Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Effekte: Gaan risikoneming verdamp?
18 Maart 2021
Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Foto: Gallo/Getty Images)

’n Ou verskynsel het wêreldmarkte weer op hol. Ná byna vier dekades van lae inflasie het die toonaangewende Amerikaanse 10-jaarstaatseffek van ’n laagtepunt van 0,6% in 2020 tot 1,6% opgeskiet te midde van kommer dat ekonomiese herstel in Amerika ná die pandemie, gepaardgaande met hoër verbruikersbesteding en stygende oliepryse, ’n merkbare styging in verbruikers- inflasie kan meebring.

Inflasie het effens toegeneem in die ontwikkelde wêreld, maar bly laag teen historiese standaarde gemeet. Hoër effekteopbrengste in ’n mark wat voorheen veilige toevlugte opgesoek het, dui op ’n aanpassing by hoër pryse in die ekonomie.

Vir die gewoonlik bedaarde effektemark is hoër inflasie ’n negatiewe faktor. Beleggers wil vergoed word vir verliese ervaar, want stygende inflasie het reële verliese tot gevolg. ’n Afverkoping in die effektemark is gewoonlik voordelig vir aandele, want dit voorsien groter risiko-aptyt in die toekoms. Dié keer styg effekteopbrengste egter terwyl aandelemarkte terughou.

Verhandeling het wisselvalliger geword terwyl markte wonder tot watter vlakke inflasie uiteindelik sal styg en wat die uitwerking gaan wees. Om sake te kalmeer, het Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) vrese probeer besweer deur te sê die Fed bly gereed om toeskietlik te wees en die ekonomie te ondersteun.

Dit is ondanks die feit dat die Fed sy eie inflasieverwagtinge tot 2% “en hoër” opgeskuif het. Powell het genoem dat daar nog ’n mate van swakheid in die ekonomie is, met werkloosheid steeds op hoër vlakke as voor die pandemie. By implikasie is die Fed egter reg om koerse nog verder af te bring. Sal inflasie tot bokant 2% styg? Miskien, miskien ook nie.

Maar met sy poging om vrese oor ’n hernude reaksie op hoër effektekoerse (taper tantrum) te besweer, het Powell dit bloot reggekry om kommer opnuut te laat opvlam dat die Fed min ruimte vir optrede het, die gevolg van sy nuwe verbintenis tot effens hoër inflasie. Die begrip taper tantrum verwys na pogings in 2013 deur die destydse voorsitter van die Fed, Ben Bernanke, om monetêre beleid te normaliseer deur effekteaankope geleidelik te verminder en koerse te verhoog.

Aandele- en effektemarkte het erg verontwaardig gereageer; die opbrengs op die 10-jaar-effek het tot bokant 3% gestyg en aandelemarkte het getuimel. Die Fed moes uiteindelik bes gee en weer sy vorige beleid volg, met ’n selfs groter geneigdheid tot verruiming toe die pandemie in 2020 uitbreek. Nou is ’n situasie bereik waar die gevaar van ekonomiese inkrimping dit vir ’n sentrale bank byna onmoontlik maak om so ’n geleidelike vermindering te oorweeg. In die eerste plek is die instrumente om normaliteit terug te bring baie minder.

Die enigste realistiese opsie is dat effekteopbrengste negatief moet raak, soos in Duitsland en Japan gebeur het. Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het druk op die Fed uitgeoefen daarvoor, maar dit het nooit gebeur nie. Op Trump se wagbeurt het Amerika se nasionale skuldlas van $20 duisend miljard in 2016 tot $27 duisend miljard opgeskiet.

Die dominante Faang-aandele – Facebook, Amazon, Apple, Netflix en Google se moedermaatskappy Alphabet – het vanaf ongelooflike hoë vlakke wisselvalliger verhandel namate effekteopbrengste styg, wat die vraag laat ontstaan of die gety uiteindelik teen hulle sal draai nadat als die afgelope paar dekades in hul guns was. Onlangse hardhandige optrede, soos Facebook wat verbruikers toegang tot nuusinhoud in Australië ontsê het, het hulle sekerlik nie gewilder gemaak nie.

Omdat groot tegnologiemaatskappye mettertyd so dominant geword het, sal dit meer verg as die Australiese regering se stappe om Facebook vir inhoud te laat betaal om hul mag beduidend te verminder. Elke storm begin egter met ’n ligte wind. Die Amerikaanse kongres se besluit om verdere stappe teen onmededingende optrede in te stel, kan dus die verlangde effek hê.

Op Trump se wagbeurt het Amerika se nasionale skuldlas van $20 biljoen in 2016 tot $27 biljoen opgeskiet.

Tot dusver stoom die tegnoreuse egter voort met sterk verdienstesyfers en gesonde kontantvloei. Yanis Varoufakis, voormalige Griekse minister van finansies, beskryf ons huidige tydvak as ’n era van “tegno-feodalisme”, oorheers deur ontsaglike ryk individue in gevange markte, waar mededinging gesmoor word deur gereelde oornames en ’n minimumloon vir werkers.

By implikasie kan dit beteken die huidige oorheersing deur tegnoreuse sal nie weens probleme met korporatiewe bestuurstoesig uitgedaag word nie, aangesien die “tegnokonings” in hul onaantasbare feodale kastele afgekamp bly. Die enigste verandering, indien wel, kan moontlik kom van magte buite die beheer van dié maatskappye en markte.

Toenemende populisme is so ’n moontlikheid. Naas belastingvoordele het die vierde nywerheidsomwenteling die koste verlaag om sake te doen, met ’n enorme toename in produktiwiteit. Dit kom ongelukkig teen ’n koste, want in die proses het die rykes ryker en die armes armer geword. Wat waarskynlik sal gebeur, is dat sentrale banke mettertyd minder beweegruimte sal hê om markte se meedoënlose opwaartse trajek te beïnvloed.

Die mark mag dalk besef dat lae rentekoerse hul glans verloor het en dat ander faktore nou dinge dryf. ’n Hedendaagse taper tantrum kan dus in ’n ander gedaante kom as in 2013. Die opkoms van verhandelingsaktivisme in die sosiale media is moontlik rigtinggewend.

Teen dié agtergrond sal rentekoersverhogings deur sentrale banke in ’n hernude uitoefening van afskaling inderdaad ’n uitdaging wees. Veral in ’n omgewing van hoër inflasie. Die verlangde uitwerking mag onbereikbaar wees. En onprakties.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Maarten Mittner is ’n vryskut- finansiële joernalis en markkenner.


Meer oor:  Finweek  |  Effekte  |  Risikoneming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.