Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe lank bly topaandele bobaas?
7 November 2019

'n Vriend het onlangs enkele bladsye uit ou finansiële publikasies van die vroeë 2000’s getwiet. Wat ons albei opgeval het, was dat die meeste van die aandele wat minder as 20 jaar gelede daar genoem is, nie meer bestaan nie.

Binne slegs twee dekades is hulle oorgeneem of, soos meesal die geval was, het hulle eenvoudig gedenoteer en die JSE verlaat. Ek onthou ook ’n handboek van die JSE uit die mid-1980’s wat ek enkele jare gelede onder oë gehad het en wat die Top40-aandele van destyds bevat het.

Weereens is baie min van die aandele wat toe genoem is, steeds genoteer. Dit het my aan die dink gesit oor twee goed. Eerstens laat dit mens wonder: Is dié situasie eie aan Suid-Afrika? En tweedens, hoe moet dié inligting ons help met ons besluitnemingsproses oor langtermynbeleggings?

Met ’n bietjie soek kon ek navorsing opspoor van QAD oor hoe lank die gemiddelde S&P 500-maatskappy in daardie indeks bly. Daar is twee waarnemings. Die belangrikste is dat die aandele in daardie indeks tans vir ’n ál korter tydperk daar bly, nadat dié tydperk ’n hoogtepunt bereik het in die mid-1990’s. Toe het maatskappye gewoonlik vir langer as 60 jaar in die indeks gebly.

In baie opsigte is dit die wese van belegging – om daardie langdurige wenners te vind.

Die korter tydperk van vandag het wel effens gerek in die vroeë 2000’s, net ná die dotcom-inploffing. Die verwagte tydsduur staan nou op sowat 20 jaar – wat ’n mens sou reken ’n taamlike kort lewensduur is.

Natuurlik verdwyn die aandele wat die S&P 500 verlaat nie heeltemal nie. Hulle bly gewoonlik genoteer, maar hulle is miskien kleiner en bevind hulle daarom in ’n indeks vir midkap-aandele.

Die skrywers van die verslag meld ontwrigting as een van die belangrikste redes vir aandele se korter lewensduur in die indeks. Hoewel dit sinvol klink, meen ek dit het ook te make met party van die uiters spekulatiewe aandele wat in die indeks opgeneem is voordat hul waardasies hard teruggebring is aarde toe (dink byvoorbeeld aan die opbloei van dotcom-aandele in Amerika en hulpbronaandele in Suid-Afrika in 2007). Maar wat ook al die rede, dit wys wel dat ons plaaslike JSE nie die enigste is waar aandele uit die indeks sowel as uit die beurs self val nie.

Die tweede en groter kwessie is hoe ons ’n ware langtermynbelegging aanpak in ’n wêreld waar aandele gedurig verdwyn of, op sy beste, hul glans en waardasies verloor? In baie opsigte is dit die wese van belegging – om daardie langdurige wenners te vind. Die idee is om uitmuntende aandele te koop en diep in jou laai weg te bêre, en eers dekades daarna weer na hulle te kyk en dan uitmuntende opbrengste te sien.

Dit is die teorie, maar in die praktyk is dit nie so maklik nie – soos die navorsing hierbo toon. Eerstens moet ’n mens spekulatiewe en sikliese aandele vermy. Ja, soms doen hulle fantasties, maar hul gebrek aan konsekwentheid kan gate in jou portefeulje los wanneer die slegte tye aanbreek en aandele tuimel (of denoteer).

Ons moet ook ’n proses volg om nou en dan seker te maak ons aandele is steeds die uitmuntende langtermynbeleggings wat hulle aanvanklik was. Ek gebruik die kontrolelysie wat ek opstel wanneer ek ’n aandeel vir die eerste keer koop en verwys daarna terug om te verseker die aandeel bly die goeie belegging waarin ek belê het. Ek kontroleer dat my redes waarom ek gekoop het geldig bly.

Nog ’n manier is om jou navorsing opnuut te doen en te kyk of jy die aandeel steeds vandag sou koop, mits die waardasie is hoeveel jy bereid is om te betaal. Laastens is dit belangrik om te noem dat baie van die mislukkings op ons beurs klein- en middelkapitalisasie-aandele was. Dit maak sin, want daar is gewoonlik groter risiko aan kleiner aandele verbonde.

Ek bestuur dié risiko deur meesal op groot aandele te konsentreer, met ’n geringe aantal kleiner aandele wat ek met ’n arendsoog dophou en gewoonlik minder as ’n dekade lank hou. Ek koop hulle met ander woorde met die verwagting dat ek hulle eendag moet verkoop en dan monitor ek hulle om te kyk wanneer ek moet verkoop.

* Stuur'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Beleggings  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.