Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die A tot Z van belegging
20 Desember 2018

Schalk Louw is portefeuljebestuurder by PSG Wealth.
2018 was beslis ’n interessante jaar. Schalk Louw bekyk van die sleutelgeleenthede, -mense en ekonomiese aanwysers wat die beleggingswêreld gevorm het en aanstaande jaar steeds sal beïnvloed.

A- ANC

2018 was ’n moeilike jaar vir die ANC. Eers het die “lyfwag” begin vanjaar verander, gevolg deur grondhervorming en voortdurende korrupsiebeskuldigings teen vooraanstaande partylede. ’

n Mens kan aanneem dat met aanstaande jaar se verkiesing aan die kom, sake sal vererger.

B- Bitcoin

Tensy iets beduidends gebeur, twyfel ek of bitcoin in aanstaande jaar se A-Z sal verskyn.

Ek het bitcoin verlede jaar met die tulphandel van die 1600’s vergelyk – en gou het dieselfde lot dit getref.

Nadat dit verlede jaar teen meer as $19 000 per bitcoin verhandel het, was dit begin Desember op sowat $4 000.

C- Kontant

Die geldmarkkoers was vanjaar taamlik bestendig. Dit het verlede jaar op 6,73% afgesluit en is tans 6,71%.

D- Diversifisering

2018 het ons weer herinner hoe belangrik ’n goed gediversifiseerde portefeulje is.

Beleggers het met plaaslike, sowel as buitelandse aandele, asook eiendom swaargekry, terwyl effekte taamlik bestendig was, met die plaaslike indeks van alle effekte wat vanjaar tot 3 November met 7,2% gestyg het.

E– Eskom

Ongelukkig lyk Eskom se finansiële situasie selfs donkerder as sy elektrisiteitsvoorsiening. Sy wins het van R8,9 miljard verlede jaar tot R1 miljard vanjaar gedaal – ’n werklik enorme daling. Dis nie al nie.

Sy uitstaande munisipale skuld het tussen Maart en September met R3,4 miljard (25%) gestyg.

F- Finansiële ministerie

Malusi Gigaba het die jaar as minister van finansies begin, maar is in Februarie deur Nhlanhla Nene vervang. Nene het egter erken dat hy met die Gupta-familie vergader het en het in Oktober bedank.

Tito Mboweni

Die ervare Tito Mboweni is in sy plek aangestel en het nou die moeilike taak om die land se reusetekort op die lopende rekening te verklein.

G-Gordhan

Wat ’n jaar was dit nie vir Pravin Gordhan nie. Nadat Jacob Zuma hom verlede jaar afgedank het, is daar bespiegel dat hy vanjaar vir die derde keer as minister van finansies heraangestel sou word.

Tot baie mense ontsteltenis het president Cyril Ramaphosa egter anders besluit en hom as minister van openbare ondernemings aangestel. Gordhan het taamlik vinnig ’n paar korrupte ministers en senior amptenare verwyder.

H- Huispryse en eiendom

Huispryse het saam met die res van die plaaslike ekonomie ’n taamlik moeilike jaar beleef. Volgens FNB het die segment sover vanjaar met net 4,1% gegroei. Genoteerde eiendom het sleg gevaar, in wat seker een van die slegste jare was, en het vir die jaar tot 3 Desember 24% se waarde verloor.

I- Inflasie en ekonomie

Die plaaslike inflasiekoers lyk taamlik onder beheer (teen 5,1% op ’n jaargrondslag volgens die jongste verbruikersprysindeks). Die plaaslike ekonomie het nie veel beter as verlede jaar gevaar nie.

Al het ons daarin geslaag om uit die tegniese resessie te kom met groei van 2,2% op ’n kwartaalgrondslag in die derde kwartaal, is ons groei van 1% op ’n jaargrondslag nie naastenby genoeg om genoeg werksgeleenthede te skep nie.

Dié probleem kan nie op kort termyn opgelos word nie, met die Internasionale Monetêre Fonds wat onlangs ons groeivoorspelling vir aanstaande jaar van 1,7% tot 1,4% verlaag het.

Pravin Gordhan

J- JSE

Die JSE het nie ’n wonderlike 2018 gehad nie. Die FTSE-JSE-indeks van alle aandele het tot 3 Desember met meer as 10% gedaal, en die groot aandele het die kwaaiste slae gekry.

Sewe van die Top40-aandele het met meer as 25% gedaal, en vyf met meer as 40%.

K- Ken jou perke

Al is skuldvlakke steeds veel hoër as 10, 20 of selfs 30 jaar gelede, het skuld as ’n persentasie van inkomste effens van 73% einde verlede jaar tot sowat 71% gedaal.

Kom ons hoop dié positiewe tendens duur aanstaande jaar voort. Met die ekonomie steeds onder druk is spaar vir baie mense steeds nie ’n prioriteit nie, en met rentekoerse steeds laag bly ’n gemaklike aftrede vir baie ’n reusekwelling.

L- Lang effekte

Lang effekte (12 jaar en langer) het die jaar op 9,23% begin en einde April teen sowat 8,6% geëindig. Kort daarna het die rand verswak, terwyl rentekoerse in November verhoog is, wat hulle weer tot sowat 9,43% laat styg het.

M- Markte

Ontwikkelde lande het aanvanklik taamlik goeie groei behaal, maar het laat in die jaar begin sukkel. Die FTSE 100 het die slegste gevaar (-4,3%) met Brexit wat nou vaart kry.

Die Japanse Nikkei 225 het ook druk ondervind en die groei was teen vroeg Desember op -0,8%. MSCI se ACWI-wêreldindeks het vir die jaar 0,9% laer verhandel.

Die S&P 500 het ook ’n groot terugslag beleef, maar steeds vir die jaar 6,6% hoër verhandel.

N- Naspers

Naspers* verteenwoordig byna 20% van ons aandelebeurs. Die maatskappy het verlede jaar op een punt geweldige groei van 100% getoon en verlede jaar met skitterende groei van 75% afgesluit.

Vanjaar het dinge egter verander. Naspers het in die jaar tot dusver met 20% gedaal.

O- Olie en ystererts

Brent-ruolie het ’n baie interessante jaar beleef. Dit het die jaar op $66,50 per vat begin, toe tot meer as $85 gestyg, maar teen vroeg Desember tot $59 teruggesak.

Ystererts het vanjaar nog druk ondervind, met ’n daling van sowat 8% in dollarwaarde.

P- Prima koers

Ons het vanjaar met ’n prima koers van 10,25% begin, en sal die jaar heel waarskynlik op 10,25% afsluit. Die koers het in Maart met 0,25 persentasiepunte gedaal, maar is in November weer met dieselfde 0,25 persentasiepunte verhoog.

Q– Kwantitatiewe verruiming

Nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) dit in November 2008 aangekondig het, gevolg deur verdere kwantitatiewe verruiming, lyk dit of dit nou gestaak is.

Cyril Ramaphosa

R- Ramaphosa

Einde verlede jaar het dit nog gelyk of Nkosazana Dlamini Zuma die beste kans gehad het om die volgende ANC-president én president van die land te word. Ons weet almal dit het nie gebeur nie.

Cyril Ramaphosa het die ANC se leierskroon oorgeneem en ná Jacob Zuma se bedanking Suid-Afrika se president geword. Dis nog gou, maar hy het reeds ’n diep indruk gemaak.

Ek is daarvan oortuig dat dit sal verdiep namate aanstaande jaar se algemene verkiesing nader kom.

S- Suid-Afrikaanse rand

Die rand het baie goed versterk nadat Cyril Ramaphosa in Desember verlede jaar as president aangestel is en het verlede jaar teen R12,37 teenoor die dollar afgesluit.

Die rand het sy lopie vanjaar voortgesit en in Februarie teen sowat R11,55 teenoor die dollar verhandel. Dit was egter kortstondig en hy het teen September tot meer as R15,40 teenoor die dollar verswak. Intussen het dit weer effe herstel tot sowat R14 teenoor die dollar.

Donald Trump

T-Trump

Soos altyd het Donald Trump beslis vanjaar daarin geslaag om die openbare belangstelling te wek. Of jy nou van hom hou of hom haat – hy kan eenvoudig nie geïgnoreer word nie.

U- Uitdagend

Ons het al verskeie kere na die Suid-Afrikaanse politiek verwys.

Ongeag van jou politieke sienings sal almal saamstem dat dit op die politieke front vanjaar nogal gebeurtenisvol was. Dinge sal selfs interessanter raak namate aanstaande jaar se verkiesing nader kom.

V- Veranderlik

Die plaaslike wisselvalligheidsindeks was verlede jaar taamlik bestendig op gemiddeld sowat 15%, maar 2018 met al sy onsekerheid het dit beslis verander.

In die laaste twee maande van die jaar was dit sowat 20% – wat duidelik wys dat plaaslike aandele tans baie wisselvallig is.

W- Wêreldgroei

Suid-Afrika se ekonomie het gesukkel om te groei, maar in skerp teëstelling daarmee het Amerika daarin geslaag om goed te vaar met groei van 3%, terwyl Brittanje se ekonomie met 1,5% gegroei het, China met 6,5% en Europa met 1,7%.

X X-faktor

Onrus in die Midde-Ooste bly kommerwekkend. Voeg daarby Amerika se gespanne verhouding met Noord-Korea en China en die verwagting is dat dié kwellings sal bly toeneem.

Y- Yuan (China)

Nadat die Sjanghaise saamgestelde indeks verlede jaar goed gevaar het, het dit vanjaar saam met dié van ander ontwikkelende lande maar moeilik gegaan .

Teen vroeg Desember was die indeks vir die jaar op ’n negatiewe 20%. Die yuan het vanjaar 5,5% swakker teenoor die Amerikaanse dollar gevaar.

Jacob Zuma

Z- Zuma

Ramaphosa het Jacob Zuma dalk as president vervang, maar dit beteken nie dat die kollig nie meer op hom val nie.

Met talle aanklagte teen hom reken ek dat ons aanstaande jaar steeds in die media baie van Jacob Zuma sal sien.

  • finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Schalk Louw is portefeuljebestuurder by PSG Wealth.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Donald Trump  |  Cyril Ramaphosa  |  Jse  |  Beleggings  |  Jacob Zuma  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.