Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe ’n maatskappy se skuld sy aandeelhouers kan knou
21 Maart 2019

Maatskappyskuld is nie noodwendig ’n probleem nie, maar wanneer dit handuit ruk, kan dit vir aandeelhouers rampspoedig wees. Daarom is dit noodsaaklik om skuldvlakke fyn dop te hou. 

Foto: Shutterstock
Foto: Shutterstock

Hier skryf ek oor Warren Buffett se jaarlikse brief aan aandeelhouers in Berkshire Hathaway, maar iets waaroor hy praat verdien meer spesifieke aandag: skuld.

Beter winste vir ’n sakeonderneming kom uit ’n verbetering van marges, produkreekse en algemene markgroei. Soms groei ’n sakeonderneming egter deur skuld of ekwiteit.

Om skuld te gebruik, werk gewoonlik goed. Jy leen byvoorbeeld geld teen 10% en koop of ontwikkel ’n bate wat 12% oplewer – só het jy sommer dadelik ’n voorsprong.

Die gevaar lê natuurlik in veranderings in rentekoerse of laer as verwagte opbrengste. In onlangse tye op die JSE het ’n klomp maatskappye groot verkrygings of projekte aangepak wat uiteindelik meer gekos en minder gelewer het as wat beloof is – en ook langer vat om aan die gang te kom.

Skuld help sekerlik vir sappiger aandeelhouersopbrengste, maar in sy brief verwys Buffett na “ ’n element van Russiese roulette – wen gewoonlik, sterf dan en wan”. Met ander woorde, wanneer skuld werk is dit wonderlik; winste groei en die bestuur en aandeelhouers word beloon.

Van tyd tot tyd droog krediet egter op, die koste van skuld skiet die hoogte in en dinge stort in duie. Dikwels met noodlottige gevolge. Let wel, dié noodlottige gevolge tref die maatskappy en aandeelhouers. Die bestuur maak dat hulle wegkom en pak die volgende avontuur aan, gewoonlik met die beloning wat hulle verdien het terwyl die skuld opgestapel en die maatskappy uiteindelik lamgelê het.

As beleggers moet ons die skuldvlakke in die aandele wat ons besit, versigtig dophou, selfs wanneer dit goed gaan. Miskien juis wanneer dit goed gaan, want wanneer dit begin sleg gaan, is dit eenvoudig te laat om iets te doen. Daar is natuurlik ’n uitkoms uit buitensporige skuld: dikwels ’n groot regte-uitgif.

Dit kan bestaande aandeelhouers se bates óf verwater óf vereis dat hulle meer geld in die onderneming steek in die hoop dat dit lank genoeg sal oorleef om hulle te beloon. Nie ’n ideale situasie nie.

Daar is twee maniere om skuld in die oog te hou. Die eerste is deur ’n skuld-tot-ekwiteit-verhouding, wat bloot die skuld op die maatskappy se balansstaat met die ekwiteit vergelyk. Jy vergelyk dié syfer dan met vorige jare en met die maatskappy se eweknieë in die sektor om ’n idee van sy skuldlas te kry.

Wanneer skuld werk is dit wonderlik; winste groei en die bestuur en aandeelhouers word beloon. Van tyd tot tyd droog krediet egter op, die koste van skuld skiet die hoogte in en dinge stort in duie.

Styg dit of daal dit, en hoekom? Dié verhouding behoort af te neem namate ekwiteit toeneem en skuld afbetaal word. Dit is behalwe wanneer nuwe skuld vir ’n projek aangegaan word. Om ’n idee te kry van hoe hanteerbaar die skuldlas is, kan jy dan die rentedekking bekyk: die rentebetaling gedeel deur die wins voor rente en belasting.

’n Vlak van 1,5 keer of laer moet ’n paar waarskuwingsligte laat flikker, want ’n afname in verdienste kan veroorsaak dat die maatskappy sukkel om sy skuld af te betaal en dan na daardie regte-uitgif mik.

Nog ’n syfer om in aanmerking te neem, is die bedryfsverhouding, wat die bedryfsbates met die bedryfslaste vergelyk. (Bedryfsbates of -laste is binne die volgende twaalf maande aflosbaar of betaalbaar.) As die bedryfslaste die bedryfsbates oorskry, flits nog meer waarskuwingsligte.

’n Laaste ding om na te kyk, is die skuldprofiel, soos in die jaarverslag uiteengesit. Dit dui aan wanneer die skuld verstryk en moontlik hernu moet word, en sal ook skuldooreenkomste uiteensit wat, indien dit verbreek word, kan maak dat uitleners die skuld opvra. Skuld kan op stuk van sake nuttig wees, maar dit kan eweneens ’n spel van Russiese roulette wees waarin aandeelhouers die slagoffers is – hou dit dus goed dop.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Skuld  |  Finweek  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.