Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe die ekonomie, drankverbod en haweprobleme die bedryf drooggesuig het
10 September 2020

Die plaaslike mark vir alkoholiese drank het drie keer kort ná mekaar slae gekry – onder meer omdat die regering se reaksie op die koronaviruspandemie onbeholpe was.

Die bedryf het miljarde rande se verkope verloor, en duisende werkers se bestaan word bedreig. “Die waarde van verkope wat die hele bedryf weens die eerste en tweede verbod verloor het, bedra sowat R25 miljard,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van die South African Liqour Brands Owners Association, aan finweek.

“Net meer as die helfte daarvan is vir bier (R14 miljard), gevolg deur drinkgereeddrankies (R4,4 miljard), wyn (R3,5 miljard) en spiritualieë (R3,4 miljard).” Distell alleen, die land se tweede grootste genoteerde drankprodusent, het gedurende die verbod R4,3 miljard se verkope verloor, of volume van sowat 100 miljoen liter, volgens Richard Rushton, uitvoerende hoof van die Stellenbosse maatskappy, in ’n konferensieoproep met beleggers op 26 Augustus.

Die eerste verbod was tussen 27 Maart en 31 Mei, en die tweede tussen 13 Julie en 17 Augustus. Dit was egter meer as net die twee inperkingverbiedinge wat die mark vir alkoholiese drank getref het. Die drie slae vir die bedryf was: eerstens ’n verbruiksafname voor Covid omdat verbruikers minder bestee het in ’n sukkelende ekonomie – weens die regering se wanbestuur van die land se ekonomie; tweedens die twee verkoopsverbiedinge; en derdens die gesloer van bedrywighede op die Kaapse hawe – wat moontlik plaaslike wynmakers hul gewaardeerde uitvoermarkte, veral in Europa, kan kos.

Slag 1: Verbruikers onder druk

Namate Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar ineengestort het – en sakeondernemings, verbruikers en buitelandse beleggers vertroue in die regering se hantering van die vasteland se gevorderdste ekonomie verloor het – het verbruikers hul besteding begin inperk.

Die situasie is vererger deur die toename in werklose mense, die blootstelling van regeringgekoppelde korrupsie, en die verlies aan politieke vertroue, soos uit die laagste stempersentasie in ’n nasionale verkiesing in Mei verlede jaar blyk.

Voeg daarby die dooie punt tussen die monetêre en fiskale owerheid, met eersgenoemde wat eis dat laasgenoemde strukturele ekonomiese veranderinge instel – omdat ’n sentrale bank nie al die verantwoordelikheid vir die ekonomie kan dra nie – en verbruikers was in ’n wanhopige finansiële dilemma. Die vraag na onder meer wyn het teen dié agtergrond begin krimp.

“Plaaslike wynverbruik het in 2018 en 2019 reeds afgeneem (met 4% en 7%) weens minder besteebare inkomste en hoër pryse. In 2020 sal die plaaslike verbruik van stil wyn na verwagting met tot 19% afneem,” het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) in sy basislynvooruitsigte vir landbou vir vanjaar tot 2029 gesê. Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van KWV, ’n maatskappy wat 102 jaar oud is en vir baie Suid-Afrikaners ’n instelling is, sê aan finweek: “Wynverkope het in die tweede helfte van verlede jaar pyn begin ondervind.”

Oestyd by Raka Wines

Volgens hom het die wynbedryf verkoopspryse verlede jaar verhoog weens die ekonomiese inkrimping. Prysverhogings is hoofsaaklik aangevuur deur die uitgerekte droogtetoestande, Daarby het smaakverskille ook verbruikspatrone beïnvloed voordat die pandemie toegeslaan het. Die afname in brandewynverbruik, ’n strydros onder plaaslike spiritualieë, is deur die jare goed aangeteken namate verbruikers in die afgelope dekade na ingevoerde whiskies oorgeskakel het. En die pad na herstel kan lank wees. Die BFAP skat dat wynverbruik in die tydperk tot 2029 jaarliks met 1% sal toeneem.

“Die lae en basiese pryssegmente in die stilwynkategorie verteenwoordig die leeueaandeel van verbruik volgens volume, en die grootste deel van die daling word ook aan dié kategorieë toegeskryf,” sê die BFAP. “Dié kategorieë word gewoonlik deur laerinkomsteverbruikers gebruik, en kry deurlopend sterk mededinging deur bier in die kompleks van alkoholiese drank.” Josef Dreyer, lid van die familie wat Raka

Josef Dreyer, lid van die familie wat Raka Wines naby Caledon in die Overberg besit

Wines naby Caledon in die Overberg besit, sê aan finweek: “Ons is bang vir die ekonomie. Wyn is ’n luukse en mense gaan goedkoper drink.”

Slag 2: Die drankverbod

Wat die eerste verbod so erg gemaak het, was dat dit by die hoogtepunt van baie wyn- en drankprodusente se bedryfskapitaalpiek was. “Hulle kon nie ’n slegter tyd gekies het nie,” sê Lloyd. “Dit sal verskeie jare neem om die bedryf te herbou en sommige verkope sal nooit

Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van die KWV

herwin word nie.”

Die verbod is ingestel net toe die vervaardigers van alkoholiese drank wat druiwe as bestanddeel gebruik (veral wyn- en brandewynmakers) hul insette gekoop en hul kredietgeriewe ten volle benut het om produsente (meestal boere) te betaal. Einde Maart is gewoonlik die piek van die druiweoesseisoen in die Wes-Kaap, terwyl die Noord-Kaap se oes ’n week of twee vroeër afgehandel word.

“Die uitwerking was ongelooflik sleg, veral die tydsberekening,” sê Lloyd. “Ons koop (ons voorraad) tussen Januarie en Maart, en presies op die hoogtepunt van ons bedryfskapitaalsiklus is verkope gestop.” Dit het veroorsaak dat KWV nie teen einde April vir sy insette en ander verskaffers kon betaal nie, en hy moes betalingsooreenkomste met krediteure aangaan, sê hy.

Charl du Plessis, uitvoerende hoof van Oranjerivier Wynkelders

Oranjerivier Wynkelders (OWK), die tweede grootste kelder in die suidelike halfrond en steeds ’n koöperasie, het dieselfde moeilike ervaring as KWV gehad – sy vroeër wetlik-verpligte aankoper van sogenaamde rabatwyn (wat gebruik word om brandewyn en ander gefortifiseerde spiritualieë te maak). “Almal se voorraad het met die verbod verdubbel,” sê Charl du Plessis, uitvoerende hoof van OWK, aan finweek.

“Die aanbodkant van die mark het só toegeneem dat pryse ineengestort het.” OWK van Upington moes betalings aan sy lede uitstel en verminder, sê hy. “Ons produsente het sedert Maart geen kontantvloei gehad nie en ons trek al in September,” sê Du Plessis. Daarby is die strewe na swart bemagtiging in die wynbedryf ook deur die regering se verbod op alkoholverkope benadeel.

“Swart produsente het in sekere gevalle reeds groot mates wyn in voorraad wat teen ’n sekere waardasie of bedrag op ’n balansstaat gerapporteer word,” sê Phil Bowes, bestuurder vir ondernemingsontwikkeling van Vinpro, aan finweek. “In ’n surplussituasie laat dit hulle in ’n moeilike posisie wanneer dit kom by aansoeke vir befondsing by die regering, banke of die bedryf aangesien die voorraad se waarde onseker is.”

Swart handelsmerke probeer hoofsaaklik in die laer superpremiumprysklas meeding, sê Bowes. Met laer pryse weens oorskotvoorraad is hul marges uitgewis en hul sakemodel sal waarskynlik vernietig word, volgens hom. “Sonder bystand sal amper alle swart handelsmerke wat op die plaaslike mark verkoop, moet toemaak,” sê hy.

Die uitwerking op werksgeleenthede is doodgewoon erg. Waar OWK byvoorbeeld in die oesseisoen gewoonlik 250 tydelike werkers gebruik, het hy vanjaar niemand aangestel nie, sê Du Plessis. KWV het alle vakante poste gevries en nie tussen 40 en 50 tydelike werkers gebruik nie, sê Lloyd en voeg by dat salarisverlagings van tussen 10% en 35% ingestel is, afhangend van die posvlak.

Distell sal in September deur die bank salarisveragings van 10% vir SA werknemers en 12,5% vir bestuurslede instel. Vinpro skat dat die wynbedryf in die volgende 18 maande tot 80 wynkelders, 350 druiweprodusente en 21 000 werksgeleenthede kan verloor. Die uitwerking van die plaaslike alkoholverbod kan in die internasionale broureus AB InBev se resultate vir die tweede kwartaal gesien word. Dis egter onduidelik hoe groot SA se bydra tot die bateafskrywing was. Hy het nie op ’n versoek om ’n onderhoud gereageer nie.

“Ons was egter blootgestel aan ’n afskrywingrisiko vir die kontantskeppende eenhede in SA en die res van Afrika in die slegste scenario, en ons gevolgtrekking was dat dit wys is om ’n niekontantafskrywing van klandisiewaarde van $2,5 miljard te gebruik, met ’n waarskynlikheid van 30% dat dit in die slegste scenario sal gebeur,” het die brouer op 30 Julie by die uitreiking van sy resultate vir die drie maande tot 30 Junie gesê. Hy reken dus dat ’n moontlikheid van 30% bestaan dat die regering drankverkope weer sal verbied.

Slag 3: Die hawegemors

Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wines of SA

Om skande by die skade te voeg, het die Kaapse hawe, ’n filiaal van die staatsonderneming Transnet, amper die uitvoer van alkoholiese drank gestaak nadat die bedryf in Junie weer hul produkte kon vervaardig en versend het. “Die groot aantal positiewe Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap sedert die begin van die landwye inperking het tot die onderbreking van normale bedrywighede by die Kaapstadse houerterminaal bygedra,” het Oscar Borchards, waarnemende terminaalbestuurder, op vrae van finweek geantwoord.

“Ons merk nou ’n algehele gebrek aan vaartuie wat wag om te anker, en anker vaartuie nou by aankoms.” Tydens die strengste vlak van die regering se inperking het tot 11 vaartuie vir diens gewag, sê hy. Dit het die bedryf vir alkoholiese drank, veral wynprodusente wat op uitvoer staatmaak, duur te staan gekom. SA wynmakers voer amper die helfte van hul produksie uit. Die sektor verskaf regstreeks werk aan 40 000 mense en dra baie tot die land se positiewe handelsbalans vir landbougoedere by, volgens die BFAP.

“Die uitwerking op die SA wynbedryf weens Covid-19-verwante vertragings by die Kaapstadse haweterminaal was beduidend,” sê Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wines of SA (WoSA), aan finweek. “Hulle het ’n ruk lank na force majeure gepleit en soms die hele terminaal ’n ruk lank gesluit. Dit het tot groot vertragings gelei, met skepe wat nie kon dok nie, en mettertyd het ’n aantal skeeprederye besluit om die Kaapse hawe heeltemal te vermy.”

Vinpro skat dat die wynbedryf in die volgende 18 maande tot 80 wynkelders, 350 druiweprodusente en 21 000 werksgeleenthede kan verloor.

Die Wes-Kaapse regering het ingespring om gesprekke oor die agterstand op die hawe te bevorder. “In die geval van die hawe het die (provinsiale departement van landbou) met ander staatsentiteite in die provinsie (soos Wesgro en die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme) gekoördineer in die gesprekke met die haweowerheid,” sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, in antwoord op vrae van finweek.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou

“Dis nou duidelik dat die meeste van die versperrings wat bestaan het, uitgeskakel is, en die bedrywighede keer terug na normaal.” Al word die vertragings by die hawe uitgeklaar, sal die regering se verbod op die produksie en uitvoer van alkohol ’n toekomstige uitwerking hê. Die meeste van die uitvoerwynmakers en plaaslike spiritualieëprodusente het toegewyde rakspasie in Europese supermarkte.

“Die uitvoer is rampspoedig, en die skade sal aanstaande jaar duidelik word,” sê Lloyd. “Ons loop die gevaar om tot 20% van ons verkope in sleutelmarkte deur onttrekkings te verloor. Ons was nie op die rakke nie; verbruikers het ander handelsmerke gekoop, en kleinhandelaars het ander verskaffers gekry.” Rushton sê tydens die haweversperring kon Distell omtrent die helfte van sy uitvoerbestellings nie uitvoer nie, en baie klante het hul bestellings gekanselleer. “Dit raak beter, maar nie soos dit vroeër was nie,” sê hy.

Calow sê WoSA het taamlik suksesvol met invoerders, agente en kleinhandelaars in die buiteland gekommunikeer dat die vertragings nie was omdat SA produsente onbetroubare uitvoerders is nie, maar omdat hulle nie toegelaat is om wyn uit te voer nie. Nadat die verbod opgehef is, het die vertragings by die hawe ’n bykomende kwessie vir produsente veroorsaak, sê sy.

“Dit hou in die uiters mededingende kleinhandelomgewing van internasionale wyn die moontlikheid in om rampspoedig vir ons produsente te wees, want kleinhandelaars kon na hartelus uit ons mededingermarkte kies om die rakspasie te vul,” sê Calow. Du Plessis van OWK som die situasie op: “SA word struktureel onstabiel. Ons kon nie eers daarin slaag om twee uitvoerhouers op ’n skip te kry gedurende die afgelope vyf weke nie. Ons is basies deur ons klante meegedeel dat hulle die (uitvoer-)program volgende jaar gaan kanselleer.”

“Sonder bystand sal amper alle swart handelsmerke wat op die plaaslike mark verkoop, moet toemaak.”

Wat nou?

Met SA se ekonomie meer bedruk as voor die pandemie en met internasionale verkope wat in die gedrang gebring is deur die regering se klaarblyklik slegdeurdagte uitvoerverbod, sal die bedryf tyd nodig hê om te herstel. Distell, waarvan die aandeelprys vanjaar met 44% gedaal het, het ’n veglus om verlore verkope te verhaal.

Lucas Verwey, finansiële hoof van Distell

“Ons wag nie dat die ekonomie ons help nie,” het Ruston in die oproep met beleggers gesê. “Ons sal werk om ons markaandeel te beskerm. Ons sal ons premiumspiritualieë wêreldwyd aandryf.” Lucas Verwey, finansiële hoof van Distell, sê iets wat ander bedryfspelers ook noem: “Daar is opgehoopte vraag.” In Namibië, wat ’n korter alkoholverbod gehad het, is Marco Wenk, uitvoerende hoof van Namibia Breweries, versigtig optimisties oor die vraag.

“In Namibië was daar ’n geweldige toename nadat die verbod opgehef is.” (Lees ook die kassie.) Hy noem die voorbehoud dat dié land nou die piekfase van koronavirusinfeksies betree, terwyl SA dit verbygesteek het. Volgens Wenk is die vraag hoe drank se verkoopsdinamiek geraak sal word deur verbruikers se vermoë om aan alkoholiese drank te bestee, en hoe die beperkings om die pandemie in Namibië te beveg, verbruikspatrone sal verander. “Ons probeer dit nog verstaan,” sê hy.

Vir ’n wynmaker wat die meeste van sy aandag aan die plaaslike mark gee, sê Dreyer van Raka Wines dat sy familie se onderneming dit nou dalk sal oorweeg om wyn uit te voer. Hulle verkoop volgens hom tans net 10% van hul produksie in die buiteland. Ander, soos OWK, moet intussen hul ooraanbodsituasie hanteer. Met een van die min sapkonsentraataanlegte in die land, en as een van die grootste vervaardigers van die produk, beplan die kelder nou om sowat 80% van die volgende seisoen se oes te gebruik om die konsentraat te maak, sê Du Plessis.

Sowat 96% van OWK se wynproduksie is witvariëteite. Lloyd van die KWV beklemtoon die regstreekse verband tussen ekonomiese groei en die vraag na hul produkte – waar ekonomiese inkrimping dalende vraag tot gevolg het. “Ons verwag ’n volumeafname van 5% tot 10% aanstaande jaar, maar sal dit dalk met moontlike prysverlagings en mededingervolumes op verlede jaar se vlakke hou,” sê hy.

“Dan sal daar egter natuurlik druk op die omset en marges wees.” Lloyd se ontleding sal dalk al redding vir groot spelers in die alkoholbedryf wees. Probleme lê voor vir die produsente – van wynmakers tot boetiekbierbrouers en groot distilleerders – wat slegs op SA en sy swak ekonomiese uitkomste steun. Vinpro se skattings sal dalk selfs hul voorland wees.

Om egter met ’n Distell-soort houding na die uitvoermarkte terug te keer, sal dalk oorlewing verseker. Die regering se giere sal egter bepalend wees. Soos Rushton oor sy maatskappy sê (en wat op die hele bedryf van toepassing is): “Ons weet nie waar dit sal eindig nie.” ¦ terugvoer@finweek.co.za

“Die uitvoer is rampspoedig, en die skade sal aanstaande jaar duidelik word.”


Aksynsbelasting verloor

Die fiskale ellendes van Suid-Afrika se regering, waarvan die skuld nie as beleggingsgraad gegradeer word nie weens internasionale beleggers se vrees oor sy vermoë om dit terug te betaal, het met die drankverbod net vererger.

Die waarde van belasting- en aksynsverliese word op gelykstaande met R25,1 miljard geraam omdat die geld deur die hele waardeketting sou vloei – van boer tot produsent tot die eindverbruiker.

“Die eerste en tweede verbod sal ’n vermindering van sowat R19,4 miljard in belastinginkomste (aksynsbelasting uitgesluit) tot gevolg hê, en ’n vermindering van sowat R5,7 miljard in aksynsbelasting,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van die SA Liquor Brand Owners Association. 


Die brouer se skok

Suid-Afrika se groot broubedryf – die 12de grootste ter wêreld volgens die Beer Association of SA (Basa) – skets ’n droewige prentjie van die sektor in ’n verklaring van middel Augustus. SA Brouerye (SAB), Heineken en die Craft Brewers Association is van die vereniging se lede.

“Baie ondernemings in die bierbedryf het steeds nie van die eerste verbod van 27 Maart tot 31 Mei herstel nie, waaronder 8 000 gelisensieerde tavernes en 30% van boetiekbrouerye wat bankrot gespeel het,” sê Patricia Pillay, uitvoerende hoof van Basa in die verklaring. “Die tweede verbod, wat op 13 Julie van krag geword het, het nog 15% van boetiekbrouerye en duisende tavernes gedwing om permanent te sluit.

Dis ’n tragedie van epiese omvang, veral omdat 54% van tavernes besit word deur vroue wat hul gesinne onderhou.” En dis nie net werksgeleenthede wat verloor is en groothandelklante wat gedwing is om te sluit nie. Die vereniging verwys daarna dat SAB kapitaalinfrastruktuurverbeterings ter waarde van R2,5 miljard in dié boekjaar gekanselleer het en nog R2,1 miljard se beplande besteding vir die volgende boekjaar heroorweeg.

Heineken SA, ’n gesamentlike onderneming waarin Namibia Breweries ’n belang van 25% besit, het planne uitgestel vir ’n broueryuitbreiding van R6 miljard in KwaZulu-Natal wat werk aan 400 werklose mense sou verskaf het, sê Pillay.

Die 100-jarige Namibia Breweries (eienaar van handelsmerke soos Windhoek Lager en Tafel Lager) het in sy boekjaar tot 30 Junie verlede jaar ’n derde van sy biervolume in die SA mark verkoop, luidens die jaarverslag van die maatskappy, wat op die Namibiese aandelebeurs genoteer is. Hy verkoop 64% van sy volume in sy tuismark, met die res wat in Zimbabwe, Zambië en Tanzanië verkoop word, luidens die verslag.

Marco Wenk, uitvoerende hoof van Namibia Breweries, sê in ’n onderhoud met finweek dat die drankverbod in SA weens die Covid-19-pandemie na verwagting ’n “beduidende uitwerking” gehad het op die volume wat aan sy SA vennoot verkoop is. Dit is hoofsaaklik te wyte aan Heineken SA se vermoë om aan die SA vraag te voldoen deur dit plaaslik te vervaardig eerder as om vanuit Namibië in te voer. Die volume wat na SA uitgevoer word, sal in die afsienbare toekoms waarskynlik tot tussen 20% en 25% van die uitset afneem, skat hy.

NBL Investment Holdings (wat omtrent om die helfte deur die Namibiese beleggingsgroep Ohlthaver & List en die Nederlandse brouer Heineken besit word) besit 59,4% van Namibia Breweries, en openbare aandeelhouers die res. Die aandeel, wat selde verhandel word, het van N$48,26 begin vanjaar tot N$29,01 by die skryf hiervan gedaal.

“Ons verwag dat ons Sedibeng-aanleg op medium termyn meer kapasiteit sal hê as wat hulle normaalweg sou gehad het,” sê Wenk. Die oorkapasiteit wat Wenk noem, het nog ’n gevolg, en dit is op garsboere. Gars en hop is sleutelbestanddele vir die brou van bier.

Graan SA se verslag van 27 Augustus oor die vraag en aanbod van wintergraan toon dat ’n garsoes van 345 080 ton vir die huidige bemarkingsjaar (tot 30 September vanjaar) verwag word. SA het op 1 Oktober verlede jaar aanvangsvoorraad van 268 405 ton gehad.

As daar vir ’n vraag van 364 500 ton in die huidige bemarkingsjaar voorsiening gemaak word, sal SA oodragvoorraad van 248 985 ton hê wanneer die nuwe bemarkingsjaar op 1 Oktober begin. Dis onseker of die vraag vir menslike verbruik (veral vir brouersgars) reeds by Graan SA se voorspellings ingereken is.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) sê garspryse “word steeds van koringpryse afgelei en sal daarom na verwagting styg, maar met dié dat moutbedrywighede op vlak 4 en 5 van die Covid-19-inperking verbied is, het die voorraadvlak drasties toegeneem.”

Volgens Graan SA se skattings sal SA tog teen einde September aanstaande jaar ’n garsoorskot van 329 201 ton hê. Josef Dreyer, lid van die familie wat Raka Wines besit en gemengde boerdery toepas, wys op die onsekerheid van garsproduksie. “Ons saai gars op 1 200 hektaar, en die huidige oes is reeds aan SAB verkoop. Ons weet nie hoe die volgende seisoen sal lyk nie,” sê hy aan finweek

Foto’s: Verskaf, Shutterstock, www.twitter.com, www.wineandfood.co.za, www.distell.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.