Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Gaan vasteland Covid-19 inspan om meer mag te gryp?
21 Mei 2020

Moet nooit ’n goeie krisis verlore laat gaan nie, soos Sir Winston Churchill (miskien, of miskien ook nie) gesê het. Menige politikus en ekonoom volg nietemin deesdae dié raad en slaan munt uit die Covid-19-krisis om hul eie agendas te bevorder of hul gunsteling teorieë te regverdig.

In Suid-Afrika, byvoorbeeld, het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, president Cyril Ramaphosa blykbaar op omstrede wyse oordonder om van beleid te verander en die verkope van tabak en sigarette tydens die staat van inperking te verbied.

Nkosazana Dlamini-Zuma Minister van samewerkende regering en tradisionele sake

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het eweneens e-handel verbied, deels vanweë “die impak op ander sakeondernemings”. Patel, ’n kommunis, gebruik die regulasies dus duidelik om sakeondernemings gelykwaardiger te kry.

In albei gevalle het hul beleidsvoorskrifte min met die stryd teen Covid-19 te make. Aan die ander kant van die kabinet se ideologiese spektrum probeer Tito Mboweni, minister van finansies, klaarblyklik die Covid-19-krisis gebruik om beleidshervormings wat lank reeds gedwarsboom word, deur te druk – soos om die SA Lugdiens se doppie te klink en die staatsdiens se salarisrekening te besnoei.

Patel, ’n kommunis, gebruik die regulasies dus duidelik om sakeondernemings gelykwaardiger te kry.

Wêreldwyd is dit egter die linkses eerder as die regses wat die geleentheid aangryp. Miskien nie verbasend nie, aangesien die ekonomiese nagevolge van reisbeperkings en inperkings, lugdienste wat ondergaan en lande wat in hulself keer, vir seker lyk na ’n bewys dat die era van globalisering, van markheerskappy en liberalisme op ’n end is, soos die slotsom waartoe John Gray in wese kom in die veel gelese essay in The New Statesman.

Hy verlustig hom in die manier waarop die nasiestaat, in Brittanje en elders, sig weer laat geld en die geleentheid benut om tot gesondheidstelsels en ekonomieë se redding te kom, terwyl multinasionale instellings soos die EU – voeg hierby sommer ook die Verenigde Nasies se Sekuriteitsraad – hopeloos misluk.

Hy voorsien dat die nuwe nasiestaat voortaan baie meer selfvoorsienend sal wees en byvoorbeeld voedsel self sal produseer eerder as om in te voer.

Peter Fabricius is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en ’n verslaggewer oor buitelandse sake.
Waar laat dit die vasteland van Afrika?

Nie op ’n goeie plek nie. Eerstens staar ’n groter ekonomiese gevaar Afrika in die gesig as die meeste ander. Die IMF voorspel dat die wêreldekonomie met 3% kan krimp.

Die Wêreldbank voorspel dat Afrika se ekonomie verder kan inkrimp, met tot 5,1% vanjaar, hoofsaaklik weens die skerp afname in die uitvoer van kommoditeite na belangrike handelsvennote soos China en Europa, asook ’n skerp daling in kommoditeitspryse, veral olie, en in toerisme en die stuur van geld, asook die impak van plaaslike inperkingsmaatreëls.

“Ek reken Afrika se ekonomieë loop inderdaad die gevaar om noodlottig ineen te stort,” het Carlos Lopes, voormalige hoof van die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika, laat in April aan The New African gesê.

Om dié ineenstorting te voorkom, vra die Afrika-unie minstens $100 miljard by die internasionale gemeenskap om Covid-19 te beveg en ekonomieë aan die gang te hou.

Die Wêreldbank raam dat Afrika meer benodig, sowat $114 miljard. Dié bank sê amptelike krediteure het tot dusver vanjaar tot $57 miljard vir Afrika gemobiliseer – waaronder $18 miljard elk vanaf die IMF en die Wêreldbank. Dit laat ’n finansieringstekort van sowat $44 miljard. Lopes self het egter aan La Tribune Afrique gesê Afrika benodig minstens $200 miljard om Covid-19 en die ekonomiese nagevolge daarvan te bowe te kom. En slegs die IMF kan dit voorsien, in die vorm van spesiale trekkingsregte.

Afrika-regerings maak nie almal juis die beste indruk nie; baie buit duidelik die krisis uit om die sweep te klap of verkiesings te ontduik ten einde aan bewind te bly.

Sou dié reuse-reddingspakket wel op die een of ander wyse materialiseer en Afrika Covid-19 oorleef, waar sal dit die vasteland te staan bring? Deeglik in die hande van regerings, is wat Lopes blykbaar glo, soos Gray.

Die twee deel ’n geurtjie van dieselfde schadenfreude oor die skynbare ineenstorting van globale kapitalisme wat oënskynlik deur Covid-19 meegebring is. Of ’n terugkeer na ekonomiese nasionalisme en staatsentrisme egter op enige plek kan werk, selfs in ryk state soos Brittanje, is te betwyfel. Dat dit in Afrika kan werk, lyk uiters onwaarskynlik – en bowendien nie noodwendig ’n goeie ding nie.

Afrika-regerings maak nie almal juis die beste indruk nie; baie buit duidelik die krisis uit om die sweep te klap of verkiesings te ontduik ten einde aan bewind te bly. Ja, dis so waar soos altyd dat Afrika-lande meer selfvoorsienend moet raak; in die sin van genoeg produseer om hul koste te dek. Maar dit maak sekerlik nie sin, soos sommige ekonome nou voordoen, dat Afrika reeds alle mediese toerusting vir die stryd teen Covid-19 moes vervaardig het nie.

Wie sou kon raai dat biljoene maskers skielik nodig sou wees?

Afrika moet ongetwyfeld munt slaan uit die wêreld se reaksie teen “eenlandrisiko” (veral China) in wêreldwye voorsieningskettings en só sy vervaardiging ’n hupstoot gee, soos die Brenthurst-stigting vroeg in Mei in ’n artikel in Daily Maverick voorgestel het. Natuurlik is diversifisering – veral weg van die vasteland se langdurige en fatale afhanklikheid van enkelkommoditeitsuitvoer – nog altyd iets wat Afrika in elk geval behoort te doen.

Niks het rêrig verander nie. As ons party van die apokaliptiese argumente wat ons nou hoor tot hul logiese gevolgtrekking voer, behoort ons welwillende regerings nou vir almal ’n paar hoenders en dalk ’n koei en groentesaad te gee om pleks van ons rose te plant, sodat ons onsself in ons eie tuistes kan voed in dié post-pandemiese, post-globaliseringswêreld.

Want dis nie net die internasionale ekonomie wat deur die koronavirus ontwrig word nie. Dit is net soveel, en waarskynlik meer so, nasionale ekonomieë en voorsieningskettings wat ontwrig word.

Daar is baie dinge wat ons nog nie van die koronavirus af weet nie, maar een ding waarvan ons seker kan wees, is dat dit geen ideologiese voorkeur het nie. Die gevaar is dat baie van die ideologiese voorspellings wat gedoen word, asof dit ’n objektiewe toekomsblik is, selfvervullende profesieë sal word en Afrika en die res van die wêreld sal terugsleep na ’n proteksionistiese verlede, wat die ekonomiese krisis net sal vererger.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Peter Fabricius is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en ’n verslaggewer oor buitelandse sake.

Meer oor:  Afrika  |  Finweek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.