Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Mening: Die argument vir sport
21 Mei 2020

Ek mis sport. Ek mis dit om my gunstelingspanne te volg, die nuus oor nuwe spelers te lees, om op wedstryddag na ’n vriend se huis te gaan, die intensiteit van groot wedywering, die ekstase van ’n oorwinning, en, ja, die frustrasie van gedurige teleurstellings (en om eerlik te wees, daar is baie as jy ’n Protea-, Stormers- en Arsenal-ondersteuner is!).

Dit bring mense bymekaar

Ek besef nou meer as ooit vantevore dat sport ’n sterker manier het om mense saam te bring as enige ander sosiale gebeurtenis. Ek kan op die dag van ’n groot wedstryd dieselfde gesprek met mense in alle kringe, mans en vroue, swart en wit, ryk en arm, in verskeie tale voer.

Ek mis daardie interaksie met my mede-Suid-Afrikaners. Ons weet beter as enige ander nasie maar te goed hoe sport kan verenig. Duisende mense het verlede jaar saamgekom vir die Springbokke se optog ná hul Wêreldbeker-oorwinning.

Die Wêreldbeker-oorwinning in 1995 was só betekenisvol dat van die grootste name in Hollywood selfs ’n rolprent daaroor gemaak het. Wat dié rolprent, Invictus, ook wys, is dat sport ’n magtige politieke instrument is – en nog altyd was.

Karl Marx het in ’n beroemde uitspraak gesê geloof is die opium van die massas. Ek sou redeneer dat sport ons nuwe geloof is.

Karl Marx het in ’n beroemde uitspraak gesê geloof is die opium van die massas. Ek sou redeneer dat sport ons nuwe geloof is.

Stadions het tempels, katedrale en moskees as die opvallendste geboue in ons stede vervang. Baie van ons bestee meer geld aan ons gunstelingspanne as aan ons gunstelingteologie. En ons wy beslis meer van ons kosbaarste hulpbron – tyd – aan sport as aan godsdiens. Met watter doel? Help dié nuwe geloof ons om ’n beter samelewing te bou?

Johan Fourie is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

’n Nuwe artikel wat in die American Economic Review gepubliseer is, wys dat dit wel gebeur.

Die drie skrywers doen twee dinge:

Hulle gebruik eers statistiek oor die wedstryde van die nasionale sokkerspanne van Afrika-lande om te toets hoe wedstryduitslae burgers se siening van hul nasionale identiteit beïnvloed – of jy jou eers as byvoorbeeld Zoeloe en dan Suid-Afrikaans beskou, of andersom.

Hulle gebruik dan dieselfde wedstryduitslae om te toets hoe ’n oorwinning dinge soos burgerlike konflik tussen etniese groepe vermeerder of verminder. Hulle gebruik die Afrobarometer om die eerste vraag te beantwoord.

In dié peiling, wat sedert 2002 in 25 Afrika-lande gedoen word, word gedetailleerde vrae gevra oor deelnemers se houding teenoor mense van ’n ander etniese groep en oor hul vlak van vertroue in hul regering. Afrobarometer-veldwerkers kan natuurlik nie almal tegelyk uitvra nie – veldwerkers gaan deur die loop van verskeie maande van huis tot huis om die inligting in te samel.

Wat die artikel so interessant maak, is dat die skrywers dié tydverskille in die peiling gebruik om te kyk hoe deelnemers vrae beantwoord net voordat en net nadat hul nasionale sokkerspan gespeel het. Die resultate het my verbaas. Die skrywers vind dat individue wat in die 30 dae ná ’n belangrike oorwinning deur hul land se nasionale span uitgevra word, 37% minder geneig is om primêr met hul etniese groep te identifiseer. Daar is ook ’n 30% groter kans dat hulle ander etniese groepe sal vertrou.

Dit is beduidend. In baie gevalle skakel dit die primêre identifisering van die etniese na die nasionale vlak om.

Die uitwerking is asimmetries

As ’n nasionale span verloor, het dit geen uitwerking op selfidentifisering nie. Dis een ding om meer patrioties teenoor jou land te voel, maar iets anders om werklik jou gedrag te verander. Dis die skrywers se tweede, en belangriker, vraag: Beïnvloed nasionale oorwinnings burgerlike konflik? Om dit te beantwoord, kombineer hulle die sokkerdata met data oor die voorkoms en erns van voorvalle van politieke geweld.

Hulle benut dan die ewekansigheid van kwalifisering vir die Afrika-nasiesbeker: Hulle vergelyk twee spanne in dieselfde groep wat voor die heel laaste ronde wedstryde steeds kon kwalifiseer. Die span wat kwalifiseer, is die “behandelde groep”, en die span wat (net-net) nie daarin slaag nie, is die “kontrolegroep”. Dit blyk dat sport inderdaad die opium van die massas is. Spanne wat kwalifiseer, beleef in die daaropvolgende ses maande aansienlik minder etniese konflik as lande wat dit (net-net) nie regkry nie.

Soos die skrywers sê: “Die uitwerking is aansienlik, beduidend en klaarblyklik heel blywend deur verskeie maande ná die geleentheid nog voort te duur.” ’n Paar dinge moet beklemtoon word. Die uitwerking word net aangedryf deur oorwinnings in belangrike amptelike wedstryde (soos kwalifisering- en eindstryd-wedstryde in die Afrika-nasiesbeker en Fifa-wêreldbeker). Die uitwerking is aansienlik groter vir oorwinnings oor tradisionele teëstanders.

Baie etniese groepe in Afrika is weens die Wedloop om Afrika en die arbitrêre bepaling van grense deur koloniale magte oor landsgrense heen verdeeld. Dit was al dikwels die oorsaak van sowel burgerlike as internasionale konflik.

Dis soortgelyk vir oorwinnings wat tuis of elders behaal word – wat daarop dui dat die uitwerking nie aangedryf word deur mense wat die wedstryd self bywoon nie. Een gevolgtrekking wat vir my besonder insiggewend is, is dat “die uitwerking van oorwinnings sterker is hoe meer divers die etniese samestelling van die nasionale span is”. ’n Mens kan dié resultate bloot as iets interessants beskou. Dit sal egter ’n fout wees. Baie etniese groepe in Afrika is weens die Wedloop om Afrika en die arbitrêre bepaling van grense deur koloniale magte oor landsgrense heen verdeeld. Dit was al dikwels die oorsaak van sowel burgerlike as internasionale konflik.

Talle kundiges het beleid probeer bepaal wat “nasiebou” sou aanmoedig – van massaskoolonderrig en militêre diensplig tot infrastruktuurkonstruksie en hervestigingsprogramme – maar met beperkte sukses. Sulke beleid vereis nie net reusehulpbronne nie, maar ook ’n bevoegde staat, waaraan daar gewoonlik van albei weens die etniese verdelings ’n tekort is. Die artikel bied ’n veel goedkoper alternatief: nasiebou deur sport.

Francois Pienaar of Siya Kolisi wat die William Webb Ellis-trofee omhoog hou, was nie net histories merkwaardige oomblikke nie. Hulle het baie werklike positiewe gevolge gehad. Laat ons in dié tyd, waarin sport ’n vae herinnering word, onthou dat dit ’n veel groter nut kan hê.

Meer oor:  Finweek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.