Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
E-tol: Opskort van skuldinvordering verwar
18 April 2019
Foto’s: Gallo/Getty Images

'n “Versoeter” vir kiesers. Dís hoe sommige kritici die onlangse besluit einde Maart op ’n dringende direksievergadering van Sanral, die nasionale padagentskap, bestempel om skuldinvordering by wanbetalers van e-tolgeld op te skort.

Die besluit het gekom net meer as ’n maand voor die nasionale verkiesing op 8 Mei, en sommige kommentators waarsku dat die opskorting dalk ná die verkiesing opgehef sal word.

Tito Mboweni minister van finansies

Vreemd genoeg het Tito Mboweni, minister van finansies, Sanral na berig word aangesê om sy besluit onmiddellik te herroep – wat daarop dui dat die besluit sonder enige oorleg met die nasionale tesourie geneem is.

Die Organisation Undoing Tax Abuse (Outa), wat die veldtog teen e-tol lei, reken verwarring bestaan in die regering oor die besluit. Cosatu, ’n uitgesproke kritikus van e-tol, beweer egter dat Mboweni ’n “tsarkompleks” het. Tot en met die Sanral-direksie se besluit op die nippertjie het die verkiesing in Mei ’n belangrike rol in die e-toldebat gespeel, en baie mense het verwag dat niks voor die nasionale verkiesing gedoen sou word nie.

Daar is baie bespiegel oor of e-tol die ANC in Gauteng in die verkiesing sou knou, met 70% van motoriste wat glo tans die stelsel boikot. Die Gautengse ANC het in Maart beswaar gemaak teen die dreigement van Electronic Toll Collection (ETC), die e-tolkontrakteur, om motoriste wat nie hul e-tolskuld betaal nie, op die swartlys te plaas, en het gesê dit was “ ’n ongelukkige uitlokkende daad” en ’n “onbesonne stap”.

Die provinsiale ANC het gesê inwoners van Gauteng het dit baie duidelik gemaak dat hulle niks met e-tol in sy huidige vorm te doen wil hê nie, en dat ’n besluit op die ANC se provinsiale konferensie geneem is dat daar van die e-tolskema ontslae geraak moet word en dat ’n alternatiewe oplossing gekry moet word.

Die tolstelsel is al ’n paar jaar lank ’n nagmerrie vir die Gautengse ANC. Die ANC in Gauteng het middel Februarie selfs aan president Cyril Ramaphosa geskryf en daarteen beswaar gemaak dat e-tol nie in sy staatsrede genoem is nie.

Tolstelsel is al ’n paar jaar lank ’n nagmerrie vir die Gautengse ANC. Die ANC in Gauteng het middel Februarie selfs aan president Cyril Ramaphosa geskryf en daarteen beswaar gemaak dat e-tol nie in sy staatsrede genoem is nie.

David Makhura, Gautengse premier, het verlede jaar in sy provinsiale rede ’n oproep om groter deursigtigheid oor die saak gedoen en gesê: “Ons kan nie infrastruktuur soos paaie bou en dan later na die mense kom en vir hulle sê hulle moet betaal nie.”

En toe Mboweni verlede jaar in sy mediumtermyn- begrotingbeleidsred die regering se verbintenis tot die beginsel van gebruikerbetaling bevestig het, het die ANC in Gauteng in November verlede jaar saam met lede van vakbonde en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party ’n optog na die Uniegebou gehou.

Makhura het vanjaar in sy provinsiale rede gesê Ramaphosa het hom “verseker” dat e-tol “dringende nasionale aandag” kry.

Die Aarto-wetsontwerp en e-tol

Dit het egter nie gelyk of die nasionale regering sou bes gee nie. Die nasionale vergadering in die parlement het vroeg in Maart ten gunste van die omstrede Wetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings (Aarto) gestem wat daarop gemik is om ’n strafpuntstelsel vir Suid-Afrikaanse gebruikers in te stel wat hulle hul rybewys ná te veel oortredings kan laat verloor – en om nie boetes of tolgeld te betaal nie sal as ’n oortreding beskou word.

Die wetsontwerp sal nou voor Ramaphosa dien om as wet uitgevaardig te word. Rudie Heyneke, vervoerportefeuljebestuurder van Outa, het in Februarie voor die nasionale vergadering se besluit, gesê hy wonder of Ramaphosa die Aarto-wysiging voor die nasionale en provinsiale verkiesings sou onderteken omdat dit volgens hom kiesersbesluite kan beïnvloed.

David Makhura Gauteng se premier

Outa het die regering daarvan beskuldig dat hy Aarto gebruik om “vir Sanral se e-tolinvorderingstryd voorsiening te maak”, en het geredeneer dat Aarto bestuurders van hul grondwetlike reg sal ontneem om hulself te verdedig wanneer hulle van ’n verkeersoortreding beskuldig word. Hy het die wetsontwerp sowel onwerkbaar as irrasioneel genoem.

Alex van Niekerk, projekbestuurder vir tolpaaie en verkeer van Sanral, het voor die Sanral-direksie se dringende besluit aan finweek gesê Sanral is nie die staatsagentskap wat vir die Aarto-wetsontwerp verantwoordelik is nie, maar dat om die blou “T-teken” by tolpaaie te ignoreer, “nog altyd ’n oortreding was”.

Hy het gesê die semistaatsinstelling is daartoe verbind om “ ’n oplossing vir die huidige dooie punt oor e-tol te kry” en dat met die presidensie en die departement van vervoer saamwerk word om oplossings te kry.

“Sanral respekteer die voortgesette politieke proses onder leiding van president Cyril Ramaphosa en doktor Blade Nzimande, minister van vervoer, oor die e-tolproses en wag vir die uitslag daarvan,” het Van Niekerk gesê. “Sanral, wat ’n toepassingsowerheid is, neem nie die besluit oor die finansieringsmodel vir e-tol nie.” Heyneke meen dat Aarto nie ’n wondermiddel vir Sanral se “e-tolkopseer” sal wees nie.

“Hy sal beduidende grondwetlike en administrasieprobleme ondervind,” sê hy, en voer aan dat elke dag wat die e-tolskema toegelaat word om in sy finansiële toestand voort te gaan, die probleme vir Sanral sal aanhou toeneem.

R10,8 miljard se e-tolskuld

Van Niekerk het aan finweek gesê R10,8 miljard se e-tolbetalings is uitstaande, terwyl R6,4 miljard daarvan wanbetalings is. Voor die onlangse aankondiging, het ETC tussen 2 000 en 4 000 dagvaardings per maand uitgereik, het hy gesê.

Voor die aankondiging, was daar 15 700 dagvaarding-aansoeke voor die hof, het Van Niekerk gesê, waarvan sowat 11 000 dagvaardings aan die balju gegee was om te oorhandig. Outa betwis 1 500 van dié dagvaardings in ’n toetssaak wat na verwagting laat vanjaar of vroeg aanstaande jaar voor die hof sal dien.

Doktor Blade Nzimande minister van vervoer

Van Niekerk sê die “sogenaamde toetssaak” het ontstaan as ’n saak teen een maatskappy waarby ander verweerders gevoeg is. “Dit is jammer dat Outa aan niebetalende padgebruikers belowe dat Outa-lede nie wetlik vervolg sal word nie. Dit is verkeerd,” het Van Niekerk in daardie stadium gesê.

“Al waarborg Outa-lidmaatskap nie dat geen regstappe teen só ’n persoon gedoen sal word nie, dui Outa se eie bepalings en voorwaardes vir lidmaatskap daarop dat die ‘oorkoepelende dekking’ afhang van sy ‘vermoë om die aantal dagvaardings en sake te bestuur’.”

Van Niekerk het in reaksie op kritiek op Sanral oor sy vroeëre aansoek om wanbetalinguitsprake teen niebetalers gesê Sanral is ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies verplig om, met gebruik van alle beskikbare instrumente, alle geld in te vorder wat aan die staat verskuldig is. “Dit is jammer dat teëstanders van die GFIP [Gautengse snelwegverbeteringsprojek] mense aanmoedig om in skuld te beland wat nie deur Sanral veroorsaak is nie,” het hy gesê.

“Sanral het ook ’n verpligting teenoor padgebruikers wat voldoen en hul tolgeld betaal om op te tree teen dié wat nie hul deel betaal nie.” Van Niekerk het gesê daar is in sowat 1 400 sake om verstekvonnisse aansoek gedoen waarvan 26 reeds toegestaan is.

Die onderhoud met Van Niekerk is net ’n week voor die Sanral-direksie se dringende besluit gevoer, en daarom lyk dit redelik om aan te voer dat die omswaai soos ’n bliksemstraal uit ’n blou hemel was. finweek het ETC om kommentaar vir dié artikel genader, maar het niks ontvang nie.

Gauteng se ekonomiese toekoms

Volgens Van Niekerk gaan die “belangrike besluite” nie tans oor die aantal dagvaardings wat beteken word of die wetlike maniere waarop uitstaande skuld ingevorder kan word nie, maar oor hoe padinfrastruktuur en mobiliteitsbehoeftes in Gauteng aandag kan kry wanneer die beplande finansiering deur die invordering van tolgeld benadeel word.

“Die GFIP is as deel van Sanral se tolportefeulje deur die kapitaalmarkte gefinansier. Dié lenings word terugbetaal met die tolgeld wat ingevorder word. As die geld nie ingevorder word nie, kan die skuld nie betaal word nie,” het hy gesê.

Van Niekerk meen dat die ontwikkeling van ’n land se padinfrastruktuur ’n noodsaaklike rol speel om ’n florerende ekonomie en volgehoue groei deur die doeltreffende beweging van goedere en dienste te vestig. “Om vooraf te leen en die beginsel van gebruikerbetaling toe te pas het dit vir Gauteng, Suid-Afrika se ekonomiese hartland, en die groter ekonomie moontlik gemaak om vandag die voordele te geniet terwyl die land die groei en ontwikkeling nodig het,” het hy gesê.

Volgens hom kan die voorbeelde duidelik gesien word waar die padverbeterings regstreeks tot nuwe ontwikkelings gelei het, soos die Menlyn Maine-ontwikkeling in Pretoria en die Mall of Africa in Midrand. Hy meen dat enigiemand wat data oor verkeerstoenames, verkeersopeenhopings en die ekonomiese uitwerking van opeenhopings ontleed, tot die gevolgtrekking sal kom dat ’n “opeenhopingramp” vir Gauteng voorlê.

“Die gevolg van dié ongelukkige scenario is dat geleenthede vir ekonomiese groei en werkskepping ernstig benadeel sal word, en dat Gauteng dalk kanse vir ekonomiese ontwikkeling sal afstaan.”

Volgens hom dui huidige verkeersmodelle daarop dat Gauteng se “verkeersdag zero” êrens in 2029 wag. “Die gevolg van dié ongelukkige scenario is dat geleenthede vir ekonomiese groei en werkskepping ernstig benadeel sal word, en dat Gauteng dalk geleenthede vir ekonomiese ontwikkeling sal afstaan aan ander provinsies of lande omdat dit onaantreklik kan word om in die provinsie te investeer,” het Van Niekerk gesê.

“Dit is hoekom ons meen dat ons die klem moet verskuif daarvan om net ’n oplossing vir die niebetaling van e-tolgeld te kry na wat die toekoms vir die mense van Gauteng inhou as ons nie die volgense fases van die GFIP-snelweë begin ontwikkel nie.”

Die volgende fase behels nog 153 kilometer se nuwe snelweë as deel van ’n geïntegreerde vervoeroplossing vir die provinsie, sê hy. Die minister van vervoer het nie teen druktyd op finweek se navraag gereageer nie.

Het Sanral te veel vir GFIP betaal?

Outa meen dat uitvoerige kosteberekeninge wat hy gedoen het, toon dat terwyl Sanral tussen 2008 en 2012 sowat R17,9 miljard vir die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP) betaal het, dit net tussen R8 miljard en R8,7 miljard moes gekos het.

Outa reken dat dit beteken dat Sanral tussen R9 miljard en R10 miljard te veel betaal het. Sanral betwis dié syfers en sê die vergelykings wat Outa tref, is onsin. Alex van Niekerk, projekbestuurder vir tolpaaie en verkeer vir Sanral, sê dit het altesame sowat R20 miljard gekos om 201 kilometer se snelweë te verbeter – wat die projek se oorspronklike verwagte koste was.

Hy meen dat die bedrae wat Outa noem, nie gegrond is op “werklike hoeveelhede en relevante materiaalkoste, probleme met verkeersvoorsiening en risiko’s wat met die instelling van die GFIP verband hou nie”.

“Gevolglik hou die bedrae wat hy voorhou min met die werklikheid verband en verskil dit baie van die syfers wat op grond van die werklike ontwerpe, hoeveelhede en kontraktuele vereistes bereken is", sê Van Niekerk.

“Die regering het die kwessie van samespanning in die konstruksiebedryf gehanteer, en dit sluit remediërende stappe in wat die regering van konstruksiemaatskappye vereis het.”

Die remediërende stappe het altesame R1,4 miljard se boetes ingesluit wat die Mededingingskommissie aan die konstruksiesektor opgelê het, en verbintenisse deur die sewe groot konstruksiespelers om die sektor in ’n aantal opsigte te transformeer. Dit sluit ook ’n raamwerk in om eise deur die openbare sektor te skik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.