Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Familieresep word kitskostreffer
21 November 2019
Anat Apter, stigter van die Anat-kitskosgroep

Anat Apter het eers by die Brumameer-vlooimark in Johannesburg kos verkoop, maar besit vandag ’n landswye franchise met meer as 20 afsetpunte.

Dit is als danksy haar unieke Midde-Oosterse kitskos en fokus op gehalte. Sy het met finweek oor haar reis as sakevrou gesels.

Wat het jy gedoen voordat jy Anat begin het?

Ek was hoofsaaklik ’n huisvrou en het my drie kinders versorg. As ’n bysaak het ek geld gemaak deur vir funksies te bak. Ek het ’n ruk lank ook leerhandsakke uit Europa ingevoer en verkoop.

Kort voordat ek besluit het om ’n kosstalletjie op die vlooimark by die Brumameer te begin, het ek ’n reisagentskapskursus gedoen, maar op die ou end geredeneer om kitskos te verkoop sal vinniger ’n inkomste genereer as om vliegkaartjies te verkoop.

Hoekom het jy in 1991 besluit om Anat Falafel te begin?

My oupa, Solomon Barzilai, het as tiener in ’n falafel-winkel in Egipte gewerk, waar hy falafel leer maak het. Ná sy troue (en 12 kinders later), het hy sy eie falafel-onderneming begin. Toe my oupa afgetree het, het my pa, Jacob Barzilai, die onderneming oorgeneem. Ek het gesweer ek sal nooit dieselfde paadjie loop nie, maar toe ons gesin finansieel begin swaarkry, het dit na die beste uitweg gelyk.

My ma, Mazal Barzilai, het altyd vir my gesê: “As jy ooit geld nodig het, maak ’n falafel-winkel oop.” As ek nou terugdink, was dit seker die beste sake-advies wat ek ooit gekry het.

Hoekom het dit destyds na so ’n goeie idee gelyk?

Falafel is ’n unieke produk en destyds het niemand anders dit op enige plek in die land verkoop nie. Boonop was ek vol vertroue dat my falafel-resep uitstekend was, want dit is gebaseer op hoe my oupa dit altyd gemaak het. Dit het nooit eens by my opgekom dat ek kon misluk nie.

Hoe het jy jou produk begin verkoop?

Ek kon danksy my unieke produk ’n staanplek by die Brumameer-vlooimark kry. Ek het begin deur vanuit ’n sleepwa met my handelsmerk daarop en met die hulp van ’n assistent uit Ghana falafel teen R5 per porsie te verkoop.

Die mense was gek daaroor! Op my eerste dag by die vlooimark het ek 50 porsies verkoop.

Waar het jy aanvangsfinansiering gekry?

Ek het my kredietkaart se volle perk, destyds R10 000, gebruik.

Wat het jy gedoen om onkoste laag te hou en kontantvloeiprobleme te verhoed?

Ek sou vroeg soggens mark toe gaan vir gehaltegroente, heeltemal vars, pleks daarvan om ’n vaste verskaffer te gebruik. Daarby het ek als in my kombuis by die huis voorberei en net een werknemer gehad om my tuis en by die vlooimark te help.

Anat verkoop Midde-Oosterse kitskos.

Wat was aanvanklik jou grootste uitdagings?

Eerstens, geld. Maar gelukkig het ek ’n bankbestuurder gehad wat in my geglo het. Tweedens het ek nie geweet wat om naweke met my kinders te doen nie, want dit was die besigste dae by die vlooimark. Ek het ’n helper gehad wat toe pas by my begin werk het en het haar ekstra betaal om Saterdae en soms Sondae na die kinders te kyk.

Anders het ek hulle saam geneem mark toe of gereël dat hulle by maatjies gaan speel. My man, Manachem, het die werkslading gedeel. Hy sou soggens werk en dan sluit ek by hom aan vir middagetes, wat baie besig was, en ná middagete sou een van ons dan huis toe gaan om by die kinders te wees.

In dié besigheid maak jy die meeste van jou geld terwyl elke ander mens met vakansie is.

Wat was jou grootste deurbraak?

Toe mense my rondom 1998 begin nader het om ’n franchise te koop.

Vertel ons meer oor hoe julle die franchise-onderneming begin het.

Ons het geen advies gekry nie. Ek en my man het bloot ons gesonde verstand gebruik, wat soms geboemerang en verskeie nuwe sake-uitdagings meegebring het.

Ons het geen advies gekry nie. Ek en my man het bloot ons gesonde verstand gebruik, wat soms geboemerang en allerlei nuwe sake-uitdagings meegebring het.

Sedertdien het ek baie in die opleiding van franchisenemers belê. Hulle weet nou hulle moet presies doen wat ek aan die begin gedoen het, naamlik hard werk en altyd hoëgehalte-, vars produkte lewer as hulle suksesvol wil wees.

Hoe het die besigheid sedertdien gegroei?

Dit het gegroei van ’n kosstalletjie tot ’n franchise-onderneming met 22 afsetpunte. Ons het ’n bakkery wat vars pita-broodjies en wraps aan ons franchisenemers en supermarkte, koffiewinkels, restaurante en ander voedselfranchises lewer.

Ons het ook ’n kombuis wat die meeste van die rou bestanddele voorberei wat in ons falafel gebruik word en wat ons daagliks aan ons winkels lewer om ’n produk te verseker wat deurlopend vars en van ’n hoë gehalte is.

Waaraan skryf jy dié groei toe?

Aan die eiesoortigheid en gehalte van die produk, en my groot passie en eerlikheid ten opsigte van die kos wat ek verkoop. Daarby was ek vasbeslote om suksesvol te wees. Niks kon my keer nie.

Wat is van die sakevaardighede wat jy moes ontwikkel om sukses te verseker?

Vaardighede om jou sakeonderneming te ontwikkel, in stand te hou en uit te bou, soos rekeningebestuur, produkontwikkeling, vernuwende denke, mensvaardighede, sosiale media en die gebruik van tegnologie.

Wat is tans jou grootste uitdagings?

Met die huidige stand van die ekonomie en prysverhogings is die grootste uitdaging om maniere te vind om pryse vir die franchise- nemers en klante matig te hou.

Om dit reg te kry, doen ek wat ek altyd doen: Ek soek voortdurend na nuwe verskaffers met beter pryse, gebruik promosies om verkope op te stoot en stel nuwe laeprysmaaltye bekend. Dit als terwyl ek so spaarsamig moontlik is sonder om gehalte in te boet.

Hoe het jy die maatskappy bemark toe jy begin het en hoe het dit mettertyd verander?

Die afsetpunte wat ek aanvanklik geopen het, het die onderneming bemark. Mense het die toue gesien staan en kom vra vir ’n franchise.

Mense het die toue gesien staan en kom vra vir ’n franchise.

Tye is nou anders weens die swak ekonomiese toestande in die land. Mense is nou bang om te belê. Almal wag om te kyk wat gaan gebeur.

Was daar tye wat jy gevoel het jy wil toemaak?

Ja, daar was sulke tye. Daar is baie redes hoekom, maar hoofsaaklik omdat ’n mens so hard werk vir min opbrengs. Verlede jaar moes ons ongelukkig ’n paar winkels toemaak. Gelukkig het die omvang en volhoubaarheid van die onderneming my deur dié moeilike tye aan die gang gehou.

Hoe het mededinging in die kitskosmark toegeneem sedert jy begin het?

Aanvanklik het ek geen mededinging gehad nie. Sedert 1991 het talle winkelsentrums egter geopen, met verskeie plaaslike en oorsese koswinkels.

Party van hulle het enorme begrotings wat maak dat hulle ’n tyd lank op die agtervoet kan funksioneer, so hulle kan bekostig om pryse laag te hou.

In vandag se ekonomie kyk die klant na prys. Daar is byna geen plek vir luukshede nie. Ons markvoordeel sal altyd die uniekheid van ons produkte wees.

As jy enigiets oor kon doen, wat sou jy anders doen?

Ek sou aanhou om net vegetariese falafel te verkoop, soos ek aanvanklik gedoen het. Dit sou die lewe baie makliker gemaak het. Ek het enkele maande nadat ek die stalletjie geopen het vleis begin verkoop, want ek en my man het gedink dit sou gewild wees onder die klante in Suid-Afrika.

Ons was reg, maar vleis vra baie meer werk en moeite en is duur. Ek wens ook ek het ekonomie gestudeer om my te help om my onderneming beter te bestuur.

Wat is jou planne vir die toekoms?

Die plan is om vol te hou – meer produkte te ontwikkel, nog winkels te open, franchisenemers gelukkig te hou en die handelsmerk te versterk.

Behoorlike omsigtigheid en instandhouding is sleutelfaktore om ’n gevestigde onderneming voort te sit.

Meer oor:  Finweek  |  Anat  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.