Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die nuwe wêreld van werk
22 November 2018
Klaus Schwab, die stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum (Gallo/Getty Images)

’n Paar maande gelede vertel ’n vriend van my hoe hy onlangs ’n nuwe stuk sagteware ontdek het wat, as dit in sy werkplek in werking gestel word, dit sewe mense se poste onmiddellik oorbodig sal maak. Ek kon sien dat die besef dat sy kollegas se loopbane aan ’n dun draadjie hang weens ’n tegnologiese vernuwing, swaar op hom weeg.

“Hoe lank voordat my base van die sagteware uitvind?” was sy retoriese vraag. Dit is slegs ’n staaltjie van ’n enkele werkplek in Johannesburg, maar dit verteenwoordig ’n neiging wat alle werknemers op die een of ander manier oor die volgende dekade of so gaan raak.

Die vraag is nie of masjiene mense in die arbeidsmag sal vervang nie, maar eerder wie die waarskynlikste is om geraak te word, en hoe gou dit ’n uitwerking op hulle loopbane sal begin hê.

’n Onlangse verslag deur die Wêreld- Ekonomiese Forum se sentrum vir die nuwe ekonomie en samelewing, getiteld Future of Jobs Report 2018 toon dat dit ’n realiteit is wat Suid-Afrikaanse werkers moet takel. Volgens die Suid-Afrikaanse landprofiel wat in die verslag ingesluit is, sal 96% van die maatskappye wat deelgeneem het grootdata-ontledings teen 2022 gebruik, terwyl 90% masjienleer sal gebruik en 81% sal wolkstoring gebruik.

Wat robottegnologie betref, voorsien 54% die gebruik van stilstaande robotte en 49% die gebruik van nie-mensagtige land- robotte. ’n Totaal van 32% voorsien die gebruik van mensagtige robotte en 24% die gebruik van lug- en onderwater-robotte. Dit beteken dat nie net my vriend nie, maar baie meer van ons, sal vind dat ons in die volgende vyf jaar skouer aan skouer met dié tegnologieë sal werk.

Die verslag sê wêreldwyd verrig mense tans 71% van taakure en masjiene 29%. In 2018 is daar geen taak wat deur masjiene oorheers word nie omdat mense steedsdie botoon in alle werktake voer. Maar dit gaan in die volgende vyf jaar verander. Volgens die verslag sal masjiene teen 2022 al 42% van die werk verrig en mense slegs 58%.

Een stel skattings wat in die verslag ingesluit word, dui aan dat soveel as 75 miljoen poste vervang sal word deur die verskuiwing in arbeid. Selfs vaardighede wat tans oorweldigend menslik is soos kommunikasie, interaksie, koördinering, ontwikkeling, bestuur, raadgewing, redenering en besluitneming sal volgens die verslag ’n verhoging in outomatisasie begin sien. Dié verskuiwing hoef egter nie volgens die verslag te lei tot ’n netto verlies van poste nie.

Die impak op indiensneming sal afhang van die bestaande vaardighede in die arbeidsmag vir dié tegnologiese toekoms. In sy voorwoord tot die verslag, skryf Klaus Schwab, die stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld- Ekonomiese Forum dat daar ’n nodigheid is vir al die betrokke belanghebbers om met hervorming te begin in onderwys, opleidingstelsels, arbeidsbeleide, werksooreenkomste en die benadering van die korporatiewe sektor tot die ontwikkeling van vaardighede.

Die vlak van samewerking tussen alle belanghebbers gaan bepaal of meer werksgeleenthede verloor of geskep gaan word gedurende die oorgang, skryf hy. Om ’n “verloor-verloor-scenario” wat hy beskryf as “tegnologiese verandering tesame met ’n gebrek aan talent, grootskaalse werkloosheid en stygende ongelykheid,” te vermy, is dit kritiek dat besighede ’n aktiewe rol speel om hulle bestaande arbeidsmag te ondersteun. Dit kan gebeur deur bestaande vaardighede te verbeter of nuwe vaardighede aan te leer. Regerings moet ’n ondersteunende omgewing skep.

“Netto toenames is nie ’n gegewe nie,” skryf hy. “Dit sluit in moeilike oorgange vir miljoene werkers en die behoefte vir proaktiewe belegging in die ontwikkeling van ’n nuwe golf behendige leerlinge en vaardige talent wêreldwyd.”

Hoe beplan korporatiewe Suid-Afrika om dié oorgang te hanteer?

Uit die Suid-Afrikaanse landprofiel blyk dit dat outomatisasie deur 83% van die maatskappye wat deelgeneem het, toegepas sal word. Dit blyk ook dat 88% van die maatskappye voorsien dat hulle nuwe permanente personeel met spesifieke tegnologiese vaardighede sal moet aanstel, terwyl 75% voorsien dat hulle tydelike personeel met dieselfde vaardighede sal moet aanstel.

Altesame 56% van die maatskappye gaan strategiese afleggings doen van mense wat nie vaardighede het om die nuwe tegnologie baas te raak nie, terwyl 62% vryskutwerkers sal aanstel en sakefunksies sal uitkontrakteer na buitekontrakteurs. Tussen 67% en 72% van die maatskappye sal van werkers verwag om vaardighede by die werk aan te leer, of om heropgelei te word. Volgens die verslag sal 47% van Suid-Afrika se arbeidsmag geen heropleiding benodig nie.

Altesame 20% van Suid-Afrika se arbeidsmag sal tussen drie maande en ’n jaar se heropleiding benodig, met ’n verdere 9% wat meer as ’n jaar nodig gaan hê. Dit is duidelik iets wat Suid-Afrikaanse werkers ernstige aandag aan moet gee.

Gaan jou loopbaan in die volgende vyf jaar deur ’n masjien bedreig word? Kyk rond in jou kantoor: Wie gaan waarskynlik in 2022 nog daar wees? As die oorgang tot ’n geoutomatiseerde werkplek nie behoorlik deur sakeleiers en verkose regeringsleiers hanteer word nie, kan dit droewige gevolge vir baie Suid-Afrikaners hê.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.