Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die stukrag van sentrale banke se goudaankope kan langer duur
9 Julie 2021

Die finale inwerkingstelling van Basel III-bankvereistes behoort goudaankope ’n verdere hupstoot te gee.

Foto: Shutterstock

Omdat die subprima-verbandleningskrisis van 2007 heelparty tekortkominge in die Basel II- finansiële regulasies aan die lig gebring het, het lede van die Basel-komitee vir Banktoesig tussen 2008 en 2009 aan Basel III begin werk, wat in November 2010 goedgekeur is. Eenvoudig gestel is laasgenoemde ’n stel internasionale bankregulasies wat spesifiek ter wille van bestendigheid in die internasionale finansiële stelsel ontwikkel is. Dié regulasies was oorspronklik bedoel om tussen 2013 en 2015 in werking te tree, maar ná etlike vertragings is die inwerkingstelling daarvan tot tussen Maart 2019 en Januarie 2022 uitgestel.

Hoekom dié geskiedenisles? Die Basel III-ooreenkomste tree op 28 Junie 2021 vir Europese banke en op 1 Januarie 2022 vir Britse banke in werking, wat ’n paar geleenthede kan skep. Vir my is een van die interessantste dele van die ooreenkoms van meer as 1 600 bladsye lank op bladsy 192 te vind (vry vertaal): “ ’n Sentrale bank kan egter, in sy diskresie, die fisieke goud wat hy in sy eie brandkluis of op ’n toegewysde grondslag aanhou, tot die mate wat dit deur goudverpligtinge gerugsteun word, as kontant en daarom op ’n risikogeweegde 0% hanteer. Daarby kan kontantitems in die proses van invordering risikogeweeg word op 20%.”

Die NSFR-vereiste sal beteken vir die vereffening en finansiering van edelmetaaltransaksies moet banke ’n voorgeskrewe persentasie stabiele finansiering (RSF) van 85% handhaaf.

Dit beteken dat goud, ingevolge Basel III, as ’n vlak 1- of nulrisikobate vir banke beskou sal word, wat myns insiens as ’n uiters positiewe faktor vir die besit van fisieke goud beskou kan word. Sedert 1994 is goud net as ’n vlak 3-bankbate met ’n risikogeweegde assessering (RWA) van 50% beskou. Dit het beteken sentrale banke kon slegs 50% van hul goudreserwes se waarde op hul balansstate aantoon. Met die inwerkingstelling van Basel III beteken goud as ’n vlak 1-bate dat sentrale banke hul goudreserwes op volle waarde kan aantoon, om hul fisieke reserwes gevolglik opwaarts te kan herevalueer.

Bekyk ons die totale goudreserwes wat banke wêreldwyd besit, sien ons reeds die uitwerking wat Basel III moontlik op die vraag na fisieke goud gehad het. Tussen 2000 en die middel van die finansiële krisis in 2008 was sentrale banke netto verkopers van hul goudreserwes. Sedertdien het dit egter verander, met dié dat sentrale banke hul goudreserwes tussen 2008 en 2018 met 383,5 ton per jaar aangevul het. Die afgelope twee jaar (2019 en 2020 het sentrale banke hul goudreserwes met 519,9 ton per jaar opgestoot (kyk grafiek).

Die Basel III-vereistes handel ook oor die netto stabiele finansieringsverhouding (NSFR) vir banke. Baie beskou dit miskien as ’n minder positiewe aspek, maar persoonlik meen ek dit kan bes moontlik ’n langdurige positiewe invloed op goud uitoefen. Eenvoudig gestel, die NSFR sal gebruik word om banke te verplig om hul langtermynbates met langtermynkontant te finansier ten einde likiditeitsprobleme te voorkom. Die NSFR-vereiste beteken vir die vereffening en finansiering van edelmetaaltransaksies moet banke ’n voorgeskrewe persentasie stabiele finansiering (RSF) van 85% handhaaf. Om RSF te hê was nooit in die verlede ’n vereiste nie.

Schalk Louw is ’n welvaartbestuurder by PSG Wealth Old Oak.

Hoekom dink ek dit sal ’n goeie ding wees? Kom ons gebruik die voorbeeld van ’n vereffenings- en finansieringsbank wat ontoegewysde goud ter waarde van R2 miljard besit. Interessantheidshalwe wil ek net noem dat die eenvoudigste verskil tussen toegewysde en ontoegewysde goud die feit is dat toegewysde goud aan die belegger behoort, terwyl ontoegewysde goud die bank se eiendom bly, met die belegger bloot ’n krediteur van die bank en nie die werklike eienaar van die goud self nie.

Terug na my voorbeeld. Van die R2 miljard se ontoegewysde goud word slegs R1 miljard in fisieke goud gehou. Voor Basel III sou die betrokke bank nie gedwing word om enige RSF te hou nie, maar nou word dié bank verplig om 85% (of R850 miljoen) se kollateraal in kontant te hou, met ’n tydhorison van langer as ’n jaar, om sy verpligtinge te dek. Dit sal banke se koste om goud te leen en uit te leen opjaag. Weereens, hoekom dink ek dit is ’n goeie ding? As die inwerkingstelling van transaksies om goud kort te verkoop meer gaan kos, kan dit net miskien die verkoopsdruk op goud self verlig.

Watter uitwerking Basel III uiteindelik op goud sal hê, sal ’n mens eers kan vasstel sodra dit volledig in werking gestel is. As goud egter as ’n risikovrye bankbate beskou word, is dit beslis ’n positiewe ding en kan dit moontlik maak dat die onlangse toename in sentrale banke se goudreserwes voortduur.


Meer oor:  Banke  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.