Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Finteg: ’n Inklusiewe digitale revolusie
18 Maart 2021
Mathieu Coquillon, stigter van Mama Money

As daar een ding is wat Covid-19 gedoen het, dan was dit om die digitale omwenteling te lei. Suid-Afrikaanse maatskappye wat in finansiële tegnologie (finteg) spesialiseer, het gedy.

Mama Money, ’n toepassing (toep) wat internasionale geldoorplasings vergemaklik, het in Februarie ’n toename in die volume van transaksies in 2020 van meer as 500% aangekondig.

“Die pandemie het steen-en-sement-instellings aangepor om nuwe kanale en markte te ondersoek wat voorheen nie ’n prioriteit was nie, veral as dit kom by die voorsiening van finansiële dienste vir ondervoorsiene gemeenskappe,” sê die stigter, Mathieu Coquillon. Waar dit nie kon nie, het finteg-beginnermaatskappye soos Mama Money die leemte gevul.

“Die grootste uitwerking waaroor ons opgewonde is, is hoe finteg die lewens van gemarginaliseerde en ondervoorsiene gemeenskappe sal verander om opwaartse mobiliteit te bewerkstellig. Koste en toegang is steeds ’n enorme hindernis, en ons werk aktief daaraan om dit te verander en om finansiële inklusiwiteit te verbeter.”

Mama Money se verhaal is nie die enigste een met goeie nuus vir diegene wat nie toegang tot tradisionele finansiële dienste het nie. TymeBank is ’n digitale bank wat twee jaar gelede die lig gesien het en nou meer as 2,8 miljoen kliënte het.

Tauriq Keraan, uitvoerende hoof van TymeBank

In laat Februarie, het die bank ’n suksesvolle kapitaalverkryging van meer as R1,6 miljard bekend gemaak. Hy voeg reeds elke maand meer as ongeveer 110 000 kliënte by, wat dit een van die snels groeiende nuwe banke in die wêreld maak, volgens die uitvoerende hoof, Tauriq Keraan, en die finansiering sal die maatskappy help om vinniger in nuwe markte te groei. Ek het Keraan gevra wat hom ’n nuwe bank laat stig het.

“Hoewel SA ’n volwasse banksektor het, is bankgelde steeds van die hoogste ter wêreld en netto stigtertellings is laag. Dit beteken dat die tevredenheidsvlakke en waargenome waarde onder kliënte dikwels nie aan verwagtinge voldoen nie en dit skep beduidende geleenthede vir mededingende banke.”

Clayton Hayward, uitvoerende hoof van Ukheshe Technologies

Maar om bankdienste aan diegene daarsonder te voorsien, is al dekades lank op die ontwikkelingsagenda, met beperkte welslae. Ek het Clayton Hayward, die uitvoerende hoof van Ukheshe Technologies (’n wêreldspeler op die gebied van toegangverskaffing tot digitaal-eerste-finansiëledienste wat miljoene betalings in Afrika moontlik maak) gevra waarom dit nou anders is.

“Dit gaan oor dienslewering wat fundamentele leemtes aanpak wat mense sonder bankdienste in die gesig staar, soos die uitbreiding van kaartaanvaardingsnetwerke, die verbetering van geldversending tussen lande, hulp aan klein en mediumondernemings om e-handel te aanvaar en om toegang tot leningsopsies vir dié ondernemings te verbeter. Dit gaan dus nie net oor die verskaffing van bankdienste nie, maar ook oor dienslewering aan die mark met toepaslike finansiële aanbiedinge.”

Innovasie is nie net afkomstig van banksake en oorplasings nie, maar ook betalings. Chris Zietsman, uitvoerende hoof van Snapscan, ’n mobiele betaaloplossing met ’n netwerk van meer as 60 000 handelaars in SA, noem drie faktore wat finteg-innovasie aandryf: die beskikbaarheid van bestaande infrastruktuur (of gebrek daaraan), die regulerende omgewing, en skaalvoordele.

“Party ontwikkelende markte het uiters goedkoop toegang tot data, hoë penetrasiekoerse van slimfone en regulering wat die mobiliteit van geld begunstig. Dink aan WeChat en Alipay in China en ander Oosterse markte. Talle Afrikalande het lae slimfoonpenetrasie, maar hulle het telekommunikasiemaatskappye met ’n uitgebreide netwerk wat USSD-volumes (tekstransaksieboodskappe) kan bevorder.

In markte wat voorheen slegs met kontant gewerk het en waar die oorgrote bevolking sonder bankdienste was, was mobiele geldbeurse wat met basiese selfone werk, besonder suksesvol.” Beteken dit dat ontwikkelende lande ’n voordeel het wanneer dit by finteg-innovasie kom? Co-Pierre Georg is ’n adjunk-professor in ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad en koördineerder van die enigste meestersgraadprogram in finteg op die vasteland. “Dis waar dat ons voorheen ’n voorsprong bo Amerika en Europa gehad het.

Twee jaar gelede het Kaapstad en Johannesburg ’n florerende finteg-ekostelsel gehad met sowat ’n dosyn inkubators en honderde beginnermaatskappye, veral op die gebied van geldversending. Maar die regering en gevestigde finansiële instellings se steun het na my mening afgeneem. Ek dink dis ’n aanduiding dat die bedryf volwasse raak. Ons is besonder sterk wat betref geldversending en het ’n hand vol sterk kunsmatige- intelligensie-maatskappye, maar die suksesverhale is geïsoleerd. Die tussenregering-fintegwerkgroep het nogal goed op dié gebied gevaar, maar ons het ’n geïntegreerde plan nodig wat die ontwikkeling van vaardighede, mentorskap, finansiering en steun van die regering insluit.”

Hoe kan die regering help? Georg sê: “Betroubare regeringsvennootskappe ontbreek. Digitale identiteit is nodig om kritieke finansiële infrastruktuur te bou. Die departement van binnelandse sake sukkel egter om met sy infrastruktuur in die 20ste eeu te bly, laat staan nog die 21ste eeu. Die Reserwebank se gewilligheid om te innoveer, is wel bemoedigend.”

Ek het Keraan gevra of TymeBank enige regulerende hindernisse teëgekom het wat sy innovasie vertraag het. “Die primêre rol van reguleerders is om kliënte te beskerm en te verseker dat geen sistemiese risiko in die banksektor ingevoer word nie. Ek het gevind dat die reguleerders besonder behulpsaam was. Byvoorbeeld, terwyl dit ’n lang tyd geduur het vir ons om toestemming te kry om die bank in die wolk te vestig voor ons dit opgerig het, het ons dit uiteindelik gedoen (in teenstelling met baie ander ontwikkelende lande) en dit het die weg gebaan vir ander banke om nou dieselfde te doen.”

Mama Money se Coquillon sê: “Regulering is nodig vir finansiële dienste om verbruikers te beskerm teen roofsugtige gedrag en om onmededingende samespanning teen te werk. Die groot uitdaging vir beleidsmakers is om tred te hou met hoe gou nuwe tegnologieë ontwikkel. Wat kan help om na finteg-beginnermaatskappye om te sien, is ’n broeikas-omgewing waar nuwe produkte getoets kan word.”

Covid-19 en die inperkings het innovasie aangewakker op ’n skaal wat nie voorheen moontlik was nie. Maar om dié innovasie te handhaaf – en om die inklusiewe groei wat SA so nodig het, te verseker, sal ’n koesterende regulerende omgewing verg. Beleidmakers moet kennis neem. 

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Johan Fourie is ’n professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

* Foto’s: Verskaf

Meer oor:  Fintech  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.