Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die jaar in ’n blik
20 Desember 2018


Dapper nuwe 2019:

President Cyril Ramaphosa se besluit om vir die volgende boekjaar geen salarisverhogings vir kabinetslede goed te keur nie, is in talle opsigte verfrissend. Dit dui op ’n vasbeslotenheid om die veels te groot openbare salarisrekening onder beheer te kry en is in pas met talle hardwerkende Suid-Afrikaners se ervaring wanneer die ekonomie sukkel.

Verbruikers betaal vir die eerste keer in 25 jaar hoër BTW, met die koers wat vanjaar van 14% tot 15% verhoog is. Tesame met rekordhoë brandstofpryse en ’n inkrimping van die ekonomie in die tweede kwartaal het dit in 2018 ’n groot las op verbruikers se beursies geplaas.


Vir 2019 is ons geld op: Die JSE wat ’n terugkeer maak ná ’n teleurstellende 2018.

Grootste frustrasie van 2018

Mislukte staatsondernemings het die land dieper in ’n moeras laat beland; die finansiële las wat hulle op die staatskoffers plaas is haas onbekostigbaar. Bes moontlik die ergste van die klomp is Eskom, met sy allerbelangrike rol om die ligte aan te hou – en dus die ekonomie aan die gang (en aan die groei) te hou. (Hoop nie jy lees dié by kerslig nie...?)

Grootste bedreiging in 2019

Voortslepende handelsoorlog:

Daar is aanduidings dat Amerika en China, wat mekaar in gelyke munt probeer terugbetaal wat tariewe betref, daarin sal slaag om tot ’n vergelyk te kom. Slegs die tyd sal egter leer of, wanneer en hoe die handelsoorlog ingekort sal word. Intussen berig Bloomberg dat al word ’n oplossing gevind, dit tyd sal neem om die skade wat reeds aangerig is te herstel.

Die nuusdiens haal ’n verslag deur Citigroup aan en sê die handelsoorlog is die hoofrede vir die stygende arbeidskoste in China, wat 4,4 miljoen poste kan bedreig. Boonop kan bykomende tariewe volgens Bloomberg steeds ná 1 Maart op Chinese uitvoer ingestel word, aangesien die geskil tussen die twee lande waarskynlik dan nog nie opgelos sal wees nie.


Die bewakers

Jamal Khashoggi Vermoorde joernalis

Die tydskrif Time se 2018 ‘Persoon van die Jaar’ is “The Guardians”, oftewel die bewakers – joernaliste wat gedood of in die tronk gesit is. Die joernalis Jamal Khashoggi is een van hulle. Hy is in Oktober brutaal vermoor in die konsulaat van Saoedi-Arabië in Istanboel, Turkye.

Soos nbcnews.com berig, het die CIA sedertdien “met groot oortuiging” bevind dat Khashoggi in opdrag van kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië vermoor is. Khashoggi het fel kritiek gelewer op die prins en sy bewind. Luidens nbcnews.com is ’n rekordgetal verslaggewers wêreldwyd agter tralies, met die Committee to Protect Journalists wat 262 gevalle aangeteken het in 2017.

Soos die Time se buiteblad beklemtoon, is Khashoggi net een van talle joernaliste wat weens die werk wat hulle doen vermoor of in die tronk is. Dit is ’n jammerlike dag vir die samelewing as juis dié wie se taak dit is om die waarheid bloot te lê en te bewaak om dié rede permanent stilgemaak word.


Hoe sê?

“Hoekom het ons al dié mense van agterlike lande wat hierheen kom?”

- Waarskynlik die mees ondiplomatiese opmerking vanjaar was dié ene deur president Donald Trump van Amerika, toe hy in Januarie vanjaar in sy kantoor in die Withuis tydens ’n gesprek oor beskerming aan immigrante uit onder meer Haïti, El Salvador en Afrika-lande gesuggereer het immigrante uit sekere lande is gelykwaardiger as ander.

“Ons het op ’n individuele grondslag geregtigheid aan slagoffers gebring; nou is die hele land byna soos ’n slagoffer en moet ons werklik saamwerk.”

- Die pas aangestelde nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, oor hoekom sy bereid is om uit haar pos as regsadviseur vir die Internasionale Strafhof in Den Haag te bedank om as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangestel te word. Luidens timeslive.co.za het Batohi dit duidelik gestel sy lewe “heel gemaklik” in Den Haag, maar om die NVG reg te ruk moet almal skouer aan die wiel sit, daarom is sy bereid om “persoonlike gerief” op te offer.

Twiet-mislukking

’n Foto is ’n duisend woorde werd. In die geval van Elon Musk, is ’n twiet $40 miljoen werd.

Op 7 Augustus 2018 het die uitvoerende hoof van Tesla sy berugte twiet getwiet: “Oorweeg dit om Tesla ’n private entiteit te maak teen $420. Finansiering gedek.”

Dit het daartoe gelei dat die Amerikaanse Securities & Exchange Commission (SEC) Musk weens beweerde bedrog met sekuriteite ondersoek het.

Op 29 September is ’n skikking bereik waarkragtens Musk as voorsitter van Tesla uitgetree en ’n boete van $20 miljoen betaal het. Tesla moes ook $20 miljoen opdok, volgens Forbes omdat niks gedoen is om Musk se uitlatings te stuit nie. Musk se Twitter-rekening bly desondanks… interessant.


HOU DOP…

…wêreldwye groei

Daar is klaarblyklik toenemende konsensus dat groei teen 2020 wêreldwyd onder druk sal wees, ook die Amerikaanse ekonomie. Ft.com berig Maurice Obstfeld, hoofekonoom by die Internasionale Monetêre Fonds, verwag groei in Amerika “sal in 2019 en 2020 toenemend verlangsaam namate die uitwerking van laer belasting en hoër besteding afneem”.

“Wat die res van die wêreld betref, lyk dit of die ballon effens afblaas. Dit sal terugkom en ook Amerika beïnvloed,” sê Obstfeld. Vir Suid-Afrika, wat reeds sukkel om betekenisvol te groei, voorspel ’n verlangsaming in wêreldgroei niks goeds nie.

Staal jouself vir…

…verkiesingsjaar

Politici het reeds oorgeskakel in verkiesingsmodus; en namate Mei 2019 naderkom sal die intensiteit waarskynlik toeneem. Verwag opmerkings, slagspreuke en beloftes wat gevoelens sal laat opvlam.

Verwag pogings om opponente se naam sleg te maak. Die uitdaging gaan wees om te midde van die lawaai gefokus te bly.


Dansende robot kameelperdjie (aka Maybot) van die jaar

Theresa May

Haar hantering van die Brexit-onderhandelinge het die Britse premier, (ten tyde van die skrywe hiervan) Theresa May, uiters ongewild gemaak in Brittanje. Met dié uitgawe van finweek op pad drukkers toe, was ’n mosie van wantroue in haar leierskap in Brittanje onderweg; wanneer jy hier lees, is sy goed moontlik die voormalige eerste minister. Wat ook al die geval, May, wat ook die nuus gehaal het weens haar danspassies tydens besoeke aan Afrika, sal sekerlik nie goeie herinneringe aan 2018 hê nie.


Mamparra van die jaar

Malusi Gigaba Gewese minister van binnelandse sake

Malusi Gigaba is al ’n paar keer om die politieke blok en onder die Zuma-regering het hy lank oorleef, ondanks verskeie omstrede besluite wat die land duur te staan gekom het. Hy was adjunkminister van binnelandse sake, minister van openbare ondernemings, van finansies en van binnelandse sake.

Ondanks verskeie openbare ontkennings oor sy verhouding met die Gupta-familie, hooffigure in die verhaal van staatskaping, het hy sy rol gespeel deur aan lede van dié familie burgerskap toe te ken. Hy het min gedoen om staatsondernemings soos SAL en Eskom in die bek te ruk, ondanks hul powere prestasie.

Maar 2018 was sy annus horribilis. Hy is as minister van finansies na binnelandse sake verskuif en het enkele maande later weens ’n seksskandaal die hoofopskrifte gehaal. Nou is hy nie meer ’n lid van die kabinet of die nasionale vergadering nie.

Meer oor:  Terugblik  |  Finweek  |  2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.