Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die toekoms van rekeningkunde: Gaan ons saam met botte werk?
10 September 2021
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Stel jou voor die volgende woorde verskyn op ’n werksoekwebwerf: “Mense hoef nie aansoek te doen nie.” Slimtegnologie het ons bekend gemaak met rekenaarstelsels wat geprogrammeer is om take te verrig wat menslike werkers daagliks doen. Rekenaars kan sien (rekenaarvisie), praat en hoor (natuurliketaalverwerking), take uitvoer (robotprosesoutomatisering) en dink en leer (masjienleer). Wat, wonder jy dalk, bly oor vir mense om te doen in ’n tyd waar robotte alles wat ons kan doen, vinniger, akkurater en sonder die inmenging van vakbonde en nywerheidsaksie, kan doen, en ook sonder om ooit te slaap of siekteverlof te neem.

In sy boek, Humans Need Not Apply: A Guide to Wealth & Work in the Age of Artificial Intelligence, sê die toekomskundige en tegnologie-entrepreneur Jerry Kaplan dat die waarskuwingstekens van tegnologiese werkloosheid vir ons wag.

“Die twee groot plae van die moderne ontwikkelde wêreld – aanhoudende werkloosheid en toenemende inkomste-ongelykheid – teister ons samelewing, selfs al groei ons ekonomie. As dit onbelemmerd toegelaat word, kan ons dalk ’n situasie van wydverspreide armoede bereik teen die agtergrond van toenemende gemak en rykdom.”

Jerry Kaplan, toekomskundige en tegnologie-entrepreneur
Witboordjiebotte is hier

Dekades lank was witboordjiewerk meestal vry van die aanslag van outomatisering. Terwyl robotte moontlik die werk van minder opgevoede fabriekswerkers oorneem, is kunsmatige intelligensie (KI) nou besig om hoër betaalde beroepe vir universiteitsopgeleide persone te ontwrig en te verseker dat niemand die invloed van tegnologie op die wêreldwye arbeidsmag vryspring nie.

Ten einde op die wêreldmark mee te ding, gebruik organisasies slimoutomatiserings- tegnologie om hul bedryfskoste te verlaag, die ontwikkeling en aflewering van nuwe produkte en dienste te verhoog en kliënte ’n beter ervaring te bied. Baie besighede probeer om hul kinder- skoene van basiese prosesoutomatisering agter te laat. Ander leer nou eers om sonder hulp te loop deur platforms soos geoutomatiseerde robotprosesse in werking te stel, terwyl ander geleer het om te hardloop deur gebruik te maak van slimtegnologie soos KI.

Die wedloop is vinnig en lank, en die eindstreep beweeg voortdurend buite ons sig. Op die horison blink ’n nuwe dag van intelligente outomatisering. Die besighede wat in hul babaskoene is of nou eers leer om te loop, is baie, baie ver agter in die wedloop. Sal hulle die agterstand ooit kan inhaal?

In ’n onlangse wêreldwye opname, wat alle besigheidsvelde dek, het byna 90% van die sakeleiers aangedui dat hulle van plan is om intelligente outomatisering te gebruik om voor hul mededingers te bly. Onder uitvoerende hoofde het 42% aangedui dat hul organisasies reeds digitale transformasie toepas, en 56% sê hul winste het verbeter ná die inwerkingstelling van intelligente outomatisering.

Finansies funksioneer op tegno-steroïede

Al die funksionele gebiede van die onderneming kan by slimmer outomatisering baat vind. Miskien is die beste van hulle almal die finansieringsfunksie. Die registrasie van verskaffers, debiteure, oudits, verkryging, kostebestuur, verwerking van afsluiting en navrae van kliënte is van die rekeningkundige aktiwiteite en prosedures wat rekenaartegnologie kan vaartbelyn maak.

Tegnologie soos masjienleer kan maatskappye help om hul waarde te verhoog deur leningonderskrywing te verbeter en finansiële risiko te verlaag. Terwyl korporatiewe rekenmeesters, ontleders, tesouriers en beleggers streef na welvaart op lang termyn, kan KI help om finansiële misdaad te verminder deur verbeterde identifisering van bedrog en ongewone transaksiegedrag op te spoor.

Slimtegnologie beïnvloed die soorte werke wat in toekomstige rekeningkunde toeganklik sal wees. Mense sal meer van die analise doen, terwyl verbeterde tegnologie die eentonige take sal hanteer en hulle die noodsaaklike skakel tussen data en kliënte maak.

In die toekoms sal tegnologie steeds ’n invloed hê op die funksie van die rekenmeester en die behoefte aan rekenmeesters. Die rekeningkunde bereik nuwe hoogtes danksy tegnologiese vooruitgang. As jy ’n ervare rekenmeester is wat op die voorpunt van die beroep wil bly of ’n vooruitstrewende beginner is, sal jy bewus wees van hoe die rekeningkundige beroep verander as gevolg van slimmer tegnologiese platforms.

Maar hoe ook al jy daarna kyk, slim outomatisering en robotte hou ’n bedreiging vir baie werkers in. Ons kan óf die vooruitgang van tegnologie vrees, óf ons kan dit omhels en verseker dat ons onsself robotbestand maak.

Gaan hulle ons werk kom vat?

As mense hoor dat robotte in die arbeidsmag ingevoer word, word dit gewoonlik met agterdog bejeën, selfs met vrees en weerstand. ’n Paar jaar gelede het ek in die tegnologie-afdeling van ’n groot bank gewerk. Die bank was die eerste plaaslike een wat ’n mensagtige robot met die naam Pepper bekendgestel het. Pepper, wat net minder as ’n meter en ’n half lank was en byna 30 kg geweeg het, het groot kinderlike oë gehad en was veronderstel om kliënte te verwelkom as hulle by die bank instap.

Ondanks al die opgewondenheid rondom ons klein elektroniese medewerker, het baie van my kollegas ’n gevoel van ongemak ervaar. Wat die saak vererger het, is dat die bank se finansiële resultate in dieselfde week bekend gemaak is. Die uitvoerende hoof se opmerkings is toe uit konteks aangehaal en die media het berig dat die bank van duisende werkers ontslae sal raak.

Stel jou die situasie voor: Die eerste van ’n moontlike groep robotwerkers word bekendgestel, en dit lyk asof baie mense sonder werk sal sit. Wat die hoof van die bank inderwaarheid gesê het, is dat hulle van plan is om minder mense in die komende boekjaar in diens te neem weens slimmer werkwyse en beter outomatisering.

Maar hoe ook al jy daarna kyk, slim outomatisering en robotte hou ’n bedreiging vir baie werkers in. Ons kan óf die vooruitgang van tegnologie vrees, óf ons kan dit omhels en verseker dat ons onsself robotbestand maak.

Opvoeding vir die toekoms

Wat moet finansiële spesialiste doen? Byna al die daaglikse, herhalende take in die finansiële funksie is kandidate vir outomatisering. Hulle moet sorg dat hulle ’n goeie begrip het van die saketoepassings van dié slimtegnologie. Hulle hoef nie tegniese kundiges te word wat die algoritmes kan skryf waarmee ’n masjienleerplatform werk nie.

Hulle moet verstaan hoe hul beroep beweeg van hoofsaaklik historiese verslagdoening en analise na die verwagting en advies oor toekomstige tendense met behulp van voorspellingsmodelle. Met outomatisering wat in die nabye toekoms na verwagting ’n groot deel van rekeningkunde sal word, is dit van kritieke belang om oor die nodige vermoëns te beskik om die bestuurs- en analitiese werk te verrig wat tegnologie nie kan doen nie.

Baie rekenmeesters kan ook ’n konsultasiediens aan kliënte lewer, wat beteken dat hulle vaardig moet wees in die ontleding van groot hoeveelhede data om patrone en tendense op te spoor. Kennis van data-ontginning en ander datawetenskapstegnieke is noodsaaklik. Toekomstige professionele persone in finansies se opvoeding moet gegrond wees op ’n deeglike begrip van tegnologiese toepassings vir die beroep. Alle tersiêre opvoedkundige instellings moet hul leerplanne hersien met inagneming van die vinnig veranderende vraag na kundige, tegno-vaardige werkers.

Tegnologieë wat finansies beïnvloed

Oudits, belastingvoorbereiding, bankwese en betaalstate is slegs enkele van die arbeidsintensiewe aspekte van rekeningkunde wat vinnig heeltemal outomaties raak. Namate KI gebruik word om selfleerstelsels te ontwikkel, sal tegnologie die herhalende en tydrowende aktiwiteite oorneem sodat professionele persone die analitiese en raadgewende verantwoordelikhede kan hanteer.

Wolkrekenaarwetenskap bied toegang tot hulpbronne soos data en prosessering. Die voortdurende opdatering van inligting is ’n beduidende voordeel van ’n wolkgebaseerde stelsel, wat rekenmeesters en kliënte toelaat om data te ontleed en besluite te neem op grond van die jongste inligting. Blokkettingtegnologie sal die vraag na rekenmeesters in die toekoms beïnvloed.

Die aantrekkingskrag van blokketting vir rekeningkunde spruit voort uit die vooruitsig van ’n nuwe soort rekeningkundige grootboek – een wat intyds bygewerk en gevalideer kan word sonder die risiko dat daar met hulle gepeuter word.

Verwelkom die toekoms

’n Nuwe buurman het in die finansiële bedryf ingetrek. Moet ons hom vrees of moet ons hom verwelkom en leer om in harmonie saam te leef? Die nuwe geslag tegnokollegas is hier om te bly. Ons kan hulle probeer vermy, of ons kan ’n wedersyds voordelige werkverhouding vorm.

* terugvoer@finweek.co.za

* Johan Steyn is ’n leier en bestuurskonsultant op die gebied van slimoutomatisering en kunsmatige intelligensie. Hy is die voorsitter van die spesialebelangegroep op kunsmatige intelligensie en robotte by IITPSA (Institute of Information Technology Professionals of South Africa).

* Foto’s: Shutterstock, Getty/Gallo Images

Meer oor:  Finweek  |  Rekeningkunde  |  Robotte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.