Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe Naspers opbrengste van portefeuljes raak
30 November 2017
Jennifer Henry

Die internet- en mediareus, Naspers, verteenwoordig bykans ’n kwart van die JSE se aandeelbeswaarde indeks. Wat beteken dit vir diegene wat die mark wil klop?

As multibestuurder het ek die uitwerking van die stygende prys van Naspers* se aandeelprys op fondsbestuurders se beleggings- opbrengste gesien. Party bestuurders het vroeg in- en uitgeklim, veral toe die aandeelprys ’n hoogtepunt bereik het en bestuurders wins geneem het. Dié bestuurders het daarna weer van die aandele gekoop teen hoër vlakke.

Talle bestuurders soek na wat hulle as “waarde” in ’n aandeel beskou. Waarde-aandele is daardie aandele wat goedkoper gekoop word as tot waar sy ware waarde, volgens die bestuurder, kan groei. Talle sal meen dat Naspers te duur is omdat dit teen ongeveer 140 keer sy historiese verdienste verhandel. Om te vergelyk, die JSE se Aandeelbeswaarde Indeks (Swix) verhandel teen ongeveer 21 keer.

Naspers verteenwoordig tans 24% van die Swix en die vraag op talle bestuurders se lippe is wat gebeur indien die aandeelprys steeds styg. Wanneer Naspers se aandeel met 70% styg, wat dit oor die afgelope jaar gedoen het, raak ’n portefeulje met geen blootstelling nie bykans 16,8% agter. Dit beteken die fondsbestuurder skop af met ’n agterstand van 16,8% vergeleke met die maatstaf. Selfs ’n briljante fondsbestuurder sal dit moeilik vind om dié agterstand in te haal.

Aangesien beleggers bewuster geraak het van hoe die mark presteer, vergelyk hulle bestuurders met maatstawwe soos die Swix. Selfs kontrabestuurders of “onbeperkte” bestuurders word deur Naspers se oorheersing beïnvloed. ’n Wesenlike aantal kontrabestuur- ders wat nie voorheen in Naspers belê het nie, het nou blootstelling aan die aandeel. Hulle noem dit die bestuur van “maatstafrisiko”. Hulle verhoog hul blootstelling aan ’n aandeel vanweë sy oorheersing in ’n maatstaf, nie noodwendig vanweë die aandeel se beleggingsaak nie.

Namate die beskikbaarheid van opnames oor fondsprestasie toegeneem het, vergelyk beleggers ook nou bestuurders met hul portuurgroep. In die lig van die oorheersing van Naspers in Suid-Afrikaanse ekwiteite, ongeag van wat jy van die aandeel dink, as jy vandag nie Naspers besit nie, kan jy beduidend swakker as jou portuurgroep presteer. Ongelukkig verg die vergelykings ingewikkelde ontledings en kan dit misleidend vir oningeligte beleggers wees.

Talle sal meen dat Naspers te duur is omdat dit teen ongeveer 140 keer sy historiese verdienste verhandel.

Maar dit is senutergend vir selfs fondsbestuurders wat van die aandeel hou. Sal jy daarvan hou as 24% van jou portefeulje aan net een aandeel blootgestel is? ’n Fondsbestuurder het ’n paar jaar gelede aan my gevra: “Indien ek die naam van die aandeel toehou en jou die groot blootstelling daaraan wys, sal jy meen dis ’n verstandige samestelling van ’n portefeulje vir jou kliënte?”

Aandeelkonsentrasie is nie iets nuuts nie. Die Swix is in 2003 ingestel weens die oorheersing van dubbelgenoteerde aandele op die JSE se indeks van alle aandele (Alsi). ’n Soortgelyke scenario het hom afgespeel waar bestuurders swakker as die maatstaf presteer weens die oorheersing van aandele soos BHP en Anglo American wat primêr op ’n internasionale aandelebeurs geno-teer is, met slegs ’n klein persentasie aandele wat in die plaaslike mark beskikbaar was.

Om aandag te skenk aan Naspers se oorheersing van die Swix, verander ’n aantal bestuurders nou hul maatstaf na die Bobeperkte Swix (Capped Swix), wat in November 2016 bekend gestel is. Dit herbalanseer elke kwartaal om aandele tot 10% van die indeks te beperk sodat daar ’n kleiner konsentrasie van enkele aandele is.

Naspers is ’n interessante beleggingsgeval omdat dit ons herinner hoekom dit belangrik is om jou beleggingsdoelwitte te volg. As dit jou doelwit is om die mark te klop, dan moet jy bewus wees van Naspers se gewig in die maatstaf.

’n Gesonde toewysing aan Naspers is dan nodig mits jy glo dat Naspers waarskynlik swakker as die indeks gaan vaar. Maar dis verstandig om beleggers daaraan te herinner dat hoewel Naspers uitstekende resultate gelewer het, dit onderworpe is aan marksentiment net soos enige ander aandeel. Dit kan daal! Beleggers wat hul beleggingsdoelwitte vergelyk met ’n doelwit soos die klop van inflasie met ’n sekere marge om aan hul inkomste- of groeiverwagtinge te voldoen, het dikwels nie blootstelling aan Naspers of enige ander spesifieke aandeel nodig nie.

As ’n enkele beleggingsgeval gee Naspers ander dimensies aan ’n portefeulje. Deur sy belegging in Tencent bied hy Suid-Afrikaanse beleggers blootstelling aan ’n lewendige internasionale tegnologiespeler. Sy buitelandse sake, wat hoofsaaklik in Oos-Europa en Australasië gesetel is, beteken sy verdienste floreer wanneer die rand verswak.

Vandag is dit Naspers wat Suid-Afrikaanse ekwiteite oorheers, môre is dit miskien ’n ander maatskappy. Die onderliggende beginsel is om jou eie beleggingsvereistes te begryp en om toereikende doelwitte te stel. Dit is waarop beleggers hulle moet toespits.

*Stuur ’n e-pos aan terugvoer@finweek.co.za.

Jennifer Henry is ’n portefeuljebestuurder by Stanlib Multi-Manager.

*finweek is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.