Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Gaping in mediese voorrade gevul
22 Oktober 2020
Tony McPherson, stigter en uitvoerende hoof van McPherson Trading

In 2017, ná die skielike dood van sy oupa aan moederskant, Ivor Duncan – die stigter en uitvinder van EmOXTM Oxygen Systems – is Tony McPherson, toe net 17 jaar oud, as die tussentydse uitvoerende hoof van EmOx International aangestel.

McPherson kom uit ’n familie van entrepreneurs en het die onderneming soos die palm van sy hand geken. Hy was dus opgewasse vir die taak, en ná slegs ses maande in die pos het hy daarin geslaag om al die maatskappy se skuld te vereffen, winsmarges te verhoog en ’n wêreldwye verkoopspan aan te stel, terwyl hy terselfdertyd sy skoolwerk gedoen het.

Sy sukses het sy permanente aanstelling in die pos meegebring en het hom die wêreld se jongste uitvoerende hoof van ’n internasionale farmaseutiese maatskappy gemaak – ’n titel wat verlede jaar tydens Informa Markets se Arab-gesondheidskonferensie in Dubai aan hom toegeken is. Een van sy moeilikste take was om werknemers, verskaffers en kliënte – baie so oud soos sy ouers – te kry om sy leierskap en gesag te aanvaar.

“Mense is geneig om te dink jy weet nie wat jy doen nie omdat jy jonger is. Om dit te oorkom, het ek openlik erken dat ek nie alles weet nie; dat ons elke dag iets nuuts leer. Mettertyd was almal gewoond aan die idee dat ek jonger is as wat ’n uitvoerende hoof gewoonlik is, en dit het ’n dinamiese en positiewe energie geskep,” sê McPherson.

McPherson Trading

Terwyl hy EmOx-produkte na die buiteland uitgevoer het, het McPherson besef dat geen maatskappy in die verkryging van mediese verbruiksgoedere en weggooiprodukte in sekere dele van Afrika gespesialiseer het nie. Om dié rede het hy McPherson Trading in Januarie verlede jaar van stapel gestuur, ’n maatskappy wat spesialiseer in hulpverlening aan verkrygingsondernemings in die aankoop van produkte, en om probleme met aflewering te voorkom – van swak infrastruktuur wat padaflewerings onmoontlik maak, tot personeel- en hulpbronbeperkings, asook taal- en administratiewe hindernisse.

Dit was ’n briljante idee, aangesien dié nismark nog nie betree was nie. Baie internasionale maatskappye het Afrika-lande bedien, maar niemand het in verkryging in moeilik bereikbare streke, soos oerwoude en landelike gemeenskappe sonder infrastruktuur, gespesialiseer nie. “Ek het uitgebreide kennis van die sakestruikelblokke en goeie verhoudinge met NRO’s en regerings in hierdie lande gehad – dit het dus sin gemaak om hierdie leemte te vul,” sê McPherson.

Tot dusver is ongeveer R33 miljoen se voorraad aan Mali, Malawi, Tanzanië, die DRK, Soedan en Somalië versend.

Hy glo vas daarin om sake sonder skuld te doen en het al sy sakeondernemings tot dusver self gefinansier. Hy het sy eerste onderneming as 15-jarige begin, nadat hy ’n webwerf ontwikkel het vir die vaste-eiendomsonderneming van sy oupa aan vaderskant, wie se naam hy ook dra. “Ek het dié onderneming met spaargeld begin, waarmee ek ’n tweedehandse Apple MacBook Pro kon koop om my bemarkingsonderneming op sosiale media te begin. Sedertdien herbelê ek ’n groot deel van die winste in my maatskappye om ’n lang lewensduur te verseker en groei te bevorder sonder eksterne belegging of finansiering,” sê McPherson.

Met een webwerf onder die knie, het hy meer werk gesoek. Ná ses maande het hy eindelik ’n kontrak met ’n sekuriteitsmaatskappy in Somerset-Wes gesluit. Minder as ’n jaar later het sy onderneming, McPherson Consultancy, meer as 25 kliënte gehad. “Ek het geen bokoste gehad nie, want ek het al die werk self gedoen. Namate die onderneming gegroei en verander het in twee en toe drie, en ’n liefdadigheidsorganisasie, het my span uitgebrei. Die infrastruktuur en koste het ook gegroei, maar binne perke en ons vermoë,” sê hy.

Hy sê invoer- en uitvoerpermitte, tesame met die infrastruktuur in bestemmingslande is die grootste struikelblokke vir sake in Afrika. “Verkryging van permitte kan aflewering vertraag, en elke dag wat produkte in die doeanepakhuis lê, kos geld. Sommige lande hef ook groot boetes as besendings met verkeerde permitte opdaag.” Boonop het elke land unieke invoerprotokolle, wat dinge bemoeilik as jy tegelyk met verskillende Afrika-lande werk.

Om dit te hanteer, het McPherson ’n interne permitbeheerder aangestel om probleme te voorkom en uitstekende tydsberekening met aflewerings te verseker. Tegnologie speel ’n groot rol in sy sakeondernemings, veral in die bestuur van spanne en besighede oor verskillende wêrelddele en tydsones heen. Slack word gebruik vir spanboodskappe en -kommunikasie, Lattice vir verkoopsbestuur, navrae en die skep van sakegeleenthede, terwyl Bamboo gebruik word vir mensehulpbronbestuur; dit laat personeellede ook toe om hul eie mensehulpbronkwessies te administreer. “Al die programme is daarop gemik om onafhanklikheid en produktiwiteit te bevorder,” sê hy.

Toekomsplanne

McPherson Trading se voetspoor groei maandeliks omdat daar voortdurend nuwe projekte in nuwe lande is. Tot dusver is ongeveer R33 miljoen se voorraad aan Mali, Malawi, Tanzanië, die DRK, Soedan en Somalië versend.

Aangesien die maatskappy slegs tenderwerk doen, werk hulle nie in SA nie want die SEB-stelsel maak dit moeilik om tenders te kry. McPherson bedien SA egter deur sy farmaseutiese maatskappy en filantropiese ondernemings. Sy doel is om al 55 lande in Afrika teen 2024 te bedien, met gevestigde takke in verskillende dele van die vasteland om toegang tot mediese produkte te verbeter.

Hoewel die koronavirus-pandemie ’n groter vraag na sy produk tot gevolg gehad het, het dit wel groei belemmer. “Ek verpes dit om oor Zoom en Skype te werk en kan nie wag tot die grense oopgaan nie, sodat ek weer voor my kliënte en belanghebbendes kan staan, om die onderneming te laat groei en te help om makliker toegang tot gesondheidsorg vir almal te skep,” sê McPherson.

In erkenning vir sy ywer en pogings om gehaltegesondheidsorg in gemeenskappe oor Afrika heen te verbeter, het McPherson verlede jaar die NSBC Youth Entrepreneur Champion Awards gewen, en die maatskappy is op die lys van 20 vooraanstaande kleinsake in SA geplaas. ¦ terugvoer@finweek.co.za

Foto: Eben Photography

Meer oor:  Finweek  |  Mediese Voorrade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.