Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Fiat Chrysler gee petrol in Suid-Afrikaanse mark
6 Desember 2018

Fiat Chrysler Automobiles (FCA) is die sewende grootste motorvervaardiger ter wêreld. Voor die internasionale samesmelting van Fiat en Chrysler in 2014 was die Fiat-onderneming én die Chrysler-onderneming op die randjie van mislukking.

Deesdae is dit ’n ander storie, met die ommeswaai wat grootliks toegeskryf word aan Sergio Marchionne, ontslape uitvoerende hoof van FCA. FCA se resultate vir die derde kwartaal van 2018 toon ’n jaar-op-jaar-styging van 10 basispunte in wêreldwye markaandeel en 2,7% in verkoopsvolumes.

Boonop het Moody’s onlangs sy vooruitsigte vir die groep van positief tot bestendig opwaarts aangepas. Die Jeep-handelsmerk het ’n jaar-op-jaar-toename van 67% in Europese verkope aangeteken, die Fiat Panda 500 oorheers steeds die streek se A-segment en wêreldwyd is Alfa Romeo se verkope 7,6% hoër.

Dis geen verrassing dat FCA aktiewer wil wees in die Suid-Afrikaanse mark nie.

Die firma wil ook uit die plaaslike mark se onversadigbare behoefte aan sportnutsvoertuie (SNV’s, tans 32%) munt slaan met sy reeks Jeep-modelle en sy SNV-finalis in die 2019 AutoTrader SA Motor van die Jaar, die Alfa Romeo Stelvio.

FCA se resultate vir 2018 se derde kwartaal toon ’n jaar-op-jaar-styging van 10 basispunte in wêreldwye markaandeel en 2,7% in verkoopsvolumes.

Fiat Chrysler Automobiles Suid-Afrika (FCA SA), die invoerder van Fiat, Alfa Romeo, Jeep, Abarth en Fiat Professional (handelsvoertuie) is vanjaar herstruktureer, nuwe bestuur is aangestel, ’n nuwe verkoopspan is gereed, die agentskapsnetwerk is geoptimaliseer en ’n besending nuwe voertuie maak binnekort hul opwagting in Suid-Afrika.

In Mei 2018 het Fiat Group Automobiles SA en Chrysler SA saamgesmelt.In Augustus is die nuwe bestuurslede aangestel, met die vernaamste aanstelling dié van Graham Eagle, ’n kenner van die motorbedryf, as uitvoerende hoof van FCA SA.

Graham Eagle, uitvoerende hoof van FCA Suid-Afrika

Eagle is oorreed om sy aftrede kort te knip nadat Robin van Rensburg bedank het. Eagle sê hulle stel tans die “grondbeginsels” reg.“Ons konsolideer die netwerk en konsolideer die agentskappe, wat nou al vyf ons handelsmerke sal hanteer.” Die produkte sal mededingender geprys wees, leemtes in die produkreeks sal gevul word en nuwe voertuie gaan bekend gestel word, sê hy.

FCA SA se reklameprogram sal ook verbeter en hy stel ’n gewaarborgde terugkoop-program op sommige produkte bekend, soos sy “Traction”-program op die Alfa Romeo Giulia en Stelvio. Die maatskappy is ook vasbeslote om die plaaslike status van sy Alfa-handelsmerk, wat die afgelope tyd getaan het, te herstel.

Een van die maatreëls waarmee FCA SA hoop om ’n deel van dié prestige te herwin, is om ’n eiesoortige vertoonlokaalomgewing vir Alfa-produkte te skep. Die Chrysler- en Dodge-handelsmerke is nie langer plaaslik beskikbaar nie, maar FCA-agentskappe sal dié voertuie steeds diens, sê Eagle.

Daar is landwyd tans meer as 40 agentskappe en nuwe agentskappe het in Menlyn en Pinetown geopen. Ook het FCA SA se nuwe vlagskipagentskap, die voormalige “Investment Cars”-agentskap in Sandton, sy deure in November geopen.

Plaaslike verkope het in onlangse jare van sowat 300 eenhede per maand tot ruweg die helfte daarvan afgeneem.

Plaaslike verkope het in onlangse jare van sowat 300 eenhede per maand tot ruweg die helfte daarvan afgeneem. Eagle is egter optimisties dat die syfer na 300 eenhede per maand herstel kan word en meen dit kan “binne maande” gebeur.

Daarna is die mikpunt 400 eenhede per maand. “Jy gaan ’n aggressiewer FCA sien,” sê Eagle. “Daar sal ’n herstel in ons verkope en volumes kom, want ons het aan die agentskappe die hulpmiddels gegee om dit te doen.”

Meer oor:  Finweek  |  Graham Eagle  |  Fiat Chrysler  |  Fca-Agentskappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.