Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Goud en platinum floreer
12 September 2019

Goudaandele is weer mode op die JSE met Harmony, wie se riskante marginale myne so gevoelig is vir veranderinge in die goudprys, kop en skouers bo die res van die mark op die lys van sterkste aandele.

Dit is dan ook begryplik dat, soos gewoonlik wanneer goud loop, ontleders kom met positiewe voorspellings oor waarheen die geel metaal op pad is.

Behalwe dat onsekerheid sy gewone groot rol vervul deurdat goud, soos eeue al die geval is, as ’n veilige hawe beskou word, is daar ook tans ’n gesonde fundamentele vraag na die geel metal.

Voorspelling vir goudjuweliersmark

Metals Focus van Londen voorspel byvoorbeeld dat die vraag in Indië vanjaar 7% hoër gaan wees, terwyl dit in China met sowat 3% sal styg.

Dié twee lande verteenwoordig die grootste mark vir goudjuweliersware. Daar is ook aanduidings dat onder meer die Chinese regering aan sy goudreserwe bly bou nadat dit vroeër vanjaar ’n rekordvlak van 1 864,3 ton bereik het. Wat die plaaslike goudgroepe ook bevoordeel, is die verswakking van die rand.

Veral AngloGold Ashanti maak tans goed geld uit die goudbulmark aangesien die verskansing van sy goudproduksie redelik klein is en hy dus die oorgrote deel van sy uitset teen huidige pryse kan verkoop. Die groot vraag is natuurlik hoe volhoubaar die huidige sterkte van die goudprys is. Gesaghebbende marknavorsers soos Morgan Stanley praat daarvan dat die huidige bulmark ’n prys van $1 900 tot $2 000 per ons kan haal (by die skrywe hiervan was dit $1 525).

Dit is dan ook interessant dat Gold Fields, in teenstelling met AngloGold Ashanti, veilig probeer speel deur ’n aansienlike deel van sy produksie te verskans.

Veterane in die goudmynbedryf, soos Nick Holland, uitvoerende hoof van Gold Fields, is egter versigtig om die prys te voorspel. Hy het klaarblyklik net te veel keer ervaar hoe verkeerd voorspellings oor die geel metaal kan wees. Dit het in die verlede gebeur dat wanneer die goudprys op sy belowendste lyk, hy vinnig kan omdraai en jou byt.

Dit is dan ook interessant dat Gold Fields, in teenstelling met AngloGold Ashanti, veilig probeer speel deur ’n aansienlike deel van sy produksie te verskans.

Dat dit ’n invloed op markspelers se sieninge het, blyk daaruit dat Gold Fields se aandeelprys die afgelope drie maande met sowat 80% gestyg het, terwyl Anglogold Ashanti sy aandeelhouers se harte met 113% verbly het.

Daar is sedert die JSE se ontstaan meer fortuine met goudaandele gemaak as in enige ander sektor. Maar, menige fortuine is ook daar verloor. Soos blyk uit die tabel van sterkste aandele is die platinumgroepe steeds besig om baie goed te vaar.

Implats bly die voorloper, gevolg deur Northam wat sterk opgeskiet het. Daar is vooraanstaande ontleders wat glo dat Northam se oomblik aangebreek het. Hy het binne ’n week met sowat 33% opgeskiet tot vlakke wat vergelykbaar is met die historiese hoogtepunt van bykans R80 wat in Maart 2008 bereik is. Wat die res van die mark betref, bly die prentjie maar bedroef. Pioneer Foods is die sterkste onder die nywerheidsaandele, maar dis te danke aan die oorname-aanbod van PepsiCo teen ’n stewige premie bokant die onlangse markprys.

Negatiewe berigte

Die mark word gepeper met negatiewe berigte oor ikoniese aandele soos Sasol, Discovery en Shoprite, wat in bykans elke belangrike portefeulje van pensioenfondse en ander groot beleggers verskyn. Hulle het kwaai geval. Sasol lê 25% onder sy 200-daagse eksponensiële bewegende gemiddelde (EBG), terwyl Discovery 19% en Shoprite 32% onder is.

Hoe negatief die klimaat op die beurs is – die paar edelmetaal-maatskappye uitgesluit – word miskien weerspieël deur ’n aanbieding van Charles de Kock, ’n senior ontleder van Coronation. Een van sy vertrekpunte is dat Suid-Afrika se afgradering op pad is en dat die markte dit reeds begin verdiskonteer, onder meer deur langtermyn-rentekoerse.

Onder die aandele waar die prys bo die 200-daagse EBG uitbreek, is daar nie een wat as interessant bestempel kan word nie. Dis klaarblyklik ’n weerspieëling van die swak markomstandighede.

  • Stuur 'n boodskap na terugvoer@finweek.co.za
  • Lucas de Lange is ’n voormalige redakteur van finweek en die skrywer van twee boeke oor beleggings.

Meer oor:  Platinum  |  Finweek  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.