Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die reëls wat miljoene arm hou
12 September 2019
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Mense met toegang tot eiendomsreg, die oppergesag van die reg, en dié wat vryelik aan ’n markekonomie kan deelneem, het die grootste kans op sukses. Tog het baie steeds nie toegang tot Suid-Afrika se inklusiewe instellings nie.

Die fokus op die verligting van armoede in Suid-Afrika is op die post-apartheidsera. Dis te verstane. Maar soms is ’n langtermynsiening beter. Die belangrikste bydrae tot die literatuur oor ekonomiese groei in die afgelope twee dekades is dat instellings saak maak.

Sosiaal-wetenskaplikes beweer natuurlik al lank dat die vryheid wat met demokrasie, eiendomsreg, die oppergesag van die reg en ’n vrye pers gepaard gaan van kritieke belang is vir die sukses van ’n markgemeenskap. Maar hierdie idees kon eers betreklik onlangs met die ontdekking van nuwe databronne en die ontwikkeling van nuwe metodes empiries getoets word.

In die plekke waar Europeërs hulle kon vestig – byvoorbeeld plekke sonder malaria – het hulle inklusiewe instellings gestig, soos eiendomsreg en die vrye mark.

Daron Acemoglu, Simon Johnson en James Robinson sê in Reversal of Fortune: Geography and Institutions in the making of the Modern World Income Distribution dat die soort instellings wat deur die Europeërs gestig is toe hulle groot dele van die wêreld gekoloniseer het, verduidelik of lande vandag arm of ryk is.

In die plekke waar Europeërs hulle kon vestig – byvoorbeeld plekke sonder malaria – het hulle inklusiewe instellings gestig, soos eiendomsreg en die vrye mark. In plekke wat nie vir Europese nedersetting geskik was nie, soos die meeste van Afrika, het hulle ekstraktiewe instellings, wat slegs ’n klein elite bevoordeel het, gevestig.

Inkomsteverspreiding weerspieël koloniale instellings

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Shutterstock

Vandag se inkomsteverspreiding van die wêreld, sê hulle, weerspieël hierdie koloniale instellings. In ’n nuwe artikel pas ek en Dieter von Fintel hierdie teorie toe op die oostelike helfte van Suid-Afrika gedurende die afgelope twee eeue. Die resultaat? Dinge is baie ingewikkelder as die binêre siening van ’n wêreld van ekstraktiewe teenoor inklusiewe instellings.

Toe die eerste Europeërs in die 19de eeu na die binneland van Suid-Afrika getrek het, het hulle nie gebiede in ’n stabiele Malthusiaanse ewewig betree nie. Die swarttaalsprekers wat hierdie streek bewoon het, is aan die begin van die 19de eeu ontwrig deur hulpbronskaarste en het pas ’n periode van intense oorlogvoering begin. Dit het groot dele van die bevolking uitgeroei, wat dit vir die Voortrekkers makliker gemaak het om in te trek.

Die oorblywendes is deur die Mfecane-oorloë beperk tot die hoëreënval-, maar onherbergsame, dele van die land. Die gebiede waar die Voortrekkers hulle gevestig het, asook die grond wat hulle later deur verskeie grondwette geannekseer het, is “wit gebiede” genoem.

Hierdie gebiede het ontwikkel as gevolg van die “inklusiewe” instellings wat gestig is om wittes te bevoordeel. Natuurlike hulpbronne soos diamante, goud en toegang tot tydelike swart trekarbeid van oral in Suider-Afrika het gehelp.

Hierdie gebiede het ontwikkel as gevolg van die “inklusiewe” instellings wat gestig is om wittes te bevoordeel.

Maar dit was uiteindelik die reg om te stem en eiendom te besit, die oppergesag van die reg en ’n markekonomie – die eksklusiewe gebruik van die inklusiewe instellings – wat wit Suid-Afrikaners begunstig het. Die onherbergsame gebied wat swart Suid-Afrikaners eers bewoon het, of ingedwing is, is swart tuislande genoem (afgesien van die voormalige Basotholand en Swaziland, wat onafhanklike lande geword het).

Hierdie streke was te klein vir die grootskaalse gedwonge hervestiging wat gedurende die grootste deel van die 20ste eeu plaasgevind het, en het ook intern gely onder arm, ekstraktiewe instellings: ekonomiese en politieke regte wat hoofmanne en stamhoofde begunstig het.

Demokrasie het verandering gebring

Swart Suid-Afrikaners is dus blootgestel aan ekstraktiewe instellings in die “wit gebiede”’ sowel as die tuislande. Dit het in 1994 verander toe demokrasie die “inklusiewe” instellings van die “wit gebied” uitgebrei het om swart Suid-Afrikaners in te sluit. Enigiemand in Suid-Afrika kon grond besit, stem en gelyk behandel word, met een uitsondering: diegene wat in die voormalige tuislande woon. Hier het die voormalige eksklusiewe instellings wat die hoofmanne begunstig het, voortgeduur, of soms eintlik vererger.

Dié met toegang tot goeie instellings, soos Acemoglu, Johnson en Robinson voorspel het, se lewenstandaard het verbeter; dié wat in gebiede met ekstraktiewe instellings woon, het arm gebly.

In sy nuwe boek Getting it Right: A new economy for South Africa beweer Philippe Burger, professor in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, dat hierdie instellings in baie gevalle selfs meer ekstraktief geword het: “Wetgewing wat deur die ANC-regering goedgekeur is, het die magte van tradisionele stamhoofde versterk en ondermyn steeds die eiendomsreg van die bevolking.”

Swart Suid-Afrikaners het in die laaste paar dekades dus groot uiteenlopendheid in lewenstandaard ervaar: Dié met toegang tot goeie instellings, soos Acemoglu, Johnson en Robinson voorspel het, se lewenstandaard het verbeter; dié wat in gebiede met ekstraktiewe instellings woon, het arm gebly. Die een verskil tussen hul studie en ons s’n is dat Suid-Afrika een versagtende faktor het wat hierdie uiteenlopendheid verminder: oop grense.

Vryheid van keuse

Suid-Afrikaners kan nou kies waar hulle wil woon, en baie het met hul voete gekies: Migrasie na die stede is nou die beste manier om armoede in Suid-Afrika te ontsnap. Maar migrasie kan net soveel doen. As ons ernstig is oor armoede, moet die ekstraktiewe instellings in die voormalige tuislande ons eerste prioriteit wees. Dit word erken deur die onlangse verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou.

Daarin is byvoorbeeld kommer uitgespreek oor die Ingonyama-trustwet van 1994, wat eienaarskap van 2,8 miljoen hektaar in KwaZulu-Natal in die hande van ’n alleentrustee, die Zoeloe-koning, vestig. Die verslag beveel aan dat die Ingonyama-trustwet herroep word: “Hierdie wet het die bestaan van KwaZulu-Natal as ’n tuisland in ’n eenheidstaat ná 25 jaar van die nuwe demokratiese bestel laat voortduur.”

Dit is tyd om dié regte te gee aan die meer as ’n derde van Suid-Afrikaners 25 jaar nadat die res van ons daarby baat vind.

Die sleutel is egter om daardie ekstraktiewe instellings met inklusiewe instellings te vervang. Dit blyk egter nie die plan te wees nie: “Die regering moet onmiddellik verantwoordelikheid en toesig oor die trustgrond aanneem en dit namens die inwoners administreer.” Hoewel die idee is om veilige verblyfreg te verleen, is verblyfreg nie dieselfde as eienaarskap nie.

Die les uit die geskiedenis is dat mense met toegang tot inklusiewe instellings – eiendomsreg, die oppergesag van die reg, demokrasie, vrye deelname aan ’n markekonomie – dié is wat die grootste kans het om sukses te behaal. Dit is tyd om dié regte te gee aan die meer as ’n derde van Suid-Afrikaners 25 jaar nadat die res van ons daarby baat vind.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Eiendomsreg  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.