Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die impak van inflasie op groei- en waarde-aandele
14 Mei 2021
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Belangrike vraag onder beleggingsberoepslui is of inflasie wêreldwyd sal posvat as ’n neweproduk van geweldige fiskale aansporings deur regerings om die ekonomiese uitwerking van die koronaviruspandemie teë te werk.

Die vraag is hoe kapitaal toegewys sal word in ’n omgewing waar inflasie koopkrag verminder. Dis nog onseker of inflasie verbruikers wêreldwyd sal tref en of dit net in Amerika sal voorkom – waar president Joe Biden fiskale aansporings van $1 900 miljard (meer as vyf keer Suid-Afrika se bruto binnelandse produk, of BBP) ingestel het.

Die regering onderhandel tans oor nog $4 000 miljard se staatsbesteding aan fisieke (soos brûe en paaie) en maatskaplike (soos verbeterde kindersorg en laer gelde vir tersiêre opvoeding) infrastruktuur. Dis egter nie net die Amerikaanse regering wat baie geld uitgee om ekonomiese uitset te versterk nie.

Lidstate van die Europese Unie (EU) het ooreengekom om ’n herstelfonds van €1 800 miljard op te stel om dié ekonomiese blok se ekonomie te herbou en te moderniseer. Mario Draghi, eerste minister van Italië en voormalige president van die Europese Sentrale Bank, beplan om €220 miljard te bestee om sy land se flou groei te laat herleef.

Van dié geld sal van die EU af kom en die res sal plaaslik verkry word. Italië het die meeste koronavirusverwante sterftes in Europa aangeteken, het verlede jaar die kleinste aantal geboortes sedert die vereniging van die skiereiland in die 1860’s gehad, en het ’n skuld-tot-BBP-verhouding van sowat 160%. Met só ’n skuldvlak sal inflasie vanselfsprekend ’n goeie vriend van die Italiaanse regering wees.

Inflasie

Inflasie tref die armstes in samelewings die hardste. Terwyl die pryse van tegnologiedienste en -produkte sywaarts beweeg – of selfs daal soos sedert die 1980’s met apparatuur gebeur – gebeur dit nie maklik met voedsel en brandstof nie. Die mandjie goedere wat lae-inkomsteverdieners koop, hel gewoonlik op veel meer tasbare wyse na voedsel en energie oor as by middelinkomste- en welvarende mense.

Terloops, dis ’n ou ironie dat stygende rentekoerse om inflasie te beperk ’n groter uitwerking op die middelklas en welvarendes met toegang tot lenings as op lae-inkomsteverdieners het. Maar sal hoër inflasie wêreldwyd posvat? Beleggingsberoepslui verskil oor die vooruitsigte vir hoër inflasie wêreldwyd vanweë groter besteding in Amerika en Europa. “Die inflasierisiko’s word as die hoogste spesifiek in die Amerikaanse ekonomie beskou,” sê Patrick Ntshalintshali, portefeuljebestuurder van Perpetua Investment Managers.

Patrick Ntshalintshali, portefeuljebestuurder van Perpetua Investment Managers

“Nie soveel in baie ander belangrike ontwikkelde en ontluikende ekonomieë oor die wêreld heen nie. Inflasie word in die algemeen beperk omdat die balans tussen struktureel swak vraag- en oorskot-aanbod ná Covid-19 nog ter sprake is. Geen gevaar van potensieel geweldige kostedrukinflasie ontstaan nog nie, want internasionale handel lyk stabieler as onder die Trump-regering.”

Terwyl inenting teen die Covid-19-virus bestendig voortgaan, met meer as ’n miljard mense wat al by die skryf hiervan ingeënt is, kan die vraag na energie, soos olie, ’n buitefaktor wees wat struktureel hoër brandstofpryse kan vassluit. Ekonomieë het energie nodig om te werk, en die strewe na skoner brandstof het nog nie soveel soos die verkope van olie en steenkool ontwikkel nie. Ons wens egter dat dit anders was.

Die gebrek aan olie- en steenkoolbeleggings die afgelope dekade ná die internasionale finansiële krisis van 2008-’09 saam met beleggers se afkeer van “vuil” brandstof kan die planeet mettertyd knou.

Prestasie

Tog kyk markte vooruit en sogenaamde groeiaandele het die afgelope 12 maande te midde van die pandemie goed gevaar. Baie ekonomieë in die EU en SA het ’n bietjie meer as ’n jaar gelede tot stilstand geknars toe regerings die virus se verspreiding of die gevaar daarvan probeer hanteer het.

Inkomste en lewens is verloor. Mense het tuis begin werk en die digitale ekonomie het op die voorgrond getree. Sakeondernemings van gestroomde vermaak, aanlyn konferensies en internetsekuriteit tot aanlyn inkopies en aflewering het in ontwikkelde markte vooruit gegaan.

“Let daarop dat die SA mark nie die diepte het om dieselfde vlak van ontleding tussen waarde- en groei-indekse te doen as in markte soos Amerika nie”.

Ontluikende markte het ook meegedoen. Die aandeelpryse van sogenaamde megakapitalisasieaandele, soos Microsoft, Amazon, Apple, Alphabet en Facebook, het geweldig baie gestyg. Ander, soos die konferensietoepassing Zoom, die afstandverbindingstoepassing TeamViewer, die identiteit-en-toegangsbestuursverskaffer Okta en die vervaardiger van elektriese voertuie en kragberging Tesla het ook goed gestyg. Nadaq, ’n beurs wat baie tegnologiemaatskappye bevat, het skerp gestyg.

Die Nasdaq 100-indeks, wat die 100 grootste aandele op die beurs naspoor, het die afgelope 12 maande met 56% gestyg. Sy prys-verdienste-verhouding (p/v) was by die skryf hiervan ’n duur 38, volgens Bloomberg-data. Die indeks het sedert begin vanjaar met 8,4% gestyg. Teenoor die tegnologiegerigte Nasdaq het die Dow Jones-nywerheidsgemiddelde, met meer tradisionele maatskappye, die afgelope jaar met 42,9% gestyg en verhandel dit teen ’n p/v van 26.

Dale Hutcheson, portefeuljebestuurder en senior ontleder van Absa Asset Management

Dit het sedert 1 Januarie met 11% gestyg. ’n Vergelyking soos dié een tussen groei- en waardeaandele in Amerika is moeiliker in die plaaslike mark. Dale Hutcheson, portefeuljebestuurder en senior ontleder by Absa Asset Management, sê: “Let daarop dat die SA mark nie die diepte het om dieselfde vlak van ontleding tussen waarde- en groei-indekse te doen as in markte soos Amerika nie. ’n Vergelyking tussen die top-40- en middelkapitalisasie-indeks kan sekere van die waarde- en groeitendense toon, maar meer as die helfte van die top-40-indeks en hulpbron- en bankaandele kan maklik as waarde geklassifiseer word.”

Groeiaandele

Kom ons bekyk eers groeiaandele en hul vooruitsigte. “Die positiewe sentiment en makro-omgewing wat die gunstigste vir groeiaandele was, lyk nou ’n bietjie meer oordrewe,” sê Ntshalintshali. Dit word weerspieël in die waardasieveelvoude waarteen dié aandele verhandel – nader aan die vlakke wat laas tydens die tegnologieborrel voorgekom het, sê hy.

“Daar is steeds goeie hoëgehalte-groeimaatskappye wat ’n mens nog in die portefeulje kan hou, soos Facebook en so aan. Die lys hiervan het egter korter geword. Groeimaatskappye se verdienste sal aanhou toeneem namate ekonomieë herstel, maar baie van die groei is reeds by aandeelpryse ingereken.” Die sentiment van Rayhaan Joosub, portefeuljebestuurder en adjunk- uitvoerende hoof van Sentio Capital Management, is selfs negatiewer.

“Ons het negatiewe vooruitsigte vir internasionale groeiaandele vanweë die toename in effekteopbrengskoerse wêreldwyd en die toename in wêreldgroei vanweë die verspreiding van Covid-entstowwe.” Groeiaandele vaar in dié soort omgewing gewoonlik swakker omdat hul verdienstestrome na die langer termyn oorhel en gewoonlik nie so afhanklik is van die ekonomie as waardeaandele nie, sê hy.

Wêreldwyd is groeiaandele geneig om na die tegnologie- en gesondheidsorgsektor oor te hel, wat ook uiters oorwaardeer is vanweë die hoeveelheid spekulatiewe kapitaal wat danksy sentrale banke se baie tegemoetkomende monetêre beleid in dié sektore geïnvesteer word, voer hy aan. “Plaaslike groeiaandele bied beter waarde, al is hulle meer siklies van aard as tegnologieaandele,” sê Joosub.

“Dis veral waar in die hulpbronsektor, waar hoër kommoditeitspryse saam met kapitaaldissipline sterk verdienste en dividendgroei aandryf terwyl waardasies veel aantrekliker is. Dis ongewoon dat hulpbronne as groeiaandele geklassifiseer word, maar hulle het danksy die omvang van kommoditeitsprysveranderinge onlangs na die kategorie van sikliese groei oorgeskuif en daarom klassifiseer ons hulle as groeiaandele.”

Rayhaan Joosub, portefeuljebestuurder en adjunk- uitvoerende hoof van Sentio Capital Management

Waardeaandele

Daarteenoor lok waardeaandele, of dié met histories laer waardasiemaatstawwe vanweë hul meer volwasse aard, weer beleggersaptyt. Of dit teen die regte prys is, is oop vir bespreking – of prysverkenning. Jacques Conradie, uitvoerende hoof van Peregrine Capital, sê: “Waardeaandele het die afgelope ses maande baie goed gevaar deurdat markte verby die huidige ekonomiese gesukkel na ’n post-Covid-wêreld gekyk het.

Jacques Conradie, uitvoerende hoof van Peregrine Capital

’n Volle herstel word reeds by die prys van baie waardeaandele wêreldwyd ingereken, met dié aandele wat nou bo die vlakke verhandel waar hulle voor Covid verhandel het.” Terwyl dit moeilik is om te voorspel hoe dié aandele op kort termyn sal vaar, is Peregrine van mening dat die meeste van die herstel reeds by huidige waardasies ingereken is.

“Gevolglik is ons nie besonder opgewonde oor die huidige vooruitsigte vir waardeaandele in die algemeen nie, maar ons besit wel verskeie spesifieke geleenthede op dié terrein wat aantreklik is.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.