Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die drahandel verloor sy glans
27 Augustus 2020
Foto: Shutterstock

Hou die gebruik van ’n drahandelstrategie voordele in in die omgewing van lae rentekoerse in Suid-Afrika? Al is só ’n strategie minder toepaslik as in die verlede, bestaan dit steeds en kan dit nie onderskat word nie.

Drahandel is basies ’n verhandelingstrategie waar ’n belegger geld teen ’n lae rentekoers leen om ’n belegging te koop wat ’n hoër opbrengskoers bied om ’n groter risikoaangepaste wins te maak. Dit word gewoonlik gedoen deur in ’n laerentekoers-geldeenheid te leen, die geleende bedrag om te skakel, en dit dan in ’n ander geldeenheid te belê.

Die rede waarom drahandel voorkom, is omdat wêreldwye kapitaalvloei oor ’n tydperk hoër rentekoerse uitsnuffel, wat ondersteuning bied in die vorm van die vloei van buitelandse kapitaal na markte met sistemies hoër rentekoerse.

Drahandel was ’n gewilde verhandelingstrategie ná die internasionale finansiële krisis van 2008 en 2009 toe kapitaal van die ontwikkelde wêreld wanhopig hoër opbrengs gesoek het.

Teoreties is geldeenhede veronderstel om teen die koers van die inflasiedifferensiaal tussen hulle te verswak – die teorie van koopkragpariteit. Rentekoerse sluit die inflasiekoers daarbinne vas, wat gewoonlik meer as voldoende vir die inflasiedifferensiaal vergoed, en die drahandel die moeite werd maak.

Kom ons gebruik die Amerikaanse dollar (USD) en die SA rand (ZAR) om dit prakties te illustreer. As die SA inflasiekoers 2,2% is terwyl die Amerikaanse inflasiekoers 0,6% is, verswak die ZAR teoreties met 1,6% per jaar teenoor die USD. SA se repokoers is tans 3,5%, terwyl die Amerikaanse federalefondskoers 0,25% is.

Beleggers wat USD vir ZAR verruil, verdien daarom 3,25 persentasiepunte meer. Dit word gewoonlik behaal deur die USD te leen; die leners betaal daarom meer as 0,25% (kom ons aanvaar argumentshalwe 1%), wat beteken dat hulle 2,5 persentasiepunte meer verdien deur in ZAR te belê.

Drahandel was ’n gewilde verhandelingstrategie ná die internasionale finansiële krisis van 2008 en 2009 toe kapitaal van die ontwikkelde wêreld wanhopig hoër opbrengs gesoek het.

Omdat die geldeenheid egter teen 1,6% verswak, is hulle 0,9 persentasiepunte beter daaraan toe. In die wêreldwye konteks van ultralae rentekoerse is dié toename nie onbelangrik nie. Vir die drahandelstrategie word aanvaar dat rentekoerse bestendig sal bly. ’n Mens kan egter gerus daarop let dat die rentekoersverskil die laaste maande kwaai gekrimp het.

Terwyl Amerika én SA vanjaar groot rentekoersverlagings gesien het – drie persentasiepunte vir SA en 1,5 persentasiepunte vir Amerika – het die groter absolute verlagings in SA die drahandeltoename van sowat [2,5 persentasiepunte] in Januarie tot die huidige [0,9 persentasiepunte] verlaag.

Drahandel as ’n verhandelingstrategie behels twee primêre soorte risiko, en dié risiko’s vorm die kern van die argument oor of die drahandel in die plaaslike konteks vandag so relevant soos vroeër is. Die eerste risiko is dat enige een of ’n kombinasie van die vyf veranderlikes (SA inflasie, Amerikaanse inflasie, SA rentekoerse, Amerikaanse rentekoerse en Amerikaanse kredietspreiding – in die geval van USD-ZAR-drahandel) sal verander of dat die verhouding tussen hulle sal verander.

Dis op kort termyn onwaarskynlik dat plaaslike of Amerikaanse inflasie wesenlik sal verander. Daarby sal albei lande se rentekoerse waarskynlik nog ’n ruk lank laag bly. Amerikaanse kredietspreiding is egter ietwat moeiliker om te voorspel, want dit het die laaste paar maande aansienlik afgeneem omdat markte daarop reken dat die Federale Reserweraad die risiko van korporatiewe wanbetalings sal kan verklein. JP Morgan skat dat 18% van Amerikaanse hoërisiko-effekte nou op bedrukte vlakke verhandel, teenoor 41% in Maart vanjaar. In die algemeen lyk dit egter of die grondliggende veranderlikes bestendig genoeg is om die drahandel vir eers te ondersteun.

Die tweede risiko is waarskynlik ’n groter kwessie en sal moontlik die drahandel uitskakel. Dit is dat namate wisselvalligheid en onsekerheid toeneem, die kans groter word dat die verhouding tussen die koerse ineen sal stort, wat die kans groter maak dat beleggers ’n ander resultaat sal kry as waarop hulle gereken het.

Die huidige omgewing behels ongekende toestande. Nie net probeer die wêreldekonomie die gevolge van die Covid-19-pandemie uitskakel nie, maar die verhouding tussen Amerika en China is uiters gespanne – met Amerika se komende verkiesing wat tot die onsekerheid bydra. Die omgewing in SA is selfs meer onvoorspelbaar.

Die plaaslike ekonomie se onseker toestand, saam met die gevolge van Covid-19, dreig om die land se geldsake te verwoes. Dit het politieke gevolge terwyl die bevolking toenemende ekonomiese pyn ondervind. Die drahandel-rentekoersverskil is basies só verweer dat terwyl dit tans nog positief is, die veiligheidsmarge vir beleggers dalk nie wesenlik genoeg sal wees nie, wat dit ’n minder aantreklike verhandelingstrategie maak.

Die werklikheid is dat die wankelrige toestand van die plaaslike ekonomie, onlangse verlagings van die kredietgradering (en die gevaar van verdere verlagings), kommer oor die politieke gevolge van Covid-19, en ’n dekade van ekonomiese wanbestuur en agteruitgang sorg dat die drahandel hoegenaamd nie ’n veilige opsie is nie.

Beleggers wêreldwyd sal die risiko-beloning-verhouding ondersoek en in die huidige omstandighede sal dit moeilik wees om ’n drahandelbelegging te regverdig, veral omdat hulle onlangse gebeure in Argentinië sal onthou waar reddingsoptrede deur die IMF en politieke verandering veroorsaak het dat dié land se geldeenheid min ooreenkomste met ander ontluikende markte toon.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Andrew Duvenage is die besturende direkteur van NFB Private Wealth Management. Hierdie rubriek is in samewerking met Paul Marais, besturende direkteur van NFB Asset Management, geskryf.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.