Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Entrepreneurs; Eenvoudiger finansiering
17 Desember 2020
Foto: iSTOCK

Rowan Spazzoli, ’n entrepreneur en dosent in sakestrategie aan die Universiteit van Kaapstad, was nog altyd bewus van hoe moeilik dit vir klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) is om finansiering te verkry.

Hy wou iets daaraan doen nadat hy die resultate van ’n opname deur Phaphama Social Enterprise Development Initiative oor die uitwerking van die Covid-19-inperking op KMMO’s gelees het. Altesame 95% van die 233 entrepreneurs in die opname, wat in April uitgereik is, het gesê hulle kon dit nie meer bekostig om hul werknemers te betaal nie; 50% het nie gedink dat hul onderneming die inperking sou oorleef nie; en 93% het geen ander inkomstebron gehad nie.

Terwyl verskeie hulplyne beskikbaar was, het 86% aangedui dat hulle nie geweet het waar om noodfinansiering te kry nie. Die finansieringsaansoekproses is ook te kompleks en tydrowend genoem. Spazzoli sê sake-eienaars moet vir elke aansoek hope vorms en dokumente invul en indien. Hy en Louis Buys, ’n universiteitsvriend met ervaring van ondernemingsontwikkeling, het aan ’n oplossing begin werk om die proses vaartbelyn te maak.

“Ons het in April ’n proeflopie gedoen en vyf entrepreneurs gevra om die aansoekproses te voltooi, maar uiteindelik 15 aansoeke gekry, wat bemoedigend was en gewys het dat ons ’n stelsel geskep het wat goed genoeg vir entrepreneurs werk om dit vir ander aan te beveel,” sê Spazzoli.

Die oplossing, SMEgo, is middel Augustus amptelik bekend gestel, en het nou 13 finansiers en meer as 2 000 geregistreerde gebruikers. Teen einde November het dit al 53 belangrike finansieringstoekennings moontlik gemaak en 250 ondernemings met kleiner fondse verbind.

Die vereenvoudiging

Die platformtegnologie bepaal watter een van die finansieringsgeleenthede vir die aansoeker geskik sal wees, en lig enige uitstaande dokumente en inligting uit wat nodig is om by dié instellings aansoek te doen. Om deur SMEgo om finansiering aansoek te doen, moet aansoekers ’n hoëvlak-vraelys invul wat uit tien vrae oor hul maatskappy bestaan. Daarna kan die maatskappy tegelyk by verskeie fondse aansoek doen, wat minder as twee uur kan neem om te voltooi, afhangend van hoe goed die maatskappy georganiseerd is. Terwyl 70% van die verkeer op die platform van selfone af kom, is dit die maklikste om deur ’n rekenaar aansoek te doen.

“Die idee met die vraelys is om al die inligting en dokumente te kry wat nodig is vir ’n oorkoepelende aansoek by verskillende finansieringsverskaffers, en dié inligting te bêre om toekomstige aansoeke vaartbelyn te maak sodat entrepreneurs hul nie met elke aansoek hoef te bewys nie,” sê Spazzoli.

Die kwalifiserende kriteria sluit in belastingvoldoening en dat die onderneming al langer as ses maande bestaan en ’n jaarlikse omset van minstens R400 000 het. “Dis die eerste weergawe. Ons wil die oplossing in die toekoms oopstel om ook ondernemings met ’n kleiner omset en met aanvangsfinansiering te help, en dalk ook vir die finansiering van maatskaplike ontwikkeling.

“Tans is ons hoofprioriteit egter ondernemings wat sukkel om die uitwerking van die Covid-19-inperking te oorleef – met die doel om elke onderneming te help om die nodige finansiering te kry,” sê Spazzoli. SMEgo bevoordeel finansiers deur dit vir hulle moontlik te maak om beskikbare finansieringsgeleenthede op ’n enkele platform te lys en hul administrasielas te verlig deur te sorg dat vorms korrek ingevul is en dat hulle hoëgehalte-aansoeke kry.

“Mense is geneig om te dink dat daar nie baie finansiële ondersteuning vir KMMO’s beskikbaar is nie. Inderwaarheid sukkel baie finansiëledienste-maatskappye om hul teiken te bereik omdat hulle sukkel om ondernemings te kry wat by hul beleggingskriteria pas,” sê hy. KMMO-eienaars kan aansoeke op ’n aanlyn kontroleskerm sien, maar word ook deur finansiëledienste-verskaffers gekontak wanneer ’n aansoek goedgekeur word.

Die toekoms

SMEgo het ’n hoogs geoutomatiseerde oplossing geskep. Hulle gebruik ook ’n kernbedryfspan van drie mense, wat entrepreneurs help om hul aansoek te voltooi. Voortgesette steun het Adri Williams, besturende direkteur van The Khayelitsha Cookie Company, byvoorbeeld gehelp om finansiering te kry om die maatskappy te help om dié moeilike ekonomiese tyd te oorleef, volgens Spazzoli.

The Khayelitsha Cookie Company, wat 70% van sy sake weens die sluiting van lughawens verloor het, was die derde maatskappy wat deur die platform vir finansiering goedgekeur is. SMEgo maak geld deur ’n verwysingsfooi by finansiëledienste-verskaffers te ontvang; dit is heeltemal gratis vir KMMO’s.

Spazzoli se visie vir SMEgo is om dit “die LinkedIn” vir KMMO-eienaars te maak waar hulle hul sake-inligting kan opdateer en met mentors en finansiëledienste-verskaffers in aanraking kan kom wat hul onderneming na die volgende vlak sal kan voer. Hy hoop om só nuwe lewe in die ekonomie te blaas. “Die Nasionale Ontwikkelingsplan verwag dat KMMO’s nege uit elke tien werksgeleenthede teen 2030 sal skep. Sonder die regte finansiële steun sal dit egter nie gebeur nie,” sê Spazzoli.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Finansiering  |  Entrepreneurskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.