel te verkoop, is vir Tiger Brands noodsaaklik om sy sake om te swaai. Dit sal dit vir die bestuur moontlik maak om op die vernuwing, posisionering en uitbou van produkaanbiedings met sterk waardestellings te konsentreer pleks daarvan dat die aandag afgelei word omdat dit nodig is om skade te beperk in klein, verliesgewende eenhede.”

Op ’n beleggersaanbieding op 20 Mei is gevra of Tiger dit oorweeg om sy onderpresterende mielie-eenheid te verkoop. Noel Doyle, uitvoerende hoof, het geantwoord: “Mielies is ’n kategorie wat nie fantasties inpas nie, maar om mielies uit ’n geïntegreerde perseel in ’n geïntegreerde onderneming te onttrek, is nogal moeilik. Ons het al ’n paar keer daaroor gepraat. Dis nie ’n maklike transaksie om te sluit nie op grond van hoe dit in die hele meulinfrastruktuur ingebed is. Dis beslis een van ons onderpresterende bates in die portefeulje. ’n Onttrekking wat waarde vernietig, is heel moeilik om saam te stel.”

Met dié dat die mielie-eenheid waarskynlik nie gou verkoop gaan word nie, impliseer Suskin die hoop dat ’n heringestelde Tiger markaandeel sal terugwen.

“Kortom, hy verkoop dele wat nie so wonderlik is nie en verliesgewend is en gee jou ’n spesiale dividend. Ek dink nie dis ’n slegte strategie nie. ’n Klein, meer bestuurbare hoëgehalte-onderneming met groter handelsmerkingesteldheid bly oor wat beter opbrengs behaal. Dit sal dit vir die bestuur moontlik maak om sy handelsmerkportefeulje beter te bestuur – wat tans markaandeel verloor.”

Tiger het in die ses maande tot 31 Maart daarin geslaag om sy inkomste uit SA bedrywighede met 7,1% tot R14,6 miljard te vergroot en uit internasionale bedrywighede met 18,5% tot R1,83 miljard, luidens sy tussentydse finansiële state. Die algehele inkomste het met 8% gestyg, onderskryf deur ’n prysstyging van 9% ondanks ’n volumedaling van 1%.

Om ’n styging van 9% deur te gee – vergeleke met voedselprysinflasie op produsentevlak van 8,2% – is nogal ’n prestasie. Dit sal egter waarskynlik nie herhaal word nie. “Nog ’n prysverhoging van dié omvang, wat meestal hoë insetkoste verhaal wat die produsente ondervind, is nie volhoubaar nie weens die swak stand van die ekonomie en stygende mededinging in die voedselprodusentesektor,” sê Ntshalintshali.

RCL Foods

Intussen het RCL Foods, SA se tweede grootste voedselprodusent, onlangs in ’n handelsverklaring aan die mark gesê hy verwag dat die wesensverdienste per aandeel vir die volle jaar tot 30 Junie tot 90c per aandeel sal styg, teenoor 13c die vorige jaar. “Die verwagte verbetering in die groep se resultate word hoofsaaklik aangedryf deur sterk herstel in suiker en gebak, asook Vector Logistics en voortgesette sterk prestasie deur kruideniersware,” het die maatskappy in die verklaring gesê.

“Hoender konsentreer steeds op sy omswaaiplanne, wat waarskynlik in die volgende boekjaar voordele sal oplewer.”

Miles Dally, uitvoerende hoof van RCL Foods

RCL se hoendereenheid, wat Rainbow Chicken insluit, verteenwoordig R346,2 miljoen van RCL se afskrywing van altesame R1,5 miljard in sy 2020-boekjaar. Die meulafdeling se afskrywing was R314,3 miljoen en Vector Logistics s’n R418 miljoen. Dit lyk uit die maatskappy se onlangse handelsverklaring, asook sy halfjaarresultate tot Desember of net die hoendereenheid sukkel om winsgewendheidmomentum terug te kry. RCL het in Desember gesê hy beplan om die hoendereenheid ’n alleenstaande afdeling te maak wat direk aan Miles Dally, uitvoerende hoof, verslag doen.

“Ek dink RCL maak gereed om die hoendereenheid aan aandeelhouers te ontknoop,” sê Mutooni. “Dit sal wees soos wat Pioneer Foods ’n paar jaar gelede met Quantum Foods gedoen het.”

Mutooni sê daar is verskeie redes hoekom RCL se hoenderafdeling, met sy inkomste van R8,8 miljard in die 2020-boekjaar, vergeleke met sy mededinger Astral Foods se R14,1 miljard sukkel. Die eerste rede wat hy noem, is swak bestuur. “Ten minste het hy nou ’n paar Country Bird-bestuurders aangestel om die afdeling te bestuur,” sê hy.

“Nog ’n prysverhoging van dié omvang, wat meestal hoë insetkoste verhaal wat die produsente ondervind, is nie volhoubaar nie weens die swak stand van die ekonomie en stygende mededinging in die voedselprodusentesektor.”

Daarby was RCL te veel ingestel op ’n strategie waar hy hoenderprodukte met toegevoegde waarde aandryf teenoor Astral se fokus op produksie met laagste koste omdat hoender ’n basiese voedselitem in SA is, sê hy. In dieselfde trant het RCL te veel op die kitsdiensrestaurantmark gefokus om sy produkte te verkoop, wat tot ’n situasie gelei het waar onvanpaste porsiemengsels in die mark vir individuele kitsbevrore hoenderporsies verkoop is, sê Mutooni. Hoenders is nie die enigste bron van pyn vir beleggers nie.

“Ek dink daar is baie gefrustreerde RCL-aandeelhouers met ’n opbrengsprofiel wat minstens die afgelope vyf jaar konsekwent waarde vir aandeelhouers vernietig het,” sê Suskin.

Paul Cruickshank, aangewese uitvoerende hoof van RCL Foods

“Terwyl hy ’n paar sterk verbruikershandelsmerke besit, is dit nie voldoende om vir die sukkelende hoender-, suiker- en logistiekondernemings te vergoed nie. Dit lyk ook of hy nie gou ’n weg na waardeskepping sal volg nie.”

RCL se aandeelprys het die afgelope vyf jaar met 33,5% gedaal en die afgelope drie jaar met 44,4%. Dit het die afgelope jaar met 11,9% gestyg. Dié veranderinge vergelyk met Tiger Brands se aandeelprys, wat oor vyf jaar met 53% en oor drie jaar met 36,2% gedaal het en die afgelope 12 maande met 2,8% gestyg het. RCL het begin Augustus die aftrede van Dally einde November en die aanstelling van Paul Cruickshank – wat sedert 2004 by RCL is – as uitvoerende hoof aangekondig. Dit hou dalk verband met die korporatiewe transaksies wat Mutooni verwag en kan behels dat die hoendereenheid verkoop of afgeskei word.

Ntshalintshali reken selfs dat ’n korporatiewe regskud by RCL moontlik is. “Ons dink dat die hoenderafdeling ontknoop sal word,” sê hy. “Remgro sal dan dalk sy smeeronderneming (Siqalo) verkoop om dit tot ’n groot speler in die sektor uit te bou.”

Astral Foods

Nie alle hoenderprodusente sukkel egter nie. Selfs al was SA se pluimvee-invoer in die ses maande tot 31 Maart sowat 26%, was Astral Foods steeds winsgewend. Die wins ná belasting het in die tydperk met 38% tot R229,6 miljoen afgeneem, vergeleke met R371,1 miljoen die vorige jaar, luidens Astral se tussentydse finansiële state. Anders as Tiger Brands, wat hoër insetkoste na klante deurgegee het, het Astral nie dié luukse nie.

Die bedryfswinsmarge van die maatskappy se pluimveeafdeling het in die ses maande tot Maart tot 1% gedaal, vergeleke met 5,1% in die ooreenstemmende tydperk. “Het Astral prysbepalingsmag? Die antwoord is nee,” sê Mutooni. Dit kan wees vanweë Astral se produkaanbieding, wat op laerinkomste-verbruikers ingestel is.

“Die grootste deel van Astral se produkaanbieding is individuele kitsbevrore hoenderporsies, wat ’n hoogs gekommoditeerde produk is,” sê Suskin. “Die prysstygings wat hy kan deurgee, word grootliks deur die mieliekoste bepaal, veral in moeilike ekonomiese toestande. In die halfjaarresultate het Astral se pluimveeafdeling net-net gelyk gebreek toe hy die meeste van die inflasie weens die mieliekoste geabsorbeer het. Astral se sake is nie om voedselkoste vir verbruikers te subsidieer nie, maar eerder om waarde vir aandeelhouers te vergroot.”

Mieliepryse kan weer tot Astral se redding kom. Voer het teen die helfte van die boekjaar 69% van die koste daarvan verteenwoordig om ’n braaihoender te produseer. “Ons dink graanpryse het ’n hoogtepunt bereik, met meer produksie wat vanjaar ingestel word,” sê Ntshalintshali. “Daarom sal ’n daling in dié pryse ’n bietjie verligting vir Astral bied en sy winsgewendheid vergroot.”

Mutooni sê die soort braaihoenders wat Astral gebruik, is een van die redes hoekom hy beter as RCL se Rainbow Chicken vaar. “Die genetiese samestelling van Rainbow se braaihoenders is swakker as dié van Astral,” sê hy. “Astral gebruik die Ross-ras terwyl Rainbow die Cobb-ras gebruik.”

AVI

AVI, wat handelsmerke soos Five Roses, I&J, Ellis Brown, Willards en Bakers besit, het deur die jare baie in sy IT-stelsels geïnvesteer. Saam met ’n lenige uitgawestruktuur en hooggeagte bestuurspan is dit g’n wonder dat hy teen ’n taamlik duur prys-verdienste-verhouding (p/v) van 15,4 en ’n verwagte verhouding van 14,6 verhandel nie. Die aandeelprys het die afgelope jaar met 7,1% gestyg. “AVI verkoop voedselprodukte, maar sy kernsake is om handelsmerke op te bou,” sê Suskin.

“Dis dié ingesteldheid wat AVI van ander voedselprodusente in SA onderskei. Handelsmerke word opgebou deur waarde toe te voeg, konsekwente gehalte te bied en voorop in verbruikers se gedagtes te bly tydens hul inkopie-ervaring. AVI het voedselkategorieë gekies waar hy produkte kan vernuwe – of dit nou is deur reeksuitbreidings of kreatiewe verpakking – sodat pryse nie saam met die onderligginge kommoditeite se prys wissel nie.” AVI het op 27 Julie in ’n handelsverklaring gesê die inkomste vir die jaar tot 30 Junie was 0,5% hoër, “hoofsaaklik vanweë groter volume by I&J in die tweede semester en prysverhogings in die meeste kategorieë wat vir kostedruk vergoed het, hoofsaaklik vanweë die swakker rand”.

Tog het die maatskappy aan aandeelhouers gesê dat die wesensverdienste per aandeel tussen 5% en 7% hoër sal wees. Dit bewys weer omsigte kostebestuur. “AVI se bestuur is die beste in sy klas,” sê Mutooni.

“Simon Crutchley (uitvoerende hoof van AVI) het toesig oor elke afdeling en het ’n sterk span wat aan hom verslag doen.” Daarby het AVI se investering in IT-infrastrukuur die maatskappy bevoordeel. “AVI het gesofistikeerde IT-stelsels om kategoriewaarde te behaal deur prys-volume-verhoudinge te monitor,” sê Mutooni. “Tiger Brands sukkel al meer as ’n dekade daarmee.”

Die maatskappy se fabrieke bevoordeel hom met laer koste. “AVI het ook doeltreffende fabrieke,” sê Mutooni. “Die doeltreffendheid van fabrieke en IT-stelsels dui op die feit van streng kapitaaltoewysing. Al het Tiger Brands daarom in die verlede kapitaal aan geriewe en IT-platforms bestee, is hulle nie doeltreffend gebruik nie.”

Ntshalintshali vat saam hoekom AVI as voedselprodusent uittroon: “Hy het ’n fantastiese, bewese bestuurspan en het deur die jare konsekwent geweldige waarde aan aandeelhouers opgelewer. Die groep het goeie inkomste- en verdienstegroei behaal, baie kontant opgelewer, het ’n sterk balansstaat en sy beleggingsopbrengs is buitengewoon.”

* terugvoer@finweek.co.za


Voedselwenners en -verloorders

Nie alle primêre voedselprodusente is ewe veel deur hoër pryse bevoordeel nie. Uit Statistieke SA se indekse (om verbruikersvoedselprysinflasie te bereken) blyk dit dat die prysstygings die afgelope vier en ’n half jaar verskil (kyk na die grafiek).

Vleisprodusente het ’n saamgestelde prysstyging van 34% tussen Desember 2016 en Julie vanjaar behaal. Produsente van olies en vette (wat sonneblomme, sojabone en kanola insluit) het in dié tydperk prysstygings van 31,8% behaal, terwyl vispryse met 26,6% gestyg het.

Aan die ander kant van die spektrum het vrugtepryse in die tydperk met 0,4% gestyg, wat verklaar hoekom sommige groot voedselprodusente hulle dalk wil onttrek. Ander faktore het egter ook dié beïnvloed wat in die vrugtebedryf bedrywig is.

Rella Suskin, navorsingshoof van Benguela Global Fund Managers, vergelyk Tiger Brands se sagtevrugteonderneming, wat verkoop gaan word, soos volg met RFG se internasionale afdeling: “Albei het die laaste paar jaar onder droogtes in die Wes-Kaap, ’n uiters wisselvallige wisselkoers en meer onlangs ’n tydelike oorlading van die vraag op internasionale markte en voorraadkettingversperrings weens Covid-19 gely.”


Gemiddelde wêreldvoedselverbruik

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) publiseer sy Voedselvooruitsigte twee keer per jaar. Die jongste, met data tot einde Mei wat in Junie vanjaar gepubliseer is, wys interessante feite oor voedselverbruik in die wêreld.

In die bygaande tabel wys ons die VLO se berekeninge vir die verbruik van verskillende voedselsoorte per persoon per jaar in kilogram. Ons vergelyk die verbruik in 2010-’11 met dié in 2021-’22.

Die tabel toon ’n duidelike verskuiwing weg van graanprodukte (veral rys) en suiker na vleis- en visprodukte oor die afgelope dekade. 

* Foto’s: Argief, Gallo/Getty Images, www.tigerbrands.com, www.rclfoods.com

Meer oor:  Finweek  |  Voedselprodusente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.