Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Word jy lui as jy nié afgedank kan word?
21 Junie 2018

Wat sou gebeur in ’n wêreld waar lewenslange werksekuriteit gewaarborg was? Die konsep van ’n gewaarborgde akademiese dienstydperk voorsien ’n interessante gevallestudie.

Daar is min twyfel: akademici het die beste werk. Wanneer ons klasgee kan ons jong, slim verstande volstop met idees waaroor ons omgee en in glo. Wanneer ons navorsing doen, kan ons dié idees verder verken, en die wêreld en hoe dit werk ’n bietjie beter verstaan.

Ons werk dikwels in ’n rustige omgewing, omring deur mense wat soos ons soek na (die) waarheid. Vir dié van ons wat mense vermy, is daar boeke wat dieselfde ding doen. Partykeer reis ons na lekker plekke toe en ontmoet mense wat soos ons dink en ruil idees uit. Partykeer neem ons selfs sabbatsverlof om nog meer na te dink oor die wêreld en hoe dit werk, sonder dat ons enigiets anders hoef te doen.

Die beste van alles? Selfs al doen ons nie die meeste van dié dinge nie, het ons lewenslange werksekuriteit.

Universiteite is van die oudste instellings. Hoewel die rol van die professor ietwat verander het oor die eeue heen (ons moes ons inkomste verdien toe studente moes betaal om ons klas-kamers te betree!), is die stelsel van akademiese werksekerheid, waar ’n aanstelling permanent is en mens nie afgedank kan word nie, tensy daar uit-sonderlike omstandighede is, al meer as ’n eeu lank in plek.

Dit is heeltemal anders as die private sektor, waar die grootste aansporing vir harde werk die gevaar is om afgedank te word.

Terwyl Suid-Afrikaanse akademici lewenslange aanstellings kry feitlik onmiddellik ná hul aanstelling (daar is gewoonlik darem ’n proeftydperk), is dit ’n geweldige ding om ’n permanente aanstelling te kry in Amerika.

Die eerste vyf jaar ná aanstelling is ’n wedloop om in die top-joernale gepubliseer te word. As dit tyd word vir die evalu-asie oor jou permanente aanstelling en jy het nie genoeg gepubliseer nie, sal jy dit nie kry nie. Jy sal iewers anders moet gaan, of die akademie moet verlaat.

Wanneer jy egter ’n permanente aanstelling kry, word al die aansporings om te publiseer, verwyder en voortgesette navorsing hang geheel en al af van die doelwitte wat jy vir jouself stel.

Hier is twee heeltemal verskillende stelsels. In die eerste is die aansporings duidelik: publiseer of sink. In die tweede is daar geen eksterne aansporings soos die bedreiging van werksekuriteit nie. Watter een lewer die beste resultate?

Kom ons kyk eers waarom akademiese werksekerheid ingestel is. Daar was hoofsaaklik twee redes. Eerstens voorsien werksekerheid akademiese en intellektuele vryheid om nuwe navorsingspaaie na te volg. Tweedens voorsien dit ’n genoegsame ekonomiese sekuriteit om die professie aantreklik te maak. Maar dit is die eerste – die onbelemmerde navolging van die waarheid – wat steeds as onbetwisbare verdediging vir permanente aanstellings voorgehou word.

Is daar empiriese steun hiervoor? Drie ekonome, Jonathan Brogaard, Joseph Engelberg en Edward van Wesep, het hulle eie professie gebruik om uit te vind. In ’n artikel wat gepubliseer is in die Winter 2018-uitgawe van die Journal of Economic Perspectives, het hulle die navorsingsuitsette gemeet van amper 1 000 akademiese ekonome in die vyf jaar voor permanente aanstelling en in die 10 jaar daarna.

Hulle het die kwantiteit sowel as die gehalte van uitsette gemeet. Twee metings is geskep: “wenlopies” is artikels wat hoog aangeslaan word (in die top-10% van publikasies in dieselfde jaar) en “bomme” is artikels wat swak gevaar het (artikels wat hulle in die onderste 10% in dié jaar bevind).

Die resultate is oorweldigend: publikasie en wenlopiekoerse styg in die aanloop tot vaste aanstelling en bereik ’n hoogtepunt in die jaar waarin daar oor ’n navorser se vaste aanstelling besluit word, asook in die eerste jaar daarvan. Daarna val dit van ’n krans af, met publikasie- en wenlopies van 15% tot 35% laer in jaar 2 tot 10 ná vaste aanstelling. Bomkoerse styg met 35% ná vaste aanstelling.

’n Wêreld waar permanente indiensneming gewaarborg is met geen merietebeoordelings nie is ’n wêreld waar uitsette daal en innovering sterf.

Die outeurs oorweeg verskeie redes vir dié afname. Dis dalk ’n “tyd sedert PhD”-effek in die sin dat ouer mense minder produktief is. Daar is egter geen getuienis om dit te steun nie. Miskien is dit die toename in diens, klasgee en ander nie-akademiese take wat ná vaste aanstelling volg, maar dit verklaar nie die toename in bomartikels nie. Dalk moedig vaste aanstelling navorsers aan om groter risiko’s te loop en na nuwe areas van navorsing uit te brei.

Die outeurs meet dit deur te kyk waar die outeurs publiseer en vind geen verskil in die uniekheid van mede-outeurs of joernale nie. Dalk verbloem die gemiddeldes die elite-navorsers se vertonings. Maar selfs wanneer die ontleding beperk word tot top- Amerikaanse universiteite, staan die resultate.

Dalk neem dit tyd vir uitsonderlike navorsing om traksie te kry. Maar resultate bly dieselfde vir ’n steekproef publikasies wat oor 20 jaar strek. Hulle navorsing stel voor dat vaste aanstelling sleg is vir navorsingproduktiwiteit. Dit is nie noodwendig dat die vaste-aanstellingstelsel sleg is nie; was dit nie daar nie, sou die getalle en gehalte PhD-studente wat mik na akademiese posisies waarskynlik laer gewees het. Die moontlikheid van toekomstige ekonomiese sekuriteit lok die skerpste denkers in die veld.

Dit suggereer egter wel twee goed. Op ’n praktiese vlak is dit dalk sleg om permanente aanstelling te gou toe te staan. Die Suid-Afrikaanse stelsel aanvaar permanente aanstelling omtrent dadelik; ek weet van niemand wat nie ’n permanente aanstelling gekry het omdat hulle in gebreke gebly het om te publiseer nie.

Deur die tydsduur van aanstelling tot minstens vyf jaar uit te stel en dit ’n realistiese moontlikheid te maak dat ’n permanente aanstelling nie verkry sal word nie, kan die regering meer navorsing vir hulle “pond vleis” kry. Op ’n meer algemene vlak, wys die studie duidelik hoe belangrik aansporings is.

’n Wêreld waar permanente indiensneming gewaarborg is met geen merietebeoordelings nie, is ’n wêreld waar uitsette daal en innovering sterf. Selfs akademiese ekonome moet soms daaraan herinner word.

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za.

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Foto: Shutterstock

Meer oor:  Werknemer  |  Finweek  |  Johan Fourie  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.