Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die aluminiumbul kan dalk ontwaak
9 Julie 2021

South32, ’n gediversifiseerde mynboumaatskappy is op die JSE genoteer en het sy hoofkantoor in Australië; die kommoditeits- prysopwinding verbonde aan mynbouaandele baat die maatskappy gewoonlik nie veel nie.

Dit is waarskynlik te wyte aan die feit dat hy nie beskik oor die minerale en metale, naamlik ystererts en koper, wat die opskudding in die mynboubedryf veroorsaak het nie. In plaas daarvan produseer South32 dinge soos aluminium en metallurgiese steenkool en tot onlangs nog die ongewilde termiese steenkool. Hy ontgin egter ook nikkel en sink in onderskeidelik Colombia en Australië.

Rolle aluminium by ‘n fabriek. Foto: Shutterstock/South32

Die aandeel se gewildheid kan egter binnekort ’n opswaai beleef as Graham Kerr, uitvoerende hoof van South32, reg is dat daar rede vir ’n verbetering in die aluminiumprys is. Daar was ’n groot vraag na aluminium, maar terselfdertyd ’n ewe groot aanbod, veral uit China. Dié land se pogings om koolstofvrystellings te verminder, sal egter sy vermoë beperk om op ’n groot toekomstige vraag na aluminium te reageer.

“Ek dink dit gaan die metaal van die toekoms wees,” sê Kerr oor aluminium wat as bauxieterts gemyn en verwerk word om alumina, ’n oksied, te produseer. Dit word dan tot aluminium gesmelt wat South32 by onderskeidelik sy Hillside- en Mozal-aanleg in Richardsbaai in Suid-Afrika en Mozal in Mosambiek doen.

Aluminium is lig en is ’n moontlike plaasvervanger vir koper, waarvan die prys onlangs ’n tienjaarhoogtepunt bereik het. Aluminium het ’n laer geleidingsvermoë as koper, maar kan, gekombineer met ander metale, daarvoor vergoed. “Jy kan sien die prys loop omdat mense dié feit begin besef,” sê Kerr.

Goldman Sachs het in ’n onlangse verslag gesê aluminium is “ . . . in die vroeë stadiums van ’n lang bulmark”. Die pryse van aluminium sal byvoorbeeld vanjaar van gemiddeld $2 450 per ton tot $3 250 in 2023 styg, het die bank gesê.

Die hoop is dat die toekomstige prysbepaling van aluminium ’n “groenmarge” sal skep om beleggings in duur groenproduksie aan te spoor, terwyl dit ook aan die groeiende vraag sal voldoen.

Dit is goeie nuus vir SA en Mosambiek. “As jy aan SA dink, as jy Hillside kan hou, en ons het Mozal in Mosambiek, dink ek dit sal ons in ’n unieke posisie plaas om na Europa te gaan. Ek glo dat dit ’n belangrike komponent gaan wees . . . ” van South32 se korttermyn-groeistrategie, het Kerr gesê. Dit keer ook die storie om dat South32 nie meer in SA kan groei nie ná die disinvestering in Junie van sy 92%-aandeel in South African Energy Coal aan Seriti Resources, en die sluiting verlede jaar van sy mangaanallooigerief in Meyerton in Gauteng.

Graham Kerr, uitvoerende hoof van South 32.

Hierdie optimisme oor aluminium behels egter ’n soort kan-nie-wen-nie-dilemma. Die kern van die vraag na groenaluminium is volgens ’n verslag van Goldman Sachs ’n paradoks. Die metaal is ’n belangrike inset wat nodig is om ontkolingstegnologie te produseer, maar sy eie produksie is baie koolstofintensief.

Volgens die bank veroorsaak die produksie van aluminium 2% van alle wêreldwye vrystellings. Die hoop is dat die toekomstige prysbepaling van aluminium ’n “groenmarge” sal skep om beleggings in duur groenproduksie aan te spoor, terwyl dit ook aan die groeiende vraag sal voldoen.

Kerr het die SA regering se besluit om die perk vir ongelisensieerde selfgegenereerde elektrisiteit van 10 MW tot 100 MW te verhoog, as ’n “positiewe verrassing” beskryf, en hoewel dit nie direk help om alternatiewe energie te skep vir Hillside se kragintensiewe vervaardiging nie (waar Nersa tans ’n nuwe 10-jaarkragooreenkoms oorweeg) sal dit Eskom die tyd gee om op netwerkbuigsaamheid en -doeltreffendheid te fokus.

Effektiewer, “groener krag” beteken mededingender aluminium in motoronderdele wat in terme van koolstofbelasting ondersoek sal word, veral deur kliënte in ontwikkelde ekonomieë.

“Hillside verkoop ongeveer 30% van sy produk plaaslik, wat natuurlik aan Hulamin gaan,” sê Kerr. “Baie van dié produk sal motoronderdele word, en as dié motoronderdele gebruik word vir die vervaardiging van motors wat na Europa gaan, moet hulle ’n manier vind, anders sal daar tariewe op hulle geplaas word.”

Meer oor:  South32  |  Graham Kerr  |  Suid-Afrika  |  Mosambiek  |  Aluminium  |  Mynboumaatskappy  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.