Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Finweek
Hoe om belasting vir jou te laat werk
7 Februarie 2019
belasting
Foto: Unsplash

Februarie is die einde van die belastingjaar vir Suid-Afrikaners, en daar is ’n paar goed wat jy kan doen om slimmer oor jou belasting te wees.

Neem egter kennis: Ek is ’n belastingbetaler en nie ’n belastingkundige nie. Dis ’n goeie ding om ’n belastingkundige oor jou persoonlike situasie te raadpleeg. As ’n belastingkundige buite jou bereik is, gesels met die SAID. Hulle was nog altyd baie vriendelik met my en uitsonderlik behulpsaam (hulle het selfs ’n paar wenke gegee oor hoe ek my belastingaanspreeklikheid kan verminder).

Eerstens is daar die bydrae tot die pensioenfonds waarin jy belê is. Dit kan jou werkgewer se pensioen- of voorsorgskema wees en/of persoonlike uittree-annuïteit (UA). Die eerste 27,5% of R350 000 (wat ook al kleiner is) van jou inkomste kan in ’n pensioenskema inbetaal word en sal van jou belasbare inkomste afgetrek word. Jy kan meer inbetaal, maar as jy die perke oorskry, sal jy nie die belastingvoordeel ontvang nie.

Byvoorbeeld, as jy R400 000 per jaar verdien, sal jy R79 000 se belasting betaal. As jy egter jou volle 27,5% (of R110 000) tot jou pensioenskema bydra, sal jy net belas word op inkomste van R290 000 en belasting betaal van sowat R46 000 – ’n besparing van R33 000.

’n Paar belangrike punte: Eerstens, as jou werkgewer ook namens jou tot jou pensioenskema bydra, word dit ingesluit in jou 27,5% of R350 000.

Tweedens, onthou dat die belastingjaar van 1 Maart tot die einde van Februarie duur en dat jy enkelbedragbydraes kan maak voor die einde van Februarie vir insluiting in die huidige belastingjaar.

Neem kennis dat, hoewel jy aan meer as een skema mag behoort, die bydraeperk oor al die skemas waaraan jy behoort strek– en nie per skema nie. Laastens – hoewel ek ’n haat-haat- verhouding met UA’s het, weens hulle buitensporige gelde en aaklige prestasie, is die nuwe-era-, passiewe en laekoste-UA’s goeie produkte, hoewel daar beperkings is op wanneer jy geld uit hulle kan onttrek en wat jy met daardie geld kan doen, omdat 66,6% in ’n annuïteit belê moet bly.

Jy kan ook seker maak dat jou belastingvrye beleggingsrekeninge ten volle vir die jaar belê is. Die jaarlikse perk is op die oomblik R33 000. Terwyl dit geld is wat jy bydra nadat jy belas is (soos wat ek hier bo genoem het), kan jy jou pensioenbelastingbesparings gebruik om R33 000 te genereer wat dan in jou belastingvrye beleggings geplaas kan word. Basies gebruik jy die SAID om jou belastingvrye beleggings te finansier.

As jy nog nie die volle R33 000 betaal het nie, en in staat is om dit te doen, sal ek jou aanraai om die betaling te doen voor die einde van Februarie om die volle bedrag te gebruik, indien moontlik.

As jou werkgewer ook namens jou tot jou pensioenskema bydra, word dit ingesluit in jou 27,5% of R350 000.

Dan is daar kapitaalwinsbelasting, waar die eerste R40 000 van jou jaarlikse kapitaalwins belastingvry is – daarna word 40% van enige oorblywende kapitaalwins teen jou marginale belastingkoers aangeslaan.

Onthou dat voordat jy jou R40 000 se vrystelling gebruik, enige kapitaalverliese wat jy gely het, afgeskryf mag word teen jou kapitaalwins vir die belastingjaar. Ek wil dit duidelik stel dat jy versigtig moet wees om nie beleggingsbesluite te neem gegrond op die belastingimplikasies nie.

Spesifiek wanneer dit kom by verkope slegs om ’n verlies te ly wat jy wil afskryf teen ’n wins op ’n ander plek. Dit gesê, as jy ’n baie swak aandeel het, en jy dit oorweeg om die posisie te ontruim (maar nie ’n verlies wil ly nie), is dit ’n gulde geleentheid om dit te doen en potensieel die pyn van die verlies te verminder.

* Stuur 'n boodskap aan terugvoer@finweek.co.za

Meer oor:  Finweek  |  Belasting  |  Beleggings  |  Aftrede. Annuïteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.