Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
ETF’s bestendig op koers in skommelende mark
27 Augustus 2020

In die nadraai van die paniek weens die koronavirus en woeste skommeling in aandelemarkte tussen hewige verliese en rekordstygings, het beursverhandelde produkte (ETP’s) se aantrekkingskrag sedert einde Maart toegeneem. Die totale bates onder bestuur het tussen einde Maart en einde Junie met byna 16% gestyg – van R91,7 miljard tot R106,6 miljard, luidens data wat etfSA.co.za (etfSA) versamel het.

’n Dekade gelede, aan die einde van 2010, was die totale bates onder bestuur R32,2 miljard. Volgens Mike Brown, besturende direkteur van etfSA, is die tweede kwartaal se skerp styging hoofsaaklik aan markprysbewegings te danke.

“Die plaaslike ETP-bedryf het hoofsaaklik gegroei omdat verskeie markte en bates wat nagevolg word, herstel het, eerder as dat nuwe kapitaal ingesamel is vanweë die notering van nuwe ETP’s of die uitreiking van nuwe aandele of ETP-sekuriteite wat al op die JSE genoteer is,” het hy met die uitreiking van die data in Julie gesê.

Die ekonomiese nagevolge van die koronavirus-pandemie het beleggers in ETP’s en onderliggende fondse egter nie ongedeerd gelaat nie. Tesame met die denotering van drie groot beursverhandelde notas (ETN’s) deur Deutsche Bank, het die totale kapitaal uitgereik en afgelos ’n netto afname van R6,2 miljard getoon in die drie maande tot einde Junie. Op langer termyn beskou, lyk dit egter of die vraag na ETP’s stewig bly.

“Ons sien ’n volgehoue vraag na beursverhandelde fondse (ETF’s) en dit neem ook bestendig toe,” sê Vicki Tagg, hoof van indeksering by Ashburton Investments. “Dit word aangedryf deur regulatoriese druk, die vraag na laerkoste- en kostedoeltreffende produkte met groter deursigtigheid, en die wêreldwye neiging na groei in ETF’s.”

In en uit

ETP’s reik nuwe aandele uit wanneer die vraag na ’n bepaalde ETF of ETN dit regverdig. Omdat die ETP-bestuurders as markmakers optree en dus die verhandelbaarheid van ETP-aandele op die beurs waarborg, is hulle ook genoodsaak om soms dié aandele terug te koop. Veral wanneer verkoopsdruk vir ’n spesifieke ETP ervaar word.

Die grootste terugkoping wat in die eerste helfte van vanjaar plaasgevind het, was met die denotering van Deutsche Bank se ETN’s wat indekse in China, ontluikende markte en aandelemarkte in Afrika nagevolg het. Dié ETN’s is teen ’n waarde van R5,67 miljard teruggekoop. Luidens data van etfSA het ETF’s wat platinum en palladium navolg, ook grootskaalse terugkopings ervaar: Absa se NewGold Platinum ETF het R4,3 miljard en 1nvest se palladiumETF het R4,3 miljard teruggekoop.

Aan die ander kant het die United Bank of Switzerland (UBS) ’n bestendige toename van R902,1 miljoen ervaar in die ETP’s wat deur dié bank gesteun word (waaronder die aktief bestuurde ETP’s wat deur onder meer Absa, Momentum, Efficient Group, FNB, Strategiq Capital, Excelsia Capital, Reitway and Anbro Capital bedryf word), soos etfSA se data aandui. Dis ’n nuwerige benadering van ETP’s, wat gewoonlik ’n indeks of onderliggende fisieke bate soos ’n metaal of selfs ’n geldeenheid navolg.

Michael Mgwaba, hoof van ETP-besigheid by Absa Corporate and Investment Banking
Op julle merke, gereed . . .

Met 74 ETF’s en 27 ETN’s, genoteer deur 11 verskaffers in Suid-Afrika, verdiep die ETP-mark – ook nie net wat keuse van verskaffers betref nie. Die onderliggende produkte bied ’n groter en ál meer spesifieke verskeidenheid van onderliggende bates.

Ondanks die denotering van Deutsche Bank se ETN’s, wat op ontluikende markte vir beleggers met ’n aptyt vir bates met ’n hoër risiko gekonsentreer het, kan beleggers wat in geldeenhede, Krugerrande, vasteinkomste- en bedryfspesifieke bates wil belê, hulle deesdae na ETP’s wend. So, hoekom bly kleinbeleggers, in teenstelling met institusionele geld, effens huiwerig om in ETP’s te belê?

“Die aptyt vir ETP’s het goed toegeneem in SA, maar nog nie soveel soos ons in die ontwikkelde markte soos Amerika en Europa sien nie,” sê Michael Mgwaba, hoof van ETP-besigheid by Absa Corporate and Investment Banking. “Uitreikers in SA ervaar goeie invloeiings, maar moet nog hard werk om beleggers op te voed, veral kleinbeleggers. Die rede is dat markte waar ons hoë verhandelingsvlakke sien, markte is waar die produkte in gelyke mate deur sowel kleinbeleggers as institusionele beleggers verwelkom en ondersteun word.”

Die totale bates onder bestuur het tussen einde Maart en einde Junie met byna 16% gestyg – van R91,7 miljard tot R106,6 miljard.

In SA verkies institusionele beleggers ETP’s met hulpbronne soos goud, platinum en palladium, verduidelik hy. Kleinbeleggers belê oor die algemeen meer in nie-hulpbron-ETP’s, sê hy. “Weereens, in die ontwikkelde markte het groot welvaartbestuurders skeppende metodes gevind om die ETP’s in hul portefeuljes te gebruik,” sê Mgwaba. “Hulle beskou ETP’s as beleggingsvoertuie wat hul beleggingstrategieë kan aanvul. Groot beleggers wat kern-satelliet- strategieë gebruik, kies ETP’s óf as die passiewe element van hul strategie óf gebruik ETP’s as hul kernstrategie.”

Nie koste alleen nie

Nerina Visser, jare lange konsultant in die ETP-bedryf en direkteur by etfSA.co.za

Voorheen was ETP’s se aantrekkingskrag hul lae bestuurskoste. Deesdae het beleggers egter twee ander oorwegings. Die eerste is die verhandelbaarheid of likiditeit van genoteerde ETP’s, verduidelik Nerina Visser, jare lange konsultant in die ETP-bedryf en direkteur by etfSA. Dit verseker dat beleggers, wanneer hulle ’n koop- of verkoopopdrag gee, vertrou hulle kan teen die naaste moontlike prys tot die ETP se netto batewaarde hul posisie inneem, sê sy. Die markmakers kom dié waarborg na, wat beleggersvertroue wek.

Tweedens kry die waarde van deursigtigheid in ETP’s toenemend erkenning, sê Visser. Dis omdat beleggers hulle daagliks van die ETP’s se onderliggende bates kan vergewis. “Vergelyk dit met ’n tradisionele effektetrust, waar die batebesit een keer per kwartaal bekend gemaak en ook terugwerkend is,” sê sy. Die dag ná Steinhoff se ineenstorting het talle beleggers byvoorbeeld geskarrel om uit te vind of hul effektetrusts aandele in Steinhoff besit het, verduidelik Visser. “Dit het my net ’n paar minute geneem om te kyk of ’n ETP die maatskappy het; die grootste vertraging was omdat die rekenaar eers aan die gang moes kom.”

Als wat blink … is goud

Yusuf Wadee, hoof van beursverhandelde produkte by Satrix

So, waarheen is die geld die afgelope tyd? Tradisioneel is ETF’s wat op die JSE verhandel, oorheers deur dié wat op plaaslike aandele konsentreer, sê Yusuf Wadee, hoof van beursverhandelde produkte by Satrix, aan finweek. “In 2019 was daar egter ’n kantelpunt waar die hoeveelheid ETF’s wat aan die buiteland aandag gee eweveel verhandel het as ETF’s wat plaaslik gefokus is,” sê hy. “Dié sterk neiging na buitelandse ETF’s duur voort en ETF’s met ’n buitelandse fokus is nou ’n kortkop voor plaaslik gefokusde ETF’s.”

Wadee verduidelik dis vanweë die verskeidenheid wat beskikbaar is wanneer ’n mens na internasionale ETF’s kyk. “Die Suid-Afrikaanse ekonomie kry tans die wind van voor, daarom die volgehoue belangstelling in internasionale alternatiewe wat ETF’s betref,” sê hy.

Toe die goudprys tot nuwe hoogtes styg – al het dit nou weer effens teruggesak – het hulpbron-ETP’s enorme groei ervaar, want te midde van die groot onsekerheid wêreldwyd wil beleggers bates hê wat ’n veilige hawe bied, sê Wadee. “Hulpbron-ETP’s tree doeltreffend op om ’n portefeulje te diversifiseer, soos duidelik sigbaar is in die groot vraag na edelmetaal-ETF’s, veral goud- en platinum-ETF’s. Dié edelmetaal-ETF’s lok steeds die grootste ETF-volumes.”

Daar gaan hulle

Bekyk ’n mens die mees onlangse maandelikse (vir Julie) prestasiepeiling vir ETFs, ETN’s en effektetrusts wat indekse navolg, is dié wat op die res van die wêreld toegespits is, boaan die lys vir beleggingsopbrengste op langer termyn. ETP’s wat hulpbronne navolg, neem op korter termyn die voortou. Dié peiling word deur etfSA gedoen.

Oor ’n tienjaartydperk is die Sygnia Itrix MSCI USA ETF se opbrengs 22,89% per jaar, gevolg deur die Sygnia Itrix MSCI World ETF op 19,06%, die Sygnia Itrix MSCI Japan ETF op 14,1% en die NewGold ETF op 14,06%.

Die ETP-mark, met meer as R100 miljard onder bestuur, het die beleggingsbedryf verander deur dit toegankliker te maak vir kleinbeleggers – en institusionele beleggers op soek na ’n kernbate.

Oor ’n driejaartydperk is die 1nvest Rhodium ETF se opbrengs 126,06% per jaar (met ’n groot deel daarvan die afgelope jaar), die Standard Bank Palladium Linker ETN staan op 48,68%, 1nvest Palladium ETF op 44,3% en die NewGold Palladium ETF op 43,16%. Die wenners oor die 12-maandetydeprk tot einde Julie was die 1nvest Rhodium ETF met ’n opbrengs van 193,6%, NewWave Silver ETN op 75%, NewGold ETF op 64,84% en 1nvest Gold ETF op 64,79%. Interessant genoeg wys die opbrengspeiling dat die top-presteerders op heel kort termyn – ’n driemaandetydperk, geannualiseer – van hul langertermyn-eweknieë verskil.

Die NewWave Silver ETN het 46,82% geannualiseer gelewer, die Standard Bank Oil ETN 46,81% en die Standard Bank Silver-Linker ETN 39,96%. ’n Aktief bestuurde ETN, aangebied deur die Brits-gebaseerde AnBro Capital Investments en bekend as die International Unicorn Portfolio (kode UBS UABCPA) het 33,6% geannualiseer gelewer.

Die fonds spits hom toe op ontwrigters in die tegnologie-, gesondheidsorg- en verbruikersektor onder die bestuur van goeie leiers. Hoewel die fonds in Amerikaanse dollar gedenomineer is, koop SA beleggers hul aandele in rand. Die ETP-mark, met meer as R100 miljard onder bestuur, het die beleggingsbedryf verander deur dit toegankliker te maak vir kleinbeleggers – en institusionele beleggers op soek na ’n kernbate – om in “die mark” te belê. Met dié dat aktief bestuurde ETP’s mark toe kom, verdiep die mark nog verder.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


“Nie die tradisionele ETF nie”

FirstRand se sogenaamde Krugerrand Custodial Certificate kan vergelyk word met ’n depositokissie met ’n Krugerrand daarin wat op die JSE genoteer is.

Deur Timothy Rangongo

Die tradisionele beursverhandelde fonds (ETF) dien as ’n beleggingsvoertuig wat aan beleggers regstreekse toegang bied tot ’n mandjie van sekuriteite soos aandele en effekte wat op die beurs verhandel – met die gerief daarvan om hulle as ’n enkele sekuriteit te verhandel in die vorm van ’n ETF wat ’n indeks navolg.

In 2014 het FirstRand ’n Krugerrand- instrument genaamd die Krugerrand Custodial Certificate (KCC) geskep, genoteer en uitgereik. Na berig word, het dit die eerste instrument in Suid-Afrika geword wat deur ’n goue munt gerugsteun en te gelde gemaak kan word. Om in Krugerrande te belê, is aantreklik vir beleggers wat regstreeks in goud wil belê, hul portefeuljes teen die Amerikaanse dollar wil verskans of hul portefeulje verder wil diversifiseer.

Dié soort belegging in goud is egter fisiek van aard en gaan gevolglik gepaard met die beslommernis om die goud te bewaar, te beveilig en te verseker. Die Krugerrand Custodial Certificate het ’n manier geword om deur die besit van Krugerrande steeds in goud te belê, maar sonder om jou oor die risiko van veiligheid, versekering en berging te kwel.

Die KCC is op die JSE genoteer en verhandel as ’n hulpbron-ETF. Luidens die fonds se prospektus verteenwoordig elke sertifikaat ’n Krugerrand van een ons in die besit van ’n bewaarder (“custodian”).

Die ETF kan vergelyk word met ’n depositokissie met ’n Krugerrand daarin wat op die JSE genoteer is. Die bewaringsertifikaat verskaf regstreekse eienaarskap, wat beteken die munt behoort aan die belegger. Die fondsprestasie is aan die markprys van Krugerrande gekoppel, wat met die kontantprys van goud korreleer. Die voordeel daarvan om ’n munt op die beurs te hou, is dat die verantwoordelikheid om dit veilig te hou en te verseker op FirstRand oorgaan, namens die belegger.

Tweedens bied die bank volledige likiditeit teen die munt sou die belegger besluit om te onttrek. Waar ander ETF’s gewoonlik met bestuursgelde gepaardgaan, dra FirstRand die stoorgeld, wat hulle vooraf aan die bewaarder betaal, volgens Rand Merchant Bank (RMB) se hulpbronlessenaar. Hulle sê die doel is om dit vir beleggers so kostedoeltreffend moontlik te maak om Krugerrande te besit.

Die RMB-hulpbronlessenaar sê beleggers verkies die bewaringsertifikaat eerder as om fisiek in die onderliggende bate te belê, hoofsaaklik danksy die veilige bewaring, prysdeursigtigheid en klein verskil tussen koop- en verkoopprys, gerieflike verkryging en verkoping, mededingende pryse wat berging en premie betref, en likiditeit.

Die netto batewaarde van die KCC’s by die skryf hiervan was R37 100 per eenheid, wat ’n geannualiseerde jaar-tot-datum-opbrengs van 138% en geannualiseerde opbrengs van 20,45% sedert ontstaan verteenwoordig. 

Foto’s: Shutterstock, Verskaf

Meer oor:  Beursverhandelde Produkte  |  Etf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.