Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Fosfaat blink, al steek dit party in kropz
1 Februarie 2018
Ian Harebottle, aangewese hoof van Kropz.

Ian Harebottle, nuwe uitvoerende hoof van Kropz, is vol vertroue dat die Elandsfonteinmyn ’n  sukses sal wees, ondanks teenkanting van omgewingsaktiviste.

Ek koester geen wrok nie. Jy moet handskud en aanbeweeg,” sê Ian Harebottle, wat bedank het as uitvoerende hoof van Gemfields, ’n maatskappy wat tot verlede jaar in Londen genoteer is, toe die hoofaandeelhouer Pallinghurst Resources besluit het om minder- hede uit te koop en Gemfields te privatiseer.

Harebottle het dit teengestaan. Dit was te min, en hy het ’n mededingende aanbod probeer kry. Daar was effense belangstelling van China, toe Fosun International $311 miljoen aangebied het, maar dit het op niks uitgeloop nie, en minderheidsaandeelhouers moes die Pallinghurst-aanbod van $268 miljoen aanvaar.

“Jy moet veg, anders het niemand vir jou respek nie,” het Harebottle aan finweek gesê. Daar was glo onmin tussen Pallinghurst se Arne Frandsen en Harebottle, met die eersgenoemde wat meen Gemfields het beheer oor sy balansstaat verloor.

Ek sien groot potensiaal vir Kropz, en ek is seker hy sal alles doen wat nodig is wat die omgewing betref.
Mike Nunn, mynbou-entrepreneur.

Harebottle is nou terug in Suid-Afrika en neem einde Maart oor as hoof van Kropz, ’n private agribesigheidsmaatskappy, wat gestig is deur sy voormalige kollega en vriend Mike Nunn, wat die Elandsfonteinfosfaatmyn ter waarde van R1,35 miljard gebou het. Fosfaat word gebruik om kunsmis te maak en word vanweë sy rol in voedselsekerheid as ’n strategies belangrike mineraal beskou.

Die myn is egter omstrede, aangesien hy langs die Langebaan-strandmeer in die Wes-Kaap geleë is. Omgewingsgroepe het die myn se watergebruikslisensie betwis, wat toe deur die regering opgeskort is. Dit is laat verlede jaar weer ingestel.

Harebottle huiwer om kommentaar te lewer oor die argument tussen Kropz en die omgewingsgroepe. Kropz hou vol hy het alles moontlik gedoen om te verseker dat daar geen besoedeling is nie van die waterdraer wat tussen Elandsfontein en die strandmeer lê. Uiteindelik sal die saak besleg word deur die permitproses wat vir alle myne nodig is. Kropz ruim ook tegniese probleme uit die weg.

Die myn moes in Maart verlede jaar begin werk het, maar het nog nie veel fosfaat geproduseer nie. “Ek sien groot potensiaal vir Kropz, en ek is seker hy sal alles doen wat nodig is wat die omgewing betref,” het Harebottle gesê.

“Ek sien sekere ooreenkomste tussen Kropz en die werk wat ek en Mike in die verlede gedoen het.”

Harebottle was betrokke by Afgem nadat hy in 1998 gestig is deur Nunn, wat ’n tyd lank die uitvoerende hoof was. Afgem is in 2003 omgekeerd deur TanzaniteOne oorgeneem, en die daaropvolgende jaar in Londen genoteer.

Hy was ’n kort tydjie ’n uitdaging vir De Beers se monopolie deur seldsame tanzaniet aan te bied as ’n moderne alternatief vir diamante totdat Brian Gilbertson van Pallinghurst ’n aanbod vir die beheer van die maatskappy gemaak het en die besigheid, as Gemfields, na die mark vir gekleurde edelgesteentes gerig het.

Harebottle en Nunn se verhouding is in dié jare gevestig met Nunn, as stigter, wat ontdek en herontdek het dat hy beter werk op die gebied van strategie en transaksiemakery. Dit is dus nie die eerste keer wat hy Harebottle aanstel om die daaglikse korporatiewe werk te doen nie.

Toe hy by Afgem was, het Harebottle die nodige gedoen om die aandeelprys te laat herleef. Hy sien ’n soortgelyke rol by Kropz, waar hy lewe in die besigheid moet blaas, al is Kropz ongenoteer. Met Nunn wat nou vry is om transaksies te doen, beteken dit dat ’n notering onvermydelik is, aangesien transaksies kapitaal vereis?

“Ons het nog nie besluit nie. Dit is net een van die opsies, of ons kan die roete van private ekwiteit kies. Maar ons het beslis ambisies om Kropz verder as Elandsfontein te bou,” het hy gesê.

Soos Harebottle dit sien, kan Kropz die “Glencore van fosfaat” word met ’n aantal bedrywighede – hoofsaaklik deur Suider-Afrika waar hy en Nunn die gemaklikste werk – en met die opbou van ’n handelsafdeling om die myn-tot-mark-besigheid ten volle te integreer. 

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za 

FOTO'S: www.kropz.com; www.manic.co.zm

Meer oor:  Finweek  |  Kropz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.