Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Dis werklik nou tyd om vir goud te gaan
30 Julie 2020

In die vroeë 1980’s was goud baie gesog. Amerika het van die goudstandaard afgestap en die goudprys het van onderkant $100 per ons in die vroeë 1970’s begin styg totdat dit in September 1980 op $682 gestaan het.

Ons plaaslike beurs het gefloreer, met dosyne genoteerde goudmyne wat hand oor hand geld gemaak het. Dié koors het minstens ’n klompie jare lank geduur, selfs terwyl die goudprys begin skietgee en goud die 1980’s op sowat $400 per ons afgesluit het. Selfs teen daardie prys het myne nog goeie winste gemaak, deels danksy hul vastekostegrondslag.

Die meeste genoteerde goudmyne was destyds enkelskagondernemings, nie die groot konglomerate wat ons vandag sien nie. Die plan was om die skag teen ’n wins te myn, stewige dividende uit te keer en dan toe te maak wanneer die koste hoër is as die prys – en met die styging in prys kon die myne langer in bedryf bly. Toe breek die 1990’s egter aan en twee dinge gebeur. Eerstens het die goudprys ál verder teruggesak en die dekade op sowat $300 per ons afgesluit. Die tweede was die begin van die neiging dat mynkonglomerate tot stand gekom het wat veelvuldige skagte en myne besit.

Verliesmakende skagte

Dit het beteken kopers van dié mynbouaandele sou nie alleen hoogs winsgewende skagte nie, maar ook verliesmakende skagte besit, asook onontwikkelde sowel as ontwikkelde myne. Veterane het die sukses van die 1980’s egter nie vergeet nie en aangehou om in goud te belê, selfs terwyl dit ’n aaklige belegging was – hetsy in die metaal self of in ’n goudmyn.

Destyds was die grap onder ons nuweling-handelaars van die laat 1990’s en vroeë 2000’s dat ál goeie tyd om ’n goudmyn te koop, was wanneer jy ’n kort posisie afsluit. En in die laat 1990’s en vroeë 2000’s was dit grotendeels ál wanneer ek ooit ’n goudmyn gekoop het.

Wat ons nie toe geweet het nie, was dat die goudprys op $250 per ons laat in 1999 ’n onderste draaipunt bereik het. Dit het saamgeval met die Bank van Engeland se verkoop van sowat 395 ton goud oor 17 veilings heen tussen Julie 1999 tot Maart 2002, teen ’n gemiddelde prys van sowat $275. Dié transaksies, goedgekeur deur die destydse minister van finansies Gordon Brown, bly omstrede aangesien ons nou verseker weet dit het aan die onderpunt van ’n dekade lange siklus gebeur.

Goud het daarna in Augustus 2011 ’n hoogtepunt bereik nadat S&P Amerika se soewereine kredietgradering van AAA tot AA+ verlaag het en goud kortstondig op bokant $1 800 per ons verhandel het. Teen laat 2015 het die geelmetaal egter tot net bokant $1 000 per ons gedaal en talle, ek inkluis, het gewonder of goud ooit weer ’n lonende belegging sou wees. Maar toe breek 2020 aan en tref die koronaviruspandemie die wêreld.

Goud verhandel nou op sowat $1 820 per ons. Die eintlike storie is egter die goudmyne. Die goudmynindeks het uit ’n sywaartse kanaal gebreek wat dekades lank voortgeduur het en oor die laaste paar maande tot die hoogste vlakke ooit gestyg. Dit word aangehelp deur die swakker rand teenoor die dollar, want die goudmyne se vastekostegrondslag word in plaaslike geld betaal. Hulle maak nou weer hand oor hand geld.

Die tyd vir goud het verseker aangebreek en dié van ons wat dit dekades lank geïgnoreer het, moet begin aandag gee, want daar is wins om te maak.

Die meeste mense met wie ek praat, verwys na Pan African Resources en Anglogold Ashanti as die beste topvlak-goudmyne, en DRDGOLD en Harmony as die beste tweedevlak-aandele in dié kategorie. Die tyd vir goud het verseker aangebreek en dié van ons wat dit dekades lank geïgnoreer het, moet begin aandag gee, want daar is wins om te maak.

Ons moet egter die lesse van vorige dekades onthou: niks hou vir ewig aan nie en wanneer dié bul uiteindelik stoom verloor (soos onvermydelik altyd gebeur), moet ons aanbeweeg. Voorlopig is dit egter goudbultyd en daar is geld te maak.

Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za

/


Meer oor:  Finweek  |  Goudbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.