Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die mag van ’n goeie verwysing
22 Oktober 2020
Foto: Shutterstock

Een van die baie verborge take van ’n akademikus is om verwysingsbriewe te skryf – baie daarvan. Amper alle studente het dit nodig vir hul eerste werkaansoek, en wie is meer bevoeg as die professor wat die laaste paar jaar hul werk gelees en hul vordering gesien het?

Maak dié briewe ’n verskil? Een sienswyse is dat hulle min bykomende inligting bied by wat ’n potensiële werkgewer reeds – en meer objektief – uit ’n akademiese rekord en CV kan aflei. Hulle weerspieël ten beste die inligting wat reeds verskaf is en kan ten slegste die baie duidelike sein verwring wat iets soos ’n akademiese rekord bied. In sommige gevalle kan verwysings selfs die beoordelaars se vooroordele toon.

Vir ’n artikel wat verlede jaar in die vakjoernaal Journal of Surgical Education verskyn het, is 311 verwysingsbriewe vir ’n oorplantingchirurgiegenootskap bestudeer. Daar is bevind dat die kans groter was dat manlike aansoekers se briewe terme soos uitstekend, intelligent en buitengewoon sou bevat, terwyl die kans groter was dat vroulike aansoekers se briewe terme soos medelydend, kalm en genoeglik sou bevat.

Manlike aansoekers se kans was ook groter om as ‘toekomstige leiers’ bestempel te word. In die verslag word gesê sulke briewe verklaar dalk die oorwig van mans in die veld. Moet daar dan eerder van verwysingsbriewe ontslae geraak word?

Nie só gou nie. Die meeste werklose Suid-Afrikaners het nie sekondêre onderwys voltooi nie en het geen of beperkte werkservaring. Dit skep wat ekonome ’n inligtingasimmetrie tussen die werkgewer en werknemer noem: Die werknemer het meer inligting (oor hul eie vaardighede en werksetiek) as die werkgewer. Werkgewers wil nie bloot enigiemand aanstel nie, maar iemand wat goed inpas.

Een manier om dié gaping te oorbrug, is deur sosiale netwerke – stel vriende en familielede van bestaande werknemers aan. Die gebruik van sulke ‘verwysings’ verlaag die koste om inligting oor nuwe potensiële werknemers te kry, want die huidige werknemers kan hul gehalte ‘staaf’.

Trouens, dis algemeen in Suid-Afrika: Die ekonome Volker Schöer, Neil Rankin en Gareth Roberts toon dat tot 68% van werkers deur sulke netwerke werk kry. Sosiale netwerke se probleem is egter dat hulle beperk is. Werkgewers mis dalk ’n potensieel waardevolle poel werknemers as hulle net hul bestaande personeellede se vriende aanstel.

Huidige werknemers het ook dalk persoonlike belang daarby om familielede en vriende te verwys wat met hul die werkgewer se belange bots. En informele verwysingstelsels kan groepe met minder bande benadeel. Die uitdaging is om meer inligting oor toekomstige werknemers van buite bestaande netwerke te kry.

Verwysingsbriewe deur ’n derde party wat bykomende inligting oor die werknemer verskaf, kan miskien die probleem van inligtingasimmetrie oplos. Sal hulle egter werk in ’n situasie waar die helfte van die werklose bevolking nie eens matriek het nie?

’n Nuwe artikel deur die arbeids- ekonome Martin Abel, Rulof Burger en Patrizio Piraino dui daarop dat verwysingsbriewe dalk suksesvoller met pospassing is as wat mens dink. Die skrywers het drie eksperimente gedoen om dit aan te dui. Die eerste eksperiment toets of die kans groter is dat werkgewers sal reageer as ’n verwysingsbrief by ’n aansoek aangeheg is. Die tweede eksperiment gaan oor of verwysingsbriewe tot groter indiensneming lei.

’n Aangehegte brief vergroot die waarskynlikheid om ’n antwoord te kry vir dieselfde werker van 4,2% tot 6,7% – ’n styging van 60%.

Die derde een toets wat die beste manier is om werknemers aan te moedig om verwysingsbriewe in hul aansoeke te gebruik. Die veldwerk is by arbeidsentrums in Johannesburg en Polokwane gedoen en is uitsluitlik op swart Suid-Afrikaners tussen 18 en 34 jaar oud gemik.

Byna 500 werksoekers het deelgeneem. Vir die eerste eksperiment het die skrywers van SA se gewildste werksoekwebwerwe deurgesoek om vakante poste vir halfgeskoolde werkers te identifiseer. Hulle het toe aansoeke namens werksoekers ingedien waar ’n verwysingsbrief willekeurig by sommige aansoeke aangeheg is om te toets of hulle tot beter reaksies lei.

Die resultate toon dat dit die geval is: ’n Aangehegte brief vergroot die waarskynlikheid om ’n antwoord te kry vir dieselfde werker van 4,2% tot 6,7% – ’n styging van 60%. Een onverwagte gevolg is dat dit amper heeltemal ’n vroulike effek is: Vroulike aansoekers se reaksiekoers verdubbel! Dis nie net dat die reaksiekoers verbeter nie.

Die tweede eksperiment se resultate toon dat vrouedeelnemers wat aangemoedig is om verwysingsbriewe te gebruik ’n “aansienlik groter kans het om werksonderhoude te kry en om ná drie maande werk te hê”. Geen uitwerking is vir mans gekry nie. Die skrywers se gevolgtrekking is dat verwysingsbriewe help om die geslagsgaping in die arbeidsmark te oorbrug.

As verwysingsbriewe só nuttig is om werk te kry, hoekom gebruik so min werknemers hulle? Eksperiment drie help om dit te beantwoord. Dit toon dat om inligting oor die voordele van ’n brief te verskaf tot gevolg het dat meer deelnemers een gebruik. Daarteenoor het dit geen uitwerking om kontantaansporings te bied om briewe te kry nie.

Die skrywers se gevolgtrekking is dat baie werksoekers eenvoudig die potensiële voordele onderskat om hul voormalige werkgewers te vra om (insiggewende) verwysingsbriewe te verskaf. Tegnologie verander die manier waarop werkers by poste gepas word vinnig.

Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

LinkedIn en ander aanlyn platforms bied aan werknemers die geleentheid om hul getuigskrifte, werkservaring en aanbevelings maklik aan potensiële werkgewers te kommunikeer. Groot dele van die arbeidsmag – in SA en elders – werk egter in markte wat (nog) nie deur dié tegnologiese vernuwings beïnvloed is nie. Die studie toon dat daar in sulke markte steeds groot inligtingwrywing is – met ander woorde, baie werksoekers wat poste behoort te kry, kry dit nie omdat potensiële werkgewers nie ’n manier het om hul gehalte op bekostigbare wyse te bepaal nie.

Een opsie is dat die regering verwysingsbriefvoorbeelde en ander instrumente bied wat dié wrywing sal verminder. Nog ’n opsie is dat ’n skerp entrepreneur ’n tegnologiese oplossing sal bou. Soos die navorsing toon, sal sulke instrumente nie net tot minder werkloosheid lei nie, maar ook help om die speelveld vir vroulike werkaansoekers gelyker te maak.

Nog ’n voordeel is dat maatskappye beter werkers kry en daarom produktiewer is. Dit lyk of verwysingsbriewe met regstelling en ontwikkeling kan help. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.


Meer oor:  Werksoekers  |  Finweek  |  Verwysing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.