Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die toekoms van boeke
28 Mei 2021
Tsitsi Dangarembga: Wenner van die Statebond se skrywersprys.

Ek is mal oor boeke. My ma was ’n bibliotekaris, my pa ’n onderwyser, en ek was bevoorreg om in ’n huis vol boeke groot te word. Die boek word egter bedreig – of só sê party mense. ’n Dekade gelede nog is daar voorspel dat die einde van die boek op hande was, bedreig deur die koms van Kindle en ander e-lesers.

Tog is ons hier, in die derde dekade van die 21ste eeu, en gebruik boeke steeds baie soos dié wat Johannes Gutenberg meer as vyf eeue gelede vir die eerste keer gedruk het. Ek het Jeremy Boraine, uitgewer-direkteur van Jonathan Ball Publishers, gevra hoekom e-boeke nog nie gedruktes vervang het nie. En sal dit waarskynlik in die volgende dekade of twee verander? “Ek reken daar is twee redes hoekom boeke nie verdwyn het nie.

Lesers hou steeds daarvan om boeke te besit. Uitgestalde boeke vertel ’n storie van wie ons is. En omdat ons elke dag ure lank met ons skerms deurbring, is dit ’n verligting om met ’n slapbandboek van hulle af weg te kom. Ek moet egter noem dat in populêre fiksie – beslis in Brittanje en Amerika – die e-boek tot 50% van die verkope oorgeneem het.”

Die skrywer Tsitsi Dangarembga, wat die Statebond se skrywersprys gewen het, sê dat boeke waarskynlik nie in ons leeftyd sal verdwyn nie. Trouens, dis die teenoorgestelde. “Stories is blywend. Ons gebruik stories in baie verskillende vorme en dié vorme bestaan voort, selfs al verander die tegnologie. “Ek dink dat namate die vierde nywerheidsrevolusie meer verpligte ontspanning meebring – of eerder ’n gebrek aan betekenisvolle aktiwiteit, en ’n gebrek aan betekenisvolle aktiwiteit is nie op sigself ’n goeie ding nie – sal mense daarvoor vergoed deur meer verhale te gebruik, onder meer deur meer boeke te lees. Dit sal wees om tyd te bestee en om betekenis te kry in ’n wêreld waar lewensonderhoudende werk se bydrae tot betekenis in die lewe afneem.”

Die lewe het beslis nuwe betekenis tydens die pandemie gekry. Ek het Boraine gevra hoe Covid-19 die boekbedryf geraak het ten opsigte van die aanbod van nuwe manuskripte, die publikasie van nuwe boeke en die verbruikersvraag na boeke. Het die voorkeure van skrywers en verbruikers byvoorbeeld verander? “2020 was ’n moeilike jaar vir uitgewers in Suid-Afrika, maar nie rampspoedig nie. Lees is iets wat ’n mens alleen doen en lesers het aangehou om boeke te koop. Sommige titels se publikasie is na vanjaar uitgestel, maar ek dink uitgewers het meestal by hul skedule gehou. Die gebrek aan boekbekendstellings en -feeste het natuurlik pogings belemmer om bewustheid van nuwe boeke te skep, maar dit sal mettertyd regkom.

“Skrywers se reaksie het verskil: Party het tydens die inperking gaan sit en wondere verrig; vir ander was dit moeiliker. By verbruikers was daar ’n verskuiwing na ligter leesstof, ontvlugting, leunstoelreise. Die vraag na boeke oor die bedrukte toestand van ons politiek het afgeneem, maar Man's search for meaning deur Viktor Frankl het goed verkoop omdat ons ’n gedeelde eksistensiële krisis beleef het.”

Krisis is beslis ’n woord wat gereeld in plaaslike uitgewersmaatskappye gefluister word. Ek het Boraine reguit gevra: Maak boeke nog geld? Daar het die laaste paar jaar konsolidasie in die plaaslike uitgewersbedryf voorgekom. Is dit ’n teken dat wins afneem, of is daar geweldige skaalbesparings wat minder, maar groter uitgewers kan benut?

Boeke maak nog geld, maar dis nie maklik in ’n mark soos SA nie . . . Boekuitgewery is natuurlik ’n baie ou bedryf en konsolidasie het voorgekom, maar die model maak steeds voorsiening vir nuwe toetreders wat ’n tendens of ’n skrywer kan raaksien.

“Boeke maak nog geld, maar dis nie maklik in ’n mark soos SA nie, wat nog altyd klein was en min ekonomiese groei beleef. Boekuitgewery is natuurlik ’n baie ou bedryf en konsolidasie het voorgekom, maar die model maak steeds voorsiening vir nuwe toetreders wat ’n tendens of ’n skrywer kan raaksien.” Ek het Dangarembga, wie se jongste boek, This Mournable Body, die kortlys vir verlede jaar se Booker-prys gehaal het, gevra of sy optimisties is dat meer Afrikane gretig sal wees om boeke te gebruik namate verskeie Afrika-ekonomieë na hoë groeikoerse terugkeer en inkomste toeneem.

“Ja, met groter koopkrag op die vasteland word meer boeke gekoop. In die geheel beskou, is Afrika se boekmark nog klein. Geld word in die handboekmark gemaak. Uit daardie oogpunt sal ’n strukturele verandering nodig wees om die Afrika-boekmark sonder verkope van plaaslike skrywers buite die vasteland lewensvatbaar te maak.”

Boraine sien nuwe groeiterreine: “Wat bemoedigend is, is die toename die afgelope vyf tot tien jaar na plaaslike swart skrywers – en dit sal voortduur. Ons eie Lazy Makoti het skrywers soos Jamie Oliver vervang. Die topverkoperlys sal ’n al hoe groter aantal plaaslike swart skrywers bevat. Dis egter waar dat namate die wêreld krimp, internasionale topverkopers sal aanhou uitblink.”

Vernuwing sal waarskynlik nie net van plaaslike skrywers af kom nie, maar ook al hoe meer van aanvangsondernemings. Bestaande plaaslike uitgewers, soos Hlomu Publishing, sal dalk nuwe markte kan benut wat vir gevestigde uitgewers moeilik sal wees om te betree. En nuwe produkte, soos Remarkable 2, ’n tablet wat presies soos papier voel en aantekeninge moontlik maak, sal binnekort ’n groot bedreiging vir die handboekmark word.

Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Stellenbosch Universiteit en die skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom (Tafelberg, 2021).

Boeke is egter meer as net versamelings inligting. Hulle word deel van ons lewe. Net soos biblioteke samelewings omskryf, omskryf die boeke in ons huis wie ons is – en waarna ons streef. Dis hoekom dit onwaarskynlik is dat boeke sal verdwyn. Hulle sal in die toekoms eerder toegankliker, persoonliker en meer betekenisvol word en nuwe geleenthede vir skrywers, uitgewers en innoveerders skep.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Stellenbosch Universiteit en die skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom (Tafelberg, 2021).

* Foto: Verskaf

Meer oor:  Finweek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.