Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Die werklike gevolge van ‘Bosasa-gate’
7 Februarie 2019

Volgens onlangse getuienis voor die Zondo-kommissie, is regeringstenders “gekoop” deur kontant-omkoopbedrae aan amptenare te gee. Daardie tenders kon klein besighede gehelp het om werkskeppers te word. 

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa

Terwyl Angelo Agrizzi besig was om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig oor sy 18-jaarlange betrokkenheid by die omkoop van staatsamptenare, senior politici, vakbondverteenwoordigers, wetgewers en aanklaers, het ek ’n oproep van ’n omgekrapte ontluikende entrepreneur ontvang.

Hy het sy weersin uitgespreek oor wat Agrizzi openbaar het. Agrizzi, ’n voormalige bedryfshoof van Bosasa, het vertel hoe sy voormalige werkgewer (nou African Global Operations) na bewering enorme hope omkoopgeld aan talle invloedryke amptenare betaal het om lonende staatstenders te bekom en om korrupsieverwante ondersoeke na en die vervolging van die maatskappy deur die spesialismisdaadbestrydende polisie-eenheid, die Valke, die Spesiale Ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verhoed.

Wat die entrepreneur geskok het, was die onthulling deur Agrizzi dat Bosasa elke maand tussen R4 miljoen en R6 miljoen gehou het in sy kluise en ondeurdringbare brandkluise by sy perseel in Krugersdorp, wat aan Bosasa se uitvoerende hoof, Gavin Watson, behoort het, om smeergeld aan amptenare te betaal ten einde nuwe kontrakte te bekom of ou tenders te beskerm.

Volgens Agrizzi, was dié omkoopgeld, wat maandeliks betaal is en van R5 000 tot R1 miljoen gestrek het en in grys plastiekveiligheidsakke aan amptenare afgelewer is, “ ’n druppel in die emmer” vergeleke met wat die fasiliteite-bestuursmaatskappy in maandelikse inkomste verdien het. “Swart entrepreneurs het geen toekoms in dié land nie. Hoe ding jy mee teen ’n maatskappy wat elke maand omkoopgeld van R6 miljoen betaal?

Hierdie regering moedig mense aan om ondernemings te begin en werk te skep, en om dan tenders te gee net aan politici en hul wit sakevennote,” het die entrepreneur gesê. Die ANC-regering beloof al jare dat hy sy verkrygingsmag sal inspan om swart leweransiers te steun, maar bitter min is op hierdie gebied vermag.

Talle sake misluk binne die eerste paar jaar omdat hulle sukkel om sakegeleenthede en saai- of groeikapitaal te bekom. Wat die staatskapingsondersoek wel ontbloot het, is dat talle ANC-leiers en staatsamptenare hulself en hul korrupteerders in die private sektor verryk ten koste van ontluikende sake, wat veronderstel is om werk te skep om die hardnekkige hoë werkloosheid wat ons land in die gesig staar, te verminder.

“Swart entrepreneurs het geen toekoms in dié land nie. Hoe ding jy mee teen ’n maatskappy wat elke maand omkoopgeld van R6m. betaal?

Oor die afgelope drie jaar beloof die regering om 30% van sy verkrygings vir ontluikende leweransiers, koöperasies en township-ondernemings opsy te sit. Maar dit gebeur nie, ondanks die feit dat die beleidsvoorstel telkemale deur politici in toesprake en beleidsmakers genoem is.

Die ANC se verkiesingsmanifes vir 2019, wat op 12 Januarie bekend gemaak is, is vol beloftes om ontluikende sake te steun. Dit sluit in die toepassing van die 30% wat opsy gesit is, die dryf van die “Koop Plaaslik”-veldtog om verbruikers aan te moedig om van plaaslike vervaardigers te koop en die straf van staatsagentskappe en uitvoerende amptenare wat die lokaliseringsbeleid verontagsaam wat daarop gemik is om goedere en dienste van plaaslike leweransiers te verkry.

Al dié beloftes is al voorheen gehoor, maar dit blyk dat hulle selde nagekom word en dat niemand daarvoor verantwoordelik gehou word nie. Die insluiting in die ANC se verkiesingsmanifes van die onderneming om rekenpligtige amptenare en bestuurders en die staatsagentskappe wat hulle bestuur, te penaliseer as hulle die lokaliseringsbeleid ignoreer, is voorwaar eienaardig.

Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkrygings- en tender-publikasiediens.

Dit volg op beskuldigings teen ondernemings in staatsbesit (SOE’s) – Transnet en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) – dat hulle die verkrygingsbeleid oor inhoud rakende die vervaardiging van onderskeidelik lokomotiewe en passasierswaens verbreek het. Die instelling van boetes kan baie doen om plaaslike leweransiers te help om toegang tot sakegeleenthede in die openbare sektor se verkrygings- en verwante waardekettings te kry.

Maar soos Agrizzi in sy verdoemende getuienis getoon het: as jy sakke vol geld het om amptenare om te koop, kan jy maklik die wet omseil en tenders verkry. Bosasa het na bewering omkoopgeld betaal om kontrakte vir spyseniering, hoësekuriteitsheinings, veiligheidswagdienste, vlootbestuur, IT en fasiliteite-bestuur van die departemente van korrektiewe dienste, vervoer, justisie en konstitusionele ontwikkeling, water en sanitasie, asook SOE’s soos die Lughawemaatskappy van SA (Acsa) en die Suid-Afrikaanse Poskantoor te verkry.

Hierdie kontrakte kon gebruik gewees het om ’n groot, fasiliteite-bestuurskonglomeraat in swart besit te ontwikkel. Maar ná 25 jaar aan die stuur van die land, het die ANC versuim om sy politieke mag te gebruik om te help om groot, volhoubare swart ondernemings te skep. Die paar ryk swart mense wat in die demokratiese era na vore getree het, is hoofsaaklik minderheidsbeleggers in wit maatskappye.

Wat is ons voorland? En hoe verseker ons dat staatsinstellings nie weer gekaap word deur private, onverkose mense wat dié instellings vir eie gewin plunder nie?

Party mense meen dat die grondoorsaak van die probleem is die tenderstelsel, wat hervorm en deursigtig gemaak moet word om dit vir hebsugtige amptenare moeilik te maak om onwettig uit te buit. Maar ek glo die grootste verandering wat gemaak moet word, is die versterking van wetstoepassing en vervolgingsagentskappe.

As die Valke en die NVA nie oor die afgelope tien jaar verswak was nie, kon hulle “Bosasa-gate” in die kiem gesmoor het. En so ook die uitmelk van die staat deur die Gupta-broers, wat sedertdien die land uitgevlug het. Dit is belangrik om doeltreffende stelsels te hê om korrupsie te voorkom, maar soos ons gesien het – stelsels kan gemanipuleer word deur diegene aan wie ons hulle toevertrou om na hulle om te sien.

Ons wetstoepassingsowerhede moet bemagtig word om ondersoek in te stel, te vervolg en om uiteindelik misdaadsindikate agter tralies te sit.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Andile Ntingi is die uitvoerende hoof en medestigter van GetBiz, ’n e-verkrygings- en tender-publikasiediens.

* Foto: Gallo Getty Images/iStockphoto

Meer oor:  Bosasa  |  Finweek  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.