Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Herken uitbranding só
16 Augustus 2018

Daar is verskeie tekens van ’n dreigende uitbranding, wat gedefinieer word as ’n sindroom van emosionele uitputting, persoonlike onbetrokkenheid en verminderde persoonlike werkverrigting. Baie min mense erken egter die simptome, of reageer daarop wanneer hulle dit raaksien.

Uitbranding het ’n verwoestende uitwerking omdat dit loopbane, gesondheid en verhoudinge kan vernietig as dit nie beheer word nie. Stres kan jou voortydig laat sterf, maar uitbranding kan dit laat voel asof dit nie meer die moeite werd is om te leef nie.

Wendy Ward, Afrigter, spreker en skrywer by Presilience

Dit is wanneer die gevaarsone in die uitbrandingsone verander (sien tabel). Wendy Ward, afrigter, spreker en skrywer by Presilience, sê sy was in ’n uitbrandingkringloop vir ongeveer sewe jaar.

Verskeie faktore, soos finansiële druk, enkelouerskap, om in ’n nuwe land te wees, hoë vlakke van onafhanklikheid en ’n siening dat sy nie hulp mag vra nie, het die situasie vererger. Baie mense in vandag se samelewing ervaar ’n vorm van uitbranding – dit is ’n moderne kwaal in reaksie op ’n “diepgesetelde gebrek aan gebondenheid en ’n verlies aan die sin en betekenis van alles,” sê Ward.

Vroeë tekens

Die klein vonkies wat uiteindelik die kruitvat laat ontplof is ’n gevoel van uitputting, swak konsentrasie, vergeetagtigheid, depressie, angstigheid en om vasgevang te voel. Die persoon voel permanent oorweldig.

Mense verloor ook hulle eetlus en verloor gevolglik gewig, of hulle ooreet hulself en sit gewig aan. Slaappatrone word ontwrig en mense wat besig is om uit te brand, is geneig om geïrriteerd te wees en dit lyk asof hulle met almal skoor soek. Ward sê wanneer ’n bestuurder vermoed dat ’n personeellid vroeë tekens van uitbranding toon, kan hy die werknemer ’n paar vrae vra om te bepaal of dit inderdaad die geval is.

Monique de Villiers, Lewens- en sake-afrigter by Inner Space

Die vrae kan insluit hoeveel uur per nag hulle slaap. Vra die werknemer ook om die gehalte van hul slaap te beskryf. Ander vrae kan insluit of die werknemers glo dat hulle genoeg tyd vir hulleself het, of hulle daardie dag geoefen het, en of hulle enige planne het om te oefen. Monique de Villiers, lewens- en sake-afrigter by Inner Space, het drie keer uitgebrand voordat sy die kringloop gebreek het. Sonder die nodige hulpmiddele en vaardighede, is dit maklik om terug te val in dieselfde gewoontes wat die uitbranding veroorsaak het.

“Daar is ‘n stigma verbonde aan uitbranding en om vir mense te sê dat alles te veel word vir jou.” Op lang termyn word die vroeë tekens kronies en uiteindelik uitmergelend, sê sy.

Mense kan borspyn kry wat soos ’n hartaanval voel; hulle is dikwels duiselig en val flou, daar is ’n gebrek aan produktiwiteit en ’n afname in hul prestasie. Die liggaam se immuunstelsel word heeltemal afgetakel en die persoon is vatbaar vir siektes soos verkoues en griep en selfs longontsteking. Hulle neig om meer dikwels van die werk afwesig te wees en vir langer tye, sê sy. In die korporatiewe wêreld ondergaan daardie mense dan “prestasiebestuur” in plaas daarvan om vir uitbranding behandel te word.

“Daar is ’n stigma verbonde aan uitbranding en om vir mense te sê dat alles te veel word vir jou.”

Die herstel

De Villiers sê mense wat uitgebrand is, bereik ’n punt waar hulle nie duidelik kan fokus nie, hulle weet nie wat voorkeur moet kry nie en hulle gee nie meer om nie. Sy help hulle deur hulle week te beplan met groot klem daarop om reg te eet, goed te slaap en om te herfokus op slegs die werk wat gedoen moet word. In uiterste gevalle raak mense heeltemal onbetrokke, hulle kan nie hul emosies beheerbaar nie en hulle wend hulself soms tot selfverminking.

In sulke gevalle, beveel De Villiers mediese hulp aan om die persoon te help “stabiliseer”. “Jy het nie oornag uitgebrand nie,” sê De Villiers. “Herstel gaan nie oornag gebeur nie.” Ward het 10 fokusareas ontwikkel om mense se veerkragtigheid op te bou om óf uitbranding te voorkom as daar reeds tekens is, óf om van uitbranding te herstel en te keer dat dit weer gebeur. Innerlike veerkragtigheid sluit in geestes-, emosionele en persoonlike veerkragtigheid.

Mense moet die manier waarop hulle dink, en ook die wyse waarop hulle op situasies reageer, verander. “Om bewus te wees van ons denkpatrone en denklokvalle is ’n sleutelaspek in die opbou van veerkragtigheid.” Dit is belangrik om bewus te wees van die “innerlike kritikus en die veroordelende stem” , sê Ward.

Uiterlike veerkragtigheid hou verband met fisieke, verhoudings- en bedryfs- en finansiële veerkragtigheid waar jy leer om die gevoel van magteloosheid te bestuur. Mense moet leer om hul tyd te bestuur, om duidelike grense te stel en om nee te sê. Kernveerkragtigheid gaan daaroor om in iets groter en hoër as jouself te glo. Word nuuskierig, gemaklik, kreatief en ontwikkel weer jou intuïsie.

Geen huiswerk meer nie

Die meeste mense word in ’n gemeenskap groot waar hulle van jongs af “werk huis toe gebring het”. De Villiers sê daar is beslis tye waar dit onvermydelik is om werk huis toe te neem. Mense wat oorweldig begin voel, moet beplan watter projekte hulle kan takel. Sê nee, en delegeer beter en meer dikwels.

“Vat blaaskanse en moet jouself nie van die wal in die sloot laat beland nie.” Sy sê mense moet afskakel – en dit beteken alle rekenaars, slimfone en ander toestelle. Sosialiseer buite jou werksarea – sluit byvoorbeeld by Toastmasters aan en daag jouself op ’n ander vlak uit. “Wees versigtig oor hoe jy met jouself praat. Negatiewe selfspraak kan selfsabotasie word. Dink voordat jy met jouself praat,” sê De Villiers.

Die werklikheid

Syfers van Statistieke Suid-Afrika toon dat afwesigheid maatskappye tussen R12 miljard en R16 miljard per jaar kos. Baie daarvan hou verband met druk in die werkplek, uitbrandsindroom en werknemergesondheid. De Villiers glo internasionale maatskappye is Suid-Afrika ver vooruit wat werknemerwelsyn betref – soos om ’n toegewyde vertrek te hê waar mense kan gaan skreeu om van hulle frustrasie of woede ontslae te raak.

Ander bedien versnaperings twee of drie keer per week omdat mense nie middagete eet nie; of hulle het ’n ruimte geskep waar mense ’n private oproep kan maak, of ’n area waar werknemers oefening tydens hulle middagete kan doen. “Hou jou stelsel en omgewing dop vir giftigheid. Moenie mishandeling toelaat nie . . . as ons die hamster op die wielietjie is, sterf ’n deel van ons gees,” sê Ward.

* Stuur 'n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto’s: Verskaf, Shutterstock

Meer oor:  Stres  |  Finweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.