Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die nuwe pinotage- wonderkind
7 November 2019

Diemersfontein, die makers van die beroemde koffiesjokolade-pinotage, het so pas ’n nuweling, wat as die “Prodigy” bekend staan, die lig laat sien – en soos dit sy naam betaam, het hy onteenseglik die eienskappe van ’n wonderkind. 

Francois Roode, keldermeester en wynmaker van Diemersfontein

In 2000, met Suid-Afrika al ’n paar jaar in ’n demokratiese bedeling het David en Sue Sonnenberg, nadat hulle 20 jaar lank in die buiteland gewoon het, besluit om die Verenigde Koninkryk te verlaat en terug te keer huis toe. Hul wou deel wees van die nuwe ontwikkelings in Suid-Afrika deur wynmakers te word. “Ondanks die uitdagings wat ons [die land] nou en dan steeds in die gesig staar, het ons die ervaring baie geniet en het ons daarin geslaag om baie kreatief te wees,” het David aan finweek gesê.

Met “kreatief” verwys David na Diemersfontein-wynlandgoed se beroemde en suksesvolle koffiesjokolade-pinotage, die “Diemersfontein Pinotage” en die “Carpe Diem” (wat al ’n aantal internasionale wynpryse verower het). Die derdegeslagwynlandgoed, wat sedert 1890 in David se familie is, het met keldermeester en wynmaker Francois Roode aan ’n nuwe bottel gewerk.

Diemersfontein se nuwe baba, bekend as die “Prodigy”, is sag op die tong en lig op die sak. David sê hulle het gevoel daar is nou ’n geleentheid vir iets nuuts in hul portefeulje en wou Diemersfontein se reputasie as ’n toonaangewende pinotage-produsent in die Kaapse wynland versterk.

Diemersfontein oes pinotage- druiwe met die beste rypheid op verskillende plekke in Wellington (waar die landgoed geleë is), ontstingel, kneus en berei hulle in vlekvrystaaltenke. Die gistingsproses vind oor sewe dae plaas, waarna dit gepers word. Die Prodigy word daarna tien maande lank op Franse eikehout verouder, verduidelik Roode.

Een van die eerste eienskappe van Diemersfontein se nuwe aanbod wat ’n mens tref, is die sterk aroma van donkerrooivrugte, soos moerbei en swartbessie. En om die unieke, jeugdige en lewendige eienskappe van ’n wonderkind gestand te doen, bevat die smaak spore van aarbei, kersie en pruim by die proe, met ’n tikkie eikehout daarby. Die nuwe Prodigy kan by die kelder verkry word teen R75 per bottel.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.