Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Finansiële dienste vir almal
7 Februarie 2019
Outsourced CFO se direkteure: Dana Pretorius, Louw Barnardt en Jacques le Grange.

Tydens hul leerkontrak by Baker Tilly Greenwoods het Louw Barnardt en Dana Pretorius besef daar is ’n vraag na gehalteboekhouwerk en finansiële advies vir klein en mediumondernemings (KMO’s).

Teen die einde van 2013 het dié twee, eerder as om poste as geoktrooieerde rekenmeesters te aanvaar, hul eie finansiëledienste-onderneming, Outsourced CFO, begin.

Jacques le Grange het later by hulle aangesluit. “Ons het swak finansiële beplanning en bestuur geïdentifiseer as die grootste redes waarom baie beginmaatskappye net ’n paar jaar oorleef,” sê Barnardt. Outsourced CFO is begin met ’n klein lening wat gemaak is met ’n woonstel van Barnardt in Bellville as sekuriteit.

Bedryfskoste is laag gehou, en die stigters het etlike jare lank ondergemiddelde salarisse getrek. Hulle het ook kantoorruimte gedeel. Ná agtien maande was hulle amper bankrot en het besluit om “iets anders te doen as dinge nie binne die volgende maand verbeter nie”.

Maar toe kom hul eerste gelukslag – ’n kontrak met Microsoft om mentordienste aan te bied aan 80 beginmaatskappye in hul BizSpark-program.

Dié kontrak is verleng vir ’n tweede rondte en dit het die weg gebaan vir Outsourced CFO om maatskappye ook te help in een van Investec se sake-ontwikkelingsprogramme wat op fondsinsameling fokus. “Ons grootste aanvanklike uitdaging was om entrepreneurs te oortuig dat ons as pas gekwalifiseerde twintigjariges waarde aan hul besighede kon toevoeg.”

Die BizSpark-program was ’n geleentheid om hulself te bewys. Maar hulle het ook waardevolle ondervinding opgedoen en ’n nis in die begin- en verbeteringsbedryf vir tegnologie en innovasie geskep. “Omtrent 80% van ons kliënte is vandag in hierdie gebied werksaam,” sê Barnardt.

Outsourced CFO het sedertdien verskeie toekennings gewen en is in 2017 benoem as een van Fast Company se innoverendste maatskappye in Suid-Afrika. Barnardt is ook aangewys as die opkomende entrepreneur van die jaar in Sanlam/Business Partners se toekennings vir entrepreneur van die jaar verlede jaar.

Die maatskappy bied voltydse finansiële dienste aan ongeveer 80 plaaslike en internasionale maatskappye, sowel as dienste aan nog 200 maatskappye op ’n meer informele grondslag. Hulle het kliënte gehelp om toegang te kry tot sowat R500 miljoen se saaikapitaal- en groeifinansiering.

Outsourced CFO wou aan KMO’s dié soort diens bied wat groot maatskappye met voltydse finansiële werkers het. Ná twee jaar is die dienste aangepas en gestruktureer in drie pakkette, gegrond op die tyd wat aan ’n taak bestee word, in kombinasie met die mate van terugvoering wat benodig word.

Die Performance-pakket is die mees basiese diens; die tyd wat aan die taak bestee word, word beperk tot agt uur per maand. Hulle help dié kliënte om sterk interne finansiële strukture te bou, insluitende betaalstaatdienste, rekeningkundige en bestuursverslagdoening en maatskappybelastingdienste.

Met die Growth-pakket word die tyd tot 16 uur per maand beperk, en sluit finansiële advies in om kontantvloei en marges te verbeter.

Maatskappye met die oortreflike pakket het toegang tot 32 uur se finansiële dienste per maand, tesame met meer leiding om hul besighede te verbeter en te bou, gegrond op sake-ontleding, die bepaling van winste, finansiële modellering en vooruitskatting en waagfondsinsamelingsdienste.

Tegnologie is een van Outsourced CFO se grootste bemagtingsmiddels, aangesien dit die maatskappy in staat te stel om oor ’n afstand toegang te kry tot die finansiële state van kliëntemaatskappye. Dit versnel ook prosesse, byvoorbeeld deur banktransaksies outomaties met state te koppel.

“Ons het die afgelope jaar van 13 tot 27 werknemers gegroei; ons het dus elke drie weke ’n nuwe werknemer gehad.”

Volhoubare groei

Barnardt identifiseer die balansering tussen groei en kontantvloei as een van hul grootste uitdagings die afgelope paar jaar, aangesien Outsourced CFO die afgelope vier jaar met meer as 87% per jaar gegroei het. “Jy moet mense in diens neem om groei te genereer. . . sonder dat dit ’n negatiewe impak op jou kontantvloei het.

Ons het die afgelope jaar van 13 tot 27 werknemers gegroei; ons het dus elke drie weke ’n nuwe werknemer gehad. Dit het baie tyd en moeite vereis om te verseker dat die nuwe werkers reg is vir die werk en ons werketiek deel,” sê hy.

Hulle gebruik nie vryskutwerkers nie, aangesien werknemers op spesifieke gebiede met spesifieke kliënte spesialiseer. Handelsmerkbewustheid word opgebou deur die publisering van sake-artikels aanlyn of in drukvorm en video’s wat aangebied word deur le Grange, Barnardt of Pretorius.

“Ons skep ons eie inhoud, met die primêre fokus op sakewenke vir opkomende maatskappye en ondernemings wat uitbrei. Ons het skakelmaatskappye en Google Analytics gebruik om ons te help om aan die gang te kom, maar het die wenke wat deur hierdie betrokkenheid gegenereer is, self opgevolg.”

Beginnerprobleme

Barnardt sê kontantvloeibestuur is een van die grootste struikelblokke vir die sukses van beginnermaatskappye: “Beginnermaatskappye ignoreer dikwels die administratiewe en finansiële aspekte van die onderneming, en fokus op verkope en die groei van die maatskappy.

Namate die besigheid groter en meer kompleks word, word beheer oor kontantvloei moeiliker. “Dit is egter makliker om ’n plan te maak as jy sien dat jou geld binne ses maande kan opraak, as om dit te doen wanneer jy sien dat jy net geld het vir nog ’n week se salarisse.”

Om aandele te vroeg te verkoop in ’n poging om beginkapitaal te genereer, is ook ’n fout. Toekomstige beleggers word bang wanneer die aandele van die stigters so klein word dat hulle nie meer ’n gevestigde belang in die sukses van die maatskappy het nie, sê hy.

Om die regte vennote te kry, is ook ’n uitdaging. Barnardt raai n uwe entrepreneurs aan om ’n mentor te kry en soveel as moontlik te lees oor hoe om jou eie besigheid te begin: “Mense maak natuurlik foute, en hieruit leer jy, maar dis goedkoper om uit ander se foute te leer.”

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Finansiële Adviseurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.