Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Groei-aandele en waarde-aandele: Ellende van verspeelde kanse
20 Februarie 2020

Belegging op aandelemarkte het vir die meeste plaaslike beleggers ’n gevaarlike reis geword. Verlede jaar het uiteenlopende prestasie daartoe gelei dat party gewen en ander beduidend verloor het. Verlede jaar sou ’n belegging in hulpbronne of blootstelling aan ’n beursverhandelde fonds (ETF) in MSCI se wêreldindeks voordelig gewees het.

Naspers* het ook ’n behoorlike opbrengs van 18% behaal terwyl die maatskappy aanhou om deur die heroplewing van wêreldwye tegnologieaandele bevoordeel te word. En Capitec en Clicks bly groeisterre. Nie alle fondse het egter blootstelling aan dié aandele nie.

Enige belegging in maatskappye met ’n blootstelling aan die plaaslike ekonomie in dié tydperk sou vir die gemiddelde belegger negatief gewees het. Die FTSE/JSE se indeks van alle aandele het die jaar 8% hoër afgesluit. ’n Belegging in Old Mutual se goudfonds sou 68% opgelewer het.

Platinumaandele 

Platinumaandele sou vir ’n ware meevaller gesorg het, met Anglo American Platinum wat met 150% en Impala Platinum wat met 300% gestyg het. Die gemiddelde belegger het egter waarskynlik min blootstelling aan dié sektore gehad, wat vir die meeste ’n algemeen haglike jaar beteken het.

Daar sou heel waarskynlik Sasol-aandele in ’n algemene portefeulje gewees het – wat verlede jaar met 28% gedaal en in die eerste twee maande van vanjaar die verliese voortgesit het. Of Shoprite, wat met 35% geval het. Banke – afgesien van Capitec – het hul normale flou prestasie opgelewer, met Absa wat vir die jaar 13% verloor het, en Standard Bank en FirstRand wat albei 9% laer was.

Eiendomsaandele 

Eiendomsaandele is steeds bedruk. Daarteenoor het MSCI se wêreldindeks verlede jaar met 27% gestyg. Nie alle beleggers met ’n voorliefde vir wêreldmarkte sou egter bevoordeel geword het nie. Allan Gray se internasionale Orbis-fondsreeks het byvoorbeeld met 9% teruggesak.

Eiendomsaandele is steeds bedruk. Daarteenoor het MSCI se wêreldindeks verlede jaar met 27% gestyg.

Orbis het oor tien jaar steeds ’n groeikoers van gemiddeld 15% per jaar behaal. Verlede jaar se uiteenlopende uitkomste het die fokus beslis weer op verskillende beleggingsbestuurstyle geplaas – aktief teenoor passief of groei teenoor waarde. Dit was ’n treurige jaar vir die meeste aktiewe fondsbestuurders, wat ’n strategie van aandelekeuse eerder as indeksnavolging gebruik.

Sal aktiewe bestuurders dit vanjaar regkry nadat hulle duidelik die tegnologieoplewing en heroplewing in hulpbronne gemis het? Dit lyk baie onwaarskynlik; aktiewe bestuurders het só risikosku geword dat enige rede waarskynlik gebruik sal word om aan die kantlyn te bly.

Verwag om opmerkings te hoor dat tegnologie- en mynaandele op die huidige vlakke oorwaardeer is. En dat hoofstroomaandele beter “waarde” bied. Of koop laag en verkoop hoog. Aktiewe bestuurders oorweeg oorheersend inkomste en kontantvloei voordat hulle belê. Moenie van verdienste en wins vergeet nie. Beleggings word dikwels te gou verkoop, met die tegnologiereuse en Tesla se verstommende groei wat goeie voorbeelde is.

Markkapitalisasie van vier internasionale tegnologiereuse

Die markkapitalisasie van vier internasionale tegnologiereuse – Alphabet, Apple, Microsoft en Amazon – het almal tot bo $1 000 miljard gestyg. En Tesla word nou hoër aangeslaan as Ford en General Motors saam.

Die ontluiking van die tegnologiereuse beteken dat die mark se wenners en verloorders duideliker uitstaan – die verloorders is hoofsaaklik die tradisionele maatskappye wat die markophef vermy, met die klem steeds op dividende eerder as stygings in die markkapitalisasie.

Die markkapitalisasie van vier internasionale tegnologiereuse – Alphabet, Apple, Microsoft en Amazon – het almal tot bo $1 000 miljard gestyg.

In dié omstandighede behaal passiewe indeksfondse hoër opbrengste met laer koste en minder moeite as by ’n aktiewe bestuurder. Die klem op waardeaandele het aktiewe bestuurders duur te staan gekom. Maatskappye wat vroeër voorturend buitengewoon gevaar het, soos Warren Buffett se Berkshire Hathaway, het verlede jaar met 11% gegroei.

Die S&P 500 het met 27% gestyg. Die mark se groei- en waardefases is vroeër aan sikliese veranderinge in rentekoerse en groei in die bruto binnelandse produk gekoppel. Waardeaandele het gewoonlik gestyg in tye van relatiewe ekonomiese afswaai en groeiaandele in die bloeitydperke.

Die probleem 

Die probleem is dat die lyne vervaag het, met die internasionale ekonomie sedert 2008 – grootliks danksy sentrale banke se verruimende beleid – in ’n uitgerekte en bestendige groeitydperk – wat beteken dat dit onwaarskynlik is dat die tradisionele groei- en waardesiklusse van die verlede gou herhaal sal word.

Aktiewe bestuurders wag dat die blomtydperk afplat – soos toe die dotcom-borrel van 2000 tot 2002 afgeblaas het.

Dit was toe maatskappye soos Pets.com gewild was en Alta Vista die grootste internetsoekenjin was. Sentrale banke met verruimende beleid sorg dat maklike geld en groeiaandele oorheers. Berkshire Hathaway mag dalk baie kontant opsy gesit het in afwagting van ’n daling in aandeelwaardes, en sodoende bevoordeel word deur onderwaardeerde maatskappye op te raap.

Maar dit kan tevergeefs wees. Goedkoper passiewe fondse as belegginginstrumente het oortuigender geword. Dis nou tensy nog ’n reuseafswaai uiteindelik plaasvind.

Dan sal ’n indeksfonds die slegste keuse van belegging wees. Blootstelling aan sowel plaaslike as internasionale aandele sal risiko verminder.

Vanjaar sal waarskynlik vir die gemiddelde belegger nog ’n moeilike jaar ten opsigte van besluitneming wees.

Maar vanjaar sal waarskynlik vir die gemiddelde belegger nog ’n moeilike jaar ten opsigte van besluitneming wees.

  • Sal dit sin maak om by die vuisvoos plaaslike eiendomsektor betrokke te raak?
  • Of om die blootstelling aan mynbouaandele met hoë waardasies te vergroot?
  • Of moet hulle bly by dié wat platgeslaand is, soos Woolworths en Massmart in die kleinhandelsektor, en hoop dat daar met nuwe bestuur ’n soort herstel sal kom?

Om lank in die mark te bly, bevoordeel dié met ’n langer beleggingstydsraamwerk. Dit bly egter vir die meeste ’n senutergende ervaring. Die moontlikheid is groot dat hulle weer hul kans sal verspeel. 

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Maarten Mittner is ’n vryskut- finansiële joernalis en markkundige.

* Foto: Shutterstock

Meer oor:  Finweek  |  Eiendomme  |  Mark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.