Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe maatskappye geldgeheime dig hou
13 September 2018

Daar is toenemende kommer oor die finansiële tol wat belastingtoevlugsoorde wêreldwyd van ekonomieë en hul begrotings eis. Narvorsing wys dat hulle ongeveer 10% van wêreld- ekonomiese uitset verberg en die rykdom van bykans een derde van individue met ’n netto waarde van meer as $45 miljoen insluit.

Dié ramings is moontlik konserwatief want minstens 366 maatskappye in die Global Fortune 500-indeks bedryf een of meer filiale in belastingtoevlugsoorde, volgens ’n 2017-verslag van die Institute on Taxation and Economic Policy, ’n dinkskrum wat in Washington gesetel is.

Die omvang van bates wat in dié belastingtoevlugsoorde gehou word, kan meer as $21 000 miljard beloop. Ontledings van navorsingsfirmas in Denemarke en Amerika wys dat 11 belastingstoevlugsoorde verlede jaar alleen $616 miljard in korporatiewe wins geabsorbeer het, soos wat maatskappye wetlike skuiwergate gebruik het om geld uit lande met hoër belastingkoerse te skuif. Die uitwerking van belastingontduiking is erger op ontwikkelende lande met wydverspreide armoede.

Gabriel Zucman, Franse ekonoom

Die Franse ekonoom, Gabriel Zucman, bereken dat 30% van die rykdom in Afrika in die buiteland versteek lê – wat ongeveer $14 miljard aan verlore belastinginkomste verteenwoordig. Maar ondanks die grootskaalse onthullings wat die omvang van die misbruik oor die afgelope paar jaar toon, is daar klaarblyklik min politieke wil om toe te slaan op geheimhouding wat dié oorde aan maatskappye, ryk individue en misdadigers bied.

Verlede jaar in Desember, kort na die bekendstelling van die sogenaamde “Paradise Papers”, het die Europese Unie (EU) 17 lande in sy eerste swartlys van belastingtoevlugsoorde ontbloot en 47 gewaarsku. Lidlande kon egter nie ooreenkom oor sanksies teen die oortreders nie en die internasionale drukgroep, Tax Justice Network, het die lys as ’n “tandelose kwytskelding" beskryf.

Die EU besef dat talle van sy eie lede – Ierland, Malta, Ciprus, Luxemburg en Nederland ook betrokke is. Nie een van dié lande is op ’n swartlys geplaas nie en kritici meen die blok spits hom net op kleiner lande toe.

Brittanje het verlede jaar onder skoot gekom ná die bekendstelling van die Paradise Papers, ’n stel van 13,4 miljoen vertroulike elektroniese dokumente van die regsfirma, Appleby, wat met die Internasionale Konsortium van Ondersoekende Joernaliste gedeel is.

Wilbur Ross, Amerikaanse minister van handel

Dié lekkasie, kort ná die bekendstelling van die Panama-dokumente in 2016, toon dat Brittanje se belastingtoevlugsoorde deur onder andere die koningin en Donald Trump se minister van handel, Wilbur Ross, gebruik word. Die eerste minister, Theresa May, het gevra vir “meer deursigtigheid”, maar wou haar nie verbind tot ’n openbare ondersoek of om registers van dopmaatskappye en geheime familietrusts oop te stel nie.

Kort na die bekendstelling van die sogenaamde “Paradise Papers”, het die Europese Unie 17 lande in sy eerste swartlys van belastingtoevlugsoorde ontbloot en 47 gewaarsku.

Daar is dosyne belastingtoevlugsoorde wêreldwyd en daar is verskille oor wie die belangrikste is. Tax Justice Network se nuwe finansiële geheimhoudingsindeks het Switserland geïdentifiseer as die wêreld se grootste belastingtoevlugsoord, gevolg deur Amerika en die Kaaimanseilande.

En volgens ’n ontleding van Consultancy.uk is Ierland die grootste ontvanger van verskuifde korporatiewe wins met $106 miljard, gevolg deur die Karibiese Eilande met $97 miljard, Singapoer met $70 miljard, Switserland met $58 miljard en Nederland met $57 miljard.

Daar is nuwe bewyse dat belastingtoevlugsoorde moontlik ook maatskappye beskerm wat skade aanrig aan die omgewing en wat tot aardverwarming bydra. Navorsers van die Stockholm Resilience Centre het ontdek dat meer as twee derdes van buitelandse kapitaal wat tussen 2000 en 2011 in Brasilië se soja- en beesvleissektor belê is – wat vereenselwig word met die ontbossing van die Amasone – van korporatiewe filiale in belastingtoevlugsoorde kom.

Die sentrum se verslag wat vroeër vanjaar vrygestel is, het ook bekend gemaak dat 70% van vissersbote wat by onwettige, onaangemelde of ongereguleerde bedrywighede betrokke was, in belastingtoevlugsoorde geregistreer is. Ontleders wys daarop dat dit ’n opdraande stryd is om belastingtoevlugsoorde deursigtiger te maak weens gevestigde belange.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling – ’n groep van hoofsaaklik ryk lande – het ’n nuwe raamwerk saamgestel vir die outomatiese uitruil van inligting, maar een lid – Amerika – het geweier om inligting van buitelanders met bates in die land aan ander belastingowerhede bekend te maak.

Een van die uitdagings is dat dit vir kleiner lande ’n goedkoop en doeltreffende manier is om ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Mauritius is ’n voorbeeld hiervan – volgens ramings van die Verenigde Nasies, vloei $30 miljard tot $60 miljard jaarliks uit Afrika na dié eilandgroep, wat ’n belastingkoers van 15%, maar effektiewe koers van 3% het.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

* Foto's: Gallo Getty Images/Win McNamee, www.gabriel-zucman.eu

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.