Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hanteer die skok van markte wat ineenstort só
5 November 2020
Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Die jaar 2020 was baie dinge, maar niks wat ons verwag het nie. Die vroegste berigte oor die koronavirus was kwellend en ek het ’n halwe oog op gebeure in China gehou.

Toe die eerste geval in Suid-Afrika vroeg in Maart aangemeld word, was ek in Durban om ’n aanbieding te doen oor die moontlike impak van die virus – wat ons nou as Covid-19 ken – op die plaaslike en wêreldmarkte. Ons het die onderwerp van die aanbieding enkele dae tevore verander toe die uitwerking van die virus begin duidelik word het. Maar selfs toe het ek die werklike impak onderskat.

Ek het wel by dié geleentheid in Durban twee voorspellings gemaak. Eerstens dat die impak wesenlik sou wees, met ’n goeie kans op ’n marktedaling van meer as 30%. Tweedens: wêreldekonomieë sou in ’n resessie verval. As ek nou aan my aanbieding terugdink, besef ek ek was heeltemal verkeerd oor hoe groot die impak op die wêreldekonomie werklik sou wees. Ek het dit heeltemal onderskat hoe erg dit sou wees. 

Inperkings het byvoorbeeld meegebring dat die ontspanningsektor vir sowat ses maande geen inkomste gehad het nie en minstens nog twee jaar lank sal sukkel om te herstel.

Tydens dié pandemie het ek ook geskryf oor hoe om ’n portefeulje te bestuur ter voorbereiding op wat gaan kom. My strategie was onder meer om tweedevlakaandele en dié met baie skuld te verkoop. Verder het ek steeds elke maand beursverhandelde fondse (ETF’s) gekoop, selfs tydens die insakking van die markte in Februarie en Maart.

Gebruik dié ineenstorting om te kyk hoe dit jou emosies beïnvloed het. Kyk hoe dinge uitgespeel het en vra jou af of daar veranderings is wat jy aan die algemene samestelling van jou portefeulje moet maak.

Nou, terwyl die wêreld volledig in reaksiemodus is weens die pandemie, kan ons as beleggers op die markineenstorting terugkyk en ’n paar moeilike vrae vra oor ons beleggings en ons reaksie op die ineenstorting. Vir my was 2020 my vyfde ervaring van ’n markineenstorting. Die eerste was in 1987 (enkele dae ná ek my eerste aandele gekoop het) en die mees onlangse was in 2008-’09.

So, toe die markte nou so skerp begin daal, het ek dit reggekry om nie paniekerig te raak nie. Ek het my portefeulje hersien en ’n klompie aandele verkoop. Party van my verkoopsbesluite was in die kol, ander minder só aangesien die maatskappye en sektore blykbaar sterk herstel het sedert Maart se laagtepunte. My bogenoemde strategie om my maandelikse ETF-aankope voort te sit, is wat ek in elk geval altyd doen, en dié aankope vaar uitstekend sedert hul laagtepunte in Maart.

So, hoe was die ineenstorting vir jou? As jy die mark eers ná die laagtepunte van Maart. 2009 betree het, was dié ineenstorting jou eerste ervaring. Hoe het dit gevoel? Was dit vreesaanjaend? Dit was vir seker, veral as dit jou eerste kennismaking met dalende markte was. Maar het jy paniekerig geraak en als verkoop? Het jy paniekerig geraak en jou beleggingsbydraes gestaak?

Vrees is in orde, maar paniek kan ernstige verliese beteken – veral as jy tydens die Maart-laagtepunte verkoop het. As dit jou eerste ervaring was, moet jy onthou die vrees en paniek is minder intens wanneer dit weer gebeur. Ek was in 1987 paniekbevange en in 1998 effens minder paniekerig. Maar delf dieper in hoe jy gevoel het. Wat was die vrees – dat jy als sou verloor?

Dat jou aftrede gekanselleer sou word? Dat jy die verkeerde aandele besit, met veels te veel hoërisiko-aandele wat steeds nie herstel het nie? Gebruik dié ineenstorting om te kyk hoe dit jou emosies beïnvloed het. Kyk hoe dinge uitgespeel het en vra jou af of daar veranderings is wat jy aan die algemene samestelling van jou portefeulje moet maak.

Het jy te veel aandele in riskante dele van die mark? Het jy genoeg diverse ETF’s? Het jy genoeg kontant om ’n moeilike tydperk te deurstaan? Die pandemie het nog ’n ent om te gaan, maar ons moet ons reaksie rakende ons beleggings begin evalueer. En as jy wel paniekerig geraak het, moenie stres nie. Volgende keer gaan jy slimmer wees, want dat daar weer ’n ineenstorting sal kom, is vir seker – al weet ons nie wanneer of waarom nie.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.