Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die betaal van belasting in ’n veranderende werklandskap
2 April 2020

Al minder mense volg die tradisionele roete om ’n permanente werknemer by net een maatskappy te wees en werk onafhanklik van die tradisionele werknemer-werkgewer-verhouding.

Die indiensnemingslandskap sluit al hoe meer vryskutwerkers, onafhanklike kontrakteurs, persoonlike diensverskaffers en deeltydse werkers in wat ’n hele reeks ingewikkelde belastingreëls behels, wat die lewe nogal moeilik kan maak as dit nie korrek toegepas word nie. In wese behoort werkgewers belasting (LBS) van hul werknemers af te trek, maar waar ’n persoon “onafhanklik” werk, word sy inkomste nie as vergoeding beskou nie en is dit nie aan LBS onderworpe nie.

Elle-Sarah Rossato, hoof van dispuutoplossing en belastinggeskille by PwC

Elle-Sarah Rossato, hoof van dispuutoplossing en belastinggeskille by PwC, sê die konsep van onafhanklike handel is ingewikkeld en kan maklik misverstaan word. “Die basiese beginsel is dat om as onafhanklik in aanmerking te kom, moet die persoon onafhanklik wees van die persoon wat hom betaal én die persoon aan wie die diens gelewer word.”

Die werkgewer word nie vrygestel van moontlike arbeids- en belastingwette wat van toepassing kan wees nie, net omdat hy homself ’n onafhanklike kontrakteur noem nie, sê Beatrie Gouws, hoof van aandeelhouersbestuur en strategiese ontwikkeling by die South African Institute of Tax Professionals.

Wanneer daar met óf ’n entiteit óf ’n natuurlike persoon in ’n nie-permanente arbeidsomgewing gehandel word, moet die werkgewer die beskikbare toets toepas om die presiese status van die individu of entiteit te bepaal om te verseker dat die arbeids- en belastingverpligtinge duidelik is, sê Gouws.

Om jou weg deur hierdie nuwe landskap te baan, word nog moeiliker gemaak deur die feit dat die reëls nie in een enkele artikel in die Inkomstebelastingwet vervat word nie, sê Anthea Scholtz, belastingdirekteur by Deloitte.

Persoonlikediensverskaffer-maatskappye

Die water word boonop vertroebel deur die toevoeging van persoonlikediensverskaffermaatskappye (PSP’s) in die wetgewing. Dit is gedoen om ’n sogenaamde gewilde belastingbesparingsmetode hok te slaan.

Werknemers het voorheen maatskappye, beslote korporasies (nie meer beskikbaar kragtens die Maatskappywet nie) of trusts opgerig om hul dienste deur middel van dié entiteit aan die werkgewer te bied. Op dié wyse het hulle die belasting- arbitrage- geleentheid gebruik om belasting van 28% as maatskappy te betaal in plaas van enigiets tussen 30% en 45% as werknemers.

’n PSP is onderworpe aan belasting van 28% op sy inkomste, en die aftrek van sakeverwante uitgawes is beperk. Die wet maak voorsiening vir ’n uitsondering.

’n PSP is onderworpe aan belasting van 28% op sy inkomste, en die aftrek van sakeverwante uitgawes is beperk. Die wet maak voorsiening vir ’n uitsondering.

Wanneer ’n maatskappy drie of meer mense op ’n voltydse grondslag in diens het, wat regstreeks betrokke is by die sakebedrywighede en nie aan die maatskappy of die eienaar verbind is nie, sal dit nie as ’n PSP geklassifiseer word nie. Daar is breë kategorieë waaronder werkers as onafhanklik geklassifiseer kan word, soos ongeïnkorporeerde entiteite en geïnkorporeerde entiteite.

Ongeïnkorporeerde entiteite

Anthea Scholtz, belastingdirekteur by Deloitte

Dis gewoonlik individue wat in hul eie naam as alleenhandelaars sake doen. Tensy die individu as onafhanklik geklassifiseer is, sal hy teen ’n koers van 25% aan werknemersbelasting onderworpe wees.

Die perseeltoets (wat bepaal of die werk hoofsaaklik by die perseel van die kliënt gedoen word) en die bestuur- of toesigtoets (die kliënt bepaal hoe en wanneer die werk gedoen word) bepaal gewoonlik onafhanklikheid.

Daar moet aan albei toetse voldoen word alvorens jy kan sê dat die persoon nie afhanklik is nie. “Die onus om die korrekte klassifikasie te doen, berus by die persoon wat die betaling doen. Ons het in die praktyk gevind dat werkgewers eerder konserwatief optree en dat talle van hulle eenvoudig werknemersbelasting van 25% aftrek,” sê Scholtz.

Nicci Courtney-Clarke, finansiële bestuurder en belastinghoof by TaxTim, sê wanneer werknemersbelasting afgetrek word, dit verpligtend is om ’n belastingsertifikaat aan die kontrakteur uit te reik. Indien dit onder die kode van ’n basiese salaris verskyn, sal die kontrakteur of vryskutwerker nie gewone sakeverwante uitgawes kan eis nie. Scholtz raai aan dat kontrakteurs skriftelik versoek dat al hul kliënte vrywillig werknemersbelasting aftrek.

Geïnkorporeerde entiteite

Die algemeenste geïnkorporeerde entiteit is die PSP, maar daar is heelwat minder van dié maatskappye weens die wetswysigings. Die besluit om as maatskappy geïnkorporeer te word, is gegrond op sakebeginsels, maar daar is ’n klomp belastingoorwegings om in gedagte te hou.

As al die wins aan aandeelhouers uitgekeer word, kan belasting tot 44% wees.

Rossato sê hoewel die korporatiewe belastingkoers 28% is, is dividende wat betaal word onderworpe aan weerhoubelasting van 20%. As al die wins aan aandeelhouers uitgekeer word, kan belasting tot 44% wees.


Voor- en nadele

Eenmansaak

As eenmansaak kan jy al jou sakeverwante uitgawes eis. As jy egter van jou huis af werk, is daar spesifieke vereistes waaraan jy moet voldoen wanneer jy uitgawes aftrek, waarsku Nicci Courtney-Clarke van TaxTim.

Dit sluit in dat ’n gedeelte van die huis uitsluitlik en gereeld gebruik word vir jou handelsbedrywighede.

Die struktuur van ’n eenmansaak is gewoonlik eenvoudig om op te stel en te administreer en, afhangende van die verdienste, kan daar ’n laer belastinglas wees, sê sy.

Die nadeel hiervan is dat die eienaar al die risiko van mislukking dra en as die eienaar sterf, sterf die onderneming saam met hom.

Private maatskappy

Die lewe van die onderneming is langdurig, en aandeelhouers het slegs beperkte aanspreeklikheid. Hulle is gewoonlik nie verantwoordelik vir die maatskappy se aanspreeklikhede nie.

Hulle is egter persoonlik aanspreeklik vir sekere belasting soos werknemersbelasting, BTW of boetes indien belasting nie betyds betaal is nie, waarsku Courtney-Clark.

Dit is duurder om maatskappye op te rig en te bestuur, en die wetlike en administratiewe vereistes is sonder twyfel meer omslagtig.

Beatrie Gouws, hoof van aandeelhouersbestuur en strategiese ontwikkeling by die South African Institute of Tax Professionals sê wanneer ’n onderneming deur ’n individu of deur ’n maatskappy bedryf word, is die grootste slaggat dat individue die verskil tussen private en sake-uitgawes en - inkomste verwar.

“Hulle koop voorraad en kruideniersware sonder om onderskeid te tref, betaal vir die uitverf van die onderneming en die private huis alles op een slag. Tensy jy duidelik onderskeid kan tref en die uitgawes duidelik kan skei, word die toepassing van belastingreëls ’n nagmerrie.” 


Nog nagmerries

Wikus Swart,’n belastingkonsultant by Unicus Tax, sê die betaal van belasting is net so belangrik as geld maak.
“Alte dikwels sien ons hoe besighede hul belastingverpligtinge afskeep, hoofsaaklik weens onkunde oor die vereistes. Dit benadeel die onderneming.”

Die meeste onafhanklike kontrakteurs of vryskutwerkers is voorlopige belastingbetalers.

Dit beteken dat hulle aan streng tydlyne moet voldoen en dat hulle die ramings vir die tweede voorlopige betaling reg moet doen. As dit verkeerd is, sal dit tot boetes en rente lei. Dit is verpligtend om vir BTW te registreer indien omset die R1 miljoen-kerf oortref.

Claudia Gravenorst, senior belastingbestuurder by Deloitte, sê dis miskien voordelig vir maatskappye en individue wat goedere en dienste van ander BTW-ondernemers kry sodat hulle hul insetbelasting kan terugeis.

“Daar is egter ’n omslagtige administratiewe las om BTW- opgawes in te dien, om fakture uit te reik en om te verseker dat eise in die regte BTW-tydperk ingestel word,” sê sy. ¦

Meer oor:  Finweek  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.