Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Genoteerde vissermaatskappye beperk deur regering
18 Maart 2021
Rella Suskin, navorsingshoof van Benguela Global Fund Managers
Chris Wood, senior aandeleportefeuljebestuurder by Prudential Investment Managers

Of dit nou ’n gewone snoekbraai, geelbek, galjoen (Suid-Afrika se amptelike vis), kreef, calamari saam met die hoofgereg, ’n eenvoudige stokvis of tunasteak is, vis is ongetwyfeld een van SA se gunstelingproteïene.

Moet ook nie van sardyne vergeet nie; dis skynbaar die minister van finansies se gunsteling. Die taak van die land se kommersiële visserybedryf is nie net om in die plaaslike markvraag na vis en visprodukte te voorsien nie, maar ook dié van die res van die wêreld, veral met die steeds groeiende bevolking.

SA se genoteerde visserybedryf, wat bestaan uit ’n handjie vol maatskappye, het die afgelope jaar baie meer gehad om oor besorg te wees as net die seegetye en die pandemie. Inperkingsmaatreëls het die visvang- en verwerkingsvermoë beïnvloed, wat die verhaling van fabriekskoste verminder, maar streng kostebeheer en laer brandstofpryse het gehelp om daarvoor in verskillende mate by produsente te vergoed, het Rella Suskin, navorsingshoof van Benguela Global Fund Managers aan finweek gesê.

Die belangrikste onsekerheid waarmee die genoteerde visserymaatskappye te kampe gehad het, is steeds die regering se gesloer met die finalisering van die langtermyn-toekenning van visvangregte, het Chris Wood, senior aandeleportefeuljebestuurder by Prudential Investment Managers, gesê. “Die huidige kwotas vir belangrike vissoorte sou verlede jaar verval het en nuwes sou dan toegeken word.

Die proses sou teen die einde van vanjaar afgehandel gewees het, maar daar kan moontlik verdere vertragings wees,” sê hy. Wood sê dit bied ’n uitdaging in ’n kapitaalintensiewe bedryf, met genoteerde maatskappye wat vir minstens die volgende 12 maande nie kan beplan en hulle daartoe kan verbind om die vereiste belegging te doen nie.

Premier Fishing & Brands

Premier Fishing, wat in Maart 2017 op die JSE genoteer is, se bedryfsgebied is kommersiële treilervissery en die verspreiding van mariene hulpbronne. Sy belangrikste bedrywighede is die vang en verwerking van diepseevis (sardyne en ansjovis), Weskuskreef, Suidkuskreef, inkvis en stokvis.

Die maatskappy meld dat inkomste van R575 miljoen in 2019 tot R449 miljoen verlede jaar gedaal het, kontant wat uit bedrywighede gegenereer is, het van R124 miljoen tot R35 miljoen afgeneem, en verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie (ebitda) het van R99 miljoen die vorige jaar tot R55 miljoen gedaal.

Uiteindelik sê Suskin dat die huidige spelers dieselfde sal bly, maar dit sal ekstra koste vir die bedryf toevoeg, wat die koste van die finale produk vir plaaslike verbruikers sal verhoog.

Die maatskappy sê te midde van die daling in kerninkomste, het die perlemoenvoorraad in hul perlemoenboerdery met R14 miljoen gegroei. Perlemoen, ’n seeslak, het ’n hoë markwaarde en is een van die gewildste soorte lekkernye plaaslik sowel as in die buiteland. Premier Fishing sê die produksievermoë by die perlemoenboerdery het verlede jaar tot 229 ton gestyg, teenoor 183 ton in die vorige jaar. Premier se belangrikste strategiese fokus is die toekenning van visvangregte, het Rushaan Isaacs in haar eerste verslag as die uitvoerende hoof van die maatskappy gesê.

“As langtermyn-visvangregte in ’n nuwe sektor aan Premier toegeken word, sal dit lei tot bykomende werksgeleenthede en ’n toename in inkomste en winste vir die groep.”

Die maatskappy sê die risiko bestaan dat groter fokus op nuwe swart toetreders geplaas sal word, wat moontlik die toekenning van regte aan bestaande deelnemers kan raak.

Die kommer oor die herverdeling van die hulpbronne in die geval is dat klein kwotatoewysings aan klein visserye nie voldoende aanmoediging sal wees om beleggings van klein rolspelers aan te spoor nie, en die vermindering van die kwotas wat tans aan groot spelers toegeken is, sal hul vermoë om in die toekoms in die bedryf te herbelê, benadeel, het Suskin gesê.

Oceana

In Junie 2015 het Oceana (wat vanjaar 74 jaar oud word) ’n effektiewe aandeelhouding van 100% in Daybrook Fisheries verkry. Hy het in Augustus 2016 sy volbesit in Lamberts Bay Foods aan Famous Brands verkoop. Die kern van Oceana se visseryonderneming is die vangs, verkryging, verwerking, bemarking en verspreiding van ingemaakte vis, vismeel, visolie, marsbanker, stokvis, kreef en inkvis.

’n Interessante finansiële feit oor die prestasie van sy gewilde blikvishandelsmerk verlede jaar is dat 80% van Lucky Star se inkomste in SA gegenereer word en 20% uit uitvoere. Verlede jaar het Oceana se ingemaakte visbedryf ’n derde agtereenvolgende jaar groei in blikkiesvolumes en markaandeel aangeteken, met volume- en prysgroei van onderskeidelik 1% en 4%. Verlede jaar het ingemaakte vis en vismeel 53% tot Oceana se inkomste bygedra en 38% tot sy bedryfswins.

Imraan Soomra, uitvoerende hoof van Oceana

Die groep het verlede jaar ’n toename van 9% in inkomste tot R8,3 miljard en ’n toename van 21% in bedryfswins tot R1,4 miljard aangeteken. Terwyl Lucky Star-sardyne een van die goedkoop seekossoorte was wat verlede jaar by die platter beursies van verbruikers baat gevind het, waarsku Suskin dat die plaaslike sardynhulpbron op ’n sikliese laagtepunt is en dat Oceana ’n groter deel moes invoer toe die rand baie swak was, wat die koste verhoog het.

Oceana se Lucky Star-sardyne behoort die komende jaar steeds te baat omdat die regering se TERS-voordeel (finansiële hulp deur die werkloosheidsversekeringsfonds) begin daal en Suid-Afrikaners bekostigbare proteïenopsies sal soek, sê Suskin. Wat die toekenning van visvangregte betref, het Imraan Soomra, uitvoerende hoof van Oceana, gesê hy verwag dat aansoeke en toekennings gedurende November vanjaar afgehandel sal word.

“Die uitkoms van die toekenningsproses van visvangregte vanjaar is beslis baie belangrik vir ons besigheid, met ons huidige visvangregte vir diepseevis (sardyne en ansjovis), diepsee-treilvissery, Suidkuskreef en inkvis, wat op 31 Desember vanjaar hernu moet word, en wat tans 16% van ons totale ondernemingswaarde beïnvloed,” het hy in die jongste algemene jaarverslag gesê. In die res van Oceana se SA visbedrywighede is regte vir marsbankers en stokvis in kusstreke tot 31 Desember 2031 toegeken, en vir Weskuskreef tot 31 Julie 2032.

Sea Harvest

In 1964 het Pescanova, Southern Sea Fishing Company en Imperial Cold Storage saamgespan om Sea Harvest op Saldanhabaai te vestig. Sea Harvest het in die jare negentig op die JSE genoteer - gevolg deur Tiger Brands se verkryging van 100% van Imperial – en daarna het Sea Harvest van die JSE gedenoteer.

Nadat ’n swart konsortium Tiger Brands se belang in 2009 verkry het, is die maatskappy in 2017 op die JSE hernoteer. Sea Harvest het gesonde resultate vir die jaar tot 31 Desember verlede jaar gelewer. Hy het ’n bedryfswins van R629 miljoen aangekondig, ’n toename van 5% teenoor 2019, en hoër verdienste per aandeel van 150,8c, ’n toename van 2% teenoor 2019.

Felix Ratheb, uitvoerende hoof van Sea Harvest

Groepinkomste vir die jaar het met 10% gestyg tot R4,38 miljard, teenoor R3,97 miljard die vorige jaar. As ’n “noodsaaklike diensverskaffer” het Sea Harvest voortgegaan om deur Covid-19 en die verskillende vlakke van inperking te funksioneer, hoewel dit op ’n laer vlak was. Sea Harvest se uitvoerende hoof, Felix Ratheb, het aan finweek gesê dit was ’n belangrike eerste stap om die diepseevloot op die see en fabrieke gedurende die streng inperking van Maart en April verlede jaar in werking te hou.

Die diepsee-treilervisvangsektor vir stokvis speel ’n belangrike rol in die ekonomie, veral in die kusprovinsies. Die diepsee-treilervissery vir stokvis is die land se grootste en waardevolste, met verkope van R4,5 miljard per jaar, gelykstaande met ongeveer 45% van die waarde van alle SA kommersiële visserye, sê hy. Die visserysektor onderhou 7 300 direkte werksgeleenthede en na raming 29 200 indirekte werksgeleenthede, hoofsaaklik in kusstede en -dorpe waar ekonomiese geleenthede skaars is.

Hy sê ondanks groot uitdagings is die visserysektor een van die min sektore van die SA ekonomie wat verlede jaar sy werksgeleenthede behou het. In Sea Harvest se jongste finansiële resultate het Ratheb gesê die akwakultuursegment was ’n groot slagoffer van die pandemie weens die onvermoë om toegang tot markte in die Verre Ooste te verkry weens die verskillende vlakke van inperking in die streek, die inkorting van lugvrag van SA en die merkbare verlangsaming in plaaslike en uitvoer-voedseldiensmarkte. “Die oester- en mosselbedrywighede, wat byna uitsluitlik aan voedseldienste lewer, is erg deur Covid-19 geraak.”

Sea Harvest verwag dat die uitvoer van akwakultuur gedurende die eerste helfte van vanjaar beperk sal bly, en dat die herstel afhang van die hervatting van gereelde internasionale vlugte, sê Suskin. Sy merk egter op dat die vooruitsigte vir Hongkong onseker bly, gegewe die voortdurend veranderende politieke landskap. “Produsente sal verstandig wees om hul kliëntebasis te diversifiseer. Bruto winsmarges in die perlemoenbedryf kan gedurende hierdie oorgangsperiode geraak word.”

Die totale toelaatbare vangs (TTV) vir SA stokvis het met 10% gestyg tot 146 430 ton vir die 2019 kalenderjaar en verlede jaar onveranderd gebly. I&J se kwota vir albei jare was 39 517 ton, wat 27% van die TTV beloop.

AVI

Voordat die naam na AVI verander is, is die maatskappy op 15 April 1944 as Anglovaal Industries geregistreer en later daardie jaar op die JSE genoteer. AVI bestaan uit ’n seekosafdeling (I&J) en besit belangrike handelsmerke soos Five Roses, Bakers, Yardley en Spitz.

Die groep se inkomste vir die ses maande geëindig Desember verlede jaar het met 0,1% afgeneem teenoor dieselfde tydperk in die vorige jaar, sê die maatskappy in ’n handelsverslag van Januarie vanjaar. Die resultate vir die volle jaar sal ná die verskyning van hierdie uitgawe aangekondig word.

In die handelsverslag het AVI gesê I&J se perlemoenonderneming word steeds geraak deur laer vraag, prysdruk en logistieke beperkings om toegang tot die markte in China en Hongkong te verkry. Wesensverdienste per aandeel sal na verwagting tussen 1% en 3% hoër wees as in die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar, wat ’n toename van verlede jaar se 293,8c tot tussen 296c en 303c beloop. I&J het in sy resultate vir die jaar geëindig 30 Junie 2020, gesê dat sy inkomste met 7,2% gedaal het, terwyl die bedryfswins van R407,9 miljoen tot R237,8 miljoen afgeneem het.

Hy sê die pandemie het ’n beduidende impak gehad omdat die nakoming van isolasie- en kwarantynprotokolle ’n verminderde verwerkingsvermoë en ’n gepaardgaande vermindering van visvangaktiwiteite gedurende die vierde kwartaal tot gevolg gehad het. Suskin merk egter op dat dit tydens die oog van die storm was en dat I&J ’n sterk herstel in die tweede helfte verwag, wat sy stokvisprestasie waarskynlik tot dieselfde vlak as sy eweknieë sal bring.

Die totale toelaatbare vangs (TTV) vir SA stokvis het met 10% gestyg tot 146 430 ton vir die 2019 kalenderjaar en verlede jaar onveranderd gebly. I&J se kwota vir albei jare was 39 517 ton, wat 27% van die TTV beloop. Die belegging in diepsee-seekosondernemings is groot. ’n Diepsee-treiler kos miljoene rande. Die aansporing vir belegging in die bedryf is dus afhanklik van groot hoeveelhede vis of kwotas, verduidelik Suskin.

I&J het byvoorbeeld meer as R100 miljoen aan die opgradering van sy dokke en vaartuie gedurende sy boekjaar verlede jaar bestee - bedrae wat ontoeganklik vir klein spelers is. Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye wil ’n groter deel van die totale kwota aan ’n groter aantal klein visserye in swart besit toedeel.

AVI en soortgelyke maatskappye sê as daar ’n wesenlike toewysing van visvangregte aan kleiner spelers is, sal die groot spelers die kwotas by die kleiner spelers moet bekom of huur, en wat hulle oorspronklik gehad het moet terugkoop, maar teen ’n premie.

Uiteindelik sê Suskin dat die huidige spelers dieselfde sal bly, maar dit sal ekstra koste vir die bedryf toevoeg, wat die koste van die finale produk vir plaaslike verbruikers sal verhoog en SA stokvisprodusente wêreldwyd minder mededingend sal maak.

Dit kan die sakemodelle van huidige spelers benadeel. Die diepsee-stokvisprodusente sal hul huidige kwotatoewysings tot volgende jaar behou. Die drie grootste spelers - I&J, Sea Harvest en Oceana - verwag ’n mate van kwotavermindering, maar Suskin sê dit sal waarskynlik klein wees.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Vissermaatskappye  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.