Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die jaar waarin klein ondernemings gely het
17 Desember 2020

Om ’n klein, middelslag- of mikro-onderneming (KMMO) in Suid-Afrika te bestuur, is al jare lank nie ’n maklike taak nie. Plaaslike KMMO’s moet talle hindernisse oorkom.

Om in ’n trae ekonomie te werk, met ’n gebrek aan finansiering, baie misdaad, min of verswakkende infrastruktuur, oorregulering in die vorm van burokratiese laste, arbeidsmarkrigiditeit en die skaarsheid van vaardighede is van die faktore wat innovasie beperk en ook baie ander probleme veroorsaak.

Toe Elon Musk, SA gebore stigter van Tesla en SpaceX, tot die wêreld se tweede rykste persoon op Bloomberg se miljardêrindeks gevorder het – met ’n netto waarde van sowat R2 000 miljard by die skryf hiervan – was die reaksionêre sentiment van plaaslike mense op sosiale media ontmoedigend.

Baie reken dat hy nooit dié sukses sou kon behaal het as hy nog in SA was nie weens die negatiewe sakeomgewing, veral die burokratiese rompslomp. Vir baie plaaslike ondernemings wat ywerig was om sukses te behaal, het Covid-19 – saam met die genoemde burokratiese rompslomp – ongelukkig die einde beteken.

En die aantal mislukkende ondernemings word daagliks groter. Een van die mees drakoniese en verwronge spykers in die doodskis was toe die regering e-handel in die vroeë fases van die nasionale inperking verbied het. Dis in ’n era waarin verbruikers al hoe meer baksteen-en-beton-winkels vir aanlyn inkopies verruil.

Die verbod is later opgehef nadat ondernemings regstappe gedoen het. Die plaaslike handelsmerk Rowdy Bags het sowat 120 eenhede per dag gemaak en uit twee winkels (Kaapstad en Johannesburg) gewerk, en het voor die inperking ’n groeiende internasionale aanlyn gehoor gehad. “Ons verkope het op inperkingvlak 5 verdwyn – gedaal tot byna R0,” sê Adam Young, besturende direkteur van Rowdy Bags. “Die eerste groot uitdaging was aanvanklik om mismoedigheid te oorkom weens die gedagte dat ek die onderneming kon verloor.”

Adam Young, besturende direkteur van Rowdy Bags

Toename in likwidasies

Meer onlangs het sakelikwidasies in die drie maande tot Oktober vanjaar met 33,2% toegeneem, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, volgens Statistiek SA.

Hy sê in Oktober is ’n likwidasietoename van 20,8% op ’n jaargrondslag aangeteken. Met dié dat KMMO’s sowat 98% van SA ondernemings verteenwoordig en werk aan tussen 50% en 60% van die land se arbeidsmag in alle sektore verskaf, volgens McKinsey, is die toename in likwidasies slegte nuus vir die voortgesette werkloosheidskrisis.

Die verlies aan inkomsteverdieners beteken ook ’n verlies aan inkomstebesteders, wat klante vir oorblywende KMMO’s kon gewees het. Al is likwidasies ietwat verstaanbaar – omdat die inperking ’n sektor getref het wat reeds gesukkel het – sal die gebrek aan reaksie op bestaande en nuwe probleme wat KMMO’s ondervind, die sakeomgewing aanstaande jaar selfs nog treuriger maak, volgens dr. Jabulile Msimango-Galawe, senior lektor by die Wits-sakeskool.

Dr. Jabulile Msimango-Galawe, senior lektor by die Wits-sakeskool

’n #PayIn30-inisiatief om daartoe te verbind om verskaffers binne 30 dae te betaal, wat in November die verbintenis van meer as 50 korporatiewe groepe gekry het, waaronder Discovery, Aspen Pharmacare, Investec, Massmart, Old Mutual en Naspers*, is ’n goeie voorbeeld. “Wat doen die groot maatskappye nog al die jare?” vra Msimango-Galawe.

Sy sê nadat KMMO’s meer as ses maande lank geworstel het, kon die reaksie “méér gewees het as wat in normale tye noodsaaklik is”, soos om KMMO’s binne sewe dae of 48 uur te betaal ten einde die ondernemings se kontantvloei te steun.

“Onbetaalde fakture en laat betalings is sommige van die dinge wat die herstel van die meeste KMMO’s sal terughou. Wanneer fakture uiteindelik betaal word – as hulle hoegenaamd betaal word – sal die onderneming nie meer kan herstel nie.”

Kry finansiering

KMMO’s moes staatmaak – as hulle gelukkig genoeg was – op finansiering deur private bronne of die regering. Rowdy Bags het aansoek gedoen om en ondersteuning gekry van die Werkloosheidsversekeringsfonds se Tydelike Covid-19-skema vir werkgewer-werknemer-steun (UIF TERS) en ’n lening van die Sukuma-fonds, wat met ’n skenking van R1 miljard van die Rupert-familie en Remgro geskep is om noodverligting aan klein ondernemings te bied.

Geen sekuriteit word vir die lening vereis nie, en daar is geen terugbetalings in die eerste 12 maande nie, met terugbetalings wat ná ’n jaar met die eerste van vier maandelikse betalings begin, terwyl die volle kapitaal oor vier jaar terugbetaalbaar is.

Teen einde Augustus het FNB meer as R1,2 miljard ingevolge die regering se Covid-19-leningwaarborgskema verskaf om ondernemings te help waarvan die geldsake deur die pandemie geraak is, volgens Jesse Weinberg, KMMO-segmenthoof van FNB. Hy sê R1 miljard van die lenings wat goedgekeur is, was vir meer as 3 800 KMMO’s met ’n jaarlikse omset van tot R60 miljoen per jaar, wat beklemtoon hoe erg die uitwerking was.

“Onbetaalde fakture en laat betalings is sommige van die dinge wat die herstel van die meeste KMMO’s sal terughou.”

Hy sê die bank het ook sowat R13 miljard bygedra tot die vroeë betaling van fakture wat die groep uitbetaal het aan verskaffers, waarvan baie KMMO’s is. Alan Shannon, hoof vir kliëntinteraksie vir kleinsakedienste en beroepsluibanksake van Nedbank, sê daar was baie belangstelling in betalinguitstel. “Dis hoofsaaklik in die vroeër inperkingfases tussen middel Maart en Junie aanvaar.

Dié reëlings het einde September basies tot ’n einde gekom.” Terwyl die regering se leningwaarborgskema van R200 miljard dit vir Nedbank moontlik gemaak het om sedert die begin daarvan in Mei lenings aan baie van sy sakekliënte te bied, was die vraag nie naastenby so groot soos waarvoor voorsiening gemaak is nie, sê Shannon. ¦ terugvoer@finweek.co.za

* finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.


Oorlewingstrategieë vir 2021

Ondernemings wat vinnig gediversifiseer en oorgeskakel het na bedrywe en produkte of dienste waarna ’n vraag in dié tydperk bestaan het, sal aanstaande jaar in ’n beter posisie wees, volgens dr. Jabulile MsimangoGalawe, senior lektor by die Wits-sakeskool.

Vier terreine waarop plaaslike KMMO’s aanstaande jaar dinge kan doen om die probleme weens die krisis te verlig, is volgens McKinsey om tegnologie te gebruik om nuwe klante te bereik of ’n onderskeidende waardestelling te bied, die ontwikkeling van duideliker strategieë vir marktoegang, die verbetering van doeltreffendheid en verkope, en die ontwikkeling van spanvaardighede en vermoëns, en leiersbemagtiging. “Dinge is moeilik,” sê prof. Owen Skae, direkteur van die Rhodes- sakeskool.

“Ek sou sê moenie klantediens verswak nie. Bly net daarop gefokus om jou bes te doen. Hou aan dink aan jou waardestelling, en volg ’n sobere benadering tot wat jy doen.”

Hy stel ook voor dat ondernemings maniere kry om tegnologie te gebruik om beter stelsels en prosesse te ontwikkel. “Baie gratis goed bestaan, veral in wolkgegronde dienste, wat die manier waarop dit in die onderneming bestuur word, maklik kan hervorm – van die kliëntkoppelvlak, teenwoordigheid op sosiale media, beplanning, skedulering, fakturering en so meer.”

Skae sê finansies gaan ’n krisis wees. “Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, maar jy moet kostebewus bly en jou bes probeer om geld vir komende moeilike tye opsy te sit. Jy moet egter ook reserwes opbou vir wanneer sake verbeter om komende geleenthede te benut.” ¦


Hoe kan KMMO-eienaars hul beter toerus?

Prof. Owen Skae, direkteur van die Rhodes-sakeskool, sê ’n “wonderlike verskeidenheid” van bestuursopvoedingkursusse is beskikbaar.

“Dit bied fantastiese geleenthede om weer te dink, oor te begin, en te besluit of jy die groter stap wil doen om ’n MBA aan te pak. Spesifiek KMMO-eienaars raak dikwels by die bedryfsaspekte van die onderneming betrokke (suiwer vanweë die omstandighede met die daaglikse bestuur daarvan) ten koste van die strategiese fokusterreine.”

Die geleentheid om jou (metafories gesproke) van dié omgewing af te skei, kan diepgaande implikasies hê vir wat jy leer en toepas, sê hy. “Ek het talle voorbeelde, maar wat my bybly, is dié van twee dokters wat ’n Finansieskursus vir nie-finansiële bestuurders gevolg het,” sê Skae.

Dit het hulle geïnspireer om ’n nuwe sakerigting in te slaan, en hulle het van krag tot krag gegaan. ’n MBA is ’n groot verbintenis, maar daar is entrepreneurs en kleinsake-eienaars wat ons MBA doen.” 

Foto’s: Verskaf

Meer oor:  Finweek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.